Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Kontant is lekker!
21 November 2019

Pensioentrekkers en kleinbeleggers wend hul tot vaste-inkomstebeleggings om hul kapitaal teen die flou vertoning van aandeelbeleggings te beskerm. Die FTSE/JSE se indeks van alle aandele het ’n opbrengs van 11,49% vir die 12 maande tot einde Oktober gelewer.

Die All Bond-indeks het 12,96% vir dieselfde tydperk gelewer. Afgetredenes, wat op kapitaalgroei staatmaak om ’n jaarlikse inkomste te onttrek en te sorg dat hul kapitaal tot hul afsterwe hou, ervaar veral druk wanneer aandeelopbrengste terugsak.

Dis geen wonder nie dat beleggers hul kapitaal oordra van suiwer aandeelfondse na óf ten volle rentedraende fondse, wat in kontant en effekte belê, óf fondse met groot toewysings aan dié bates – wat ook multibatefondse genoem word.

Data van Asisa (die Vereniging vir Spaar en Belegging van Suid-Afrika), wat onder meer die vloei na en tussen fondse monitor, toon dat R87,55 miljard in die 12 maande tot einde September na rentedraende kollektiewebeleggingskemas – gewoonlik inkomste-, geldmark- en effektefondse – gevloei het.

In dieselfde tydperk het R2,3 miljard uit suiwer aandeeleffektetrusts gevloei, terwyl R32,35 miljard na multibatefondse, wat gebalanseerde fondse insluit, gevloei het.

Londa Nxumalo, portefeuljebestuurder by Allan Gray

“Verskeie faktore het vanjaar tot effekte se prestasie bygedra,” sê Londa Nxumalo, portefeuljebestuurder by Allan Gray. “Dis onder meer dalende internasionale effekteopbrengskoerse, deurlopend voordelige inflasiesyfers in Suid-Afrika en plaaslike beleggers wat van aandele na effekte oorskakel.” Goedkoop koerse van buite af.

Goedkoop koerse van buite af 

Baie kommentaar is vanjaar gelewer toe effekte se opbrengskurwe in die ontwikkelde markte omgekeer het. Wat beteken dit? ’n Effek se opbrengskoers het ’n omgekeerde verwantskap met sy prys.

Wanneer ’n effek se prys daal, styg sy opbrengskoers. Effekte word met verskillende vervaltermyne (die tyd tot hulle terugbetaal is) uitgereik. Effekte met kort termyne, wat gewoonlik skatkiswissels genoem word, keer ná 30, 60 of 90 dae uit. Effekte met langer termyne wissel van 12 maande tot 30 jaar, en in sommige lande selfs 50 jaar.

Op die grafiek

As jy ’n grafiek van dié effekte teken met hul uitkeerdatums op die horisontale as en die opbrengskoers op die vertikale as, en die opbrengskoerse aanstippel, kry jy ’n opbrengskurwe. Hou in gedagte dat die opbrengskurwe in dié artikel spesifiek vir die effekte is wat deur ’n bepaalde land se regering uitgereik is.

Die sogenaamde kort kant van die kurwe – die effekte met die kortste termyne – het tradisioneel laer opbrengskoerse as effekte met langer termyne. Dis weens inflasie, wat die effek se kapitaalwaarde oor tyd wegvreet. In Amerika, die wêreld se grootste ekonomie, het ’n eenmaand- skatkiswissel einde verlede jaar 2,44% en 30-jaareffekte 3,02% opgelewer, volgens data van die Amerikaanse tesourie.

Wikus Furstenberg, hoof vir rentekoerse van Futuregrowth

Op 5 November het die eenmaand-wissel 1,56% en die 30-jaarskuld 2,34% opgelewer. Die Amerikaanse opbrengskurwe het middel Augustus omgekeer toe die 30-jaareffekte se opbrengs laer as die eenmaand- wissels s’n was. ’n Omgekeerde opbrengskurwe dui op die moontlikheid van ’n resessie.

Dié omkeer was teen die tweede week van September verby. “Die plaaslike effektemark is in ’n soort skemersone vasgevang,” sê Wikus Furstenberg, hoof vir rentekoerse van Futuregrowth, oor die plaaslike opbrengskurwe.

“Aan die kort kant van die opbrengskurwe is opbrengskoerse laer gedwing deur ’n kombinasie van internasionale verslapping van monetêre beleid, baie lae en in sommige gevalle selfs negatiewe effekteopbrengskoerse in baie ontwikkelde markte, sterk disinflasionêre kragte en swak ekonomiese groei.”

Met dié dat sowat 37% van Suid-Afrika se randgedenomineerde staatseffekte deur buitelandse beleggers gehou word, word die plaaslike uitreiking van effekte en die vlak van die Suid-Afrikaanse Reserwebank se terugkoopkoers deur die internasionale rentekoersmark beïnvloed.

Duitse staatseffekte

Duitse staatseffekte, wat beleggers as een van die veiligste bateklasse ter wêreld beskou, het negatiewe opbrengskoerse. Effekte wat oor twee maande uitkeer, het op 5 November -0,72% gelewer, volgens Bundesbank-data. Effekte wat oor 20 jaar uitkeer, het 0% opgelewer. Omdat beleggers opbrengskoerse soek, het Suid-Afrikaanse staatskuld aantreklik geword en kopers gelok. Dit het pryse laat styg en ’n opbrengs van meer as 8% aan beleggers gebied.

Verlaag die terugkoopkoers

Die Reserwebank se besluit vroeër vanjaar om die terugkoopkoers met 0,25 persentasiepunte te verlaag in ’n poging om ekonomiese groei te midde van taamlik lae inflasie aan te spoor, het tot plaaslike effekte se positiewe prestasie bygedra, sê Furstenberg.

“Die daling van effekteopbrengskoerse, die afrol- effek in die lig van die steil positiewe helling van die opbrengskurwe, asook die rente wat uit halfjaarlikse koeponbetalings verkry is, het effekte in die uitkeergroepe van drie tot sewe en sewe tot twaalf jaar meestal bevoordeel,” sê hy.

“Die daling van effekteopbrengskoerse, die afrol- effek in die lig van die steil positiewe helling van die opbrengskurwe, asook die rente wat uit halfjaarlikse koeponbetalings verkry is, het effekte in die uitkeergroepe van drie tot sewe en sewe tot twaalf jaar meestal bevoordeel,” sê hy.

Die steil positiewe helling van die plaaslike opbrengskurwe verwys na hoër opbrengskoerse en gevolglik laer pryse van effekte met langer termyne. “Die toenemende onsekerheid en kommer oor Suid-Afrika se fiskale situasie het die grootste negatiewe uitwerking op langtermyn-effekte, veral dié met ’n vervaltermyn van meer as 20 jaar,” sê Furstenberg.

In ’n poging om die regering se begrotingstekort te dek, reik die tesourie nou effekte aan die langer kant van die mark uit en verruil kortertermyn-skuld vir effekte met lang looptye, sê Nxumalo. Selfs al styg effekte se pryse nie verder nie, sal beleggers in langertermyn-effekte steeds deur opbrengskoerse ver bo inflasie bevoordeel word.

Inflasiegekoppelde effekte

Beleggers in inflasiegekoppelde effekte ly in ’n scenario van lae inflasie onder lae opbrengs. Dié effekte, wat ’n rentekoers of koepon uitkeer wat aan verbruikersprysinflasie (VPI) gekoppel is, verskil van nominale effekte, wat vaste koeponne uitkeer, deur ’n mate van beskerming te bied teen inflasie se kapitaalerosie op lang termyn.

Beleggers in inflasiegekoppelde effekte ly in ’n scenario van lae inflasie onder lae opbrengs.

“Lae inflasie en hoë nominale effekteopbrengskoerse het inflasiegekoppelde opbrengste relatief minder aantreklik gemaak,” sê Nxumalo. Kernverbruikersinflasie was sedert begin vanjaar nooit hoër as 4,5% nie, toon data van Statistieke Suid-Afrika. In September was dit 4,1% – die tweede laagste vlak vanjaar ná Januarie en Julie se 4%. “As inflasie laag bly, sal nominale effekte dalk beter waarde aan beleggers bied,” sê Nxumalo.

Furstenberg reken die vooruitsig vir inflasiegekoppelde effekte is beter as hul prestasie vanjaar. Hulle sal egter dalk steeds nie die prestasie ewenaar wat nominale effekte en kontant bied nie, sê hy.

Moody’s se stelling

Moody’s Investors Service het die Suid-Afrikaanse regering gewaarsku om in die begrotingstoespraak in Februarie aanstaande jaar planne uiteen te sit om die toename in sy skuld te beperk. Dis onmoontlik om die uitkoms van ’n moontlike graderingsverlaging vir die land se soewereine skuld te voorspel, sê Furstenberg.

Furstenberg reken die vooruitsig vir inflasiegekoppelde effekte is beter as hul prestasie vanjaar.

Tito Mboweni, minister van finansies, het in sy mediumtermyn-begrotingsbeleidsverklaring aan die mark gesê die regering sal 5,9% meer van die bruto binnelandse produk bestee as wat hy deur belastings sal invorder. Hy het gesê die nasionale skuld sal in die volgende drie jaar met 50% tot R4 500 miljard spring.

Gevolglik het Moody’s, die laaste kredietgraderingsagentskap wat Suid-Afrika se skuld op beleggingsgraad aanslaan, die regering gewaarsku. “ ’n Mens moet in gedagte hou dat ’n graderingsverlaging deur Moody’s hoegenaamd nie ’n verrassing vir ’n goed ingeligte mark sal wees nie,” sê Furstenberg.

Albert Botha, hoof vir vaste-inkomsteportefeuljebestuur van Ashburton

Die eenmalige uitwerking van ’n potensiële graderingsverlaging sal waarskynlik nie beduidend in die huidige internasionale omgewing wees nie.

Daar is steeds beduidende belangstelling in ontluikendemark-bates en ’n verskuiwing na risikoaanvaarding, sê Albert Botha, hoof vir vaste-inkomsteportefeuljebestuur by Ashburton Investments.

“As dit verander en ons kry ’n graderingsverlaging te midde van ’n internasionale verlangsaming, sal die uitwerking beduidend en langdurig wees,” sê hy.

Nxumalo sê daar is moontlike geleenthede as buitelandse beleggers plaaslike effekte verkoop. “Sommige buitelandse beleggers sal gedwing word om te verkoop, wat stygings in opbrengskoerse en randverkope sal veroorsaak as alle ander dinge dieselfde bly,” sê sy.

“In werklikheid sal die verkope egter teëgewerk word deur die vraag van plaaslike beleggers wat winskope soek en/of gedwing word om geld uit die buiteland terug te bring.”

Die vraag is

Die vraag is of die nodige kapasiteit by fondse bestaan om toenemende uitreikings en gelyktydige verkope deur buitelanders te absorbeer.

“Plaaslike beleggers sal saam met buitelandse beleggers kapasiteit kry as opbrengskoerse hoog genoeg is, maar ons kan groter markwisselvalligheid verwag totdat ’n klaringvlak gevestig word,” sê Botha.

’n Beleggingsgraadgradering deur ’n kredietgraderingsagentskap beteken dat ’n land se skuld ingesluit word by indekse soos Citigroup se wêreldindeks van staatseffekte – wat uit 20 soewereine nasies bestaan. Baie groot volgfondse, waaronder beursverhandelde fondse (ETF’s) volg dié effekte-indekse passief en moet onderliggende effekte verkoop wanneer hulle nie ingesluit word nie.

“Plaaslike beleggers sal saam met buitelandse beleggers kapasiteit kry as opbrengskoerse hoog genoeg is, maar ons kan groter markwisselvalligheid verwag totdat ’n klaringvlak gevestig word,” sê Botha.

Ander fondse word verplig om net in beleggingsgraadskuld te belê. “ ’n Mens kan gerus daarop let dat nie alle buitelandse beleggers deur norme beheer word nie, of anders gestel, of Suid-Afrika op beleggingsgraad is of nie,” sê Furstenberg.

“Die verrassing sal wees as dié sogenaamde onbeperkte buitelandse beleggers die gaping vul wat die passiewe of normgedrewe buitelandse beleggers laat.”

Nishan Maharaj, portefeuljebestuurder by Coronation Fund Managers, skat dat passiewe beleggers wat die wêreldeffekte-indeks as norm gebruik, plaaslike staatskuld ter waarde van tussen $5 miljard en $7 miljard het. Dit beteken R103 miljard.

“Die Suid-Afrikaanse effektemark se omset is tussen R20 miljard en R25 miljard per dag,” sê hy om die moontlike uitvloei te vergelyk.

Geldmark prestasie

Geldmarkfondse, wat rente-uitkerings bied, het ondanks die rentekoersdaling vroeër vanjaar gesonde opbrengskoerse behaal vergeleke met aandele.

Geldmarkopbrengste word beïnvloed deur korttermyn-rentekoerse, wat die Reserwebank stel, en die vraag van banke en ander maatskappye na korttermynfinansiering, sê Nxumalo.

Die verlaging in die terugkoopkoers het geldmarkbeleggers bevoordeel wat instrumente met langer looptye gehou het, sê Furstenberg. “Nes die kurwe van die effekteopbrengskoers, was en is die geldmarkkurwe se helling taamlik steil,” sê hy.

Die opbrengskoers van 12-maande-instrumente word teen aansienlik hoër vlakke as kontant gebied, sê hy.

Die opbrengskoers van 12-maande-instrumente word teen aansienlik hoër vlakke as kontant gebied, sê hy. Die plaaslike ekonomie se flou groei en gebrek aan verbruiker- en gevolglik sakevertroue het die vraag na bankkrediet die laaste paar jaar gedemp. “Ons het lank ’n omgewing van baie lae groeikoerse gehad,” sê Maharaj.

“Dit het tot min vraag na korporatiewe krediet gelei.” Die gebrek aan vraag na geldmarkfondse, wat grootmaatfinansiering aan die handelsbanke bied, plaas druk op die spreiding, of verskil, tussen die rentekoerse waarteen leners kan leen en die Johannesburgse driemaande-interbankkoers (Jibar). Dis die normkoers waarteen handelsbanke aan mekaar leen.

Geldmarkinstrumente

Die spreiding by geldmarkinstrumente met ’n uitkeertermyn van vyf jaar het in die afgelope vyf jaar van 1,4 persentasiepunte tot 1,05 persentasiepunte gedaal, sê Maharaj.

Terselfdertyd verhandel instrumente met ’n termyn van minder as ’n jaar teen ’n spreiding van sowat 0,8 persentasiepunte, sê hy. “Ons is nie in die vyfjaar-omgewing bedrywig nie,” sê Maharaj.

Terselfdertyd verhandel instrumente met ’n termyn van minder as ’n jaar teen ’n spreiding van sowat 0,8 persentasiepunte, sê hy.

“Met ’n delta van 0,8 persentasiepunte vir ’n jaar en ’n delta van 1,05 persentassiepunte vir vyf jaar is die verskil van 0,25 persentasiepunte oor vyf jaar nie die risiko werd nie. Baie dinge kan in vyf jaar verkeerd loop vir 0,25 persentasiepunte.” Die meeste van die geldmarkfondse se opbrengs vir die jaar is bepaal deur die opbrengskoerse waarteen die vasterente-instrumente vroeër vanjaar uitgereik is, sê Furstenberg.

“Fondse wat dié instrumente hou, het natuurlik ook ’n hupstoot gekry toe die terugkoopkoers vroeër vanjaar met 0,25 persentasiepunte verlaag is.”

Lui aandele

Die onttrekking van aandeelbeleggings en belegging in vaste-inkomstebates beklemtoon plaaslike aandele se onlangse vernietigende vertoning.

Jean Pierre Verster, stigter en uitvoerende hoof van Protea Capital Management

“Onthou dat aandele groeibates is en dat jy hulle oor ’n tydperk van meer as ’n jaar moet beskou. Dis waar dat aandele in die afgelope vier tot vyf jaar swakker as vaste-inkomstebates gevaar het,” sê Jean Pierre Verster, stigter en uitvoerende hoof van Protea Capital Management. Die Suid-Afrikaanse ekonomie het ’n rol in plaaslike aandele se onderprestasie gespeel, sê hy.

“Hou ook in gedagte dat die meeste van die FTSE/JSE indeks van alle aandele se verwagte verdienste in die buiteland gegenereer word. Dit beteken dat die vertoning van plaaslik-gerigte maatskappye van maatskappyspesifieke kwessies en die plaaslike ekonomie afhang.”

Etienne Roux, aandeelnavorser by Truffle Asset Management, sê daar is vier faktore wat plaaslike aandele se onderprestasie in die afgelope drie jaar aangedryf het.

Terwyl die JSE in die tydperk saamgestelde groei van 7,9% behaal het, het die S&P 500-normindeks van Amerikaanse aandele 16,1% in dollar en 20,1% in rand opgelewer. “Die aanvangswaardasies van die JSE was drie jaar gelede hoog, wat die rede is waarom hulle duur was vergeleke met hul historiese mediaanvlak,” sê Roux.

Etienne Roux, aandeelnavorser by Truffle Asset Management

“Saam met ’n plaaslike ekonomie wat die laaste paar jaar nie regtig gegroei het nie en verhogings van geadministreerde pryse deur die staat – wat teen ’n koers ver bo inflasie verhoog is – plaas dit beduidende druk op plaaslik-gerigte maatskappyverdienste.”

Die onlangse vlaag uitkope van kleinkapitalisasie- aandele dien as bewys dat sommige aandele dalk baie goedkoop geword het, sê Verster. Dié uitkope sal winskope blyk te wees as die maatskappye hul verdienste danksy ’n herstel in die plaaslike ekonomie kan verhoog. As die ekonomie egter swak bly, kan hulle uiteindelik duur aankope wees, sê hy.

Suid-Afrika het ook aansienlike politieke onsekerheid beleef, soos die verlaging van soewereine kredietgraderings, verkiesings, die grondonteieningsdebat en die finansiële kwessies by Eskom, sê Verster.

“Dit het daartoe gelei dat beleggers ons mark weens die groter risiko’s laer aangeslaan het.”

Die onsekerhede het daartoe gelei dat buitelandse beleggers netto verkopers van plaaslike aandele geword het – wat verdere druk op plaaslike aandeelpryse plaas, sê Roux. Daarby het die verlangsaming van wêreldgroei met die groter gewoel weens die handelsoorlog tussen Amerika en China beleggers weg van ontluikende markte na veiliger hawens gestuur, sê hy.

“Dit het daartoe gelei dat beleggers ons mark weens die groter risiko’s laer aangeslaan het.”

Laastens het Suid-Afrika ’n gekonsentreerde aandelemark, wat deur ’n handjie vol maatskappye oorheers word, sê Roux. “Gevolglik het groot veranderinge in sekere aandele ’n uitwerking wat buitengewoon groot is op die algehele markopbrengs.”

Verskans in ’n flou mark

Teoreties behoort dalende aandele die skansfondse te versterk wat ’n lang-kort-benadering tot aandeelbelegging volg. Dit behels dat skansfondsbestuurders aandele koop wat hulle meen in die toekoms sal styg, en dié kort verkoop wat hulle meen sal daal.

“In die algemeen behoort lang-kort-aandeelstrategieë ’n voordeel te hê wanneer aandeelpryse daal,” sê Verster, wat skansfondse bestuur.

“Skansfondse wat ’n lang-kort-aandeelstrategie volg, vaar sedert begin vanjaar beter as die mark.” ’n Skansfonds sal goed vaar wanneer markte ’n hoë verspreiding van opbrengste het, sê Verster. Dit beteken dat aandeelpryse nie tydens skokke, soos geopolitieke of makro-ekonomiese gebeurtenisse, ooreenkomstig beweeg nie.

Wanneer markte ’n lae verspreiding van oprengste toon, of in tye van skok meer in ooreenstemming beweeg, sal lang-kort-aandeelstrategieë sukkel om opbrengste vir beleggers te behaal, sê hy. “Skansfondse (soos in HedgeNews Africa se saamgestelde enkelbestuurderindeks vir Suid-Afrika) het in 2017 swakker as die mark gevaar toe die verspreiding van opbrengste laag was,” sê Verster.

“In die ander kalenderjare sedert 2015 het hulle die mark geklop.”

Wat is die vooruitsig?

Met geen lig in die tonnel van Suid-Afrika se ekonomiese ellendes nie, wonder pensioentrekkers en kleinbeleggers dalk of, en indien nodig hóé, hulle hul bates in die nabye toekoms moet toewys.

Die effektemark se vertoning sal deur verskillende faktore bepaal word, afhangend van waar op die opbrengskurwe ’n instrument geleë is.

“Omdat ons ’n verwagting van ’n volgehoue voordelige inflasievooruitsig wat gemiddeld ’n bietjie hoër as vanjaar sal wees, asook van swak ekonomiese groei het, sal die kort kant van die opbrengskurwe waarskynlik goed geanker bly, met ’n risiko van ’n verlaging of twee in die terugkoopkoers,” sê Furstenberg van Futuregrowth.

Die effektemark se vertoning sal deur verskillende faktore bepaal word, afhangend van waar op die opbrengskurwe ’n instrument geleë is.

Die prestasie van staatseffekte met langer termyne sal in ’n mindere mate van internasionale effekteopbrengskoerse afhang, maar hoofsaaklik van die uitkoms van die plaaslike fiskale situasie, sê hy. Die vooruitsig vir staatseffekte hang benewens ’n vermindering van die begrotingstekort af van of die nodige optrede ingestel kan word om ekonomiese groei te versterk, sê Nxumalo van Allan Gray.

Botha van Ashburton sê as die handelsoorlog tussen Amerika en China afkoel, sal dit nominale staatseffekte steun, soos die geval met ’n verbetering van die plaaslike vooruitsigte sal wees. “Selfs in die afwesigheid van faktore wat tot ’n effektelopie kan lei, maak die baie aantreklike aanvangsopbrengskoerse effekte egter ’n aantreklike bateklas,” sê hy.

Inflasie 

“As inflasie beperk word, sal effekte selfs in die afwesigheid van lopies tussen VPI plus vier tot vyf persentasiepunte oplewer.” Die vooruitsigte vir aandele is effens minder entoesiasties. ’n Verbetering in ekonomiese groei is nodig, saam met resolusies oor sommige landspesifieke kwessies, veral Eskom, sê Roux. Verbeterde ekonomiese groei sal maatskappywinste aandryf, terwyl ’n Eskom-oplossing die internasionale beleggersentiment teenoor Suid-Afrika sal verbeter, sê hy.

’n Verbetering in wêreldgroei en/of positiewe uitkoms in die handelsituasie tussen Amerika en China sal ook beleggers se risikoaptyt verbeter en gevolglik die aptyt vir ontluikende markte verbeter, sê hy. Watter sektore bied ’n bietjie hoop op opbrengs in die afwesigheid van dié voordelige veranderlikes?

“Selfs al het platinummaatskappye se aandeelpryse reeds gestyg, dink ons daar is nog stygpotensiaal danksy die internasionale tekorte aan palladium en rodium,” sê Roux.

“Selfs al het platinummaatskappye se aandeelpryse reeds gestyg, dink ons daar is nog stygpotensiaal danksy die internasionale tekorte aan palladium en rodium,” sê Roux.

Dit sal verhoog word deur China en die EU se regulasies oor dieseluitlaatgasse wat in 2021 inskop, terwyl geen nuwe mineraalvoorraad in die voorsienbare toekoms verwag word nie, sê hy. “Ons dink spesifiek dat Impala Platinum en Sibanye-Stillwater in die lig van hul huidige pryse nog baie goedkoop lyk,” sê Roux.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.