Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Koste van hedendaagse seeroof
11 Oktober 2018

Seeroof was in 2009 in die nuus toe Somaliese seerowers die Amerikaanse Maersk Alabama aangeval het in die eerste kaping van ’n Amerikaanse skip in 200 jaar.

Die dramatiese voorval het die aandag gefokus op ’n hele reeks aanvalle langs die kus van Somalië, wat skeepsvervoer verskeie jare lank ontwrig het en tot die Hollywood-rolprent, Captain Phillips, gelei het.

Die verbindings tussen die roete rondom die Horing van Afrika en die Suez-kanaal, wat ongeveer 10% van die wêreld se seevervoer behartig, het ’n gesamentlike internasionale reaksie tot gevolg gehad wat gehelp het om die bedreiging in daardie streek te beheer.

Maar wat die publiek nie weet nie, is dat seerowery oor die hele wêreld, van Latyns-Amerika na Afrika en Asië, toeneem en die wêreldekonomie elke jaar miljarde dollars kos.

Onlangse syfers van die Internasionale Maritieme Buro (IMB), ’n tak van die Internasionale Kamer van Koophandel, toon dat, al was daar ’ndaling in 2017, seerowery in die eerste van hierdie jaar toegeneem het. Sowat 107 voorvalle is in die eerste helfte van die jaar aangemeld, teenoor 87 in die ooreenstemmende tyd verlede jaar.

Die getal gyselaars in dié tydperk het tot 102 gestyg, teenoor 63 gedurende die eerste helfte van 2017. Die geografie van dié aanvalle het aansienlik verskuif – 45% is langs die kus van Afrika suid van die Sahara uitgevoer, met die ergste gebied die Golf van Guinee naby Nigerië, waar dit drievoudig van die 2014-vlakke toegeneem het. Volgens die IMB was daar 31, teenoor net een langs die kus van Somalië in die Horing van Afrika.

Kenners sê die werklike prentjie kan veel erger wees, omdat daar oor baie voorvalle nie berig word nie want private maatskappye wil nie hul reputasie benadeel deur foute in hul sekuriteitstelsels bekend te maak nie. Volgens die agtste jaarverslag van Oceans Beyond Piracy (OBP) deur die Amerikaanse One Earth Future-organisasie, was daar verlede jaar wêreldwyd 321 seeroofinsidente wat 5 000 seevaarders geraak het; 17 bemanningslede is in Asië vermoor en twee in Wes-Afrika.

Die verslag beskryf ’n “groot toename” in dié voorvalle in Latyns-Amerika en die Karibiese Eilande. Moderne seerowers teiken skepe om hul vragte te steel of hul bemanning vir lospryse te ontvoer. Hulle maak gebruik van masjiengewere of kapmesse om die skip oor te neem.

Ironies genoeg maak outomatisering handelskepe meer kwesbaar, aangesien ’n groot skip so min as 15 bemanningslede het. Nigeriese seerowers is dikwels uiters gewelddadig. Hulle gaan baie vinnig aan boord en begin hewige skietgevegte voordat hulle mense as gyselaars neem of hulle in ’n bootjie loslaat. Hulle vlug dan terug na die Niger-rivierdelta se doolhof van riviertjies, waar dit moeilik is om hulle te vind.

Ironies genoeg maak outomatisering handelskepe meer kwesbaar, aangesien ’n groot skip so min as 15 bemanningslede het.

Die IMB sê 65 van die 75 bemanningslede wat verlede jaar ontvoer is, is naby die kus van Nigerië geroof. Onlangse navorsing toon dat die uitwerking op bemanningslede ernstig is, wat posttraumatiese stres ná so ’n voorval betref, sowel as die angs om deur ’n hoërisiko-gebied te vaar. Die ekonomiese prys van seerowery is groot, gegewe die omvang en kompleksiteit van die veranderlikes, en sommige ramings is omtrent $6 miljard jaarliks.

Volgens die OBP-verslag het totale koste in Oos-Afrika alleen verlede jaar $1,4 miljard beloop, laer as 2010 se $7 miljard. Maar in Wes-Afrika het dit van $719,6 miljoen in 2015 tot $818 miljoen gestyg.

Die syfers in Asië is moeiliker om te bereken weens die kompleksiteit van skeepsvervoerpatrone en die doeltreffendheid van teenseeroofpatrollies, maar voorvalle van ontvoering vir losprys het met 80% gedaal en algehele voorvalle met 20%, hoofsaaklik vanweë doeltreffende samewerking deur streekswetstoepassers.

Maar 17 matrose is vermoor, hoër as die syfer in enige ander gebied. In Latyns-Amerika het seerowery en gewapende roof ter see met 163% gestyg, met seiljagte voor anker wat by ongeveer 59% van alle voorvalle betrokke was, sê die OBP-verslag. Die totale koste van seerowery in daardie streek was weer eens moeilik om te bereken.

Die koste van verskeping self het wêreldwyd gestyg omdat skepe probeer om seeroofgebiede te vermy, wat die duur van die reis verleng, terwyl hulle ook gewapende sekuriteitswagte vir beskerming moet aanstel. Daarbenewens word skeepsrederye nou verplig om versekering teen seerowery uit te neem – nie net vir die verlies van vrag of skade aan skepe nie, maar ook vir hul bemanning. Sommige versekeringsmaatskappye bied pakkette wat dekking insluit vir rente op lenings om ’n losprys te betaal; die gelde en uitgawes van onafhanklike krisisonderhandelaars, tolke en skakelkonsultante; en die koste van mediese en psigiatriese sorg, insluitende kosmetiese chirurgie vir slagoffers.

Al hierdie koste dra by tot die prys van vervoerde goedere en word aan verbruikers oorgedra. Die jongste IMB-verslag het ’n gestruktureerde en meer koöperatiewe reaksie van regerings aangevra om seeroof te pak, insluitende beter seepatrollies, die deel van inligting en die uitskakeling van veilige skuilplekke vir seerowers.

Hy het skeepsrederye ook aangemoedig om sekuriteit aan boord van hul skepe te verbeter – ’n voorsorgmaatreël wat in sommige gebiede afneem. ¦ terugvoer@finweek.co.za Mariam Isa is ’n vryskutjoernalis wat in 2000 na Suid-Afrika gekom het as die finansiële hoofkorrespondent vir die Reuters-nuusagentskap nadat sy in die Midde-Ooste, Brittanje en Swede gewerk het.

Sy het haar in 2007 as ekonomiese redakteur by Business Day aangesluit en het in 2014 bedank om oor ’n breër reeks onderwerpe vir verskeie publikasies in Suid-Afrika en Brittanje te skryf.

Meer oor:  Finweek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.