Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Huurders het nog teen die einde van 2020 gesukkel
Foto: iStock

Die Covid-19-inperking het ’n negatiewe uitwerking op huurbetalings gehad en die stadige herstel van hierdie betalings toon dat die tempo van die ekonomiese herstel afneem.

Die betaalprestasie van kommersiële huurders is tiperend ’n spieëlbeeld van die ekonomie en word grootliks beïnvloed deur ekonomiese groei soos gemeet aan die bruto binnelandse produk (BBP). Die vlak van huurderbetaalprestasie is gewoonlik hoër wanneer daar ekonomiese groei is en laer wanneer die ekonomie sukkel. 

Hierdie tendens was veral in 2020 duidelik. Hoewel die betaalprestasie van huurders sy herstel in die vierde kwartaal van 2020 voortgesit het, is hy nog ver van volkome herstel af. 

In die tweede kwartaal van 2020 – met die hoogtepunt van die inperking – was slegs 50,36% van kommersiële huurders kredietwaardig met betrekking tot hul verhuurders, volgens TPN se kommersiële huurmonitor vir die vierde kwartaal. Dit het in die derde kwartaal tot 56,19% verbeter en tot 61,2% in die laaste kwartaal, wat aandui dat daar ’n geleidelike herstel in die betaalprestasie van huurders was namate die inperkingbeperkings verlig is.

Kredietwaardige huurders is diegene wat hul uitstaande skuld ten volle vereffen het, insluitend bykomende koste soos parkering, nutsdienste, munisipale dienste en agterstallige bedrae. 

Hoewel die betaalprestasie van kommersiële huurders tekens van herstel getoon het, is dit kommerwekkend dat die hersteltempo afneem en dat dit steeds heelwat laer as die vlak voor Covid-19 van 77,85% was, wat in die eerste kwartaal van 2020 aangeteken is en aansienlik laer as die hoogtepunt van 83,56% wat in 2012 behaal is. 

Die kommersiële-eiendomsektor bestaan uit drie belangrike subsektore: kleinhandel, industrieel en kantoor. Dit is nie verbasend nie dat die kleinhandelsubsektor se huurders aanvanklik die ergste deur die streng inperkingstydperk geraak is. Kleinhandel het egter teen die vierde kwartaal die beste herstel van al die kommersiële-eiendomsektore deur van ’n laagtepunt van ’n kredietwaardige 45% in die tweede kwartaal te styg tot ’n kredietwaardige 61% teen die einde van die jaar met laer onbesettings wat ’n buffer teen meer wanbetalers bied. 

In die subsektor van industriële eiendom, het die betaalprestasie van huurders van 54% in die tweede kwartaal tot 65% teen die vierde kwartaal verbeter, volgens die kommersiële huurmonitor. Hierdie subsektor is swaar deur vervaardigers getref.

Die aanduidings is dat ’n verdere herstel op hierdie gebied moeilik bereikbaar sal wees weens die feit dat die koopbestuurdersindeks vir vervaardiging met betrekking tot nuwe verkope vir die eerste kwartaal van 2021 heel middelmatig gevaar het. En die uitdagings wat hierdie subsektor in die gesig staar, word deur kragonderbrekings vererger. Hoewel kragonderbrekings al die huurdersektore raak, het hulle die grootste uitwerking op industriële huurders. 

Ons data toon dat die kantoorsubsektor in 2020 die beste gevaar het, met kredietwaardigheid van 61% in die tweede kwartaal en ’n herstel tot 71% teen die vierde kwartaal.

Hierdie subsektor sal in die toekoms egter waarskynlik die grootste uitdagings in die gesig staar weens die hoër onbesettings namate talle ondernemings verkies dat hul werknemers van die huis af werk. Volgens MSCI asook die SA Eiendomseienaarsvereniging (SAEEV) het die kantoorsubsektor onbesettings van 13,3% teen die einde van 2020 aangemeld.

Die hoër onbesettingseyfer in die kantoorsubsektor word vererger deur meer wanbetalings namate ondernemings steeds die naskokke van die streng inperking ervaar. 

Al drie die groot kommersiële eiendomsektore is egter oortref deur berging wat in die tweede kwartaal van 2020 slegs ’n matige insinking van 78% van kredietwaardige huurders ervaar het. Teen Oktober het hierdie syfer egter tot 90% herstel.

Wat heel duidelik is, is dat die inperking talle ondernemings swaar getref het en in die proses ’n uitwerking op die betaalprestasie van huurders gehad het. Die verlangsaming in die hersteltempo van huurderbetalings toon dat die tempo van ekonomiese herstel besig is om af te neem met die gedeeltelike herstel in die ekonomie wat die gedempte herstel in die betaalprestasie van huurders weerspieël.

Hierdie gedeeltelike herstel word insgelyks weerspieël in die beter maar steeds baie swak sakevertroue. Verskeie leidende sakesiklusaanwysers, insluitend die RMB-BER Sakevertroue-indeks, het ook begin dui op ’n verlangsaming in die hersteltempo na die streng inperking. 

Hierdie verlangsaming in die herstel behoort nie verbasend te wees nie aangesien talle ondernemings reeds voor Covid-19 óf gesukkel het óf reeds hul deur gesluit het. Die pandemie het hul bestaande uitdagings vereger. Dit lyk al hoe waarskynliker dat dit etlike jare sal neem vir die land se ekonomie om te herstel tot die vlak van voor die Covid-19-pandemie ons getref het.  

* Michelle Dickens is die uitvoerende hoof van TPN Credit Bureau

Meer oor:  Huurders  |  Verhuring  |  Finweek  |  Eiendom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.