Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Is jy op die regte spoor met aandele?
11 Junie 2021
Foto: Shutterstock

Ek het in 2017 twee uitdrukkings bespreek wat destyds baie goed op die aandelemark van toepassing was. Die eerste was dat dit nie help dat jy net op die regte spoor is nie, want as jy daar bly, sal ’n trein jou tref. In die laaste paar maande was daar tye van hoogwater op die aandelebeurs – wat my by die tweede uitdrukking bring: Alle bote sal dryf wanneer dit hoogwater is.

Wat die twee uitdrukkings gemeen het, is dat dit altyd wonderlik is om op die regte spoor te wees of om met die opkomende gety in die boot te wees, maar sake word ’n bietjie meer ingewikkeld wanneer alle bote nie so goed dryf soos hulle moet nie, soos in 2017 gebeur het. Kortom: die FTSE-JSE-indeks van alle aandele (JSE) het in 2017 laas groei van 20% of meer in ’n kalenderjaar beleef.

Die JSE het in 2017 met 21% gestyg, om presies te wees. As jy egter net op grond van dié groeisyfers gedink het dis altyd hoogwater, sou jy op die verkeerde spoor gewees het. As jy ’n bietjie dieper gekyk het, sou jy uitgevind het dat Naspers* vir 14 persentasiepunte van die groei van 21% verantwoordelik was, en as jy in 2017 in alle JSE-aandele belê was, sou 30% van jou portefeulje ’n negatiewe opbrengs behaal het. Vanjaar lyk die prentjie heelwat anders as in 2017, maar die vraag is steeds: Is ons nog op die regte spoor?

Oor 12 maande het die JSE nou met 30% gegroei en dis vanselfsprekend nie so goedkoop soos dit 12 maande gelede was nie.

Die JSE het vanjaar tot en met 20 Mei met 13% gestyg en slegs 11 JSE-genoteerde maatskappye het ’n negatiewe opbrengs opgelewer. Oor 12 maande het die JSE nou met 30% gegroei en dis vanselfsprekend nie so goedkoop soos dit 12 maande gelede was nie. Let asseblief daarop dat ek nie sê dat daar geen meer waarde op ons aandelemark is nie. Inteendeel.

Ek reken baie waarde is op die JSE verskuil. Wat ek daarmee bedoel, is dat dit daar is, maar jy sal dit net moet soek, en dat dit nou ’n goeie tyd vir beleggers kan wees om hul portefeuljes deeglik te bekyk. Beleggers wat ongemaklik voel, kan altyd die wyse Warren Buffett se voorbeeld volg. Hy werk volgens ’n streng strategie waarvolgens hy net koop as hy waarde sien. Wanneer hy nie waarde sien nie, hou hy sy kontant.

Ek het op grond van Thomson Reuters se konsensusvoorspelling vir die volgende 12 maande, soos bepaal deur topontleders, 11 aandele geïdentifiseer. Dié aandele behoort beleggers goeie blootstelling aan die indeks van alle aandele te gee. Dié voorspellings is gegrond op teikenpryse, asook verwagte prys-verdienste-verhoudings teenoor hul eie gemiddelde prys-verdienste-verhouding oor tien jaar.

Die aandele is AngloGold Ashanti, AVI, Impala Platinum, Naspers en Prosus, Old Mutual, Richemont, Reinet, Remgro, Sanlam en Standard Bank. Dis belangrik om daarop te let dat ontleders dié voorspellings doen en al bied hulle nie ’n waarborg nie, kan hulle leiding oor verwagtinge bied. As konsensusvoorspellings 100% korrek is, kan dié 11 aandele ’n opbrengs van sowat 26% oplewer.

Schalk Louw is ’n welvaartbestuurder by PSG Wealth Old Oak.

Beleggers sal in dieselfde tydperk waarskynlik ’n dividendopbrengskoers van gemiddeld byna 5% geniet, terwyl die indeks van aandele waarskynlik net sowat 3% sal oplewer. Terwyl net die tyd sal leer of die ontleders se aannames reg was, is die punt dat daar nog geleenthede is – as jy uitsoekerig is. Hoe jy ook al daarna kyk, is dit nou tyd om ’n pen en papier te gryp en jou portefeulje te bekyk. Bied dit steeds die beste vooruitsigte vir hoë opbrengs teen die laagste risiko?

Nadat die JSE die afgelope 12 maande ’n goeie lopie beleef het, hou sommige dele van ons aandelemark steeds risiko’s in, maar deur op waarde te konsentreer, sal jy dalk op die regte spoor kan bly wanneer die gety begin terugtrek. ¦ terugvoer@finweek.co.za Schalk Louw is ’n welvaartbestuurder by PSG Wealth Old Oak.

* finweek is ’n publikasie van Media24, ’n filiaal van Naspers.


Meer oor:  Finweek  |  Aandele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.