Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Konflik in die kuberkantoor
18 Maart 2021

Afstandwerk het die kantoor na die huis verskuif en alle ander werklikhede het saamgetrek, soos konflik met die baas, kollegas . . . en kuberboelies. Die rusies en die afknouery is egter privater en moeiliker om raak te sien. Volgens ’n onlangse Amerikaanse studie wat 1 000 afstandswerkers ingesluit het, het 42% van hulle konflik met hul base ervaar. Altesame 36% van hulle het gesê hul base is te aggressief in hul teksboodskappe.

Bykans 70% van hulle het gesê dat hul base hulle in boodskappe gevloek het. Meer as 80% van beroepslui in die Amerikaanse studie het afstandwerkplekkonflik ervaar, volgens die studie wat deur My Perfect Resume gepubliseer is.

Hoewel afknouery in Suid-Afrika aangemeld word, is daar geen statistiek beskikbaar nie, sê Christine Steyn, stigter en direkteur van Dynamic Consciousness Coaching. Afknouery in die werkplek word gekenmerk deur ongewenste, voortdurende gedrag wat ernstig is en afkraak en verneder of wat ’n vyandige of intimiderende werksomgewing skep.

Steyn sê daar is ’n toename in kuberafknouery en virtuele teistering omdat afknouery net so maklik in virtuele werkplekke as in fisieke plekke gebeur.

Christine Steyn, stigter en direkteur van Dynamic Consciousness Coaching.

Konflikbronne

Die belangrikste bronne van die konflik is stres oor werk (25%), gebrek aan spanwerk (25%), en ongeskikte gedrag (22%), aldus die Amerikaanse studie. Marléne Nunes, eienaar van Self and More Integrative Coaching, sê dit word makliker om ’n stemtoon of aanmerking “mis te verstaan” wanneer mense weg van mekaar af werk.

“Irritasies buite die werkplek kan ook konflik aanblaas. Mense kan moontlik ’n verhoogde gevoel van angstigheid ervaar, en die irritasie of angstigheid kan maklik in die gesprek of vergadering oorspoel.” Kollegas kan dit persoonlik opneem en reageer en nie besef dat die irritasie nie op hulle gemik is nie. Wanneer ons op kantoor is, is dit makliker om iemand se gemoedstoestand “aan te voel”.

Om weg van die werk af te werk, maak dit moeiliker om te verstaan wanneer iemand vroegoggend gedurende ’n telefoonoproep ontplof. Wanneer mense dit persoonlik opneem, kan dit op konflik uitloop wat vermy kon gewees het. Nunes, wat in trauma en woedebestuur spesialiseer, sê ons is almal getraumatiseer. Ná die gebeure van verlede jaar, kan ’n mens met sekerheid sê dat geen persoon dié trauma vrygespring het nie. “Ons het almal kollektiewe trauma wêreldwyd.” Sy verwys na die “dramadriehoek” waar ons in verskillende posisies of rolle verskyn, afhangende van ons verwysingsraamwerk en ons emosionele volwassenheid.

Die dramadriehoek (Stephen Karpman het dit in 1961 die eerste keer omskryf) word in sielkunde gebruik om die bedrieglike wyse waarop ons ons as “slagoffers”, “vervolgers” en “redders” voordoen te beskryf. Hoewel al drie net rolle is en geeneen miskien waar is nie, kan ’n mens in ’n siklus beland word waaruit dit moeilik is om te ontsnap, skryf Remy Blumenfeld, afrigter vir skeppende leiers en entrepreneurs, in die tydskrif Forbes.

Nunes sê party volwassenes gaan deur die lewe vasgevang in die dramadriehoek in plaas van om bewustelik van ’n slagoffermentaliteit te verander in ’n wenner en floreerder, wat uit die verlede geleer het en groot hoogtes bereik het, ondanks hul verlede. Dis ook van toepassing op die rol van vervolger (afknouer) wat die uitdager kan word, en die redder wat die rol van afrigter kan speel.

Marléne Nunes, eienaar van Self and More Integrative Coaching

Bykans die helfte van respondente het gesê dat hulle in staat was om oor die konflik te praat en dat hulle probeer het om dit op te los, terwyl 21% gesê het dat hulle nooit probeer het om dit op te los nie en 20% het gesê hulle het die maatskappy weens die konflik verlaat.

Die tekens

Volgens Steyn is duidelike tekens van konflik of selfs afknouery wanneer ’n spanlid, wat gewoonlik spraaksaam is, stil en skugter word en die bedaarde spanlid skielik tydens vergaderings ontplof. Afknouers kan ’n kollega maklik uitsluit deur die “opgesteekte hand” gedurende ’n virtuele vergadering te ignoreer, of om die persoon eenvoudig dood te praat of sy idees af te skiet en deur almal – behalwe die betrokke persoon – te vra hoe dit met hulle gaan.

Steyn verwys na neurologiese studies oor die brein wat wys dat sosiale pyn (sosiale uitsluiting) dieselfde as fisieke pyn ervaar word. Dieselfde deel van die brein reageer. Gedurende ’n eksperiment is ’n kind voor ’n rekenaar met ’n interaktiewe program geplaas waar twee virtuele kinders ’n bal na mekaar gooi. Die een virtuele kind het die kind voor die rekenaar gevra of hy saam wou speel en die bal na hom begin “gooi”, wat hy toe “teruggegooi” het.

Ná ’n ruk het die twee virtuele kinders opgehou om die bal na hom te gooi en hom uitgesluit asof hy nie meer daar was nie. “Daardie sosiale uitsluiting was so werklik dat die kind gevoel het asof hy geklap is,” sê Steyn. Dit gebeur ook by die werk – die oomblik wat iemand doelbewus uitgesluit word, sal hy die pyn ervaar asof hy fisiek geklap is. “Dit is die skade wat aangerig word.

Dieselfde pyn word ook ervaar wanneer twee mense van iemand praat asof daardie persoon nie teenwoordig is nie,” verduidelik Steyn. Talle mense besef nie eens dat hul gedrag afknouerig is nie. Wanneer dit aan hulle uitgewys word, is baie van hulle geskok. “Min mense wil iemand moedswillig seermaak, maar dit gebeur onbewustelik,” sê Steyn.

Die gedrag van ’n kuberboelie sluit in: die boelie het nie agting vir ander mense nie – veral nie aanlyn nie; hy stuur onvanpaste private boodskappe gedurende ’n vergadering – die feit dat niemand die boodskap sien nie, verskoon dit nie; die persoon skiet iemand se idees die heeltyd af; en boelies verwag dat almal onmiddellik moet antwoord. Sommige antwoord onmiddellik omdat hulle hoop dit sal die afknouery stop, terwyl ander onmiddellik antwoord omdat dit hulle ’n gevoel van beheer gee, al word hulle eintlik self deur iemand anders beheer.

Die taal

Nunes sê ook konfliktaal kan herken word aan hoe ons reageer eerder as aan wat ons sê op virtuele platforms. “Ons gesigsuitdrukkings is so ooglopend in ons nuwe vergaderkamers. Daar kan moontlik spanning en ’n effense bleekheid om die kakebeen wees, asook ’n rooi gesig, saamgeperste lippe, swaar asemhaling of ’n getik op die lessenaarblad,” sê sy.

“Ons moet mense se menslikheid en hul trauma probeer verstaan. As jy sleg behandel word, moet jy hulp soek om jou geestelik en emosioneel te bemagtig om meer veerkragtig te word,” raai Nunes aan.

Nuwe reëls van betrokkenheid

Organisasies moet ’n beleid in plek hê wat uiteensit wat toepaslike virtuele gedrag en kuberafknouery is. Daar moet behoorlike rapporteerkanale wees en die proses moet deur almal vertrou word, veral maatskappye waar die baas die boelie is. Nunes sowel as Steyn verwys na veronderstelde afknouery.

In baie gevalle vind die konflik “toevallig” plaas omdat iemand se gedrag as sneller vir ’n kollega dien, wat al vantevore in die werkplek geboelie is of soortgelyke konflik ervaar het. Steyn sê mense het hanteringsmeganismes nodig om te verseker dat hulle onderskeid tussen werklike en veronderstelde afknouery kan tref. Dit is belangrik om ’n tree terug te staan wanneer jy uitgelok word.

Dit neem tussen 30 en 90 sekondes vir die adrenalien om sy piek te bereik en om deur die liggaam te vloei. “Kry perspektief. Veg ek daarteen, of is enige reaksie werklik die moeite werd?” Volgens die Amerikaanse studie het die hantering van konflik tussen die werkgewer en werknemer taamlik gewissel. Bykans die helfte van respondente het gesê dat hulle in staat was om oor die konflik te praat en dat hulle probeer het om dit op te los, terwyl 21% gesê het dat hulle nooit probeer het om dit op te los nie en 20% het gesê hulle het die maatskappy weens die konflik verlaat.

Slegs 8% het van mediasie deur ’n derde party gebruik gemaak. Een van die belangrikste talente vir vandag se leiers is die vermoë om te kommunikeer en om mense waar te neem. Langer werksure, werksonsekerheid en aanpassing by ’n virtuele werksplek het mense se emosionele bevoegdheid aangetas. “Mense het meer tyd en geleenthede nodig om emosioneel af te koel,” sê Steyn.

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za

* Foto’s: Verskaf, Shutterstock

Meer oor:  Finweek  |  Kuberkantoor  |  Afstandswerk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.