Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Ignoreer volhoubare belegging op eie risiko
7 November 2019
Foto: Shutterstock

Daar is al hoe meer bewyse dat beleggings wat blootgestel is aan omgewing-, maatskaplike en bestuurskwessies (OMB-kwessies), die gevaar loop dat dié soort risiko’s uiteindelik hul waarde sal ondermyn, opbrengs sal wegvreet en dalk selfs tot die ineenstorting van die maatskappye of ander bates lei.

En namate volhoubare belegging wêreldwyd deel van die hoofstroom word, vereis instellings, fondsbestuurders, kredietgraderingsagentskappe en kleinbeleggers noukeuriger ondersoeke na die uitwerking van klimaatsverandering, die gehalte van korporatiewe bestuur en die maatskaplike gevolge van investeringsbesluite.

Die verandering in ingesteldheid word net deels deur etiese oorwegings aangedryf, al word dit belangriker, veral vir jong mense, vroue en individue met hoë netto waarde. Daar word al hoe meer erken dat ’n eng fokus op finansiële maatstawwe vir korttermyn-wins teen die agtergrond van ’n snelveranderende wêreld eenvoudig onverskillig en uiteindelik skadelik vir die opbrengs is.

Daar is skouspelagtige onlangse voorbeelde van waar die gebrek aan ingesteldheid op OMB-kwessies vir korporatiewe reuse – sowel internasionaal as in Suid-Afrika – rampspoedig was. Die Amerikaanse oliereus Exxon Mobil Corp is in Oktober in New York hof toe gevat en daarvan beskuldig dat hy beleggers doelbewus mislei het oor die sakerisiko’s verbonde aan regulasies wat op die hantering van klimaatsverandering gemik is.

Kalifornië se grootste kragnutsmaatskappy het vroeër vanjaar bankrot gespeel nadat veldbrande wat deur ’n rekorddroogte veroorsaak is, sy aanspreeklikhede van $30 miljard ontbloot het, en die Duitse motorvervaardiger Volkswagen het wêreldwyd meer as €30 milard uitbetaal omdat hy met vrystellingstoetse gekul het.

In Suid-Afrika het Sasol se twee mede- uitvoerende hoofde op 28 Oktober bedank ná ’n onafhanlike ondersoek na die maatskappy se rampspoedige investering in die Lake Charles Chemicals Project in Amerika wat uiteindelik amper dubbel die oorspronklike bedrag gekos het en meer as 40% van sy aandeelprys se waarde uitgewis het.

“Wat vir baie beleggers werklik kommerwekkend is, is die verkwistende besteding aan buitelandse ambisies wat afgeskryf is,” sê Faima Vawda, besturende direkteur van 27four Investment Managers.

“Ons het bereken dat JSE-genoteerde maatskappye die afgelope tien jaar byna R170 miljard se mislukte oorsese beleggings gedoen het.”

“JSE-genoteerde maatskappye die afgelope tien jaar [het] byna R170 miljard se mislukte oorsese beleggings gedoen.”

Die ineenstorting van Steinhoff en die finansiële terugsakking van die inligtingtegnologie-diensverskaffer EOH en die topsuikerprodusent Tongaat Hulett is goeie voorbeelde van die gevolge van swak bestuur – ’n kwessie wat volgens batebestuurders ook by ander vooraanstaande JSE-genoteerde maatskappye voorkom. Luidens ’n verslag deur Bank of America (BofA) in September kon 90% van die bankrotskappe tussen 2005 en 2015 op die S&P 500 vermy gewees het as maatskappye met ondergemiddelde omgewing- en maatskaplike tellings vyf jaar voor die voorval uitgesif is.

Hy het ook bevind dat OMB-verwante kwessies in die afgelope ses jaar met piek-na-dal-markkapitaalverliese van $534 miljard by groot Amerikaanse maatskappye gepaardgegaan het. En dit is net die gevolge van onoplettendheid.

Die goeie nuus is dat batebestuurders en maatskappye wat OMB-strategieë deel van hul besluite maak, dikwels aansienlik beter opbrengs as hul portuurgenote behaal – ondanks voortdurende skeptisisme onder die beleggingsgemeenskap en die gewone publiek wêreldwyd. Aandele wat met OMB-maatstawwe goed vaar, het die afgelope vyf jaar tot drie persentasiepunte per jaar beter as die mark gevaar, terwyl dié maatskappye se skuldkoste byna twee persentasiepunte laer as dié met minder gunstige OMB-tellings kon wees, sê BofA. “Ons gesprekke met kliënte toon ’n verdeling tussen voorstanders en skeptici – net soos ons ook nie oortuig was voordat ons ons navorsing na dié eienskappe aangepak het nie,” skryf die BofA-ontleders in hul verslag.

“OMB is die beste maatstaf wat ons gekry het om toekomstige risiko aan te dui. Dis beter as ander risiko- en kwantiteitfaktore.” Aanduidings van die finansiële voordele daarvan om OMB-faktore in beleggingsbesluite in ag te neem, neem toe namate meer navorsing oor die onderwerp gedoen word. Volgens Axioma, wat risiko- en portefeuljeontleding verskaf, het die meeste portefeuljes ter wêreld wat oorhel na maatskappye met beter OMB-tellings as hul marknorm, in die vier jaar tot Maart verlede jaar tot 2,43 persentasiepunte beter as hul marknorm gevaar.

Jon Duncan, hoof vir verantwoordelike beleggings van Old Mutual

“Dit maak eenvoudig sin om ontleding deur die lens van volhoubaarheid te bekyk,” sê Jon Duncan, hoof vir verantwoordelike beleggings van Old Mutual. “Ons dink dis ’n belangrike tematiese tendens wat mededingendheid in alle bedrywe wêreldwyd hervorm.

“Maatskappye wat dit vinniger as hul mededingers kan inskakel, sal ’n paar baie positiewe eienskappe toon. Dié eienskappe sluit in dinge soos sterker handelsmerk- erkenning, beter marktoegang, laer kapitaalkoste, groter hulpbrondoeltreffendheid, sterker innovasie en mededingingsvoordeel op lang termyn en uiteindelik groter markwaardasies as hul mededingers.”

Fatima Vawda, stigter en besturende direkteur van 27four Investment Managers

Wêreldwyd het die bates in volhoubare belegging in die vyf groot ontwikkelde markte begin verlede jaar $30,7 duisendmiljard bedra nadat dit sedert begin 2016 met 34% toegeneem het, luidens ’n verslag deur Global Sustainable Investment Alliance in April. Volhoubare belegging se markaandeel het in alle streke afgesien van Europa toegeneem – wat steeds ver voor Amerika, Kanada, Australië en Japan is – moontlik vanweë strenger standaarde en definisies, sê hy.

Die grootste strategie vir volhoubare bates is steeds uitsifting, gevolg deur OMB-integrasie en die kombinasie van korporatiewe betrokkenheid en aandeelhouersoptrede, wat in Suid-Afrika vinnig toeneem.

Die aandeel van kleinbeleggingsbates, wat persoonlike beleggings deur individue is, het in dié tydperk van 20% tot 25% toegeneem, terwyl institusionele bates wat vir pensioenfondse, stigtings, versekeraars en universiteite bestuur word, steeds oorheers het met ’n aandeel van 75%. Genoteerde aandele het 51% verteenwoordig, gevolg deur vaste inkomste op 36%, toon die verslag.

Meer onlangse data van die internasionale finansiëledienste-maatskappy Morningstar toon dat die vloei na 271 volhoubare oop en beursverhandelde fondse (ETF’s) in Amerika op pad was om verlede jaar se rekord te verpletter deur in die eerste helfte van vanjaar tot $8,9 miljard te styg, teenoor verlede jaar se $5,5 miljard.

Terence Craig, direkteur van Element Investment Managers

“Beleggers se belangstelling in volhoubaarheid neem al ’n ruk lank toe, maar in die fondsomgewing is daar ’n gebrek aan beskikbaarheid by al die bateklasse. Met ’n rekordaantal volhoubare fondse wat sedert 2015 gestig is, is die aanbodkant grootliks gehanteer,” sê hy in die verslag. “Namate dié fondse hul prestasiegeskiedenis ontwikkel het, het hulle meer bates begin lok. Daarby sluit die fondse wat onlangs begin is baie oop en beursverhandelde indeksfondse in, wat aan die vereiste van toenemende beleggersvoorkeur vir passiewe belegging voldoen.”

Larry Fink, voorsitter en uitvoerende hoof van BlackRock, het verlede jaar in ’n onderhoud met Financial Times gesê volhoubare belegging sal “in die toekoms ’n kernkomponent wees van hoe almal belê” en dat “dit nou eers in die vroeë stadiums is”.

BlackRock, die wêreld se grootste batebestuurder, beplan om ’n wêreldleier in volhoubare belegging te word. Hy meen dat die bates in ETF’s wat OMB-faktore in ag neem, binne ’n dekade van $25 miljard tot $400 miljard sal toeneem. BlackRock het reeds amper ’n kwart van dié marksegment. Volhoubare belegging word ook al hoe belangriker vir privaatekwiteitsmaatskappye, het PwC vroeër vanjaar in ’n verslag gesê.

“Die direksie en bestuur rig die maatskappy, maar die passasiers in die bus – die aandeelhouers – moet ten minste seker maak dat die bestuurder voldoen aan die regulasies.”

“OMB-kwessies het van ’n nis na die hoofstroom beweeg, met 81% van ons respondente wat ’n beleid oor verantwoordelike belegging aanvaar het, en 81% wat ook minstens een keer per jaar oor OMB-kwessies aan hul direksie verslag doen,” het hy gesê. Die toenemende belangstelling in OMB-aandrywers sluit luidens die verslag risikobestuur en korporatiewe waardes in. En sowat 35% van die respondente het ’n toegewyde professionele persoon of span vir verantwoordelike belegging aangestel. Die PwC-verslag is gegrond op ’n peiling van 162 respondente in 35 lande, maar driekwart van hulle was in Europa. 

/
/
/

Die stand van OMB-belegging in Suid-Afrika

Plaaslik word belegging in aandele wat aan sterk omgewing-, maatskaplike en bestuurskriteria voldoen, stadig aanvaar, met min opsies vir beleggers. Kenners gee hul mening oor hoe om in Suid-Afrika met OMB-oorwegings te belê.

Belegging met oorwegings vir omgewing-, maatskaplike en bestuurskwessies (OMB-kwessies) kom minder in ontluikende markte voor, maar dit is nie minder tersaaklik vir aandeelprysprestasie nie, volgens Jessica Ground, internasionale hoof vir rentmeesterskap van die internasionale batebestuurder Schroders.

Sy het op ’n beleggingsimposium wat Suid-Afrikaanse batebestuurders in Maart bygewoon het, gesê ontleding toon dat OMB-belegging in ontluikende markte ’n selfs sterker positiewe uitwerking op maatskappye se finansiële prestasie as in ontwikkelde markte het.

Sy waarsku egter dat om die ware geleenthede in die benadering te identifiseer en markrisiko’s te vermy, mense ’n goeie begrip moet hê van hul waardes en die verskillende benaderings wat hul fondsbestuurders kan volg.

OMB is deel van die groter kategorie van volhoubare belegging, wat verskeie vorme aanneem. Die algemeenste is negatiewe uitsifting, wat sekere sektore, soos fossielbrandstowwe, wapenvervaardiging en tabak, by ’n fonds of portefeulje uitsluit.

OMB-inskakeling is nie ver agter nie en word gevolg deur korporatiewe betrokkenheid en aandeelhouersoptrede – ’n beleid wat batebestuurders met ’n volhoubare ingesteldheid sê die toepaslikste vir Suid-Afrika is weens die beperkte aantal maatskappye om in te belê.

“Ons het bevind dat ’n uitsiftingsbenadering meer geskik is vir internasionale aandelemarkte, want jy kan ’n portefeulje saamstel wat verteenwoordigend genoeg is om met die totale aandelemark te vergelyk,” sê Terence Craig, direkteur van Element Investment Managers.

“Ons gevolgtrekking is dat dit in Suid-Afrika meer sin maak om uitsifting gebaseer op OMB te vermy, maar dan met die maatskappye wat in ons portefeuljes ingesluit is te praat om te probeer om hul bestuur van OMB-kriteria te verbeter; veral waar dit relevant en noemenswaardig is en waarde kan toevoeg, of waardeverlies oor die langtermyn kan voorkom.”

Craig se maatskappy bestuur Element Earth Equity Fund, wat in 2001 begin is, aktief. Bestuur is die een terrein waarop alle maatskappye ondersoek moet word, en bekendmaking van vergoeding is ’n kernpunt waarin Suid-Afrika te kort skiet.

“As jy wil sien of ’n beleggersbestuurder ernstig is oor verantwoordelike belegging, kyk of sy stem- en volmagbeleid en stemrekord op sy webwerf gepubliseer word,” sê hy.

Mergence Investment Managers is een voorbeeld van ’n batebestuurder met ’n aktiewe benadering wat sy volmagstembesluite ter wille van deursigtigheid en verantwoordelike belegging openbaar maak. Hy het uit 222 maatskappyresolusies waaroor hy in die jaar tot einde Augustus vanjaar gestem het, ten gunste van 89% van maatskappyresolusies gestem.

Om OMB-risiko’s te identifiseer, vereis meer moeite en word dikwels nooit eens in ’n Suid-Afrikaanse maatskappy se jaarverslag genoem nie, sê Mark van Wyk, hoof vir ongenoteerde beleggings van Mergence.

“Vir baie institusionele beleggers is dit tans soos die afmerk van ’n kontrolelys. Ek dink nie mense kan werklik sien hoeveel waarde potensieel vernietig word wanneer daar omgewing- en maatskaplike eise in groepsgeding teen ’n maatskappy is nie.

“Die direksie en bestuur rig die maatskappy, maar die passasiers in die bus – die aandeelhouers – moet ten minste seker maak dat die bestuurders van die bus voldoen aan regulasies.” Hy sê een van besture se probleme is dat die ingesteldheid op kwartaalprestasie ’n korttermyn-benadering is, wat dit moeiliker maak om OMB-raamwerke in te skakel.

Nog ’n vorm van volhoubare belegging is impakbelegging, waar ’n maatskappy doelbewus voordelige maatskaplike of omgewingsimpak naas finansiële opbrengs soek. Dit gebeur dikwels in die ongenoteerde omgewing, waar OMB-waardes dikwels reeds ingebed is om daalrisiko en -blootstelling te verstaan, sê Van Wyk.

Suid-Afrika het regulasies ingestel wat verantwoordelike belegging ondersteun en aanmoedig, en die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor het in Junie ’n aantekening uitgereik oor wat aftreefondse in hul beleidsverklarings oor OMB en impakbelegging behoort te sê. Batebestuurders met ’n OMB- of impakbeleggingsingesteldheid sê egter die bedryf reageer stadig.

“Ek dink die redes waarom daar nie beduidende hoeveelhede kapitaal van aftreefondse en ander beleggers na die OMB-impakbeleggingsomgewing toe vloei nie, is dat beleggingsadviseurs en batekonsultante traag is om die tyd en moeite daaraan te wy om die die moontlike aanloklikheid van hierdie soort opbrengs te verstaan,” sê Fatima Vawda, stigter en besturende direkteur van 27four Investment Managers.

“Dis een van die redes waarom die gesprek oor voorgeskrewe bates ’n uitwerking op die mark het.”

Daar is min opsies vir individuele Suid-Afrikaners wat hul geld in beleggings met ’n volhoubare beleggingsingesteldheid wil plaas. Old Mutual het verlede jaar die land se eerste effektetrusts ingestel wat internasionale OMB-indekse naspoor.

Dit is sy MSCI World ESG Index Feeder Fund en sy MSCI Emerging Markets ESG Index Feeder Fund. Jon Duncan, hoof vir verantwoordelike beleggings van Old Mutual sê sowat R1 miljard van kleinhandelbeleggerskapitaal is tans in dié fondse belê, tesame met R18 miljard in institusionele kliëntekapitaal.

Old Mutual het ook namens sy kliënte in sy hele reeks produkte aandeel- en skuldblootstelling van altesame R122 miljard aan die sogenaamde “groen ekonomie”.

Volhoubare belegging in Afrika tel stadig spoed op, volgens die Afrika-barometer oor impakbelegging, wat deur die Bertha Centre and Development Finance Centre van die Universiteit van Kaapstad se nagraadse sakeskool gefinansier en saamgestel word. Daarin is $428 miljard se fondsbestuurdersbates geïdentifiseer wat in 2017 aan een of meer beleggingsimpakstrategieë in Afrika suid van die Sahara toegewy is, teenoor $353 miljard die vorige jaar.

OMB-inskakeling neem die leiding in al drie streke wat ondersoek is – Oos-Afrika, Wes-Afrika en Suider-Afrika – terwyl Suider-Afrika die streeksleier is, grootliks vanweë geleenthede wat deur ontwikkelde kapitaalmarkte in die plaaslike ekonomie gebied word.

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za

Foto’s: www.elementim.co.za | www.27four.com

Meer oor:  Finweek  |  Volhoubare Belegging
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.