Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Hoekom genoeg slaap nodig is vir gesonde werksplekke
23 April 2021

Mense wat te min slaap, kan probleme by die werk veroorsaak weens slegte buie, emosionele uitbarstings en negatiwiteit, wat die hele organisasie kan raak. Dit raak egter erger.

Mense wat hul lang werksure, in die dag of nag, as ’n “ereteken” dra, loop die bykomende risiko van ’n noodlottige hartaanval en die begin van alzheimersiekte of demensie.

Volwassenes het minstens sewe uur se ononderbroke slaap en ’n maksimum van nege uur se slaap per nag nodig. Baie mense in leierskapsposisies spog dat hulle net ses uur se slaap per nag “nodig het”. Joni Peddie, uitvoerende hoof van Resilient People, haal Matthew Walker, ’n professor in neurowetenskap en sielkunde aan die Universiteit van Berkeley, Kalifornië, aan, waarin hy sê dat dié mense hul risiko vir ’n noodlottige hartaanval met 200% (sien kassie) verhoog.

Joni Peddie, uitvoerende hoof van Resilient People

Peddie sê een van die uitwerkings van die koronaviruspandemie is dat talle mense sukkel om aan die slaap te raak en om aan die slaap te bly. Dit het gelei tot die skep van ’n nuwe woord – “koronasomnie” – en dit gaan sonder twyfel nog baie lank by ons bly weens die bedreiging van ’n nuwe vlaag wat die land kan tref.

Dit raak jou werksplek

Mense wat te min slaap, word kort van draad, prikkelbaar en bitsig. Die vermoë om te luister, gaan verlore en hul geheue word beperk – mense vergeet wat in vorige vergaderings gesê is en hulle begin spertye mis.

Studies het getoon dat die amigdala (die deel van die brein wat vir die ontlokking van sterk emosies soos woede verantwoordelik is) is sowat 60% meer emosioneel reaktief in mense wat te min slaap. Sonder slaap neig ons tot ’n patroon van onbeheersde en dikwels onvanpaste emosionele reaksies, sê Peddie.

Die prefrontale korteks (daardie deel van die brein wat verband hou met rasionele, logiese denke en besluitneming) word ook ernstig aangetas deur ’n nag van slegte slaap.

“Sonder slaap het ons min rasionele beheer, en kritieke denkwyse verdwyn dan waarskynlik in die niet,” sê sy. Karina de Bruin, besturende direkteur van JVR Academy, en raadgewende sielkundige, sê mense wat te min slaap, is minder in staat om gereelde daaglikse aktiwiteite te verrig soos om aandag te skenk of om by die werk te konsentreer. Hulle sukkel om wakker te bly wanneer hulle stil sit, byvoorbeeld gedurende vergaderings. Hulle het ook meer gereeld emosionele uitbarstings en sukkel om stres te verwerk en ly aan slegte buie.

Studies toon ook dat ’n slegte bui – wat grootliks verband hou met ongesonde slaappatrone – het ’n negatiewe uitwerking op ons besluitneming, motivering en produktiwiteit. Sy sê hulle ervaar meer pessimisme, ’n siniese geestesgesteldheid en negatiewe gedagtes. Dis interessant dat navorsing toon dat die getal ure wat ’n mens slaap met inkomste verband hou. Mense wat meer geld verdien (wat hoofsaaklik met leierskap verband hou), slaap minder.

Leiers is veral vatbaar vir die impak van swak slaappatrone. “Leiers bepaal dikwels die bui in die werkplek. Buie is ook aansteeklik. As die leier of bestuurder in ’n slegte bui is, steek dit kollegas aan,” sê De Bruin.

Karina de Bruin, besturende direkteur van JVR Academy en ’n sielkundige

Sosiale wanfunksionele gedrag

Paula Pienaar, biokinetikus, slaapwetenskaplike en dubbele PhD-kandidaat aan die Universiteit van Kaapstad en die Vrije Universiteit in Amsterdam, glo dat werknemers wat te min slaap minder verdraagsaam kan wees teenoor hul mede- werkers se verskillende menings, wat hulle vatbaarder vir reaksionêre uitbarstings en ander vyandige gedrag maak, wat groot spanning in die werkplek kan skep. Studies het getoon dat min slaap werkers se effektiewe en sosiale funksionering kan aantas, asook hul wantroue in ander.

“Meer spesifiek, individue wat te min slaap vind dit moeiliker om nie-verbale wenke soos gelukkige of kwaai gesigte te snap as individue wat genoeg slaap. Dit kan die moreel in die werkplek verminder en die dinamika van die werkspan verswak,” sê Pienaar. Slaperigheid en moegheid in die dag, wat veroorsaak word omdat jy sleg slaap – jou slaaptyd is te kort of is van ’n swak gehalte – kan daartoe lei dat jy jou aan jou werk onttrek.

Mense is meer dikwels laat of afwesig. Dit kan ook daartoe lei dat jy jou aan jou werk onttrek, wat lei tot kognitiewe en emosionele verwarring en jou werk wat verwaarloos word. “Verhoudingsprobleme by die werk raak die hele organisasie. Dié probleme dra by tot ondoeltreffendheid en ontevredenheid met jou werk,” sê Pienaar.

Studies het getoon dat die amigdala (die deel van die brein wat verantwoordelik is vir die ontlokking van sterk emosies soos woede) het meer as 60% meer emosionele reaksie in mense wat te min slaap.

Die sirkadiese ritme

Peddie sê voorts dat mense se vermoë om probleme op te los en besluite te neem, begin wankel. “Om jou motor ná ’n nag van slegte slaap te bestuur, is dieselfde as om met ’n bloedalkoholvlak van 0,08% te bestuur,” sê sy. Net soos ons ’n motorbestuurder se asem vir alkohol toets, behoort ons ’n toets te hê vir iemand wat te min slaap en met swaar masjinerie werk, sê Peddie.

Skofwerkers vind dat hul sirkadiese ritme (jou liggaamsklok) ontwrig word. Hulle moet ’n “punt” aan die einde van hul dag sit, ongeag wat die duur van hul werksdag is. Dié werkers moet ná ’n skof huis toe gaan, in ’n warm bad klim, iets ontspannend lees om hul gedagtes “op te ruim” omdat die adrenalien gedurende skofwerk kwaai inskop, ongeag die werk wat hulle doen.

“Jy moet die adrenalien- en kortisolvlak verlaag, dra ’n bril wat blou lig uitskakel sodat dit help om die sirkadiese ritme te laat inskop en om die produksie van melatonien wat vir ’n diep slaap nodig is, aan te help.”

Behoorlike slaaphigiëne

De Bruin sê verskeie faktore soos geraas, uiterste temperature, die newe-effekte van sommige medikasies, en mediese of emosionele gesondheid soos chroniese pyn, depressie, angs en gebeure wat stres veroorsaak, soos die verlies van ’n geliefde of jou werk, kan ’n negatiewe uitwerking op slaap hê. Volgens Pienaar kan ligblootstelling binne twee tot drie uur voor slaaptyd, veral as jy naby ’n skerm werk, jou liggaam se vermoë onderdruk om die slaaphormoon, melatonien, vry te stel, wat tot ’n lang, onrustige tydperk van slaaploosheid lei. “Jy voel vaak veel later as wat jou liggaam nodig het.”

Peddie noem ligte slaap (eerste en tweede stadium) en diep slaap (derde en vierde stadium). Ons bereik net die vierde stadium as ons genoeg melatonien in ons stelsel het. Lig wat deur jou ooglede skyn, tas die pineale klier se produksie van melatonien aan, sê sy.

Gedurende diep slaap, raak die brein van gifstowwe ontslae – proteïen-opbouing wat taai trosse vorm bekend as beta-amiloïedplaak, tussen die neurone. Mense wat sonder ’n wekker wakker word en wat vars voel, het die probleem onder die knie. Maar dit gebeur nie oornag nie, sê Peddie. Mense moet aan hul sirkadiese ritme werk.

Pienaar sê voorts dit is nou waarskynlik moeiliker om die tekens van slaaploosheid te herken omdat baie mense nog van die huis af werk. Organisasies kan dit miskien oorweeg om ’n kort opname op die intranet te doen, wat slaapprobleme kan waarneem en wat maniere kan bied vir werknemers om ondersteuning te kry.

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za


Kenners se raad om goeie slaapgewoontes te ontwikkel

* Hou om 14:00 op om koffie, tee, groentee of sodakoeldrank te drink, of sjokolade te eet as jy om 22:00 bed toe gaan.

* Vermy uitermatige gebruik van alkohol voor jy gaan slaap. Die World Sleep Society stel voor dat mense vier uur voor slaaptyd minder alkohol moet drink.

* Gaan slaap elke aand om dieselfde tyd en staan die volgende oggend dieselfde tyd op, selfs oor naweke.

* Vermy TV-kyk asook die gebruik van enige ander digitale skerms minstens 60 tot 90 minute voor slaaptyd.

* Ruim jou slaapkamer op en sorg dat dit volkome donker is of dra ’n oogmasker wanneer daar lig is, wat steeds deur jou ooglede dring.

* Vermy lang middagslapies. As jy moet dut, maak dit kort en vroeg in die middag.

* Hou ’n dagboek van jou slaapgewoontes vir minstens twee weke en bepaal jou slaappatrone.

* Oefen daagliks en slaap op ’n gemaklike matras en kussings.


Dagligbesparing en slaap

Kritici van dagligbesparingstyd sê die gewoonte is verouderd. Talle wetenskaplikes sê dis ook gevaarlik – ten minste om en by die tyd wanneer wekkers “vorentoe gestel word” en mense ontneem van ’n uur se waardevolle slaap.

Die American Heart Association noem ’n Finse studie wat getoon het dat die risiko van ’n beroerte met 8% toeneem gedurende die eerste twee dae ná die begin van dagligbesparingstyd.

In Swede, het navorsers gevind dat risiko van ’n hartaanval met 6,7% toeneem in die drie dae ná die lenteverandering.

’n Groep Amerikaanse navorsers het hul eie studie gedoen en bepaal dat die risiko van ’n hartaanval met 24% toeneem die Maandag nadat daar ná dagligbesparingstyd oorgeskakel is.

Dié risiko het dan oor die res van die week afgeneem. In teenstelling, het die risiko van ’n hartaanval met 21% afgeneem op die Dinsdag ná die verandering van tyd in herfs.

* BRON: www.heart.org

* Foto’s: Verskaf I Shutterstock

Meer oor:  Gesondheid  |  Finweek  |  Slaap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.