Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Korttermynversekering vir beginners
25 Junie 2020

Harde werk, tyd en moeite is nodig om waardevolle besittings te versamel, en daarom maak dit finansieel sin om hulle teen verlies of skade te beskerm deur hulle te verseker.

“Die doel met versekering is om jou in die finansiële posisie te plaas waarin jy net voor die verlies was. Jy kan nie die toekoms voorspel nie, en dis waarom jy versekering moet hê,” sê Ricardo Coetzee, hoof van Auto & General Insurance.

Ricardo Coetzee, hoof van Auto & General Insurance

Deur ’n maandelikse premie aan ’n versekeringsmaatskappy te betaal, kan jy vir die verlies van versekerde items vergoed word. Die meeste kliënte wat tot die premiepoel bydra, dien nie deur die jaar eise in nie, wat dit vir die versekeringsmaatskappy moontlik maak om kliënte te vergoed wat verliese ly, sê Marius Neethling, onderskrywingsbestuurder vir persoonlike reekse van Santam.

Marius Neethling, onderskrywingsbestuurder vir persoonlike reekse van Santam

Volgens Neethling beskerm korttermynversekering jou besittings teen verliese wat jy weens onvoorsiene gebeure soos diefstal, storms, wind, water, sneeu, hael, oorstromings, brande, insakkings, grondverskuiwings of ongelukke en aardbewings kan ly.

Huis- en huisinhoudversekering

Christelle Colman, versekeringskenner van Old Mutual Insure

In die algemeen moet ’n mens jou voorstel dat jy jou huis se dak afhaal en dit omkeer – alles wat uitval, sal deur jou huisinhoudversekeringspolis gedek word. Wat nie uitval nie, word onder geboue gedek, sê Christelle Colman, versekeringskenner van Old Mutual Insure. Huisinhoudversekering dek jou teen diefstal, verlies, skade en ander gevare, soos brande en oorstromings, sê Coetzee van Auto & General.

Gebouversekering dek die verlies of skade aan die geboustruktuur self weens ’n brand of ontploffing, storm, oorstroming, weerlig en gevolglike skade, asook grondbeweging, waaronder insakking en grondverskuiwing. ’n Beginpunt vir die bepaling van hoeveel dekking mens vir die huisinhoud moet hê, is om besittings teen hul vervangingswaarde te verseker, sê Coetzee.

“Die vervangingswaarde van goedere is wat dit jou ten tyde van die eis sal kos om al jou besittings deur soortgelyke splinternuwes te vervang,” sê hy. In gevalle waar ’n versekerde item, soos ’n DVD-speler, beskadig of gesteel word, maar nie meer vervaardig of verkoop word nie, sê Neethling die vergoeding sal op die jongste beskikbare verkoopsprys of ’n soortgelyke item gegrond word, byvoorbeeld ’n platskermtelevisie om ’n konvensionele televisie te vervang.

Colman sê ook die versekeraar sal waarskynlik só ’n eis in kontant uitbetaal. Terwyl ’n huisinhoudpolis ’n lys spesifiseer van waarvoor jy gedek word, dek ’n polis vir draagbare besittings of ’n alle-risikopolis jou vir alle risiko’s behalwe dié wat spesifiek uitgesluit word, sê Coetzee.

’n Beginpunt vir die bepaling van hoeveel dekking mens vir die huisinhoud moet hê, is om besittings teen hul vervangingswaarde te verseker, sê Coetzee.

“Met ander woorde, dit bied wyer dekking.” Dekking vir draagbare besittings, of allerisiko-dekking, maak dit vir polishouers moontlik om te eis vir items wat hulle gewoonlik saamdra en wat gesteel, verloor of beskadig is.

Dié items sluit byvoorbeeld in juweliersware, sonbrille, selfone, skootrekenaars, klere en tablette. Diensverskaffers soos Vodacom en MTN bied dikwels versekering vir toestelle wat by hulle gekoop word. In sulke gevalle is die beste opsie volgens Coetzee om die verskillende versekeringsprodukte en pryse te vergelyk om te besluit of jy die diensverskaffer se versekering sal gebruik of jy hulle in jou versekeringsdekking vir draagbare items sal spesifiseer.

Dit kan tot jou voordeel wees om jou selfoon by jou huidige dekking te voeg, want afslag kan toegestaan word as bykomende dekking by bestaande polisse gevoeg word, sê Coetzee. Neethling sê jy sou reeds ’n verhouding en prestasiegeskiedenis by die versekeraar opgebou het. “[Die versekeraar] se kernsake is om eiendom te verseker. Die diensverskaffer se kernsake is die verkoop van selfone,” sê hy.

Voertuigversekering

Voertuigversekering is nie in Suid-Afrika verpligtend nie, tensy jy ’n finansieringspolis uitneem om die motor se koste te dek. Wanneer motorversekering uitgeneem word, het polishouers die opsie om ’n bybetalingsbedrag te kies. ’n Bybetaling is die bedrag wat die kliënt in geval van ’n eis moet betaal. Polishouers kan ’n hoër bybetaling kies, wat in die meeste gevalle die versekeringspremie sal verlaag, sê Coetzee.

Hy waarsku dat al lyk dit dalk na ’n goeie opsie, die werklikheid is dat die bybetalingbedrag met ’n eis betaal moet word. “Dis presies die rede waarom baie mense nie dié opsie gebruik nie, want hulle is bang dat hulle dalk nie die nodige geld beskikbaar sal hê om te kan eis nie.” As jou risiko hoog is – dalk kwesbaar vir motordiefstal of huisinbrake weens die gebied waar jy woon – kan ’n lae premie ’n slegte finansiële besluit wees, sê Coetzee.

“Dis raadsaam om eerder elke maand ’n bietjie meer op jou premie te betaal sodat jy nie ’n groot bybetaling moet betaal nadat jy jou motor of besittings herstel of vervang het nie.”

Faktore om te oorweeg wanneer versekering en toevoegings uitgeneem word

Dis belangrik om jou huisinhoudlys gereeld by te werk om te sorg dat enige nuwe items ingesluit word, en om items te verwyder wat jy nie meer het nie, sê Coetzee. “Dit maak nie sin om te betaal om jou ou wasmasjien te verseker as jy dit pas deur ’n nuwe, waardevoller een vervang het nie.”

Toevoegings, soos dekking vir bande en die klankstelsel, of die insluiting van ’n motorhuurdiens in geval jy sonder jou versekerde voertuig is (byvoorbeeld, as dit herstel word) kan die moeite werd wees, maar net as hulle bekostigbaar is, sê Neethling. Dis belangrik dat verbruikers die besonderhede van hul korttermynversekeringspolis ken en die implikasies verstaan, sê Coetzee. “Alle versekeringsmaatskappye het hul eie reëls en voorwaardes waaraan polishouers moet voldoen om gedek te word en sodat hul eise uitbetaal word.”


Nisversekering: dekking vir troeteldiere

Soos die besit van ’n huis of motor kan troeteldiersorg duur word.

“Die ooglopende kwessies waaraan mense altyd dink, is waar ’n toeteldier se eienaar die versorging moet verswak of selfs hul troeteldier moet laat doodgaan omdat hulle nie die veeartsrekening kan bekostig wat op ’n operasie of behandeling sou volg nie,” sê Ansu Clarke, bemarkingsbestuurder van Dotsure.

Clarke sê aan finweek dié versekeraar het al byna 150 000 troeteldierversekeringspolisse verkoop en het reeds meer as R80 miljoen se eise aan Suid-Afrikaanse troeteldiereienaars uitbetaal.

“Veeartsuitgawes neem nie af nie, want die medisyne en masjinerie wat hulle gebruik, is dikwels selfs komplekser en meer gesofistikeerd as dié wat mensedokters gebruik. Ons wil net hê dat veeartse en troeteldiereienaars nie deur die kostefaktor teruggehou word nie,” sê Clarke.

Clarke sê die meeste SA troeteldiereienaars kies ongelukspolisse om hul troeteldiere teen toevallige besering of die inneem van iets giftigs te beskerm.

“ ’n Beduidende persentasie van dié kliënte gradeer hul polis daarna op namate hulle gemakliker met die konsep van troeteldierversekering word”, want dis plaaslik nog ’n taamlik nuwe konsep.

Dotsure neem roetinesorg, soos versorging en inentings, oorerflike toestande, hoe oud die troeteldier is, en of die ras tradisioneel meer tot ongelukke of siekte geneig is, in ag wanneer troeteldierversekeringspremies bepaal word. 


Meer oor:  Korttermynversekering  |  Finweek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.