Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Kontant kraai nou koning by South32
13 September 2018

South32 het hom in die internasionale mark vir gediversifiseerde mynbouhulpbronne gevestig as ’n aandeel hoog in beleggingsopbrengs en laag in riskante samesmeltings- en verkrygingsaktiwiteite.

Graham Kerr, uitvoerende hoof van South32

Die maatskappy se verrassende kontant- aanbod van $1,3 miljard vroeër vanjaar vir Arizona Mining, wat in Toronto genoteer is, is ’n uitsondering op die reël, maar het nogtans gemaak dat sommige ontleders ’n hoë groeityd vir alle mynbouaandele verklaar het.

’n Onlangse verslag van Macquarie, die Australiese bank, steun blykbaar die gedagte dat Graham Kerr, uitvoerende hoof van South32, gemakliker met South32 as ’n groeiaandeel raak, in die lig van die balansstaat en bestuursvermoë wat in die groep, met sy hoofkantoor in Perth, geskep word.

Volgens die bank, wat verlede maand met Kerr beraadslaag het, kan die kapitaaluitgawe van $850 miljoen vir die ontwikkeling van Arizona Mining se Hermosa eiendom – hoofsaaklik ’n sinkafsetting – maklik geabsorbeer word. South32 sal na verwagting tussen 2020 en 2023 vrye kontantvloei van $1 miljard per jaar genereer.

“South32 het bevestig dat die firma steeds oor oortollige balansstaat- én bestuursvermoë beskik om nog verkrygings na te jaag,” sê die bank se ontleders in ’n nota van 29 Augustus. “Graham Kerr, uitvoerende hoof, het die ooreenkomste tussen Hermosa en Cannington [South32 se sinkgeriewe in Australië] uitgelig en beklemtoon daar kan op interne personeel staatgemaak word wanneer Cannington die einde van sy mynleeftyd nader, omtrent dieselfde tyd as wanneer produksie uit Hermosa begin verhoog,” sê die ontleders.

South32 het nie heeltemal afgesien van nuwe beleggings in Suid-Afrika nie.

Die sterkte van South32 se kontantgenerering het selfs vir Goldman Sachs verras. Die netto kontantsaldo teen die voljaarkerf geëindig 30 Junie, voordat vir die verkryging van Arizona betaal is, was sowat $2 miljard. Goldman Sachs sê dit was “… hoër as ons vooruitskatting van $1,8 miljard en dui op sterk kontantgenerering in die tweede helfte van die jaar”.

Die maatskappy se balansstaat sal ondersteun word deur die opbrengs van die verkoop van South African Energy Coal (SAEC), wat nou voortgaan. Sowat 40 ongevraagde en ongekwalifiseerde aanbiedings is ontvang. Dit maak sin om te verkoop, al is dit bloot omdat die steenkooluitvoermark so aantreklik is, met pryse van meer as $100 per ton.

SAEC het vir die 2018-boekjaar $353 miljoen in onderliggende voorbelaste verdienste geïn, gelyk aan 14% van die groepstotaal. Ofskoon nie gering nie, kwalifiseer SAEC ingevolge sy eienaarsmodel nie om nuwe bronne van steenkool aan Eskom te verkoop nie. Daar rus ook ’n rehabilitasiebepaling van $739 miljard op die steenkoolmyne. Die myne is uiters kapitaalintensief, terwyl sy Middelburg Wolvekrans Complex (MWC) sukkel om geld te maak uit sy kontrak met Eskom.

Daar is al gesê ’n verskaffer in swart besit wat MWC-steenkool aan Eskom lewer, sal moontlik ’n beter kontrak kan beding, aangesien die nutsmaatskappy in die toekoms sakeondernemings in swart besit wil ondersteun. In ’n gesprek met finweek vroeër vanjaar het Kerr gesê al het die maatskappy uit Suid-Afrika onttrek, het hy nie heeltemal daarvan afgesien om nuwe beleggingsmoontlikhede in die land op te volg nie, mits ’n mate van regulatoriese sekerheid verkry kan word – ’n verwysing na die mynbouhandves waaroor tans onderhandel word.

Die firma het ook mangaanbedrywighede in ’n gesamentlike onderneming met Anglo American in die Noord-Kaap, dus is South32 nog prakties teenwoordig in Suid-Afrika en bly hy op die JSE genoteer. Volgens Kerr bly Afrika ’n moontlike jagveld vir verkrygings. Die maatskappy bedryf die Mozal-aluminiumsmeltery in Mosambiek, ’n land waar hy met redelike gerustheid werk.

“Tanzanië is ook interessant,” sê Kerr, “maar plekke soos die Demokratiese Republiek van die Kongo is nie vir ons nie. Te gevaarlik noudat daar met die disinvestering van Freeport ’n kleiner Amerikaanse teenwoordigheid is.” ¦ terugvoer@finweek.co.za

Gallo/Getty Images


G’n pot vol goud vir Harmony

Sommige maatskappye, soos South32, het meer as genoeg kontant, maar nie Harmony Gold nie – ’n heel ander soort organisasie wat likiditeit betref.

Ontleders meen hy sal dalk ekwiteit moet gebruik om sy volgende groot oorgang te finansier. Harmony Gold het van sy begin in die 90’s ’n strategie gevolg om myne te koop wat ander maatskappye nie winsgewend kon bestuur nie.

Met ’n innoverende laekostebenadering tot mynbou het hy jare lank uitstekend gevaar. Hy was in ’n stadium een van die wêreld se grootste goudprodusente. Daar was egter ’n beperkte hoeveelheid ou myne beskikbaar in Suid-Afrika.

Nou doen hy iets wat hy nooit voorheen aangepak het nie: die bou van ’n nuwe myn, Golpu, in Papoea-Nieu-Guinee, ’n enorme goud- en koperertsliggaam wat hy deel met, Newcrest Mining, sy vennoot in die gesamentlike onderneming. Dit sal meer as $1 miljard kos om die myn te bou, en baie jare neem om ’n opbrengs te verdien.

Die vrees is dat Harmony nie genoeg tyd of kapitaal sal hê nie. Hy het Moab Khotsong onlangs vir $300 miljoen van AngloGold Ashanti gekoop en sy Hidden Valley- myn heropen. Dit het produksie tot 1,5 miljoen ons per jaar gebring, meer as wat hy in jare geproduseer het.

Ontleders meen egter hy kan nie lank op dié produksievlak voortgaan nie, wat vrae opper oor die firma se vermoë om die kontantvloei te genereer wat sal help vir produksie by Golpu. “Hoewel ons bekommed was oor die finansiering van Golpu, voorspel ons nou met die toevoeging van Moab en Hidden Valley wat kommersiële produksievlakke bereik, dat Harmony R4,2 miljard in vrye kontantvloei sal genereer,” het Macquarie se Yatish Chowthee in ’n onlangse verslag gesê.

“Met Golpu se projekkapitaalbesteding wat op R20 miljard vasgepen is, skiet die R4 miljard aanvanklik ver te kort,” het Chowthee gesê. “Harmony sal na die aandelemark moet kom om kapitaal in te samel.” Nog ’n opsie – afgesien van groot skuld – is dat Harmony se 13%-aandeelhouer, African Rainbow Minerals, ’n belangrike aandeelhouer in die projek word, of op die hoogste vlak deelneem deur onderskrywing of regstreeks deelneem aan ’n ekwiteitsuitreiking.

Eers dan, met die gewig van ’n firma wat die voordeel van diversifikasie het, kan Harmony hoop om oor die lang termyn te oorleef.

Meer oor:  South32  |  Finweek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.