Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Klimaatsverandering moet getakel word
10 September 2021

Die mening van mynbedryfhoofde volgens ’n finweek-peiling is dat besprekings oor die vermindering van kweekhuisgasvrystellings nie die regte van mense in armer ekonomieë, veral in Afrika, kan uitsluit nie.

“Wetenskaplikes kyk na slegs een komponent,” sê Mark Bristow, uitvoerende hoof van Barrick Gold, een van die grootste goudprodusente ter wêreld.

“Maar gaan ons die ontwikkeling van die mensdom ontken? As jy dit doen, sal jy die probleem vererger,” het hy vroeër vandeesmaand in ’n onderhoud met finweek gesê.

Mark Bristow, uitvoerende hoof van Barrick Gold

Klimaatsverandering is die mensdom se grootste uitdaging, maar ’n gebrek aan ontwikkeling in onontwikkelde ekonomieë sal ook lewens kos. Klimaatsverandering is lank reeds ’n emosionele onderwerp in die mynbousektor, net soos in die samelewing in die algemeen; waarskynlik sedert die Parys-ooreenkoms van 2016 wat sommige van die wêreld se mees geïndustrialiseerde ekonomieë daartoe verbind het om aardverwarming tot 2 OC bo pre-industriële vlakke te beperk.

Maar die debat het ernstiger geword ná die publikasie op 9 Augustus van ’n verslag deur die VN se interregeringspaneel oor klimaatsverandering, wat as “epogmakend” beskryf is. Die kern van die verslag is dat mense die skuld dra vir die planeet se stygende temperature en dat, sonder drastiese maatreëls, ’n gemiddelde temperatuurverhoging van 1,5 °C binne twee dekades onvermydelik is – meer as die Parys-ooreenkoms se doelwit. Die verslag word vertolk as die wêreld se laaste kans. Die dokument is “’n rooikodewaarskuwing vir die mensdom,” volgens Bloomberg News met verwysing na Antonio Guterres, sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies.

“Hierdie verslag moet die doodsklok vir steenkool en fossielbrandstowwe wees voordat dit ons planeet vernietig,” het Guterres gesê. Die verslag kom sowat twee maande voor die VN se konferensie oor klimaatsverandering (COP26) wat vir 31 Oktober geskeduleer is. Die verslag sowel as die konferensie behoort die mark waarskynlik nog meer sensitief te maak rakende die pogings van mynmaatskappye om vrystellings te verminder; veral van steenkool.

“Ek verwag dat die verslag die voorwaardes moeiliker sal maak,” sê July Ndlovu, uitvoerende hoof van Thungela Resources, met verwysing na die druk op steenkoolmyne om hul werksaamhede af te skaal en hul ondernemings uiteindelik te sluit. “Maar laat die verslag nuwe kwessies ontstaan? Waarskynlik nie,” het hy bygevoeg.

July Ndlovu, uitvoerende hoof van Thungela Resources

Ndlovu het gepraat op die dag toe die maatskappy berig het dat tussentydse resultate uitblink te midde van ’n groot herstel in die prys van termiese steenkool. Die rede vir die prysherstel is dat die wêreld bekommerd is oor die aanbod. Volgens Ndlovu is steenkoolvoorsiening ’n kritieke pilaar vir baie ontwikkelende ekonomieë, veral SA. Dit kan nie in die debat oor aardverwarming geïgnoreer word nie.

“Ek wil verder as die hoofopskrifte kyk. Een van die dinge wat hulle in die verslag sê, is dat ons in koolstofverwyderingstegnologieë moet belê as ons nul of laer as 1,5 °C wil bereik. “Wat dit begin vra – die eerste keer – is vir ’n weg wat fokus op tegnologieë wat aardverwarming kan versag. Dit kan tegnologieë vir hernubare energie insluit, maar ook versagtingstegnologieë soos koolstofverwydering,” het hy gesê.

“As ons verder dink as hierdie ‘wenner-verloorder’-debat oor fossielbrandstof, sal dit ’n agnostiese tegnologie-oplossing vereis.” Ndlovu is van mening dat dit goeie nuus vir Thungela Resources kan beteken terwyl hy finansiering vir die uitbreiding van sekere projekte begin soek en ook voortgaan om nuwe aandeelhouers te lok.

“Tegnologie is ’n beperkende uitdaging,” sê Bristow, wat byvoeg dat die wêreld nie net met son- en windkrag bedryf kan word nie. “Waterstof is die allerbeste hernubare krag, maar dit verg werklike toewyding aan tegnologie en denke. En in hierdie opsig moet ons ons opsies oop hou. Ons kan nie spoke jaag nie,” sê hy. Chris Griffith, uitvoerende hoof van Gold Fields, meen dat “alle hefbome getrek moet word” om die huidige trajek van meer as twee grade van verhitting te verhoed in ’n wêreld waar die bevolking met 2% gaan groei.

“Ons moet minder elektrisiteit gebruik terwyl die meeste fossielbrandstowwe uitgeskakel moet word. En ons het tegnologie nodig om brandstof op te gaar en tegnologie om waterstof te gebruik.”

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za

* Foto’s: Shutterstock | Voorsien

Meer oor:  Klimaatsverandering  |  Finweek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.