Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
JSE: Winsmagneet trek pryse na bo
10 September 2020
JSE
’n Beeld buite die Johannesburgse aandelebeurs. Foto: Getty Images

Daar is min dinge waarvan ’n mens seker kan wees wanneer dit by ’n aandelebeurs kom. Een van die weiniges is dat groeiende wins, veral as dit gepaard gaan met dividende, ’n aandeel se prys soos ’n magneet optrek. Dit is pas weer bewys deur die jongste winssyfers van aandele soos Sibanye-Stillwater, Impala Platinum en Northam Platinum.

Dié drie se aandeelpryse het die afgelope 12 maande met onderskeidelik sowat 145%, 82% en 97% gestyg. Sibanye-Stillwater se styging is gehelp deur sy besluit om dividende te hervat. Royal Bafokeng Platinum, boaan die tabel van sterkste aandele, het oor 12 maande met 74% verbeter. By goudaandele loop DRD Gold voor met 264%.

Dat daar verwag word dat die positiewe tendens vir platinum- en goudaandele gaan voortduur word ook bevestig deur die konsensus-aanbevelings van ontleders. By al hierdie aandele oorheers koopaanbevelings en by nie een word ’n verkoop aanbeveel nie. Die gunstelinge by ontleders is egter steeds Prosus en Naspers*.

Daar is net koopaanbevelings by albei, onderskeidelik deur 14 en 13 ontleders. Dit is steeds hierdie internasionale grotes en mynbou-aandele wat daarvoor sorg dat die JSE se indeks van alle aandele oënskynlik in ’n bulmark verkeer. Hy lê sowat 5% bokant sy 200-daagse eksponensiële bewegende gemiddelde (EBG). Word daar egter dieper gedelf, kom ’n droewige prentjie na vore.

Die JSE se indeks vir kleinaandele staan byvoorbeeld tans op dieselfde vlak as in Oktober 2007. Die indeks vir middelslag-aandele lyk darem ietwat beter. Hy staan op dieselfde vlak as aan die einde van 2013. Wat hierdie twee indekse weerspieël, is die nood van so baie maatskappye. Dit blyk uit talle jaarverslae dat besture tans meer op oorlewing as op groei ingestel is.

Hierdie indekse weerspieël wat werklik in die Suid-Afrikaanse ekonomie gebeur waar daar so ’n slagting onder werkgeleenthede plaasvind. Annabel Bishop, hoofekonoom van Investec, som die klimaat wat heers só op: “Dis ’n krisis omdat mense hoop opgee, insluitende verbruikers.”

Sy weerspieël miskien die siening van die pessimistiese ekonome met haar voorspelling dat die verliese wat SA in die tweede kwartaal ervaar het eers teen 2025 in reële terme die vlak sal bereik van die laaste kwartaal van 2019. Tel jy inflasie terug, sal dit tot 2023 neem. Die werklikheid is dat SA waarskynlik een van die ekonomieë gaan wees wat agterbly.

Bishop se pessimisme word onderskraag deur Mike Schüssler, stigter van Economists. co.za. Hy oortref haar selfs en voorspel daar sal wêreldwyd net drie van die groter ekonomieë vanjaar groei toon, naamlik, China (1,7%), Egipte (0,6%) en Indonesië (0,2%). Vir SA sien hy net duisternis, veral wat indiensname betref.

Die SA ekonomie gaan herstel, maar dit kan ses tot nege jaar duur om 2019 se vlakke te bereik en 11 tot 14 jaar om weer 2014 s’n te haal. “Teen 2024 kan SA se bruto staatskuld 100% beloop,” sê hy. Werkloosheid bereik erge vlakke. Volgende jaar kan die beste werkloosheidskoers 36,2% wees en die slegste 44,6%. Verlede maand het Amerikaanse aandele-indekse weer nuwe hoogtepunte aangeteken.

Daar is egter in belangrike kringe kommer hieroor. Soos die invloedryke navorsingsafdeling van Morgan Stanley wat daarop wys dat die ontkoppeling tussen die S&P 500 en die werklike ekonomie al groter word – hoofsaaklik weens die grootskeepse geldskepping deur owerhede. Dit is ook belangrik om daarop te let dat, soos in SA, dit veral ’n relatiewe klein groep tegnologie-aandele, soos Apple, is wat die S&P 500 so stewig opstoot.

In teenstelling hiermee is maatskappye soos McDonalds en Starbucks erg deur die Covid-19-pandemie getref. Van die aandele wat deurgebreek het, lyk Bidcorp, JSE Bpk. en Clicks interessant. Laasgenoemde twee het egter teruggetrek tot digby hul 200-daagse EBG’s. Baie ontleders beskou dit as ’n gunstige koopgebied.

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za

* Lucas de Lange is ’n voormalige redakteur van finweek en die skrywer van twee boeke oor belegging.

* finweek is ’n publikasie van Media24, ’n filiaal van Naspers.

Meer oor:  Finweek  |  Jse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.