Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Kan SA die gifbeker van korrupsie oorleef?
24 September 2020

Gevaarligte flikker namate bewyse instroom dat dit Suid-Afrika moontlik jare sal neem om van sy grootste ekonomiese inkrimping op rekord te herstel, en dat die land veel stadiger sal herstel as ander lande wat getref is deur inperkings om te keer dat Covid-19 versprei, sowel as die tol daarvan op internasionale handel en groei.

Die ware sondebok is nie die pandemie self nie, maar die beleidsverlamming wat langer as ’n dekade reeds beleggings deur die private sektor aan bande lê – beleggings wat die land sou kon bevry van die wurggreep van lae groei en stygende skuld, paslik beskryf as die “kake van die seekoei” deur Tito Mboweni, minister van finansies, in Junie.

’n Gebrek aan konsensus tussen die groeperings – staat, sakewêreld en arbeid – wat amptelike beleid help formuleer, tesame met ’n lang lys regulatoriese struikelblokke, word algemeen beskou as die redes vir die knelpunt.

Krap egter effens dieper en dit word duidelik korrupsie is die onderliggende probleem. Korrupsie maak dit duurder om sake te doen en verhoog ondoeltreffendheid, en beïnvloed boonop die regulatoriese raamwerk self, want groepe met botsende belange spook om die resultate te kry wat hulle die meeste sal bevoordeel.

Isaah Mhlanga, uitvoerende hoofekonoom van Alexander Forbes

Dit lei tot vertragings, swak besluite en beleidsbollemakiesies. SA het dit nie nodig terwyl hy sukkel om los te kom uit die knelgreep van die resessie wat verlede jaar begin het nie. “Korrupsie is nie ’n belasting op die ekonomie nie, dis ’n lekkasie uit die staatskas wat nooit regkom nie. Dis as ’n mens net uit die oogpunt van openbare finansies daarna kyk,” sê Isaah Mhlanga, uitvoerende hoofekonoom van Alexander Forbes. “Dit beïnvloed egter ook beleggers wat opsies ondersoek om opbrengs te genereer.”

Potensiële beleggers in SA moes dit oorweeg om vennootskappe te vorm met ’n regering waar werknemers, of ontplooides van die regerende party, as korrup bevind is of waar die moontlikheid van korrupsie bestaan het, sonder maatreëls om te verseker dié wat daaragter sit aan die pen ry, sê hy. “Ek dink nie daar is ’n private belegger wat in dié omgewing van sy miljarde sal afstand doen nie.”

In ’n verslag uitgereik op 10 September het Eunomix, ’n Johannesburgse konsultantmaatskappy oor politieke en ekonomiese risiko, hoofopskrifte gehaal met sy waarskuwing dat ’n “ekonomiese en politieke ineenstorting” SA in die gesig staar as die trajek van sy ekonomiese beleid nie verander nie, wat die land teen 2030 ’n “mislukte staat” sal maak. “Die pandemie is die laaste spyker in die doodskis van ’n strategiese fiasko.

Die ekonomie is onvolhoubaar eng en vlak. Dit berus op ’n klein en krimpende werkende bevolking wat onder hoë skuld en belasting gebuk gaan,” waarsku Eunomix. Die maatskappy wys daarop dat kaderontplooiing, staatsaankope en wydverspreide korrupsie gehelp het om die ANC teen die politieke gevolge van ekonomiese mislukking te beskerm.

Die gevolgtrekkings wat Eunomix maak, lyk miskien oordrewe, maar in ’n indeks van herstelvermoë, opgestel deur die internasionale risiko- en konsultantmaatskappy Verisk Maplecroft in Brittanje, word SA geïdentifiseer as een van drie ontwikkelende lande waar die uitwerking van die pandemie waarskynlik die ergste sal wees.

In navorsing wat op 20 Augustus uitgereik is, waarsku die maatskappy dat SA, tesame met Brasilië en Indië, ’n hoër risiko van korrupsie en burgerlike onrus het as hul eweknieë in die G20-groep van ontwikkelde lande, en steeds met die nagevolge van Covid-19 sal sit lank nadat welvarender lede van sy portuurgroep aanbeweeg het.

“Ons is besig om dinge een vir een reg te stel. Ons bereik nou ’n stadium waar die veranderings wat almal wil sien, sal begin ontvou.”

“Korrupte, ondoeltreffende en onbestendige regerings sal beperk wees in hul vermoë om finansiering te kanaliseer na waar dit die nodigste is en selfs nadat die onmiddellike krisis opgelos is, nie daarin slaag om die ekonomie weer aan die gang te kry nie,” waarsku die maatskappy. Bestuurstoesigkwessies en swakker instellings is volgens die maatskappy deel van die probleem.

In Januarie het die internasionale burgerlikesamelewingsorganisasie Transparency International ’n indeks van korrupsiepersepsies uitgereik wat toon SA is steeds op die ranglys van lande wat geag word ’n ernstige korrupsieprobleem in sy openbare sektor te hê, ondanks ’n effense verbetering in sy posisie op die ranglys van twee jaar tevore.

In ’n seldsame openbare sessie met die media op 9 September, het president Cyril Ramaphosa erkenning gegee aan die publiek se diep frustrasie oor die gebrek aan vordering wat die regering maak om korrupsie te pak en ekonomiese hervormingsmaatreëls vir hoër groei in werking te stel sedert hy in 2017 die amp aanvaar het.

Cyril Ramaphosa, President van Suid-Afrika

“Ek weet daar is ’n groot mate van twyfel. Ons was met ’n eenrigtingkaartjie na totale disfunksie op koers. Ons het dit reggekry om ’n paar dinge reg te stel. Dis hoekom ek sê die geskiedenis sal my vryspreek,” het hy gesê.

Ramaphosa het erken die regering se geld is grootliks op en dat die private sektor ’n deurslaggewende rol sal moet speel en saam met die regering skouer aan die wiel sit om ’n herstelplan te laat werk. “Ons is besig om dinge een vir een reg te stel. Ons bereik nou ’n stadium waar die veranderings wat almal wil sien, sal begin ontvou,” het hy bygevoeg.

Met verwysing na die jare waarin Jacob Zuma president was, het Ramaphosa gesê dit het ’n dekade geneem om die staat se vermoë te ondergrawe en die skade kan nie oornag reggestel word nie. Peter Attard Montalto, ekonoom by Intellidex, sê inwerkingstelling is die belangrikste, maar Ramaphosa se erns en betrokkenheid is te verwelkom en sal politieke struikelblokke help oorkom en steun vir inwerkingstelling bewerkstellig.

“Planne was nog nooit die probleem nie, soos ons weet, maar om die struikelblokke van vermoë, ideologie, korrupsie en spoed uit die weg te ruim – dis waarop ons steeds wag, al is daar ’n vonkie,” sê hy. “Die regering het die mag om wette, reguleerders en regulasies te verander. Dit is eenvoudig die kruks van hervorming.” Busi Mavuso, uitvoerende hoof van Business Leadership SA, sê in ’n weeklikse nota van 14 September hoewel sy bemoedig is deur die president se opmerkings, was dit die regering se konkrete optrede kort daarna wat ’n mate van vertroue by die sakegemeenskap ingeboesem het.

Onder meer het adjunkpresident David Mabuza twee dae later aangekondig ’n vyfde ronde van die regering se openbare verkrygingsprogram vir hernubare energie – wat jare lank vertraag is – sal teen Desember afgehandel wees. Dit sal help met die kwessie van onbestendige kragvoorsiening deur Eskom, wat die dringendste probleem vir die hervorming van die ekonomie is.

Dae lange kragonderbrekings, oftewel beurtkrag, demp ekonomiese herstel en kan die waarde van die land se ekonomiese uitset vanjaar met R50 miljard laat krimp, volgens die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad. Nog ’n bemoedigende teken was Ramaphosa se vinnige optrede om ’n vlug na Zimbabwe te laat ondersoek, toe senior ANC-lede saamgevlieg het op ’n amptelike vlug, wat ’n skending is van die skeiding tussen die party en die regering, sê Mavuso voorts.

Nazmeera Moola, hoof van SA beleggings by Ninety One, sê die regering kan beleggersvertroue onmiddellik laat begin terugkeer deur voor die volgende nasionale begroting in Februarie tasbare vordering te maak met drie items in ’n groot agterstand met hervorming.

Die eerste stap sal wees om kragvoorsiening te help stabiliseer deur die private sektor vinniger by kragopwekking betrokke te kry en Eskom te herstruktureer om die nutsmaatskappy doeltreffender, minder koolstofintensief en beter in staat te stel om sy skuldlas van R488 miljard te hanteer – die grootste bedreiging vir die staat se finansies.

Daarna, sê sy, kan die regering twee projekte uit ’n lang lys moontlikhede prioritiseer, onder meer om knaende probleme met visas vir toeriste en hoogs geskoolde werkers op te los, infrastruktuurontwikkeling te bespoedig, sy aanlyn dienste drasties te verbeter en breëbandspektrum op te veil nadat dit ’n dekade lank vertraag is.

Lulu Krugel, hoofekonoom by PwC

Hoe dringend hervorming is, het Mboweni beklemtoon in ’n redaksionele artikel wat op 13 September in City Press verskyn het. Syfers vir die tweede kwartaal van vanjaar dui daarop dat die inkrimping in vanjaar se groei groter kan wees as wat die tesourie verwag het en verdere inkomstetekorte kan beteken, het hy gewaarsku.

Lulu Krugel, hoofekonoom by PwC, sê sonder broodnodige hervormingstappe kan dit tot soveel as sewe jaar duur voordat SA se ekonomiese uitset, wat vanjaar na verwagting met tussen 8% en 10% sal inkrimp, op 2019 se vlakke terug is.

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za

* Mariam Isa is ’n vryskutjoernalis wat in 2000 na Suid-Afrika gekom het as die finansiële hoofkorrespondent vir die Reuters-nuusagentskap nadat sy in die Midde-Ooste, Brittanje en Swede gewerk het. Sy het haar in 2007 as ekonomiese redakteur by Business Day aangesluit en het in 2014 bedank om oor ’n breër reeks onderwerpe vir verskeie publikasies in Suid-Afrika en Brittanje te skryf.

* Foto’s: Gallo/Getty Images | alexanderforbes.co.za | intellidex.co.za | Argief

Meer oor:  Ekonomie  |  Finweek  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.