Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Kan ek staat met my spaargeld vertrou?
10 September 2020
Tito Mboweni, minister van finansies

Toe ek hoor dat die ANC vra dat ’n depositonemende staatsbank gestig word om met gevestigde kommersiële uitleners mee te ding, het ek gewonder hoe enigiemand by sy volle verstand sy swaarverdiende spaargeld aan dié bank sal toevertrou weens die baie korrupsie en wanbestuur by ondernemings in staatsbesit in die hande van ANC-kaders.

Die ANC se beweerde betrokkenheid by die plundery en ondergang van VBS Bank het die publiek se vertroue in die regerende party ondermyn waarvan die leiers nou voor ’n openbare terugslag te staan kom weens die inpalm van miljoene rande uit korrupte staatstenders vir toerusting vir persoonlike beskerming in die stryd teen Covid-19.

Afgesien daarvan dat ek nie die regering onder leiding van die ANC vertrou om ’n bank eties en bevoeg te bedryf nie, het ek twee belangrike vrae oor die voorgestelde bankonderneming.

Wie sal die bank bestuur, en hoe sal dit gekapitaliseer word met dié dat die regering se geldsake ná jare lange plundery en roekelose wanbestuur in wanorde is? Die antwoord op die eerste vraag is dat niemand in dié stadium weet wie die staatslener sal bestuur nie. Jy kan egter doodseker wees dat dit bestuur sal word deur ’n ANC-kader – moontlik sonder uitvoerige ervaring in die bankbedryf.

Ek skakel nie die moontlikheid uit dat president Cyril Ramaphosa ons sal verras deur ’n ervare bankier aan te stel om die lener aanvanklik te bestuur om die geloofwaardigheid te versterk nie, maar uiteindelik sal korrupte politici dit kaap en só melk dat dit met reddingspakkette van die regering sal oorleef.

Dieselfde lot kan dit tref as by baie openbare ondernemings – van die kragvoorsiener Eskom, die Suid-Afrikaanse Lugdiens, die wapenvervaardiger Denel, die vervoer-en-logistiekgroep Transnet en die passasierspoorgroep Prasa, tot die openbare uitsaaier, die SAUK. Die afname in belastinginkomste weens die Covid-19-inperking het daartoe gelei dat baie openbare ondernemings oormatige lenings aangegaan het. Die regerende party soek nou nuwe finansieringsbronne om dié ondernemings te herkapitaliseer.

Die ANC se partybeleidsdokument van 51 bladsye oor hoe om die ekonomie ná die Covid-19-pandemie aan die gang te kry, dien as leidraad van wat die nuwe finansieringsbron sal wees. Dié dokument, wat in Julie gepubliseer is, dui daarop dat die regerende party die nasie se aftreespaargeld in die visier het.

Dit beteken dat pensioenfondsgeld waarskynlik na die staatsbank in herlei sal word om dit aan die gang te kry. Die regering het die bankwet verlede jaar gewysig om dit vir openbare ondernemings moontlik te maak om aansoek te doen om banklisensies – wat die weg na die staatsbank baan. Die ANC wil die wysigings aan die bankwet opvolg met veranderinge aan regulasie 28 van die pensioenfondswet – wat pensioenfondse sal verplig om in openbare ondernemings en infrastruktuurontwikkeling te belê.

Volgens Business for South Africa (B4SA) het die land altesame R14 200 miljard wat belê is – verdeel tussen bankbates van R5 800 miljard en gereguleerde besparing van R8 400 miljard. Pensioenfondse verteenwoordig die meeste gereguleerde besparings, en gevolglik trek hulle die ANC se aandag as ’n finansieringsbron.

Tito Mboweni, minister van finansies, het die vestiging van die staatsbank bepleit – lank voordat die ANC die konsep aangegryp het.

Tito Mboweni, minister van finansies, het al die vestiging van die staatsbank bepleit, nog lank voordat die ANC die konsep aangegryp het. Sy entoesiasme vir die bank het daartoe gelei dat die nasionale tesourie die pogings aanvoer om die projek te begin. Dit word egter deur die Covid-19-pandemie se skade aan die ekonomie oorskadu – wat vanjaar na verwagting met 7,2% sal krimp.

Terwyl belastinginkomste afneem, sal regeringskuld na verwagting skerp toeneem. Mboweni het in Junie voorspel dat die openbare sektor se bruto skuld teen die einde van die huidige fiskale jaar in Maart aanstaande jaar tot R4 000 miljard (81,1% van die bruto binnelandse produk) sou toeneem, teenoor R3 560 miljard (65,6% van die bruto binnelandse produk) wat hy in Februarie in sy hoofbegroting voorspel het.

Die skuldtoename sal deels aangedryf word deur die lening van $7 miljard wat die regering by die Internasionale Monetêre Fonds gekry het om Covid-19 te bekamp. Die vinnige skuldtoename beteken dat 21c van elke belastingrand gebruik sal word om rente op bestaande skuld te betaal.

Andile Ntingi is die uitvoerende hoof en medestigter van GetBiz, ’n e-verkryging- en tenderpublikasiediens.

Mboweni was tydens sy tien jaar as president van die SA Reserwebank van 1999 tot 2009 ’n onwrikbare ondersteuner van die beleid van vier pilare – wat die oorheersing van die bankbedryf deur die vier groot leners – FNB, Standard Bank, Nedbank en Absa – effektief aangemoedig het. Die logika daaragter was ’n argument dat ’n paar sterk banke bedryfstabiliteit verseker.

Kritici het die beleid betreur. Hulle het gesê dit beperk mededinging en beskerm daarom die vier grotes se wins. Uiteindelik het Capitec, ’n mikrolener wat ’n kleinhandelbank geword het, dié bankoligopolie uitgedaag en in die middel 2000’s ’n formidabele mededinger geword. Deesdae lyk Mboweni se sienings van die struktuur van die plaaslike bedryf heeltemal anders.

Hy het in 2018 vir die eerste keer openlik daaroor gepraat dat die regering ’n staatsbank moet skep toe hy nie lenings vir sy sakeondernemings kon kry nadat hy in 2009 by die Reserwebank weg is nie. Hy is nou ’n ywerige voorstander van regstreekse staatsingryping om aan dié markmislukking aandag te gee.

Daar is wydverspreide steun vir ’n staatsbank, selfs deur sakekamers soos Nafcoc, wat wil hê die lener moet aan die gang kom. ’n Mens sal nog moet sien of dit sal gebeur met dié dat pensioenspaarders die idee kan weerstaan dat hul spaargeld gebruik word om ’n bank te kapitaliseer wat deur kaders geplunder kan word, soos by VBS Bank gebeur het.

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za

* Andile Ntingi is die uitvoerende hoof en medestigter van GetBiz, ’n e-verkryging- en tenderpublikasiediens.

Meer oor:  Finweek  |  Beleggings  |  Staatsbank
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.