Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Kan jy jou werknemers dwing om in te ent?
20 Augustus 2021
entstof
entstof

Die kwessie van verpligte Covid-19-inenting hou net soveel slaggate in as om oor politiek of godsdiens in Suid-Afrika te gesels. Gelukkig is daar riglyne en voorskrifte wat deur die wet neergelê word om werkgewers te help om redelike oplossings vir veiligheid in die werkplek te vind.

Thulas Nxesi, minister van indiensneming en arbeid, het onlangs nuwe gekonsolideerde voorskrifte oor maatreëls vir beroepsveiligheid en gesondheid met betrekking tot inenting in die werkplek gepubliseer. Werkers mag ingevolge hul grondwetlike reg op liggaamlike integriteit, die reg op vryheid van godsdiens, geloof of opinie en mediese gronde, weier om ingeënt te word.

Talita Laubscher, vennoot by die regsfirma Bowmans
Fiona Leppan, direkteur by Cliffe Dekker Hofmeyr

Talita Laubscher, vennoot by die regsfirma Bowmans, sê die Wet op Nasionale Gesondheid (NHA) bepaal dat enigeen wat mediese behandeling ontvang hul vrywillige, ingeligte en spesifieke toestemming daarvoor moet gee. “Geen reg is egter absoluut nie en selfs daardie reg kan ingekort word. ’n Voorbeeld is waar nie-behandeling ’n ernstige gevaar vir openbare gesondheid inhou.”

Verpligte intenting

Fiona Leppan, direkteur by Cliffe Dekker Hofmeyr, sê die voorskrif van die departement van indiensneming en arbeid maak uitdruklik daarvoor voorsiening dat ’n werkgewer ’n beleid van verpligte inenting, onderhewig aan bepaalde riglyne, kan instel. Die voorskrif vereis dat werkgewers ’n risikobepaling moet doen as hulle ’n verpligte inentingsprogram wil instel.

Die werkgewer moet drie belangrike dinge oorweeg. Eerstens moet die werkgewer die bedryfsvereistes van die werkplek oorweeg om ’n werkomgewing te skep wat veilig en sonder risiko is vir die gesondheid van werknemers en ander mense wat regstreeks deur sy werksaamhede geraak kan word. Tweedens, watter van sy werknemers hy sal verplig om ingeënt te word.

Die werkgewer moet dié werknemers identifiseer wie se werk ’n risiko van oordrag of vanweë hul ouderdom of onderliggende siektetoestand ’n risiko van ernstige siekte of dood weens Covid-19 inhou. Derdens, maatreëls om die inenting van dié werknemers in werking te stel as en wanneer Covid-19-entstowwe beskikbaar raak.

Laubscher sê die werkgewer moet bepaal of werknemers wat weier om ingeënt te word moontlik ’n ernstige risiko vir die publiek se gesondheid inhou. “Dit is op daardie grondslag wat ons gesondheidswerkers ingeënt word. Hospitale kan daarop aandring dat hul gesondheidswerkers ingeënt word, want hulle hou ’n risiko vir openbare gesondheid in as hulle nie ingeënt is nie.”

Dieselfde geld werkplekke waar baie mense byeenkom. Dit is nie slegs die werkers se gesondheid wat geraak kan word nie, maar ook hul gemeenskappe waarna hulle daagliks terugkeer. “Dit is onder meer werkers in openbare vervoer, inbelsentrums, voedselvervaardiging, kleinhandel en mynbou, waar baie interaksie met die publiek of medewerkers plaasvind.”

Redes vir beswaar

Aadil Patel, hoof van Cliffe Dekker Hofmeyr se praktyk vir indiensnemingsreg, sê verpligte inentingsbeleide bring ’n ingewikkelde balans na vore tussen die regte van werknemers wat sterk godsdienstige, gesondheids- of kulturele besware teen inenting het en die regte van dié wat vatbaarder is vir ernstige gevolge of selfs die dood sou hulle met die Covid-19-virus besmet word.

“Mediese besware sal deeglik beoordeel moet word in die lig van verslae oor nadelige gevolge van inentingsprogramme wêreldwyd, tesame met die aanbevelings van mediese praktisyns.” Hy sê voorts werknemers kan miskien ook beswaar teen inenting aanteken op grond daarvan dat die inentingsbeleid nie met hul godsdienstige of filosofiese oortuiging versoenbaar is nie.

“Dit kan bygelowige oortuigings wees sowel as oortuigings wat in die vertolking van godsdienstige geskrifte gewortel is,” sê hy. Laubscher sê mense wat weier om ingeënt te word, sal behoorlike redes moet hê in omstandighede waar hulle ’n gevaar vir die publiek se gesondheid inhou. Die werkgewer kan verpligte inenting vereis waar mense nou saamwerk en dit óf moeilik óf nie ekonomies haalbaar is om voldoende sosiale afstand te handhaaf nie.

Onbillike diskriminasie

“Daar mag geen vorm van onbillike diskriminasie wees teen iemand wat ’n legitieme beswaar teen inenting het nie.”

Om diesulkes na ’n donker, stowwerige hoek te verskuif, sal problematies wees, waarsku sy. Volgens Leppan sal die ontslag of uitsluiting van iemand wat verkies het om nie ingeënt te word nie, net as onbillike diskriminasie gereken word indien sodanige diskriminasie “arbitrêr is, die waardigheid van die werknemer kan aantas, en die opdrag om ingeënt te word onredelik is”.

Verpligte inenting in die werkplek kan op konstruktiewe afdanking neerkom as werknemers kan aantoon dat hulle geen ander opsie gehad het as om te bedank nie, en dat die inentingsbeleid van die werkgewer hul indienshouding ondraaglik gemaak het en onredelik was. Of ’n eis vir konstruktiewe afdanking sal slaag, hang van die feite af en elke geval sal op eie meriete hanteer word, sê Leppan.

“Daar kan geen vorm van onbillike diskriminasie wees teen iemand wat ’n legitieme beswaar teen inenting het nie.”

Alternatiewe maatreëls

Volgens die departement van arbeid kan maatreëls om werknemers te akkommodeer insluit dat hulle toegelaat word om van ’n ander perseel, van die huis af of binne die werkplek in isolasie te werk, soos in ’n kantoor of pakhuis of selfs om buite die gewone werksure te werk.

Waar daar beperkte kontak met ander is, kan van die werknemer vereis word om ’n N95-masker te dra. Laubscher sê ’n werkgewer sal daarop geregtig wees om die feite waarop ’n beswaar berus sorgvuldig te ondersoek wanneer werknemers geakkommodeer word wat weier om ingeënt te word.

Die werkgewer kan ook vra dat ’n werknemer wat weier, ’n ander rol in die onderneming aanvaar as hy ’n gevaar vir die publiek se gesondheid inhou. Die onus is dan op die werknemer om die alternatiewe te aanvaar as hy sy grondwetlike reg wil uitoefen om nie ingeënt te word nie.

Afdanking as laaste uitweg

Leppan sê waar ’n werknemer nie sy rol kan vervul nie omdat hy gekies het om nie ingeënt te word nie, en ’n alternatiewe plasing en afstandswerk onmoontlik is, kan ’n werkgewer die werknemer afdank. Die gronde vir ontslag sal van die omstandighede afhang en kan die volgende insluit:

* die onvermoë om ooreenkomstig die indiensnemingsooreenkoms te presteer;

* bedryfsvereistes;

* potensiële onbekwaamheid; of

* potensiële diensweiering waar die opdrag om ingeënt te word redelik is.

Laubscher sê voorts ontslag moet die laaste uitweg wees. Die pandemie en sy variante sal egter nog lank met ons wees. “Wanneer ons weg van die huis af in gemeenskaplike ruimtes beweeg, soos openbare vervoer, winkels, vermaaklikheidsplekke en die werkplek, bly dit uit ’n virusoogpunt inherent riskant.” Die inenting bied ’n mate van gerusstelling dat die gevaar vir jouself en ander verminder word, sê sy.

Vrywillige inkoop

Leppan sê werkgewers moet hul werknemers se vrywillige inkoop probeer verkry, aangesien instemming eerder as verpligting waarskynlik meer doeltreffend sal wees. “Dit is altyd beter vir die werkgewer om sinvolle oorlegpleging met werknemers te hê voordat veranderings aangepak word wat hulle sal beïnvloed.

Oorlegpleging kan ook kragtens wetgewing vereis word wanneer ’n verpligtende beleid ingestel word.” Onsekerheid oor die inentings en besorgdheid oor hoe vinnig die entstowwe ontwikkel is, kan hanteer word deur mediese kenners of deskundiges van die maatskappy se mediese hulpskema te kry om die werksmag te kom toespreek, sê Laubscher.

Noluthando Nematswerani, hoof van Discovery Health se Centre for Clinical Excellence, sê hoewel dit die eerste keer is wat mRNA-tegnologie in ’n entstof gebruik word, bestudeer navorsers dié tegnologie en ander tegnologieë wat in die Covid-19-entstowwe gebruik word reeds dekades lank.

Sy sê op Discovery se webtuiste is daar verskeie goeie redes waarom die entstowwe so vinnig ontwikkel is, onder meer die groot finansiële belegging in die ontwikkeling daarvan, die vernuwende tegnologie wat in die ontwerp daarvan gebruik is en die oorvloed van toetsdeelnemers.

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za


Wat is mRNA- tegnologie?

Navorsers bestudeer en werk dekades lank reeds met mRNA-tegnologie in entstowwe. Dit kan in ’n laboratorium ontwikkel word deur stowwe te gebruik wat geredelik beskikbaar is.

Dit beteken die proses kan gestandaardiseer en die skaal verhoog word, wat die entstofontwikkeling vinniger kan maak as wat met die tradisionele manier moontlik was.

mRNA-entstowwe is al voorheen bestudeer vir griep, Zika, hondsdolheid en sitomegalovirus (SMV). Nadat die nodige inligting oor die virus wat Covid-19 veroorsaak, beskikbaar was, het wetenskaplikes dadelik die mRNA-opdragte begin ontwerp vir selle om die unieke prikkelproteïen te maak om in ’n mRNA-entstof in te bou.

Dié entstof leer ons selle hoe om ’n proteïen – of selfs net ’n stukkie van ’n proteïen – te maak wat ’n immuunrespons in ons liggaam aktiveer. Dié immuunrespons, wat teenliggaampies produseer, beskerm ons teen infeksie as die regte virus ons liggaam sou binnedring.

(Bron: Centres for Disease Control and Prevention, www.cdc.gov)

* Foto’s: Shutterstock | Verskaf

Meer oor:  Finweek  |  Werkplek  |  Inenting Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.