Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Hoe om verhoudinge vir verskillende sektore op die beurs te gebruik
16 Januarie 2020
Foto: Shutterstock
Foto: Shutterstock

Daar is verskillende verhoudinge wat ons in belegging kan gebruik as deel van die ontleding van ’n maatskappy se huidige prestasie of om dit met ’n ander maatskappy te vergelyk.

Dié verhoudinge is onder meer die opbrengs op eienaarsbelang, prys tot verdienste, skuld tot eienaarsbelang, kontantomskakeling en talle ander. Hulle is nuttig, maar daar is ook bedryfspesifieke verhoudinge, en ek wil sommige van hulle bespreek.

In mynbou is ertsgraad en reserwes die aanwysers wat gebruik word. Ertsgraad is die hoeveelheid mineraal wat ontgin word en word as gram per ton gemeet.

Die kwessie hier is dat hoe laer die ertsgraad is, hoe hoër is die ontginningskoste, want mens moet meer tonne myn om ’n ons mineraal te kry. Ek het al oor reserwes geskryf, en hier gebruik ons die Samrec-kodes, of die Suid-Afrikaanse kode vir die verslagdoening van mineraalreserwes. Dit help ons om die ware waarde te verstaan van enige minerale wat nog in die grond is.

  • Hoe seker is die ingenieurs dat hulle daar is?
  • Is ontginning ekonomies lewensvatbaar?

Die kodes is uiters gedetailleerd en baie belangrik vir dié wat in mynbouaandele belê.

Bankwese se sleutelverhoudings 

Die bankwese het twee sleutelverhoudings: koste tot inkomste en wanbetalings.

Wanbetalings is ’n mooi manier om te sê slegte skuld en word uitgedruk as die persentasie afgeskryfde skuld. Vir die groot plaaslike banke is dié syfer minder as 1% en in sommige gevalle selfs onder 0,5%, wat ’n fantastiese syfer is wat daarop dui dat banke versigtig is met hul lenings.

Koste tot inkomste is ’n persentasie wat vir ons sê hoeveel van elke 100 sent wat hulle as inkomste ontvang, gebruik word om die bank te bedryf. Dié syfer was vroeër net meer as 50, maar het in die middel tot hoë 50’s vasgehaak toe meer regulasies ná die wêreldwye finansiële krisis van 2008 en 2009 ingestel is. Dit sal weens die tradisionele banke se hoër kostestruktuur waarskynlik nooit weer vir hulle na die lae 50’s daal nie.

Konstruksiemaatskappye 

Konstruksiemaatskappye het hul bestelboek, wat die waarde aandui van kontrakte wat bevestig is, maar nog nie begin is nie. Ek meen egter dat dit ’n taamlik nuttelose syfer is, want ek reken daar is baie min korrelasie tussen die bestelboek en die toekomstige inkomste, laat staan nog wins. Kontrakte kan gekanselleer of verander word, en marges is nooit seker nie, soos blyk uit verskeie verliesgewende kontrakte waarby plaaslike konstruksiemaatskappye betrokke was.

Kleinhandelmaatskappye

Kleinhandelmaatskappye het niks spesifiek vir die bedryf nie, maar ek konsentreer op die bedryfswins, wat die wins aandui op groepsvlak voordat hoofkantoorkoste, soos rente, afgetrek word.

Ek bekyk ook graag die inomste per werknemer. Mens moet dié syfer dikwels self uitwerk, maar dis maklik genoeg – jy sal dalk die aantal werknemers in die aanbieding van die finansiële resultate of die jaarverslag kry. Dit gee ’n idee van hoe doeltreffend die kleinhandelaar is. Onthou egter dat ’n klerekleinhandelaar se syfer baie van ’n kruidenier s’n sal verskil.

Lewensversekeringsmaatskappye

Lewensversekeringsmaatskappye gebruik ingebedde waarde pleks van die gewone netto batewaarde as ’n waardemaatstaf.

Ingebedde waarde is die huidige waarde van toekomstige wins uit bestaande polisse, getel by die netto batewaarde van die kapitaal en enige oorskot. Dit gee ’n idee van die “billike waarde” van ’n aandeel en die lewensversekeraar sal teoreties teen omtrent die ingebedde waarde verhandel. By hotelaandele val die klem op besettingsvlakke, wat sin maak, want dis hul kernbedrywighede.

Geeneen van hierdie verhoudinge is perfek of ’n alleenstaande oplossing nie, maar hulle almal help ons om ’n maatskappy se winsgewendheid te verstaan.

Beleggers wil weet hoeveel beddens elke nag gevul is. Nog ’n belangrike maatstaf is die inkomste wat per kamer gegenereer is. Eiendomsmaatskappye konsentreer op leegstand, wat aandui hoeveel spasie nie verhuur is nie en dus nie vir hulle inkomste verdien nie.

Geeneen van hierdie verhoudinge is perfek of ’n alleenstaande oplossing nie, maar hulle almal help ons om ’n maatskappy se winsgewendheid te verstaan en maak dit vir ons moontlik om soortgelyke maatskappye met mekaar te vergelyk.


Meer oor:  Finweek  |  Sektore  |  Aandele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.