Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Koolstofbelasting: Kan dit werklik ons las ligter maak?
6 Junie 2019
Foto: Freepik

Die voorbereiding vir en aanloop tot Suid-Afrika se Wetsontwerp op Koolstofbelasting is al amper ’n hele dekade aan die gang, maar dit het baie Suid-Afrikaners steeds onkant gevang toe president Cyril Ramaphosa dit op 26 Mei as wet onderteken het, ’n stap wat ’n duidelike teken is dat hy heeltemal bereid is om met ongewilde ekonomiese hervormings voort te gaan.

Teenstanders teen die belasting voer aan dat in die huidige tydperk waarin die ekonomie soveel sukkel, waar werkloosheid op die hoogste vlakke in 15 jaar is en die sakewêreld reeds die las dra van elektrisiteitspryse wat die afgelope dekade feitlik verdriedubbel het, die land nie ’n belasting op koolstofvrystelling kan bekostig nie.

Die belasting, wat op 1 Junie vanjaar van krag word, is bedoel om maatskappye en individue te dwing om hul gedrag te verander ten einde ’n oorgang tot ’n minder koolstofintensiewe ekonomie te ondersteun, terwyl die bewyse van die bestaan van klimaatsverandering – en die bedreiging wat dit vir die mensdom sowel as die internasionale omgewing inhou – al hoe meer toeneem.

Ondersteuners van die belasting voer aan dat dit belangrik is vir Suid-Afrika, aangesien die land die 14de grootste vrysteller van kweekhuisgas in die wêreld is en sterk afhanklik is van fossielbrandstowwe.

Ondersteuners van die belasting voer aan dat dit belangrik is vir Suid-Afrika, aangesien die land die 14de grootste vrysteller van kweekhuisgas in die wêreld is en sterk afhanklik is van fossielbrandstowwe.

Dit maak die land kwesbaar vir ’n internasionale verskuiwing na beleggings wat klimaatsveranderingsrisiko versag en wat laekoolstofekonomieë, -nywerhede en -maatskappye ondersteun. “Die wenners in die toekoms sal die lande wees wat ekonomiese groei van koolstofintensiteit ontkoppel,” het Jon Duncan, hoof van verantwoordelike belegging by Old Mutual Investment Group, gesê.

Die risiko

“Die risiko vir ons ekonomie is dat ons sal voortgaan om te belê in die infrastruktuur vir fossielbrandstowwe en uiteindelik ’n situasie sal bereik waar ons nie verder kan beweeg nie – maar ons is nie geïsoleer nie, ons is afhanklik van wat in die internasionale ekonomie gebeur. Die koolstofbelasting is die regte besluit en ’n simbolies stap in die regte rigting.”

Sedert November 2018 gebruik 46 lande en 24 stede, state en provinsies wêreldwyd meganismes vir die beheer van die prys van koolstof. Suid-Afrika se koolstofbelasting is in 2010 die eerste keer voorgestel, en ’n aanvanklike konsepwet is in November 2015 gepubliseer, in lyn met die land se wêreldwye verbintenis om stappe teen klimaatsverandering te doen.

Dit is egter sedertdien verskeie kere hersien en uitgestel ná uitgebreide gesprekke met die sakewêreld en nywerhede, en die formulering van ander klimaatsveranderingsbeleid wat saam met die belasting in werking sal tree.

Dit is egter sedertdien verskeie kere hersien en uitgestel ná uitgebreide gesprekke met die sakewêreld en nywerhede, en die formulering van ander klimaatsveranderingsbeleid wat saam met die belasting in werking sal tree. Die vertragings het vals persepsies geskep dat die belasting eintlik nooit deurgevoer sal word nie, en gevolglik is baie maatskappye glad nie voldoende voorbereid om die implikasies daarvan te hanteer nie, sê Kyle Mandy, hoof van nasionale belasting: tegnies by PwC SA.

“Die sakewêreld moet die koolstofbelasting vinnig aanvaar en die impak daarvan op hul besighede ten volle verstaan. Maar die regering moet ook verseker dat die inkomste wat hy ontvang, teruggaan in die ekonomie om die negatiewe impak te verlig,” het hy gesê.

Geldmaakinisiatief 

Aangesien die opbrengs van die koolstofbelasting nie vir spesifieke klimaatsveranderingsinisiatiewe geoormerk is nie, is daar wydverspreide persepsies dat dit net nog ’n geldmaakinisiatief is wat pyn sal veroorsaak en eenvoudig inkomste vir die verarmde staatskas sal wees. Maar in die eerste fase wat van 1 Junie 2019 tot 31 Desember 2022 loop, sal die belasting slegs gehef word op wat beskryf word as “Scope 1” of regstreekse vrystellers, wat beteken die maatskappye wat die bates besit wat brandstof gebruik.

Die oorkoepelende belastingkoers is R120 per ton koolstofdioksied-ekwivalent, maar ná verskeie belastingtoegewings, toelaes en prestasie-aansporings, kan dit met tot 95% verminder word en sal dit ’n effektiewe koers van tussen R6 en R48 per ton wees.

Die koolstofbelasting sal aanvanklik neutraal wees vir kragpryse, omdat Eskom se vrystelling vergoeilik word teen sy kragheffing en die koste van die hernubare energie wat hy van onafhanklike kragprodusente koop teen pryse bo die huidige markkoers.

Die koolstofbelasting sal aanvanklik neutraal wees vir kragpryse, omdat Eskom se vrystelling vergoeilik word teen sy kragheffing en die koste van die hernubare energie wat hy van onafhanklike kragprodusente koop teen pryse bo die huidige markkoers.

Hierdie maatreëls sal die impak van die belasting op die sogenaamde intensiewe energiegebruikers aansienlik verminder, wat die enigste maatskappye is wat aktief voorberei het vir die wetgewing én vooraf gewerk het om dit te beïnvloed. Maar wat grootliks oor die hoof gesien is, is die brandstofkomponent van die belasting – petrolpryse sal met 9c en diesel teen 10c per liter styg van die datum van die inwerkingstelling daarvan. Daardie koste sal deur die hele ekonomie gedra word, en maatskappye én verbruikers moet dit in hul finansies opneem.

Teresa Legg, direkteur van koolstofkonsultante-firma Carbon Report, sê maatskappye moet ook kyk na die implikasies wat die koolstofbelasting vir hul hele voorsien-ingsketting het, wat direkte vrystellers kan insluit. “Ek dink baie mense het geglo die belasting sal hulle nie regstreeks raak nie; hulle was dus nie bekommerd daaroor nie,” sê sy.

“Wat ons probeer om te sê, is: Kyk wyer daarna in terme van jou hele verskaffingsketting, want daar kan heelwat vrystelling wees met ’n domino-effek wat jou raak in terme van pryse.” Aanvanklik sal maatskappye wat die koolstofbelasting die meeste beïnvloed, vervaardigings-, mynbou- en nywer-heidsmaatskappye wees, maar groot brandstofverbruikers in die vervoer- en logistieksektor sal ook ’n styging in koste ervaar.

Aanvanklik sal maatskappye wat die koolstofbelasting die meeste beïnvloed, vervaardigings-, mynbou- en nywer-heidsmaatskappye wees, maar groot brandstofverbruikers in die vervoer- en logistieksektor sal ook ’n styging in koste ervaar.

Aandeelpryse sal waarskynlik reageer, maar nie beduidend nie. Die impak van die koolstofbelasting sal waarskynlik in fase 2 van die inwerkingstelling toeneem, hoewel baie sal afhang van die uitslag van ’n hersiening wat die tesourie gesê het ná minstens drie jaar ná die inwerkingstelling daarvan sal begin.

In die Suid-Afrikaanse konteks laat dit nie veel tyd oor om besluite aan te pas nie. Fase 2 sal volgens planne aan die begin van 2023 te begin – maar sakeleiers sê dit is haalbaar. Die probleem is dat Suid-Afrika ook van plan is om ’n verpligte koolstofbegroting in te stel, wat die hoeveelheid vrystellings sal beperk wat ’n maatskappy sonder groot boetes kan toelaat.

Wat dit beteken, is dat besighede ’n belasting op kool-stofvrystellings sal betaal, bo en onder die begrotingsgrens, wat nie die internasionale norm is nie, sê Jarredine Morris, omgewings- en energiebeleidsbestuurder van Besigheideenheid Suid-Afrika (Busa).

“Deel van die hersieningsproses sal wees om te sien hoe al die instrumente wat bedoel is om ons kweek-huisgasvrystellings te verminder, werk, en om te verseker dat alles inpas sodat daar geen dubbele boetes is nie. Ons het aangevoer dat koolstofbegrotings self ’n koolstofprys op die ekonomie is,” sê sy.

BUSA

BUSA het ook die standpunt ingeneem dat die koolstofbegroting die belastingperk word en dat enige vrystellings hoër as dit teen ’n hoër koers belas moet word om as behoorlike afskrikmiddel te dien, het sy bygevoeg.

Die berekening van die inkomste deur die brandstofkomponent van die bestaande koolstof-belasting is relatief eenvoudig – die tesourie het dit op R1,8 miljard geraam. Maar op die oomblik is dit moeilik om te weet wat die “Scope 1”-vrystellers sal moet betaal, aangesien besonderhede van die toelaes en regulasies wat hul koste sal verminder, nog nie gepubliseer is nie.

In ’n e-posantwoord op vrae van finweek het die tesourie op 28 Mei gesê dat koolstofvrystellingregulasies in Julie in die Staatskoerant aangekondig sal word, terwyl sakeblootstellingstoelaes en regulasies vir sektorstandaarde in Junie gepubliseer sal word. Intussen sê bedryfsbronne dat ramings van die inkomste wat deur die vrystellingkomponent van die koolstofbelasting gedurende fase 1 verdien sal word, tussen sowat R6 miljard en R15 miljard sal wissel.

Dennis Dykes, hoofekonoom van Nedbank, sê volgens hom is die koolstofbelasting in sy huidige vorm onlogies omdat die regering nie genoeg doen om die gebruik van hernubare energie aan te moedig nie, wat ’n veel effektiewer manier sal wees om die land se kweekhuisgasvrystellings te verminder.

“As ons regtig ernstig is oor koolstof, soos ons moet wees, is daar baie eenvoudiger maniere om dit te doen.”

“As ons regtig ernstig is oor koolstof, soos ons moet wees, is daar baie eenvoudiger maniere om dit te doen.”

Hy het gesê die regering kan die aandeel van energie ten gunste van laekoolstofintensiteit verander in sy nuwe Geïntegreerde Hulpbronne-plan (IRP), wat in die volgende paar maande verwag word. “Daar kan ernstige internasionale straf wees in die vorm van uitvoerbelasting as ons nie na ’n baie laer koolstofvoetspoor beweeg nie.

Die hele internasionale gemeenskap gaan baie aggressiewer word teenoor lande wat hul koolstofbehoeftes oortref,” het hy gesê. 

Meer oor:  Finweek  |  Koolstofbelasting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.