Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Koolstofkwessies in mynproduksie
22 Oktober 2020
Douglas Upton
Douglas Upton, beleggingsontleder en vennoot van Capital Group

Die beleggingsfokus op die interaksie tussen mynmaatskappye en die gemeenskap het die afgelope drie jaar baie verskerp. Die beheer van vrystellings is nou vir fondsbestuurders net so belangrik as produksie.

Twee Britse fondsbestuurders vra egter of die huidige formulering vir die meting van vrystellings, veral die vlak 1- tot vlak 3-standaard (“scope een tot drie”), heeltemal toepaslik is. Die omgewings-, maatskaplike en beheerstandaarde (OMB-standaarde) soos dit tans bestaan, het inherente foute, sê hulle. “Die manier wat ons tans OMB doen, is om in elke afleipyp in die maatskappy te kyk en te probeer meet wat daar uitkom,” sê Douglas Upton, ’n beleggingsontleder en vennoot van Capital Group, ’n Amerikaanse fondsbestuurder met meer as $1 duisend miljard onder bestuur.

“Maar ek voel ons meet net dinge wat ons kan meet en nie dinge wat regtig belangrik is nie,” het Upton vroeër in Oktober op die Joburg Indaba gesê. Volgens die standaard van die protokol vir kweekhuisgasse (GHG), waaraan mynmaatskappye voldoen, moet vrystellers van gas hul eie GHG’s beheer en verminder – die sogenaamde vlak 1 van die standaard – en die vrystellings van hul verskaffers in vlak 2 van die ondersoek, wat deur verkryging bestuur kan word. Die meer omstrede element van die protokol is die bestuur van die vrystellings van eindgebruikers, of vlak 3, soos dit bekend staan.

“Ek voel ons meet net dinge ons kan meet en nie dinge wat regtig belangrik is nie.”

Volgens ’n verslag van Bloomberg News op 1 Oktober, bied die 182-bladsy-, 15-kategorie-riglyne vir die nakoming van vlak 3 van die standaard “soveel ruimte vir diskresie en dubbelsinnigheid dat maatskappye hul vrystellings min of meer self kan aangee – of selfs weier om dit enigsins bekend te maak”. Ongeveer ’n vyfde van die wêreld se totale GHG-vrystellings kom inderdaad van ’n groep maatskappye wat volgens Bloomberg News glad nie hul syfers bekend maak nie.

“Ek dink nie vlak 3 hoort binne OMB nie,” het Upton gesê. “As ons alles oor OMB buite koolstof oorweeg, kyk ons daarna en dan sê ons: ‘Wel, gehoorsaam die maatskappy die wette, die reëls, en miskien die beste praktyk?’ Maar wat is die Kumba-ysterertsmyn veronderstel om te doen oor staalvrystellings wanneer hulle steenkool in ’n oond steek en hul ystererts verbrand? Wat kan hulle doen: eenvoudig ophou om ystererts te verkoop? So ek dink ons meet die verkeerde ding. Vlak 3 hoort nie hier nie,” het hy gesê. Nog ’n probleem is dat mynmaatskappye hul eie syfers aanmeld op grond van interne kriteria. Dit lyk amper soos ’n soort bespotting van die standaard , aangesien geen standaardisering eintlik bereik word nie.

George Cheveley
George Cheveley, portefeuljebestuurder by Ninety One

George Cheveley, ’n portefeuljebestuurder by Ninety One in Londen, het gesê dat die evaluering van die bydrae van mynmaatskappye tot die OMB-kwessie uiteindelik kan neerkom op ander maatstawwe as net die vermindering van vrystellings, hoewel dit van kritieke belang sal bly. Mynboumaatskappye met steenkool as ’n groot deel van hul inkomste kan byvoorbeeld verklaar dat hulle die bates “vir kontant” bestuur en dan die opbrengste herbelê in metale wat bydra tot ontkoling, soos koper of nikkel.

Dit is miskien ’n beter strategie as die benadering van die olieprodusent BP, wat verklaar het dat oliewinste weer in hernubare krag herbelê gaan word. “Wat weet BP eintlik van hernubare krag af?” het Cheveley gevra. “Ons moet deur hierdie fase gaan, en ons moet aandag daaraan gee en by ’n stel standaarde uitkom,” het Cheveley met verwysing na vlak 3 gesê.

Een soort standaardisering kan wees om die aanspreeklikheid tussen mynbou- en verbruikersgerigte bedrywe te beperk tot ’n begrip van die hele waardeketting. “Verbruikersgerigte maatskappye gebruik, materiale wat van daardie mynmaatskappye af kom. Die mynmaatskappye is dus almal verskriklik, terwyl die verbruikersgerigte maatskappye piekfyn is, al is hulle almal deel van die voorsieningsketting,” het hy gesê.

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za

* Foto’s: joburgindaba.com | ninetyone.com

Meer oor:  Mynbou  |  Finweek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.