Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Inperkingsmodelle nagegaan terwyl sterftesyfer styg
30 Julie 2020
/

Op 18 Julie, het die minister van gesondheid, Zwele Mkhize, ’n beroep op Suid-Afrikaners gedoen om gehoor te gee aan die gedragsveranderinge wat nodig is om die verspreiding van Covid-19 te bekamp en gewaarsku dat Suid-Afrikaners besig is om hul waaksaamheid te verslap op ’n tydstip wat die infeksies in die land skerp toeneem.

Sy opmerkings is geneem uit ’n identiese versoek wat drie weke tevore gemaak is en wat verbasend genoeg nie aandag getrek het nie. Min Suid-Afrikaners was daarvan bewus dat die land se sterftesyfer so pas die 5 000-merk verbygesteek het of dat honderde mense om hul lewens in hospitale veg wat deur ’n skielike toestroming van ernstige Covid-19-gevalle oorweldig is.

Zwele Mkhize, Minister van gesondheid

Die feit dat SA so pas een van die grootste daaglikse toenames in aangemelde infeksies geregistreer het en nou die algehele vyfde plek met sy syfer van 364 328 gevalle inneem, het ook nie juis opslae gemaak nie. Bykans vier maande na wat as een van die strengste inperkings ter wêreld begin is, was Suid-Afrikaners moeg, gevoelloos en ontstig weens die oormaat van regulasies wat verwarrend, teenstrydig en dikwels totaal onlogies was.

Wanhopig oor die wydverspreide verlies aan lewensbestaan en toenemende bewyse dat die land besig is om in sy diepste resessie tot nog toe in sy geskiedenis gedompel te word, het gelei tot besprekings oor die feit dat SA moontlik sy inperking te vroeg begin het en derhalwe die mense se vrees vir die virus self verstomp het.

Kwesbaarste ouderdomme

Dit help nie dat die regering se aanvanklike voorspellings van sterfgevalle weens Covid-19 gans te pessimisties was nie, weens die feit dat minder as een vyfde van die land se bevolking ouer as 50 is – die ouderdom wat die kwesbaarste vir enstige siekte of die dood is. Toe die inperking begin is, het die SA Covid-19-modelleerkonsortium voorspel dat die sterftesyfer tussen 40 000 en 48 000 sou bereik.

Daar is nog nie ’n opinie hieroor gevorm nie, aangesien die inperkingsmaatreëls verslap is net toe die eksponensiële opwelling in infeksies begin het en dat die gedrag wat die verspreiding sou keer toenemend geïgnoreer is, soos Mkhize aangedui het. Nogtans het die Wêreldgesondheidsorganisasie in Mei voorspel dat indien die inperkingsmaatreëls nie die wyd verspreide en volgehoue verspreiding in toom kon hou nie – die nagmerrie-scenario – sou 23 600 Suid-Afrikaners deur die loop van die jaar waarskynlik sterf.

Dr. Sheetal Silal, lid van die modelleringskonsortium

Die probleem is dat dit bykans onmoontlik is om te bepaal hoe die uitwerking van die inperkingsregulasies die vergelyking raak, en modellering is nog glad nie ’n volmaakte wetenskap nie, veral nie wanneer dit menslike gedrag en emosies insluit nie. “Ja, dis gewis ’n situasie wat natuurlik ontwikkel, maar dit lyk of lande wat in ’n latere stadium ingeperk is, nadat ’n goeie gedeelte van die bevolking aan die virus blootgestel was, beter aan die regering se riglyne gehoor gegee het om tuis te bly,” het dr. Sheetal Silal, lid van die modelleringskonsortium, gesê.

“Dit kan toegeskryf word aan ’n emosionele reaksie op mense in daardie lande wat heel waarskynlik vriende of familielede het wat siek raak of sterf. Vrees vir die virus was miskien ’n sterk dryfveer om tuis te bly,” het sy in Junie in ’n onderhoud met die Wêreld- Ekonomiese Forum gesê.

Nick Hudson, die koördineerder van Pandemic Data Analysis (PANDA), meen daar is geen bewyse dat die inperkings op enige plek ter wêreld doeltreffend was nie en sê dat sy groep se raming van 10 000 sterfgevalle teen die einde van September bereik is sonder enige beperkings op sosiale of ekonomiese aktiwiteit. Maar PANDA se voorspelling eindig daar, wat moeilik geglo kan word siende dat Covid-19 ’n ernstige gesondheidsbedreiging inhou totdat ’n doeltreffende entstof ontwikkel is en aan miljoene mense wêreldwyd toegedien word.

Hudson se mening dat inperkings geen uitwerking op die verspreiding van Covid-19 het nie, druis ook in teen die wetenskap. ’n Studie wat op 15 Julie in die weekblad – die portuur-hersiene British Medical Journal – verskyn het, het gevind dat vyf fisieke afstandsmaatreëls wat alom in 149 lande ingestel is, gelei het tot ’n vermindering van gemiddeld 13% in die voorkoms van Covid-19.

“ ’n Groter vermindering in die voorkoms van Covid-19 is waargeneem toe beperkings op massa- byeenkomste ook by die maatreëls ingesluit is en toe die inperking vroeër ingestel is, saam met skole en werkplekke wat gesluit is,” aldus die studie se bevindings.

Die studie het egter genoem dat die doeltreffendheid van fisieke afstandsmaatreëls beter was in lande met hoër inkomste, dié met ’n ouer bevolking en dié met gesondheidstelsels wat beter voorbereid was. Die skrywers (Nazrul Islam, Stephen Sharp en andere) het gewaarsku dat slegs die korttermyn-uitwerking van inperkings geëvalueer is en dat verdere ontledings met verloop van tyd nodig sal wees om beleidsbesluite te kan neem.

SA se Covid-19-sterftesyfer van 1,5% is een derde van die wêreld se gemiddelde van 4,5% en het ook die mediese kundiges verbaas, selfs binne die konteks van die land se jong bevolking.

SA se Covid-19-sterftesyfer van 1,5%, een derde van die wêreld se gemiddelde van 4,5%, het ook die mediese kundiges verbaas, selfs binne die konteks van die land se jong bevolking.

Daar bestaan kommer dat talle sterfgevalle nie aangemeld word nie, veral in die lig van die stuksgewyse aard van die gesondheidsdata wat aan die publiek vrygestel word.

Oormaatsterfgevalle

Syfers van die SA Mediese Navorsingsraad toon dat oormaatsterfgevalle – die verskil tussen historiese gemiddeldes en die huidige uitkoms – tussen 6 Mei en 7 Julie 10 994 beloop het, wat meer as dubbel die syfer van SA se verklaarde Covid-19-sterfgevalle is. Om oormaatsterftes na te spoor, is een van die belangrikste maniere om die volle omvang van sterftes weens die pandemie te bereken, aangesien dit mense insluit wat aan Covid-19 gesterf het sonder dat hulle getoets is, asook diegene wat weens ander oorsake gesterf het nadat hulle nie in oorvol hospitale behandel kon word nie.

Twee van die drie provinsies met die meeste bevestigde infeksiesyfers – Gauteng en die Oos-Kaap – het onderskeidelik 71% en 90% meer sterfgevalle as die historiese gemiddelde aangekondig.

Dit blyk hoog te wees, selfs al bring ons sterfgevalle in rekening wat regstreeks uit die uitwerking van inperkingsmaatreëls spruit, soos honger. Indië, ’n land soortgelyk aan SA behoudens sy besonder groot bevolking, het streng inperkings bykans terselfdertyd as SA ingestel en het ook ’n baie lae sterftesyfer. Dit is nie meer so relevant nie, want dié land het nou die derde grootste infeksie- en sterftesyfer ter wêreld, en het op 20 Julie onderskeidelik meer as 1,12 miljoen infeksiegevalle en 27 514 sterfgevalle gehad.

Indië se sombere syfer volg dié van Amerika en Brasilië – albei lande wat deur leiers regeer word wat die uitwerking van die koronavirus afgekraak het, verwarde seine uitgestuur het oor hoe om die verspreiding van die virus hok te slaan en wat hoofsaaklik teen inperkings gekant was weens hul ekonomiese gevolge. ’n Wêreldwye debat of die ekonomiese uitwerking van die inperkings – wat ernstiger in arm en middel- inkomstelande is – ’n slegter uitkoms as die dodetal self is, gaan waarskynlik nog jare lank woed.

In Junie, het die Internasionale Monetêre Fonds gesê hy verwag dat Brasilië se ekonomie vanjaar met 9,1% gaan krimp en Amerika s’n met 8%.

Maar die idee dat die ekonomieë van lande wat hul nie volkome ingeperk het om die verspreiding van die virus te keer nie, beduidend beter gevaar het as diegene wat hulle nie werklik aan noukeurige ondersoek onderwerp het nie, hou nie werklik water nie. In Junie, het die Internasionale Monetêre Fonds gesê hy verwag dat Brasilië se ekonomie vanjaar met 9,1% gaan krimp en Amerika s’n met 8%.

Daar word verwag dat SA se ekonomie ook met 8% gaan krimp, maar die land was reeds in ’n resessie toe die pandemie getref het. Daar is veel gesê oor die “Sweedse eksperiment” waar geen beperkings ingestel is nie en waar mense gevra is om ’n sosiale afstand vrywillig te handhaaf. Maar teen vroeg in Julie het die land 5 420 sterftes gehad wat, weens sy klein bevolking, ’n sterftesyfer van 43 sterftes per 100 000 mense verteenwoordig – een van die hoogstes ter wêreld.

Swede se sterfgevalle is meer as tien keer dié van sy buurlande, Denemarke, Finland en Noorweë, wat wel inperkings ingestel het. Soos op 22 Junie, het slegs 6% van die Sweedse bevolking die teenliggaampies ontwikkel wat hulle teen verdere infeksies van die virus moet beskerm, en die epidemioloog wat hierdie strategie ontwerp het, het erken dat foute wel begaan is. Terselfdertyd word daar verwag dat die Sweedse ekonomie met 4,5% gaan krimp – sy diepste resessie sedert die Tweede Wêreldoorlog. Noorweë se ekonomie gaan waarskynlik met 3,9%, Denemarke met 4,1% en Finland met 5,5% krimp.

  • Stuur 'n boodskap na terugvoer@finweek.co.za
  • Mariam Isa is ’n vryskutjoernalis wat in 2000 na Suid-Afrika gekom het as die finansiële hoofkorrespondent vir die Reuters-nuusagentskap nadat sy in die Midde-Ooste, Brittanje en Swede gewerk het. Sy het haar in 2007 as ekonomiese redakteur by Business Day aangesluit en het in 2014 bedank om oor ’n breër reeks onderwerpe vir verskeie publikasies in Suid-Afrika en Brittanje te skryf.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.