Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Aandele: Hoe om ’n vallende mes te vang
9 Mei 2019

Foto: Shutterstock

Die mark wemel van kleurryke sêgoed. ’n Voorbeeld is die uitdrukking “dooie kat wat bons” – wanneer ’n aandeelprys in duie stort en dan kortliks terugwip voordat dit weer ineenstort. Nog een is “om vallende messe te probeer vang”.

Dis wanneer ons dieselfde aandeel koorsagtig opkoop terwyl hy daal, in die hoop om hom op sy laagste punt te kry. Gewoonlik is ons egter verkeerd en verloor ons vingers in die proses. Ek is onlangs aan dié sêgoed herinner toe my inboks oorgeloop het van vrae oor van ons gevalle helde, met lesers wat spesifiek wou weet of dit tyd is om hulle te koop.

Ek het ook ’n opmerking van ’n vriend van my, deesdae hoof van IG Australia, onthou. Hy is altyd vol merkwaardige idees wat nie marksêgoed is nie (maar behoort te wees).

Een van my gunstelinge is: “’n Duisendpersenter (‘ten-bagger’) moet eers ’n honderdpersenter (‘one-bagger’) wees voordat hy later ’n duisendpersenter kan word.” Ons moet dus geduldig wees.

n Duisendpersenter is ’n aandeel wat tienvoudig in waarde toeneem; nogal ’n heilige graal in die beleggingswêreld, want dit gebeur nie dikwels nie. Omdat hulle ’n duisendpersenter najaag, koop beleggers egter dikwels te gou en pleks van by die onderste draaipunt koop hulle by ’n dalende aandeel in. So ’n fout kan uiters pynlik wees vir jou portefeulje.

’n 1000% is ’n aandeel wat tienvoudig in waarde toeneem; nogal ’n heilige graal in die beleggingswêreld, want dit gebeur nie dikwels nie.

Dink maar aan Aspen. Op R300 per aandeel, en weer op R240, het baie beleggers gedink dit lyk na groot waarde. Op R140 was die deskundiges oortuig dis groot waarde. Tog is hy nou sowat R100 nadat hy op R70 gestaan het toe sy resultate in Maart uitgereik is. Om dié insinking te probeer “vang” sou mense duur te staan kom.

Dit sal risiko verlaag...

My vriend se idee is om te wag dat die aandeel eers in waarde verdubbel – die “one-bagger” – voordat jy koop. As die aandeel werklik die hoogte gaan inskiet en ’n duisendpersenter (of meer) word, sal dit die risiko aansienlik verlaag as ons tot ná die eerste verdubbeling van die aandeelprys wag. ’n Onlangse voorbeeld was Kumba Iron Ore.

Terwyl die hulpbronaandele aktief afverkoop is, het ek voorgestel mens moet wag totdat hulle uiteindelik in waarde verdubbel het voordat jy koop. Met Kumba op ’n laagtepunt van sowat R25 het dit op ’n toetreevlak van sowat R50 gedui.

Die aandeel staan nou op meer as R430, dus het die geduldige belegger beslis gebaat by die gewag. Talle ander het egter tydens die daling probeer inkom op R300, R200 of R100 en sit nou weens swak toetreevlakke met minder wins.

As die aandeel werklik die hoogte gaan inskiet en ’n duisendpersenter (of meer) word, sal dit die risiko aansienlik verlaag as ons tot ná die eerste verdubbeling van die aandeelprys wag. ’n Onlangse voorbeeld was Kumba Iron Ore

Om ’n vallende mes te probeer vang (en te mis) beteken óf jy gee uiteindelik moed op en verkoop teen ’n verlies, óf as die prys wel omspring is jou toetreevlak soveel hoër. Wat baie mense kwel van die gedagte om op die eerste verdubbeling te wag voordat jy koop, is dat jy jou winsmoontlikheid verklein. Natuurlik is dit so.

Het jy Kumba op R25 gekoop, was jou wins soveel groter as met die gewag tot op R50. Ja, jou wins is kleiner. Maar die markte gaan oor die bestuur van risiko. En het jy daardie mes probeer vang, sou dit byna verseker beteken jy sou die aandeel op pad ondertoe gekoop het terwyl jy die onderste draaipunt probeer vang en heeltyd geld verloor totdat dit uiteindelik omdraai.

Om vir die R50-toetreevlak te wag, sou waarskynlik dus beter winste opgelewer het as om die mes teen die laagste punt te probeer vang en gedurig te mis. As ek die huidige mark so bekyk, is daar ’n klomp gevalle helde waaroor mense my uitvra, met aandeelpryse wat met ver meer net as 50% gedaal het.

Ons het ’n klompie witbroodjies wat meer as 70% se waarde verloor het en soms selfs 90%. Almal wil weet wanneer dié aandele gekoop kan word. Die antwoord is maklik: volg my vriend se raad en wag totdat die aandeelprys op dubbel so hoog as sy laagtepunt staan. Dan het jy momentum agter jou toetrede, wat waarskynlik nie ’n dooie kat is wat gaan bons nie en ook nie jou vingers in gevaar stel nie.

Meer oor:  Finweek  |  Kumba Iron Ore  |  Aandele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.