Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Hoe sakeleiers by die nuwe werksomgewing moet aanpas
21 Maart 2019

Terwyl die werksomgewing voortdurend verander en nuwe tegnologie invoer, moet bestuurders innoverende leiding gee om voor te bly.

Punit Renjen, uitvoerende hoof van Deloitte Global

Sakeleiers ontwikkel ’n dieper begrip van die uitdagings wat die vierde nywerheidsomwenteling inhou, en hulle het ’n realistieser siening van wat gedoen moet word om te slaag. Deloitte se tweede wêreldwye meningspeiling oor dié nuwe wêreld toon egter ook dat baie senior bestuurders minder voorbereid is as wat hulle dink hulle is.

Leiers erken te midde van al hoe meer nuwe tegnologie dat hulle te veel opsies het om uit te kies en in sommige gevalle nie die strategiese visie het om hul benadering te help rig nie, skryf Punit Renjen, uitvoerende hoof van Deloitte Global, in reaksie op die bevindings uit die peiling.

’n Ongekende hoeveelheid aandag word aan die vierde nywerheidsomwenteling en die uitdagings daarvan gegee, sê Shawn Cunningham, vennoot by die internasionale konsultantegroep Mesopartner en dosent aan die Universiteit van Stellenbosch Bestuurskool se eenheid vir bestuurdersontwikkeling.

Om in dié konstant veranderende omgewing suksesvol te wees sal vereis dat maatskappye ’n merietegegronde kultuur aanvaar waar die persoon met die meeste kennis, eerder as die mees senior persoon, die een is wat betrek word.

Om in dié konstant veranderende omgewing suksesvol te wees sal vereis dat maatskappye ’n merietegegronde kultuur aanvaar waar die persoon met die meeste kennis, eerder as die mees senior persoon, die een is wat betrek word.

Nuwe strategieë

Alex Granger, medestigter van Twice Blue

Maatskappye sal die “soekfunksie” in hul onderneming moet versprei. Hulle moet meer mense hê wat soek na geleenthede, veranderings en swak seine – die klein dingetjies wat nie op die oomblik regstreeks met hul bedrywighede verband hou nie, maar wat hul kliënte, verskaffers of selfs regering en beleidsbepalers kan beïnvloed.

Alex Granger, medestigter van Twice Blue, ’n mensekapitaal-konsultantgroep in Johannesburg, sê hulle neem al hoe meer ’n arbeidsmag waar wat “smeek om op betekenisvolle wyse deel te neem aan en by te dra” tot hul onderneming. Mense moet medeskrywers in die veranderende omgewing word.

As hulle ’n belang in die sukses van die verandering het, is die kans groter dat hulle die verandering doelgerig en doeltreffend sal uitvoer. Aanpassing by die vinnige veranderinge vereis die vermoë om nuwe inligting te kombineer en saam te voeg om ’n vinnige “scenariobepaling” te doen. Dit sal sakeleiers in staat stel om te sien of hul strategie die nuwe ontluikende kwessies kan hanteer, daarop kan reageer, en dit kan benut, sê Cunningham.

Meer as net tegnologie

Die vierde nywerheidsomwenteling beteken maatskaplike onrus en ontwrigting op talle terreine. “Baie mense sien dit nie raak nie en daarom voel hulle veilig,” sê Cunningham. Ondernemings moet baie ontwrigtende “maatskaplik-tegnologiese verandering” hanteer.

Dit gaan nie bloot oor toerusting en tegnologie nie; ons moet op ontwrigtende sakemodelle konsentreer. “Wat my dronkslaan, is dat die revolusie in ander lande veroorsaak dat veel meer klein ondernemings ontstaan en spesialis- en kennisintensiewe maatskappye word... Ek merk dit nie in Suid-Afrika op nie,” sê Cunningham.

Die gebrek aan beleggings in navorsing en ontwikkeling verhinder plaaslike maatskappye om by tegnologiese verandering aan te pas. En Cunningham waarsku teen ’n te eng begrip van waaroor die vierde nywerheidsomwenteling werklik gaan. Almal is gaande oor dinge soos kunsmatige intelligensie, bestuurderlose motors en driedimensionele drukwerk.

Dit gaan oor meer as dié ontwikkelings. “Jy moet bepaal hoe jy jou onderneming rondom die nuwe tegnologie gaan inrig. Jy sal dalk nuwe verskaffernetwerke, ’n nuwe manier van kosteberekening en bestuur moet ontwikkel – en dalk nuwe kliënte moet kry,” sê hy.

Die toekomstige leiers

Renjen van Deloitte sê 47% van die respondente in die opname is vol vertroue dat hulle genoeg doen om ’n arbeidsmag te skep wat reg is vir die vierde nywerheidsomwenteling. Die peiling lig ’n bepaalde groep leiers vir die nuwe wêreld uit.

Die maatskaplike superleiers: Sommige leiers het uitgewerk hoe om goed te vaar deur goed te doen. Hulle het nuwe inkomstestrome gekry deur produkte en dienste te ontwikkel of te verander om meer “maatskaplik of omgewingsbewus” te wees.

Die datagedrewe besluitnemers: Hulle sal waar- skynliker in ontwrigtende tegnologie belê, besorg wees oor die etiese gebruik van nuwe tegnologie, en meer geneig wees om hul huidige werknemers op te lei vir die tegnologiese revolusie.

Ontwrigtingaandrywers: Hulle het meer vertroue dat hulle die revolusie kan lei en dat hul onderneming die geleenthede kan benut wat die vierde omwenteling inhou. Hulle het ’n omvattender benadering tot besluitneming.

Die talentkampioene: Hulle glo dat hulle die vaardighede het wat hul maatskappy benodig en dat hul arbeidsmag reg saamgestel is. Hulle gryp hul verantwoordelikhede aan om hul werknemers vir die toekomstige werkwêreld op te lei.

Kry ’n voordeel

Volgens Granger van Twice Blue moet leiers onvermoeid “nuuskierig oor vernuwing” wees. Hulle moet besef dat hul opeleiding van tien jaar gelede nie voldoende gaan wees nie. “Hulle moet die nuwe maniere van werk leer ken en ontwrigting en eksponensiële groeimetodes vir hul onderneming verstaan.”

Cunningham sê die ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse arbeidsmag sal afhang van hoe vaardig leiers is om ’n diverse en hoogs gespesialiseerde arbeidsmag te bestuur – of meer gespesialiseerd as wat vroeër nodig was. “Ons sal dalk ons bestuurspanne se vaardighede moet verbeter, en sal hulle dalk meer gereeld moet verander.”

Granger sê sommige sleutelterreine wat senior leiers sal aandryf, is ratsheid, aanpasbaarheid en samewerking. Hulle moet komplekse probleme kan oplos en krities en kreatief kan dink. Dit sal hulle op die voorpunt van verandering hou. Suid-Afrika het ondernemings nodig wat die nuwe entrepreneurs en bedrywe kan lei om in die nuwe wêreld te oorleef én te floreer. Dié wat dit reeds doen, is nie goed geposisioneer of sigbaar nie, sê Cunningham.

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za

Meer oor:  Werk  |  Sakeleiers  |  Finweek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.