Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Hoe om effektief te rus
20 Desember 2018

As Suid-Afrikaners leef ons in ’n staat van hiperwaaksaamheid, wat ons nie sommer verslap nie.

Julia Halstead-Cleak, kliniese sielkundige en stigter van die Oxford Healthcare Retreat

Namate die feestyd naderkom en ons kans kry om te ontspan, vind talle mense dit moeilik om die blaaskans behoorlik te benut. Julia Halstead-Cleak, kliniese sielkundige en stigter van die Oxford Healthcare Retreat in Sandton, sê sy sien ’n merkbare toename in hoogs funksionerende mense wat vir behandeling kom omdat hulle oorweldig en uitgeput is.

Sy verduidelik dat ons outonome senustelsel uit die simpatiese en parasimpatiese senustelsel bestaan en dat mense neig om te veel tyd in hul simpatiese senustelsel deur te bring. In die simpatiese senustelsel manifesteer “veg of vlug” wanneer prikkelbaarheid in woede omsit of angstigheid in paniekaanvalle ontaard.

Eenkant op en anderkant af

Die simpatiese senustelsel is ontwerp vir aksie, sê Halstead-Cleak: “Ons liggaam produseer adrenalien en ook kortisol, ’n streshormoon.” Die parasimpatiese senustelsel word met “rus en verwerking” geassosieer, maar wanneer mense ineenstort omdat hulle te lank in die simpatiese senustelsel was, ervaar hulle ’n gevoel van afwesigheid, depressie, hopeloosheid en ’n onvermoë om te dink of besluite te neem.

Halstead-Cleak sê mense spring om verskillende redes tussen die twee senustelsels, byvoorbeeld weens politieke onstuimigheid, ekonomiese onsekerheid en vrees vir hul veiligheid. Hulle bly selde in die “venster van verdraagsaamheid” waar hulle produktief voel, helder dink en hul gedrag kan bestuur.

Dit is die toestand waarin mense spontaan, kreatief, energiek, speels en betrokke is. Halstead-Cleak sê wanneer mense tussen die twee senustelsels spring, begin hulle somatiese simptome toon, soos chroniese nek- en rugpyn, hoofpyn, ander pyne en maagprobleme. “Ons ingewande is ons eerste brein. Wanneer ons baie angstig is, voel ons naar – ons liggaam registreer pyn wanneer ons so angstig is en produseer dan natuurlike opiate, wat die naarheid veroorsaak.”

“Wanneer jy met vakansie gaan, moet jy ’n dag of twee hê waarin familie en vriende weet hulle mag niks van jou verwag nie.”

Die soeke na rus

Martie du Plooy, lewensafrigter en konsultant by Innermost

Martie du Plooy, lewensafrigter en konsultant by Innermost, sê hoogs funksionerende mense vind hul identiteit in die gejaag na sukses. “Wanneer hulle daaruit gehaal word, vind hulle dit moeilik om by hulself en die mense na aan hulle aansluiting te vind – wat wéér stres en selfs konflik veroorsaak.”

Sy sê baie mense voel hulle verdien dit nie om “aftyd” te hê nie. Die tydjie wat ons veronderstel is om met ons eie gedagtes deur te bring, word aan ons selfone bestee. “Ons word toenemend ontneem van die geleentheid om bloot met ons eie gedagtes en niks anders nie besig te wees, om ons gedagtes na willekeur te laat dwaal.”

Halstead-Cleak sê die vinnigste manier om stres te hanteer, is deur die liggaam – want jou kop volg jou lyf. “As die lyf eers gekalmeer het, volg die kop en kan jy weer dink, betrokke raak en speels wees.”

Hul behandeling konsentreer op vyf areas: sielkundig (impak van stres op verhoudinge, die liggaam en funksionaliteit by die werk); fisiologies (indagtigheid, jogasessies, boks en swem); biologies (die chemiese stelsel word met medikasie behandel en die elektriese stelsel met kranio-sakrale terapie, refleksologie en diepweefselmassering); sensoriese behandeling (musiek, sauna en ronddryf) en voeding (om die stelsel te voed).

Bewuste keuses

Du Plooy sê mense moet bewustelik kies om hulself toe te laat om te rus. “Wanneer jy met vakansie gaan, moet jy ’n dag of twee hê waarin familie en vriende weet hulle mag niks van jou verwag nie.” Mense kan jou dreineer. Laat jouself tyd op jou eie toe wanneer jy niks hoef te doen of te sê nie, al is dit net ’n uur of drie.

“Vat ’n blaaskans weg van jou kop af en kom in jou lyf in. Let op jou asemhaling en wees bloot in die oomblik.” Sy stel voor jy bring elke dag ’n tydjie deur – al is dit net 30 sekondes – waarin jy op jou asemhaling let. Sy sê tegnologie het ’n sielkundige kruk geword. ’n Mens moet jou bewustelik daaraan onttrek.

Om ’n fliek te kyk kan voel na ontspanning, maar is nie die “rus” wat nodig is nie. “Ons het nodig om ’n welverdiende blaaskans van mense, ’n besige omgewing en tegnologie te vat.” Sy stel voor jy blokkeer jou werk se e-pos op jou slimfoon. Dit sal die versoeking wegneem om kortkort jou e-pos te wil lees. Du Plooy sê mense is daarop geregtig om grense te stel en nie beskikbaar te wees wanneer hulle weg van die werk af op hul eie of saam met vriende en familie tyd deurbring nie.

Wenke vir ware rus

Wees teenwoordig: “Wees by jou gesin betrokke deur nie op jou foon te wees nie. Wanneer jy op die strand lê, voel die sand, ruik die seelug, proe die seesout en sien die blou lug,” sê Halstead-Cleak.

Samehangendheid: Wanneer ’n mens se kop en lyf gesinchroniseer is, ervaar jy ’n toestand van samehang – jy is in pas met die natuur eerder as die haas en geraas van die stad.

Houding: Wees rustig en kweek ’n waarderende houding aan. Gebruik elke dag ’n oomblik om ’n aangename ervaring te onthou.

Haal asem: Wanneer ons inasem, aktiveer dit ons simpatiese senustelsel en wanneer ons uitasem aktiveer dit ons parasimpatiese senustelsel. Wanneer jy angstig voel, moet jou inaseming kort wees en jou uitaseming langer.

Skep kommer-laaie: “Kommer is soos ’n skaduwee. Jy kan dit nie afskud nie,” sê Halstead-Cleak. Maar, sê sy, ons moet ’n probleem vat, vir ’n spesifieke tyd lank daaroor tob en dit dan in ’n laai in ons kop wegbêre.

Erken die probleem, bestee tyd daaraan en bêre dit dan weg. Sodra mense hulle in hul “venster van verdraagsaamheid” bevind, kan hulle besluite neem en kreatief wees.

“Vakansies gaan nie daaroor om niks te doen nie. Dit gaan daaroor om dinge met genot te doen, wat die speelse deel aktiveer wat jou energie gee,” sê sy.

* Neem deel aan die gesprek: terugvoer@finweek.co.za

* Amanda Visser was ’n gas van die Oxford Healthcare Retreat.

Meer oor:  Finweek  |  Ontspan  |  Vakansie  |  Verlof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.