Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Hoekom wag Suid-Afrika steeds op goedkoper data?
15 Augustus 2019

Suid-Afrika is die prys van mobiele data hoër as in baie ander lande in Afrika en elders. 

'n Lang verwagte beleidsbesluit deur die regering het die Suid-Afrikaanse telekommunikasiebedryf met meer vrae as antwoorde gelaat. Dit het die hoop laat vervaag dat spektrum gou vrygestel sal word –wat bestaande netwerkoperateurs sê hulle sal help om hul diens te verbeter en die koste van data te verlaag.

Verwys na die frekwensies wat radio, televisie en die selfoonbedryf asook ander draadlose toepassings, soos Wi-Fi en Bluetooth, gebruik om oor die eter te kommunikeer. Dit is ’n soewereine bate én ’n beperkte hulpbron en word bestuur deur die nasionale regulatoriese owerhede, wat lisensies vir die gebruik daarvan uitreik.

Beleidstraagheid en wanbestuur hou die toekenning van nuwe spektrum in Suid-Afrika al langer as ’n dekade terug, wat operateurs dwing om meer geld te bestee om hul infrastruktuur aan te pas om in die vraag te kan voorsien.

Die besluiteloosheid het ook verhinder dat plaaslike televisie-uitsaaiers bybly met digitale migrasie, ’n wêreldwye verandering in tegnologie wat spektrum wat tans deur die uitsaaiers beset word, aan selfoonoperateurs sou vrystel.

Dit is kernbelangrik!

Om die skaarste aan spektrum uit die weg te ruim, is kernbelangrik vir die ekonomie, want breër, goedkoper en doeltreffender netwerkdekking sal innovasie aanwakker, werk skep en dit goedkoper maak om in Suid-Afrika sake te doen – wat meer beleggings na die land sal lok.

Ontleders het die aankondiging deur Stella Ndabeni-Abrahams, minister van kommunikasie, op 26 Julie verwelkom, maar meen dit dui op verdere vertragings. Die regering het besluit om ’n groot deel van die land se ongebruikte spektrum, wat hoogs in aanvraag is, aan ’n sogenaamde Wholesale Open Access Network (WOAN), wat deur ’n konsortium van maatskappye met diverse eienaarskap opgerig sal word, toe te wys.

Die bedoeling is om mededinging te bevorder deur die mark oop te stel vir klein en middelslagondernemings wat aan ondernemings in swart besit voorkeur sal gee en deelname deur geteikende groepe, waaronder vroue, jongmense en gestremde persone, sal insluit.

Operateurs wat hul eie spektrum kry, moet vir minstens vyf jaar 30% van hul nasionale kapasiteit by die WOAN koop.

Die beleid stel voorwaardes aan bestaande operateurs wat oorblywende dele van die spektrum wil koop deur te vereis dat infrastruktuur eerste in die minder winsgewende landelike gebiede ontplooi moet word. Dit gee aan die WOAN voorkeurtoegang en bykomende steun.

Operateurs wat hul eie spektrum kry, moet vir minstens vyf jaar 30% van hul nasionale kapasiteit by die WOAN koop en sal verplig wees om hul infrastruktuur teen groothandelspryse aan die entiteit beskikbaar te stel sodra dit opgerig is. Die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (Okosa) sal lisensies vir die spektrum toeken en is deur die regering versoek om lisensiegelde vir die WOAN te verlaag of kwyt te skeld, wat aan die entiteit ’n insetkostevoordeel sal gee en dit sal toelaat om laer pryse te vra.

Geen tydlyne 

Geen tydlyne is egter gestel vir die WOAN om opgerig te word of in bedryf te kom, of vir die opveil van wat oorbly van die spektrum aan die bestaande operateurs nie. Kort ná die aankondiging het Okosa ’n uitnodiging gerig vir tenders wat die owerheid sal help om, voordat lisensies toegeken word, die waarde te bepaal van spektrumbandwydtes wat hoog in aanvraag is.

Hoeveel spektrum aan die WOAN en hoeveel aan die bestaande netwerkoperateurs toegewys sal word, is ook onduidelik – behalwe vir die riglyn in ’n studie deur die Raad vir Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsing (WNNR) verlede jaar dat die nuwe entiteit 20% van die mark sal moet hê om lewensvatbaar te wees.

“Dié hele proses gaan lank vat en die vrystel van spektrum verder vertraag. Hoe langer die vertraging, hoe langer gaan pryse hoog bly.”

“Wat nie in die beleidsbesluit is nie, is voorskrifte en meganismes vir die toekenning van spektrum en watter soort sakemodel vir die WOAN-konsortium gebruik gaan word,” sê Naila Govan-Vassen, navorsingsbestuurder by Research ICT Africa.

“Die grootste kwelling is die tydlyn vir WOAN, tesame met die gebrek aan duidelikheid oor watter persentasie van die spektrum daaraan toegewys gaan word en wat aan ander lisensiehouers van elektroniese kommunikasienetwerkdienste toegewys kan word,” sê sy. “Dié hele proses gaan lank vat en die vrystel van spektrum verder vertraag. Hoe langer die vertraging, hoe langer gaan pryse hoog bly.” Die prys van mobiele data in SA is hoër as in baie ander lande in Afrika en elders: ’n onlangse ondersoek deur Cable, ’n Britse webwerf wat mobiele breëband vergelyk, plaas die land 143ste uit 230 lande wêreldwyd.

Die Mededingingskommissie gee die afwesigheid van mededinging en gebrek aan deursigtigheid by groot operateurs soos Vodacom en MTN die skuld vir hoë datakoste, maar erken die skaarsheid van spektrum is ’n faktor.

Shameel Joosub, uitvoerende hoof van Vodacom

Shameel Joosub, uitvoerende hoof van Vodacom, wat skerp te velde trek teen beleidmakers se onbevoegdheid, sê toegang tot meer spektrum sal selfoonnetwerke in staat stel om hul datapryse te halveer. SA het die afgelope 11 jaar 11 kommunikasieministers gehad.

Nóg Vodacom nóg MTN het al op die beleidsaankondiging gereageer, maar sê hulle bestudeer die dokument en sal mettertyd kommentaar lewer. Volgens ontleders word hulle in effek uit die mark gedruk en kan dit moeilik vind om voldoende opbrengs te kry op die kapitaal wat hulle reeds in hul infrastruktuur geploeg het. Louis Avenant, bestuurder by PwC se Strategy&, meen dit kan twee jaar duur voordat die WOAN in bedryf is, terwyl die spektrum wat vir bestaande rolspelers geoormerk is binne die volgende paar maande vrygestel kan word.

“Op papier is dit ’n goeie ding. As dié WOAN in bedryf kan kom en die soort eienskappe het wat beoog word – meesal deur KMMO’s gedryf – en die soort universele diens kan bied wat benodig word, sal dit gewis goed wees vir ontwikkeling in SA,” sê hy.

In dié stadium is dit egter nie duidelik hoe die WOAN gaan werk nie – wie gaan deelneem, wie gaan die infrastruktuur finansier, wat gaan die verhouding tussen die WOAN en huidige operateurs wees, wat gaan met die bestaande infrastruktuur gebeur? Dis als vrae wat onbeantwoord bly.” Tot dusver het WOAN’s ’n slegte prestasierekord.

Die Global System for Mobile Communications 

Die Global System for Mobile Communications (GSMA) – ’n handelsliggaam wat die belange van die bedryf wêreldwyd verteenwoordig – het twee jaar gelede gewaarsku dat WOAN’s nie die beste oplossing vir beter dekking en bekostigbaarder pryse is nie.

Dobek Pater, direkteur van sakeontwikkeling by die IKT-konsultantmaatskappy Africa Analysis, sê die struktuur van die WOAN sal kernbelangrik wees om te verseker dit raak nie disfunksioneel nie.

“Dit kan ’n voertuig wees wat bied wat die regering wil hê en ’n breëbanddiens van goeie gehalte aan landelike gebiede kan lewer, maar dit moet soos ’n kommersiële entiteit funksioneer. Dit moet bekwaam bestuur word deur een of twee partye om seker te maak dit funksioneer behoorlik.”

Pater sê ’n spektrumveiling aan bestaande operateurs binne enkele maande is moontlik, maar sal waarskynlik in die eerste kwartaal van aanstaande jaar plaasvind.

Naila Govan-Vassen, navorsingsbestuurder by Research ICT Africa.

grootste vertraging sal wees met die vrystelling van spektrum wat uitsaaiers tans beset, aangesien hulle eers teen middel aanstaande jaar van analoog na digitaal moet oorskakel. Suid-Afrika het nie die Internasionale Telekommunikasie-unie se sperdatum van Junie 2015 vir digitale migrasie gehaal nie weens onderlinge meningsverskille tussen uitsaaiers, regstwiste en magstryde binne die regering.

Ook die selfopgelegde sperdatum van Junie 2018 wat Faith Muthambi, voormalige minister van kommunikasie, gestel het, is misgeloop. Die nuwe beleid stoot die tydlyn vir die gebruik in Suid-Afrika van vyfdegenerasie- draadlose netwerktegnologie (5G) wat vanjaar wêreldwyd uitgerol word, ook verder uit.

5G-spektrum

Volgens die besluit sal oorweging van 5G-spektrum in ’n afsonderlike beleidsbesluit êrens in 2020 gedek word, nadat ’n verslag aan die minister voorgelê is ses maande ná die volgende Wêreldkonferensie vir Radiokommunikasie wat laat in November plaasvind.

Dit sal teleurstellende nuus wees vir operateurs wat reeds met proeflopies begin het vir die ontplooiing van hoëspoedtegnologie in SA – veral vir Rain, ’n netwerkoperateur vir slegs data en die enigste maatskappy wat tot dusver ’n kommersiële 5G-netwerk bekendgestel het.

Die afwesigheid van 5G in SA is in talle opsigte ’n groot kwelling — dit word beskou as deurslaggewend vir die ontplooiing van die Internet van Dinge, selfbestuurmotors en slimstede.

Die afwesigheid van 5G in SA is in talle opsigte ’n groot kwelling — dit word beskou as deurslaggewend vir die ontplooiing van die Internet van Dinge, selfbestuurmotors en slimstede.

Dit sal ook die infrastruktuur bied om groot hoeveelhede data te vervoer en vernuwing aan te wakker in nuwe tegnologieë, soos industriële outomatisasie en mediese moniteringstelsels.

“Ons is alewig agter die res van die wêreld en dis juis oor dié soort ingesteldheid,” sê Avenant. “As die bestaamde operateurs meen dit is haalbaar om 5G-tegnologie bekend te stel, is daar geen rede om dit nié te doen nie, want dit gaan nuwe markte skep.”

’n Ekonomiese verslag van die GSMA in Julie voorspel dat die vrystelling van 5G-kapasiteit ’n aansporing vir wêreldwye ekonomiese sal groei wees en die bruto binnelandse produk (BBP) van lande net in Afrika suid van die Sahara met $5,2 miljard kan verhoog teen 2034.

Vinniger internettoegang

Vinniger internettoegang maak saak – ’n Wêreldbankstudie het vanjaar gewys die koms daarvan nagenoeg twee dekades gelede na lande in Sub-Sahara-Afrika het die waarskynlikheid dat ’n individu werk kry met tot 13% verhoog, met die impak vir ongeskoolde werkers meer positief as in ryk lande.

Die mobiele ekostelsel in Suid-Afrika het volgens die GSMA in 2018 al 7,6% van die BBP gegenereer, oftewel $28,5 miljard van die waarde wat tot die ekonomie toegevoeg is.

“Gesteun deur die regte beleidsomgewing, sal dié ekonomiese impak na verwagting teen 2023 tot $30 miljard styg vanweë die produktiwiteitsvoordele wat ’n groter penetrasie van mobiele internet meebring,”” sê die GSMA.

  • Stuur 'n boodskap na terugvoer@finweek.co.za
  • Mariam Isa is ’n vryskutjoernalis wat in 2000 na Suid-Afrika gekom het as die finansiële hoofkorrespondent vir die Reuters-nuusagentskap nadat sy in die Midde-Ooste, Brittanje en Swede gewerk het. Sy het haar in 2007 as ekonomiese redakteur by Business Day aangesluit en het in 2014 bedank om oor ’n breër reeks onderwerpe vir verskeie publikasies in Suid-Afrika en Brittanje te skryf.

Meer oor:  Internettoegang  |  Data  |  Finweek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.