Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Hoe om ’n belastingslim spaarder te wees
7 Februarie 2019
Getty Images
Ronald King, hoof van Openbare Beleid en Regulatoriese Sake van PSG

Met ’n magdom belastingvrye spaarinstrumente op die mark, kan dit oorweldigend wees om die regte produk te kies. Ten einde jou besluit te vergemaklik, is dit belangrik om hierdie produkte – asook jou persoonlike beleggingsdoelwitte – beter te verstaan.

Die instelling van belastingvrye spaarrekeninge in 2015 is algemeen verwelkom vanweë die eenvoud en laer koste daarvan.

In die byna vier jaar sedert die instelling van dié spaarinstrument het die aantal produkte en beleggingskeuses wat vir belastingbetalers beskikbaar is, eksponensieel toegeneem. Maar dit kan uiters moeilik wees om die regte produk en, nog belangriker, die onderliggende fondse of bates te kies.

Belastingvrye spaarrekeninge bied belastingvrye groei op beleggings in die rekening (geen belasting op dividende, kapitaalwins en rente-inkomste of belastingheffings by onttrekking nie); daar kan met enkelbedrae of maandelikse beleggings gespaar word; en beleggers het enige tyd toegang tot die beleggings.

Belegging- en belastingkenners stem egter saam dat dié belegginginstrumente as medium- tot langtermyn-belegginginstrumente benader moet word om die volle belastingvoordeel te geniet.

Keith Engel, uitvoerende hoof van die South African Institute of Tax Professinals

Die doel met enige belegging is om groei te behaal, of jy nou vir jou aftrede, jou kinders se opvoeding, ’n droomvakansie of die deposito op ’n gesinshuis spaar, sê Keith Engel, uitvoerende hoof van die South African Institute of Tax Professionals (SAIT). Beleggings moet nooit deur die belastingvrye voordeel bepaal word nie. “Dink eers aan die doel hoekom jy spaar.

Die doel is vanselfsprekend om groei te behaal – en dan eers dink jy watter instrument belastingdoeltreffender sal wees.” Die basiese beginsels van enige belegging is om die effektiewe jaarlikse koste van die produk te oorweeg, die opsie te kies wat by jou beleggingstydsraamwerk pas, en om ’n instelling te gebruik waarmee jy reeds ’n verhouding het of wat jy weet jy kan vertrou.

Die aanbieding

Ronald King, hoof van Openbare Beleid en Regulatoriese Sake van PSG

Belastingvrye spaarinstrumente word deur die Gesagowerheid vir die Finansiële Sektor (GOFS) en die nasionale tesourie gereguleer. Pretasiegelde en onttrekkingboetes word verbied en administrasie- en bestuursgelde moet billik wees.

Beleggers het ’n keuse van saamvatfondse (produkte) wat ’n groot verskeidenheid onderliggende bates bied om in te belê. Dit is waar dit moeilik raak om ’n besluit te neem. Ronald King, hoof vir openbare beleid en regulatoriese sake van PSG, sê enige belegging – ongeag of dit ’n belastingvrye beleggingsinstrument is – bevat risiko.

Markte styg en daal (markrisiko’s), maar dan is daar ook die inflasiemonster en prestasiegebreke (die Steinhoffs van die wêreld.) Die produkte om uit te kies sluit in belastingvrye kontantrekeninge, aandelemakelaarsrekeninge, beursverhandelde fondse (ETF’s), effektetrusts, uitkeerpolisse en gekoppelde beleggingsdiensverskaffers.

Kontantrekeninge

Kontantrekeninge is gewoonlik geldmarkrekeninge of vastedeposito-rekeninge vir ’n spesifieke tydperk. Die enigste risiko is dat die bank ineen kan stort, maar omdat die plaaslike banksektor goed gereguleer word, is die risiko taamlik klein dat dit sal gebeur, sê King. “Maar omdat dit sulke veilige geld is, is die opbrengs ook klein.”

Hy sê die rente wat op ’n vaste deposito van 60 maande verdien word, is normaalweg sowat 10% per jaar. ’n Belastingvrye spaarrekening moet egter nooit ’n korttermyn-belegging wees nie. Hy meen dat 15 jaar die kortste termyn vir ’n belastingvrye spaarbelegging moet wees.

“As jy dit as die beleggingstermyn van ’n belastingvrye spaarrekening aanvaar, maak kontantbesparing glad nie sin nie. Jy moet meer risiko in jou portefeulje hê.” As markwisselings egter dreig om jou lewensduur te verkort, kan jy maar by kontant bly.

Belastinguitwerking op beleggings buite ’n belastingvrye spaarrekening: Rente-inkomste word by die belegger se belasbare inkomste ingesluit (die eerste R23 800 is vrygestel vir mense jonger as 65 en R34 500 vir mense ouer as 65).

Aandelemakelaarsrekeninge

Hedley Lamarque, finansiële beplanner by BDO Wealth Advisors

’n Makelaar is die tussenganger tussen die belegger en die JSE. Individuele beleggers kan nie aandele regstreeks op die JSE koop en verkoop nie, sê Hedley Lamarque, finansiële beplanner by BDO Wealth Advisors. “Pleks daarvan sal jy ’n makelaar moet kry wat namens jou kan optree. Die makelaar, wat ’n aanlyn diens kan wees, sal jou instruksies vir wat jy wil verhandel, die aantal aandele en die prys volg.”

Om ’n belastingvrye makelaarsrekening te kies is ideaal vir beleggers wat direk op die markte wil belê, eerder as om effektetrusts of ETF’s te koop. Die risiko’s is egter groter, sê Lamarque. Belastinguitwerking op beleggings buite die belastingvrye spaarrekening: Beleggers sal dividendterughoubelasting van 20% betaal wanneer dividende verklaar word, en kapitaalwinsbelasting (KWB) van effektief 18% op wins van meer as R40 000. Die effektiewe KWB-koers het van 13,3% in 2015 tot die huidige 18% gestyg.

“Dink eers aan die doel hoekom jy spaar. Die doel is vanselfsprekend om groei te behaal – en dan eers dink jy watter instrument belastingdoeltreffender is.”

Beursverhandelde fondse

ETF’s is genoteerde beleggingsprodukte wat die prestasie van ’n groep of mandjie aandele, effekte of kommoditeite naspoor. Dié mandjies staan as indekse bekend. Een só ’n indeks is die FTSE-JSE se Top40-indeks.

Dit kan byvoorbeeld ook ’n finansiële indeks wees wat die 15 grootste aandele in die finansiële sektor naspoor. Sowel professionele as private beleggers gebruik dié fondse as hulle blootstelling wil kry aan verskillende sektore, bateklasse, soorte aandele, kommoditeite en effekte.

King sê die meeste ETF’s word passief bestuur, wat beteken dat die onderliggende bates (effekte of aandele of kommoditeite in die mandjie) nie gereeld verander nie. “Die risiko is dat sommige van die onderliggende instrumente sleg kan vaar, wat die algehele prestasie (van die indeks) kan raak.”

Dié produkte is egter gewoonlik teen laer koste beskikbaar. Belastinguitwerking op beleggings buite die belastingvrye spaarrekening: Beleggings sal onderworpe wees aan dividendterughoubelasting en KWB, soortgelyk aan beleggings in aandelemakelaarsrekeninge.

Effektetrusts (kollektiewebeleggingskemas)

Volgens Lamarque bied dié beleggingskemas “maklike en bekostigbare” toegang tot finansiële markte. Die belegger se geld word met die geld van ander beleggers gekombineer en die beleggingbestuurder gebruik die poel geld om onderliggende beleggings, soos aandele, effekte, kontant en eiendom, te koop.

Die effektetrust word in gelyke dele (eenhede) verdeel wat aan die belegger toegewys word, afhangend van die bedrag wat die belegger belê het en die prys van die eenhede op die dag waarop hulle gekoop is. Lamarque sê effektetrusts is veral geskik vir mense wat toegang tot die finansiële markte wil kry, maar nie voldoende kennis van die markte het nie.

Dit is ook geskik vir beleggers wat ’n groot reeks beleggings binne een beleggingtipe wil hê. Belastinguitwerking op beleggings buite die belastingvrye spaarrekening: Beleggers sal onderworpe wees aan belasting op rente- inkomste, dividendterughoubelasting en KWB, soortgelyk aan beleggings in aandelemakelaarsrekeninge en ETF’s.

Uitkeerpolisse

Uitkeerpolisse is poliskontrakte met ’n lewensversekeringsmaatskappy wat die belegger tot ’n beleggingstermyn van minstens vyf jaar verbind, waarna die opbrengs belastingvry is. Hulle bied ’n saamvatfonds vir verskeie fondse (soos effektetrusts en ETF’s) wat ook in aandele, eiendom, effekte en kontant belê kan word.

Bennie Wessels, produkaktuaris by Sanlam Savings

Bennie Wessels, produkaktuaris by Sanlam Savings, sê Sanlam bied toegang tot ’n aantal onderliggende effektetrusts. Die belegger het die keuse om in ’n gebalanseerde SIM-fonds of in die fondse van ander beleggingbestuurfondse te belê. Wessels sê uitkeerpolisse het gewoonlik ’n beperking van vyf jaar waarin die geld nie onttrek mag word nie.

By belastingvrye spaarbeleggings is daar egter van die beperkte toegang in die eerste vyf jaar afgesien. Hy sê wanneer ’n mens regstreeks in ’n uitkeerpolis belê, eerder as in ’n belastingvrye spaarproduk, is daar heffings wanneer beleggers geld voor die kontrakturele bepalings onttrek.

In die belastingvrye uitkeerprodukte word diensverskaffers nie toegelaat om beëindigingsgelde te hef nie. Belastinguitwerking op beleggings buite die belastingvrye spaarrekening: Inkomstebelasting word gehef en word van die polis verhaal wanneer inkomste-uitkerings van onderliggende effektetrusts af ontvang word.

Die lewensversekeraar betaal belasting namens die belegger op die onderliggende opbrengs – tans teen ’n koers van 30%. Die KWB op die insluitingkoers wat op lewensversekeraars van toepassing is, is ’n effektiewe koers van 12%. Dit is veral ’n ideale beleggingsinstrument vir beleggers met ’n belastingkoers hoër as 30%, sê Lamarque.

Gekoppelde beleggingsdiensverskaffers

’n Gekoppelde beleggingsdiensverskaffer is ’n onafhanklike administrasiemaatskappy wat aan beleggers toegang tot effektetrusts by ’n aantal verskillende batebestuursmaatskappye bied.

King sê dié diensverskaffers maak dit maklik om in verskillende fondse of verskillende maatskappye te belê. Wanneer ’n belegger tussen fondse oorskakel, koop en verkoop die diensverskaffer namens die belegger.

Dié voordeel gaan soms met ’n hoë administrasietarief gepaard, maar ’n mens moet die voordeel daarvan oorweeg dat jou belegging tussen meer as een effektetrustmaatskappy verdeel is. Belastinguitwerking op beleggings buite die belastingvrye spaarrekening: Beleggers sal onderworpe wees aan dividendterughoubelasting en KWB soortgelyk aan beleggings in aandelemakelaarsrekeninge, ETF’s en effektetrusts.

Spaarbesluite – huisleningterugbetalings, aftreebydraes of belastingvrye spaarrekeninge?

Al bestaan min twyfel dat belastingvrye spaarprodukte die spaarmark vir baie Suid-Afrikaners op ’n ongekende wyse oopgestel het, is daar steeds sekere dinge om te oorweeg voordat jy inspring. Die eerste oorweging is of jy skuld het.

Baie mense redeneer byvoorbeeld dat as jy baie kredietkaartskuld het, dit nie veel sin maak om te spaar voordat jy nie die skuld gedelg het nie.

Een van die grootste skulditems wat mense kan hê, is om ’n huis te koop. Die vraag waarmee baie huiseienaars worstel, is of ’n mens belastingvry behoort te spaar en of jy ’n “gewaarborgde opbrengs” gelyk aan die koers van die verbandlening wil verseker deur jou verbandlening terug te betaal.

Bennie Wessels, produkaktuaris by Sanlam Savings, sê beleggers moet oorweeg watter soort belegging hulle sal moet doen om die “gewaarborgde opbrengs” te oortref wat hulle sal kry as hulle hul verbandlening vinniger afbetaal. As die huidige rentekoers op ’n verbandlening 10% is, sal die beleggingsopbrengs beter as dit moet wees om vir die koste van die spaarproduk voorsiening te maak.

En al is die koste op belastingvrye spaarrekeninge heel billik, kan dit in sommige gevalle tot 2% wees. “Ek dink ek sal heel waarskynlik ’n beter opbrengs kry as ek my verbandlening afbetaal,” sê Wessels. Sodra dié mylpaal bereik is, word dit tyd om ’n volgehoue spaarplan te oorweeg.

Nog ’n oorweging is of daar in aftreefondse, soos ’n pensioenfonds, voorsorgfonds of uittree-annuïteit, of eerder in ’n belastingvrye spaarrekening belê moet word. Ronald King, hoof vir openbare beleid en regulatoriese sake van PSG, sê die grootste verskil tussen aftreefondse en belastingvrye spaarinstrumente is dat bydraes tot laasgenoemde nie belastingaftrekbaar is nie. “Jy gebruik nabelaste geld wanneer jy in belastingvrye spaarbeleggings spaar.”

Hy sê aftreefondsbydraes kan gebruik word om belasbare inkomste te verminder, en geen belasting word op die groei gehef terwyl die geld in die aftreefonds of die annuïteit belê bly nie.

Beleggers betaal net belasting by aftrede wanneer hulle begin onttrek, met die eerste R500 000 steeds belastingvry. King sê as die belegger se doel is om vir aftrede te spaar, sal hy aanbeveel dat die aftreefondsbydraes tot 27,5% van die belasbare inkomste, of R350 000 per jaar, vergroot word as die belegger dit nog nie gedoen het nie. Dan eers sal dit werklik meer belastingslim wees om ook tot ’n belastingvrye spaarinstrument by te dra.

As jy in ’n belastingvrye spaarproduk spaar, kan dit met jou belastingbesparings ná aftrede help. Paul Hutchinson, verkoopsbestuurder van Investec Asset Management, sê as iemand ’n lewende annuïteit gekies het om aftreevoordele in te belê, moet ’n minimum inkomstekoers van 2,5% per jaar uit die annuïteit onttrek word wat teen die individu se marginale belastingkoers belasbaar is.

“Enige inkomste van meer as die vereiste 2,5% kan dan uit die belastingvrye spaarrekening onttrek word.

Dié inkomste is nie belasbaar nie en verlaag daarom die afgetredene se marginale belastingkoers – solank daar kapitaal in die belastingvrye spaarrekening bly.”

Hutchinson verduidelik dit met ’n voorbeeld. Gestel dat ’n belegger in die voorafgaande 20 jaar R1,8 miljoen in ’n belastingvrye spaarrekening en R7,5 miljoen in ’n pensioenfonds versamel het wat dan na ’n lewende annuïteit omgeskakel word.

Die persoon wil ’n inkomste van R350 000 per jaar ontvang, en die enigste bronne van inkomste is die belastingvrye spaarrekening en lewende annuïteit. As die persoon die hele R350 000 uit die lewende annuïteit haal (’n onttrekkingskoers van 4,67% in die eerste jaar) sal die persoon inkomstebelasting van R77 539,50 betaal en nabelaste inkomste van R272 460,50 ontvang.

As die persoon egter die minimum van 2,5% uit die lewende annuïteit haal (R187 500) en die res uit die belastingvrye spaarrekening (R162 500), sal die inkomstebelasting net R33 750 beloop en sal die nabelaste inkomste R316 250 wees.

Dit verseker ’n belastingbesparing van byna R44 000 in die eerste jaar. “Dié strategie verlaag nie net jou marginale belastingkoers nie, maar sorg ook dat die kapitaal in jou lewende annuïteit vinniger groei, want jou kapitaal krimp stadiger as wanneer jy meer as die minimum onttrek.” Keith Engel, uitvoerende hoof van die South African Institute of Tax Professionals (SAIT), sê om in aftreefondse te spaar is ’n baie belastingdoeltreffende spaarmetode. Beleggings in dié fondse is egter tot die belegger se aftreedatum vasgesluit.

Om voor die aftreedatum toegang daartoe te kry gaan met onnodig hoë belastingkoste gepaard. Dit lyk of daar nog onsekerheid bestaan oor belastingvrye spaarbeleggings vir minderjariges.

Wessels het kinders, maar hy spaar nie vir hulle in belastingvrye spaarrekeninge nie. “Ek is besorg daaroor dat ek hul leeftydbydrae sal spaar en dan is hulle onverantwoordelik en koop ’n motor of doen impulsiewe aankope of gaan op duur vakansies, en dan is die voordele vir hul leeftyd verlore.”

Ander redeneer dat dit ’n goeie geleentheid is, want hoe gouer jy die volle leeftydlimiet belê, hoe langer geniet dit saamgestelde groei en hoe groter is die belastingvrye voordeel. As die kind selfbeheersing het en die belegging tot op 55-jarige ouderdom los, sal dit ’n skitterende belegging wees, sê Wessels. Indien die kind dit egter op 18 of 20 sou onttrek en nie slim aanwend nie, was dit nie ’n wyse belegging nie. 

Dinge om te oorweeg vir belastingvrye spaarrekeninge

Wanneer jy ’n belastingvrye spaarinstrument moet kies, moet jou spaardoelwit van meet af aan duidelik wees. Andersins sal jy nie die vrug daarvan pluk nie.

Piet Nel, hoof van die belasting- en tegniese afdeling van die South African Institute of Tax Professionals

Elke Suid-Afrikaner met ’n identiteitsnommer kan tot R33 000 per belastingjaar (van begin Maart tot einde Februarie die volgende jaar) en R500 000 in ’n leeftyd in ’n oormaat belastingvrye spaarinstrumente belê.

Piet Nel, hoof van die belasting- en tegniese afdeling van die South African Institute of Tax Professionals (SAIT), sê beleggers moet bewus wees van die drempels en hoe hulle werk. As ’n belastingbetaler R100 000 oor vyf jaar in ’n belastingvrye spaarinstrument belê en dit dan alles onttrek, word die persoon nie toegelaat om dit te “vervang” nie.

Die belastingbetaler kan nou net nog R400 000 belê. Nel sê mense wat hul bestaande belastingvrye rentedrempel van R23 800 (as hulle jonger as 65 is) of R34 500 (as hulle ouer as 65 is) per belastingjaar ten volle benut, kan verdere beleggings in ’n belastingvrye produk oorweeg.

En die SAIT beveel aan dat mens op een rekening konsentreer, eerder as om verskillende rekeninge by verskillende diensverskaffers te hê. Dit word dan administratief ingewikkeld. As die drempels oorskry word, sal die Suid-Afrikaanse Inkomstediens belasting teen 40% op die bedrag bo die jaarlikse R33 000 of die kapitaalbedrag van R500 000 in ’n leeftyd hef.

Ronald King van PSG sê beleggers moet seker maak dat hul beleggingskeuse aanpasbaar genoeg is vir wanneer hul behoeftes en begeertes verander. Hy waarsku teen “gewaarborgde produkte” wat die belegger in die algemeen vir ’n tydperk vassluit. “Moenie dink 65 jaar is oud en dat jy daarom in kontant (geldmarkprodukte) moet belê nie.”

Dink eerder wat jou spaardoelwit is, sê hy. As jy 25 jaar oud is en ’n paar jaar vir ’n deposito op ’n gesinshuis wil spaar, moet jou beleggingsbenadering konserwatiewer wees as die persoon wat 60 is en spaar om sy aftreegeld oor tien tot 15 jaar aan te vul.

Batetoewysing

Die aantal aandele in die onderliggende fondse bepaal hoe aggressief die portefeulje is. “Dit gaan jou belangrikste besluit wees. Hoe versigtiger jy is, hoe minder gaan jy op die duur kry,” sê King. King het die opbrengskoerse van ’n konserwatiewe portefeulje (aandeeltoewysing van 33%), ’n gebalanseerde portefeulje (aandeeltoewysing van 66%) en ’n aggressiewe portefeulje (100% aandele) oor sewe jaar ontleed. (’n Bekende batebestuurder het die portefeuljes oor 12 jaar bestuur.)

Hy het bevind dat die konserwatiewe portefeulje se slegste opbrengs oor een jaar negatiewe groei van net 1,95% was. Vir die aggressiewe portefeulje was dit – in dieselfde tydperk – ’n geweldige -28,9%. “As jy egter sewe jaar lank in die drie fondse gebly het, was die konserwatiewe portefeulje se slegste prestasie 8,54%, terwyl die gebalanseerde portefeulje se slegste prestasie 8,78% was en die aggressiewe portefeulje s’n 8,99%.”

Die drie fondse se gemiddelde opbrengs was 9,68%, 11,30% en 12,17%. “Dit wys duidelik dat die konserwatiewe fonds oor net sewe jaar die grootste risiko ingehou het om die laagste opbrengs te behaal.” Beleggers in belastingvrye spaarrekeninge word sedert Maart verlede jaar toegelaat om beleggings tussen verskaffers oor te dra sonder dat dit hul jaarlikse of leeftyddrempel raak, en hulle kan dit sonder koste doen.

King waarsku egter daarteen om te oorreageer op ’n slegte tyd op die mark. Dit gebeur dikwels dat mense geld vinnig skuif wanneer hulle nie die wisselvalligheid van die finansiële markte kan hanteer nie. “Maar herstel is dalk net om die draai . . . en wanneer die groei kom, het hulle kontant en mis die groei. Hulle het net die pyn sonder die voordeel,” sê King. “Die vraag wat jy moet vra, is of die portefeulje wat jy het, die regte een is vir wat jy wil bereik.”

Hy sê beleggers met ’n beleggingstermyn van minder as tien jaar moet ’n gebalanseerde portefeulje (60% aandele en 40% kontant) oorweeg. As die beleggingstermyn langer as tien jaar is, behoort die beleggingsportefeulje aggressief (100% aandele) te wees. Hy wys egter daarop dat daar geen “regte fonds” is om te kies nie. “Daar is mense wat taamlik gemaklik daarmee is om heeltemal in kontant te belê.” Hul senuweestelsel kan nie die risiko hanteer nie.

Koste

Dit is belangrik dat diensverskaffers die effektiewe jaarlikse koste van hul belastingvrye spaarinstrumente verklaar. Die koste bestaan uit die koste van die saamvatfonds (die administrasiegelde), die koste van die onderliggende fonds (bestuursgelde) en die finansiële adviseur se tarief.

Nuttige aanlyn hulp

Intellidex, ’n finansiëlenavorsing-en- media-maatskappy, het die webwerf Savetaxfree.co.za ontwikkel wat ’n “beleggingkiesinstrument” bied wat volgens beginsels van gedragsfinansies ontwerp is om spaarders te help om die regte beleggings te identifiseer. Dit het ’n gids van al die beskikbare belastingvrye spaarbeleggings, wie die verskaffer is, of die produk lae, medium- of hoë risiko het, en wat die jaarlikse koste is.

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za

Meer oor:  Finweek  |  Belastingslim  |  Belasting  |  Beleggings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.