Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Ondernemingsfinansiering bly knyp
4 Julie 2019

Klein en middelslagondernemings sukkel dikwels om finansiering deur tradisionele kanale te kry. Daar is wel al meer alternatiewe finansiers wat aan entrepreneurs die geleentheid bied om idees tot uitvoer te bring.

Foto: Pixabay

Daar is sowat 2,5 miljoen klein en middelslagondernemings (KMO’s) in Suid-Afrika, luidens die jongste Finfind-navorsing oor KMO-finansiers en soekers na finansiering.

En al het die land nie ’n tekort aan finansieringskanale nie, toon navorsing dat baie klein ondernemings wat vir finansiering kwalifiseer, steeds nie die finansiering kan kry wat hulle nodig het nie.

Volgens die studie, wat deur die SA SME-fonds geborg is, bedra die kredietgaping vir KMO’s in Suid-Afrika tussen R86 miljard en R346 miljard. Die kredietgaping in Afrika suid van die Sahara word op tussen $80 miljard en $100 miljard geskat.

Die sektor bied ’n “oortuigende, grootliks onbenutte markgeleentheid” vir innoverende finansiers wat nuwe leningsmodelle en risikobepalingsinstrumente kan ontwikkel om aan die uitdagings van dié komplekse en groeiende mark aandag te gee.

Die sektor bied ’n “oortuigende, grootliks onbenutte markgeleentheid” vir innoverende finansiers wat nuwe leningsmodelle en risikobepalingsinstrumente kan ontwikkel om aan die uitdagings van dié komplekse en groeiende mark aandag te gee.

Volgens Finfind-data is aanvangskapitaal, toerusting- aankope, ondernemingsuitbreiding en bedryfskapitaal die grootste finansieringsversoeke in die land – dit verteenwoordig 62,4% van die finansieringsversoeke.

Toename in alternatiewe finansiers

Alternatiewe finansiers het die laaste paar jaar toegeneem in ontluikende markte soos Suid-Afrika, maar ook in meer ontwikkelde markte soos Amerika, Brittanje en Europa.

In Suid-Afrika is daar 148 finansiers, wat 328 finansieringsprodukte bied. Die grootste onderskeid is tussen die staat en finansiers in die private sektor, waar sakemodelle en strategiese oogmerke anders is, luidens die Finfind-verslag.

Idan Jaan, medestigter van Fundrr

Idan Jaan en Jarred Noche, medestigters van Fundrr, het persoonlike ervaring van die frustrasie wat klein ondernemings ondervind wanneer hulle tradisionele finansieringskanale, soos banke, nader. Jaan het by ’n groep gewerk wat 80 KMO’s in hul portefeulje gehad het, maar beswaarlik enige van hulle kon toegang tot bankfinansiering kry.

“Dié wat om finansiering aansoek gedoen het, sou 12 weke vir ’n besluit wag, en hulle moes deur berge burokratiese rompslomp werk,” sê hy.

Noche sê banke gebruik tradisionele bronne van inligting wat nie op klein ondernemings gemik is nie. Hulle vereis dikwels geouditeerde finansiële state, wat duur is.

Boonop benodig bitter min klein ondernemings geouditeerde state. Die probleem om finansiering te kry, raak ook die landbou. FNB het onlangs by ’n werksessie in Johannesburg die posisie uitgelig van kleinboere wat finansiële bystand soek.

Dawie Maree, hoof vir landbou-inligting en -bemarking van FNB Suid-Afrika, sê om lenings te bied aan boere wat nie ’n transportakte het nie, bly ’n groot risiko.

Dawie Maree, hoof vir landbou-inligting en -bemarking van FNB Suid-Afrika, sê om lenings te bied aan boere wat nie ’n transportakte het nie, bly ’n groot risiko. “As die finansiële sektor moet ons seker maak dat almal finansiering teen ’n billike koers kry om winsgewend te kan wees.

Ons moet ons finansiële modelle heronwerp,” sê hy. Dit sluit in die ontwikkeling van meer komplekse kredietstrukture vir gemengde finansiering om met toegang tot markte, vaardighede en finansiering te help.

Alternatiewe kredietmodelle

Jarred Noche, medestigter van Fundrr

Fundrr het ’n outomatiese kredietmodel ontwikkel wat byna 100 datapunte ontleed om ’n omvattende beeld van ’n klein onderneming te kry.

Dit sluit in inligting oor sy teenwoordigheid op sosiale media, openbare resensies, reaksietyd vir kliënte en sy interaksie met kliënte. Hulle bied ongesekureerde lenings en vanweë hul kredietmodel word ’n aansoek en die oplaai van die nodige dokumente gewoonlik binne sowat agt minute afgehandel.

’n Besluit word binne 24 uur geneem. Hulle vereis ses maande se bankstate, ’n huurooreenkoms, handelsverwysings en skakels na sosiale media.

Hulle moedig sake-eienaars aan om spoedig skuld terug te betaal, en hef nie die volle termyn se rente as dit gebeur nie. Hulle het in die 12 maande sedert hul onstaan al heelwat aansoeke afgekeur – hoofsaaklik omdat aansoekers se kontantvloei onvoldoende was of hulle nie ’n sterk kredietsaak gehad het nie.

Verskeie het ook bestaande lenings by ander finansiers gehad. “Baie van ons besluite kom neer op bekostigbaarheid.

Ons wil seker maak dat die onderneming die terugbetaling kan bekostig en ná die terugbetaling vrye kontantvloei het om bedrywighede voort te sit,” sê Jaan.

Wie moet die skuld kry?

Kumarana Padayachee, uitvoerende hoof van die onafhanklike KMO-finansier Spartan, sê sake-eienaars moet ook ’n deel van die skuld kry as hulle nie finansiering kry nie. In baie gevalle doen hulle nie behoorlik navorsing nie.

Hulle verstaan nie of ken nie die vereistes van alternatiewe leners nie, of verstaan nie die mandaat van die verskillende ontwikkelingfinansieringsinstellings, soos die Small Enterprise Finance Agency of die Nywerheidsontwikkelingskorporasie nie.

“Hulle moet altyd gereed wees, want soos hul onderneming groei, sal hulle in verskillende fases finansiering benodig.”

KMO’s is meer soos ’n ongereelde vlieër: Wanneer hulle finansiering benodig, is hulle selde gereed,” sê hy.

Hy sê hulle moet soos ’n “gereelde vlieër” word. Gereelde vlieërs is minder angstig, het ’n kontrolelys en ’n normale roetine, en is slaggereed as hulle moet vlieg.

“KMO’s is meer soos ’n ongereelde vlieër: Wanneer hulle finansiering benodig, is hulle selde gereed,” sê hy.

“Dit is ’n self-toegediende besering wat onnodig is.” Hulle moet maandeliks finansiële state voorberei, hul finansiële kennis verbeter en alternatiewe finansieringsmodelle verstaan.

Tegnologiese oplossings

Die gebruik van tegnologie om klein ondernemings by te staan, het potensiaal in Suid-Afrika.

Padayachee meen egter dat die land agter is by lande in Oos-Afrika, Asië en selfs Latyns-Amerika wat betref die aanbieding van tegnologiegegronde finansieringsoplossings.

By China se Alibaba, die wêreld se grootste aanlyn handelaar, kan klante binne drie sekondes ’n lening aanvra en binne een minuut goedkeuring kry. Dis hoofsaaklik danksy die inligting wat hy reeds op sy platforms het.

Volgens die Finfind-navorsing het ’n aantal digitale kleinsakeleners ’n bietjie vooruitgang plaaslik gemaak om die probleem van finansieringstoegang op te los. Die verslag noem Lulalend en Merchant Capital.

Dov Girnun, uitvoerende hoof van Merchant Capital en voorsitter van Sasfa

Dov Girnun, uitvoerende hoof van Merchant Capital en voorsitter van die South African SME Finance Association (Sasfa), sê hulle bied oplossings aan kleinsake-eienaars wat al ’n jaar lank bedrywig is, gemiddeld meer as R30 000 se krediet- of debietkaartverkope het of ’n maandelikse omset van elektroniese geldoordragte van R150 000 het.

Daar word vooraf besluit op die bedrag wat aan die onderneming verskaf word. Die maatskappy het tegnologie ontwikkel wat by die administrasiekant van ’n kleinhandelaar se verkoopspuntterminaal inskakel en ’n klein vaste persentasie van elke transaksie invorder.

“Die terugbetalingsbepalings help die handelaar om terug te betaal volgens hoe hy sake doen, met meer wat in besiger tye ingevorder word en minder in stil tye,” sê Girnun. Talle beleef egter deesdae min “besiger tye”.

Alternatiewe finansiering vir KMO’s:

Ongesekureerde lenings: Duurder as gesekureerde lenings, maar betaal vinnig uit.

Dokumente vereis: Ses maande se bankstate.

Gesekureerde lenings: Lan- ger goedkeuringtyd omdat dokumente geverifieer moet word.

Dokumente vereis: Finansiële jaarstate, bestuursrekeninge, bankstate, debiteurslys en transportaktes.

Handelaarkontantvoorskot: Meer gepas in die kleinhandelomgewing. Bedrag verskaf word bereken op grond van die onderneming se gemiddelde omset.

Dokumente vereis: Ses maande se bankstate.

Bate- of toerustingfinansiering: Bates of toerusting word as sekuriteit gebruik.

Dokumente vereis: Verskafferkwotasies, moontlik finansiële state, voorspellings en ’n sakeplan.

Tenderfinansiering/koopopdrag: ’n Koopopdraglening oorbrug die gaping tussen die opdrag en die betaling. Dit kan gewoonlik vinniger en makliker as ’n banklening gekry word.

Dokumente vereis: ’n Geldige koopopdrag en ’n verskafferkwotasie.

Wentelkrediet: Soortgelyk aan ’n oortrekking of kredietkaart, maar nie aan ’n bankrekening gekoppel nie en kan deur ’n wye verskeidenheid van leners verskaf word.

Dokumente vereis: Hang af van of dit gesekureerd of ongesekureerd is.

Handelsfinansiering: Finansier binnelandse en internasionale transaksies.

Dokumente vereis: Finansiële state vir die afgelope drie jaar, bestuursrekeninge, krediteurelys en bankgeriefbrief. 

Meer oor:  Finweek  |  Kmo-Finansiering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.