Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Hoe ontploffing by Amplats hom en ander platinum-mynmaatskappye raak
19 Maart 2020

Die tydelike opskorting van produksie by affineergeriewe van platinumgroepmetale (PGM'e) by Anglo American Platinum (Amplats) se Waterval-aanleg in Rustenburg nadat ’n ontploffing daar plaasgevind het – en die tegniese probleme met sy steuneenheid – beteken verskillende dinge vir verskillende maatskappye.

Vir Amplats beteken die ontwrigting dat hy in 2020 ongeveer 900 000 onse PGM’e minder sal produseer – wat bestaan uit ongeveer 600 000 onse minder platinum en 300 000 onse minder palladium.

Dit sal ’n verlies aan verdienste voor belasting van $1,1 miljard veroorsaak, volgens ’n verslag van RMB Morgan Stanley kort nadat Amplats vroeg in Maart sy aankondiging gemaak het. Die groep, wat deur Anglo American beheer word, word voldoende gefinansier om die toename in bedryfskapitaal te hanteer, wat ontstaan omdat hy nie geaffineerde platinum kan verkoop nie, wat oor die eerste 80 dae op sy ergste sal wees.

Dit is die geraamde tyd wat nodig is om die steuneenhede te herstel. (Dit sal 12 tot 15 maande neem om die geriewe wat deur die ontploffing geraak is, te herstel.) Op 31 Desember, het Amplats R17,3 miljard in netto kontant op sy balansstaat gehad (voordat R10,9 miljard in dividendbetalings gedoen is), en R26 miljard in beskikbare fasiliteite. Hy werk ook saam met sy versekeraars om ’n moontlike eis te identifiseer.

Vir Impala Platinum (Implats) en Northam Platinum is dit verblydende dae. Benewens dat dit nog opwaartse druk op die palladiummark plaas – wat reeds ’n agterstand in lewering beleef – behoort dit die platinummark in ’n aanbodtekort te dompel. In Maart het die World Platinum Investment Council ’n klein tekort van platinum van 110 000 onse voorspel, nadat dit in 2018 meer as 800 000 onse was, wat aandui dat die platinummark reeds strammer was. Sibanye-Stillwater sal ook voordeel uit die hoër pryse trek.

Jana Marais Woordvoerder van Amplats

Die nabye toekoms is nie so onseker vir die PGM-maatskappye wat konsentraat vir smelting aan Amplats voorsien nie. Smeltgeriewe is duur en gespesialiseerd; terloops, slegs Amplats, Implats en Sibanye-Stillwater is ten volle van “myn-tot-metaal” geïntegreerd. ’n Groep maatskappye maak dus op Amplats staat om hul konsentraat te koop wat dan gesmelt word.

Amplats se uitvoerende hoof, Chris Griffith, het bevestig hierdie sogenaamde “koop van konsentraat”-ooreenkomste sal in dieselfde mate geraak word deur die sluiting as sy eie myn- en konsentraatproduksie. Van hierdie maatskappye is die een wat die minste geraak sal word, African Rainbow Minerals (ARM), ’n gediversifiseerde groep met ’n sterk balansstaat. Die feit van die saak is, Amplats verwerk konsentraat van ARM se Modikwa-myn, wat ongeveer 47% van ARM se totale produksie van platinum, palladium en rodium verteenwoordig.

Volgende is Royal Bafokeng Platinum (RBPlat), wat konsentraat van sy Bafokeng Rasimone- en Styldrift-platinummyn na Amplats stuur om geaffineer te word. In die slegste scenario, en in die veronderstelling dat daar geen versagtende optrede is nie, bestaan daar die moontlikheid dat bedryfskapitaal van R1,4 miljard oor 80 dae opgebou sal word, wat uitbreidingskapitaal uitsluit, wat RBPlat op die oomblik vir Styldrift aanwend. RBPlat het sy skuld gedurende die ses maande geëindig 31 Desember van R832 miljoen van die jaar tevore tot R491 miljoen gehalveer en het kontant van R883 miljoen voorhande.

Hy het ook ongeveer R1,45 miljard in beskikbare fasiliteite. Hanré Rossouw, RBPlats se finansiële hoof, het aan finweek gesê dat dit nog te vroeg is om kommentaar te lewer op die druk wat Amplats se aankondiging op die maatskappy se finansies plaas omdat die maatskappy tans samesprekings met Amplats voer oor moontlike mitigasie.

Vir Amplats beteken die ontwrigting dat hy in 2020 ongeveer 900 000 onse PGM’e minder sal produseer.

Bykomende druk op die balansstaat sal egter nie welkom wees nie. RBPlat het onlangs die hervatting van ’n matige dividend van 10% van kontantvloei voor uitbreiding aangekondig, wat toon hoe omsigtig hy is; ondanks die florerende PGM-mark. Laastens is daar Siyanda Resources, ’n maatskappy in swart besit wat die geriewe van Union en MASA in 2017 vir R400 miljoen van Amplats gekoop het. Dit lewer konsentraat van onedele metale aan Amplats.

Weer eens is daar die moontlikheid van mitigasie, terwyl Siyanda Resources ook inkomste verdien uit die myn van steenkool en mangaan sodat hy nie heeltemal afhanklik is van Amplats se ooreenkoms om sy konsentraat te koop nie. Maar van die verskillende maatskappye wat geraak word, lyk hy die kwesbaarste. Amplats is reguit met sy leweransiers.

“Ons het kennisgewings rakende die force majeure aan alle leweransiers wat ooreenkomste het om konsentraat aan ons te verkoop uitgereik, insluitend Siyanda,” het Jana Marais, woordvoerder van Amplats, gesê. “Ons is nou in ’n tydperk van samesprekings met alle klante (oor die ooreenkoms om konsentraat te koop) met betrekking tot die versagtende maatreëls. “Dit is voortydig om in dié stadium kommentaar te lewer oor wat dié mitigerende maatreëls gaan wees omdat ons nog nie kans gehad het om te vergader met al die leweransiers wat konsentraat aan ons verkoop nie,” het sy gesê. 

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za


Meer oor:  Platinum  |  Ekonomie  |  Amplats  |  Finweek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.