Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Hoe om innoverend te dink
13 September 2018

Mense kom daagliks teen “kopkrappers” te staan – begrotings, kosteverminderings, produkverbeterings, die evaluering van risiko’s en kritiese besluitneming. Die tyd om oplossings te vind en om die regte besluite te neem, word al korter.

Bev Hancock, Besturende direkteur van die Kamva Leadership Institute

Die lewe beweeg al hoe vinniger. Baie mense vrees kopkrappers omdat hulle vasgevang voel. “Ons word in ons denke vasgevang wanneer ons dieselfde relaas en rol moet herhaal sonder om dit krities te evalueer,” sê Bev Hancock, besturende direkteur van die Kamva Leadership Institute.

Ons is vasgevang in dink- en gedragspatrone wat blinde kolle veroorsaak. Dit neem egter taamlik lank vir mense om te besef dat hulle siel uitgesuig is en dat hulle bloot outomaties optree. Wanneer jy dit wél besef, veroorsaak dit kwesbaarheid en ongerief – die brein het gewoond geraak om nie te veel energie te gebruik nie, sê Juanita Vorster, kommunikasiestrateeg by At That Point. Gewoontes bepaal ons denke en gedrag.

Ons bevraagteken selde waarom ons doen wat ons doen, sê sy. Om die kritiese brein te laat ontwaak, moet jy uit die outomatiese denkpatroon beweeg. In sy boek Think Smarter: Critical Thinking to Improve Problem-Solving and Decision-Making Skills sê die skrywer Michael Kallet dat kritiese denke ’n proses en ’n “doelgerigte metode is om jou gedagtes verder te laat vorder as jou outomatiese alledaagse denke”. Die proses beteken duidelikheid oor wat die kopkrapper in werklikheid is, die vind van oplossings en die neem van ’n besluit. Dit word binne ’n raamwerk gedoen waar tegnieke ingespan word om kritiese denke, in plaas van outomatiese denke, te lei.

Vind duidelikheid

Die belangrikste rede waarom kopkrappers (projekte, inisiatiewe, probleemoplossing of strategieë) skeef loop, is dat die kopkrapper self aanvanklik nie duidelik was nie, sê Kallet.

Die fokus moet nie wees om ’n oplossing te vind nie, maar om die probleem te omskryf. Vra vrae soos: “Hoekom voer ons dié gesprek? En wat het ons in dié situasie laat beland?” sê Vorster.

Die konteks van die probleem bied meer duidelikheid en skuif die denke weg van die probleem af. Dit stel ’n mens in staat om skynbaar onverwante idees op kreatiewe maniere met mekaar te verbind. As jy die probleem beter omskryf, begin party oplossings hulself openbaar.

Wanneer ’n mens tyd bestee om groter duidelikheid te kry, help dit om goed vinniger gedoen te kry, maar ook beter en anders. “As ons buite die kassie wil dink, moet ons besef wat die kassie is en dit begryp. Omskryf die kassie alvorens jy buite dit wil beweeg,” raai Vorster aan.

’n Handige hulpmiddel om jou met duidelikheid te help, is om “jou emmer leeg te maak”, wat herinneringe van jou ervaringe bevat soos vorige projekte, omgang met ander mense of vorige pogings om probleme op te los, sê Kallet. “Daar is nie ruimte in ’n vol emmer vir kritiese denke en kreatiwiteit nie . . .

As jy jou emmer leeg maak, van die verlede vergeet, en die kwessie van nader beskou, sal jy ’n beter idee kry oor wat dié keer verskillend is.” Hou ’n dinkskrum oor vrae eerder as antwoorde, sê Hancock. Wanneer ons na verskillende vrae kyk, is dit ’n ondersoekproses. Begin by vrae wat bekend is en beweeg na riskanter areas waar niemand nog ooit was nie. ’n Kritiesedenke-metode is om te vra: “Wat daarvan?” Dié vraag laat mense dink oor wat hulle moet bereik. “Dit laat hulle die relevantheid, belangrikheid, waarde en impak van die kopkrapper besef,” sê Kallet.

Oplossings in sig

Justin Cohen, Skrywer en leierskapsafrigter

Justin Cohen, skrywer en leierskapsafrigter, sê daar moet ’n sterk oortuiging wees dat daar ’n oplossing vir die probleem is. Sonder dié besef, spits mense hulle op die probleem toe.

Kallet is dit eens: “Innoverende oplossings verg onbevangendheid, leë emmers en ’n sterk geloof dat ’n bevredigende oplossing wel bestaan.” Weer eens is dit noodsaaklik om vrae te vra. Antwoorde stomp aandag af, terwyl vrae aandag verskerp, en dit maak vrae soveel kragtiger, sê Cohen.

Mense moet aangemoedig word om hul oplossings neer te pen – hoe gekker hoe beter. Baie oplossings wat as “dom” of “onmoontlik” beskou is, was uiteindelik baanbrekend. Dit is waarop innovering neerkom. ’n Hindernis vir innovering is ’n “sosiale sin” van wat moontlik is en wat nie. “Daar moet geen selfsensuur wees nie. Die manier om goeie oplossings te vind, is om met baie oplossings te begin,” sê Cohen.

Die prefrontale korteks is betrokke by die bestuur van ingewikkelde prosesse soos rede, logika, probleemoplossing, beplanning en geheue. “Dié deel van die brein word gewoonlik nie geaktiveer wanneer jy onder druk verkeer en vol adrenalien is nie,” sê Cohen. Die toestande wat jy skep vir mense om met oplossings vorendag te kom, is belangrik.

Sorg dat mense ontspanne is, vra vir insette ná middagete wanneer hul bloedsuikervlakke hoog is en moenie veroordelend wees nie. Kallet sê om tot ’n gevolgtrekking te kom, verg die oorweging van feite (waarvan daar nie so baie is nie) en waarnemings (waarvan daar baie is).

Mense maak gewoonlik veronderstellings gegrond op hul geloof en ervaring. Kritiese denke verg dat ’n mens veronderstellings moet bevraagteken. Wanneer die vloei van idees oor oplossings min is, stel ’n oënskynlik onmoontlike doelwit. “Onmoontlike gesprekke is pret. Niks is buite perke nie en party idees is so malkop dat dit belaglik blyk te wees. Ander idees is so vindingryk dat jy sal lag as jy besef dit het ’n onmoontlike gesprek gekos om hulle te ontdek,” sê Kallet.

Neem die besluit

Daar is ’n verskil in die dinkproses wanneer oplossings gevind moet word en wanneer besluite geneem moet word. Die regte oplossing moet aan die hand van ’n lys kriteria geneem word.

Een hiervan is risiko's. As daar aan al die kriteria voldoen is, is dit tyd om op te tree. As jy ’n doelbewuste poging aanwend om die risiko’s te bepaal, sal jy besef wat jou en ander mense ongemaklik laat voel, sê Kallet. Dit kan jou opnuut na jou ander oplossings laat kyk. Besluite laat die bal vorentoe beweeg.

“Hoewel daar geen waarborg is dat jy nooit in jou spore gaan omdraai nie, sal kritiese denke die waarskynlikheid dat jy besliste, goeie besluite met suksesvolle resultate gaan neem, vergroot.” sê hy. Hancock meen kritiese denke word as een van die voorste vaardighede in die toekoms van werk in aanloop tot 2020 beskou. Nuwe ervaringe en om goed anders te doen, bou nuwe neurale bane in die brein. “Meer bewuste en doelgerigte denke verbeter kritiese vaardighede,” sê sy.

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za

* Foto's: wwww.bevhancock.com, verskaf

Voordele van kritiese denke sluit in:

• Duidelike begrip van probleme of situasies

• Vinniger en akkurate gevolgtrekkings en gehalte-besluite

• ’n Ryker verskeidenheid verduidelikings en oplossings

• Herkenning van geleenthede

• Vermy foute

• Deurdagte strategieë en vroeë uitskakeling van doodloopstrate Kritiese denke raak drie hoofaspekte van jou denkproses:

• Stel jou in staat om anders na kwessies te kyk

• Voorkom ’n verwronge prent

• Gee jou ’n raamwerk om in te dink:

- Organiseer jou gedagtes

- Sluit ander se denke in

Bron: Think Smarter: Critical Thinking to Improve Problem-Solving and Decision-Making Skills deur Michael Kallet.

Meer oor:  Finweek  |  Entrepreneur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.