Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Krag vir ’n vasteland
21 November 2019

Suid-Afrikaners raak nou al gewoond daaraan dat die krag op enige oomblik kan afgaan, maar betroubare elektrisiteitsvoorsiening is nie net hier ’n probleem nie.

In Maart vanjaar het die Wêreldbank sy verslag oor toegang tot elektrisiteit in Afrika suid van die Sahara vrygestel, waarvolgens meer as 600 miljoen mense op die vasteland sonder krag sit, insluitende meer as 80% in landelike gebiede. In 2016 het slegs 42,8% van Afrika se bevolking toegang tot elektrisiteit gehad, veel minder as in enige ander ontwikkelende streek (sien Grafiek 1).

Slegs twee lande in die streek, Mauritius en Seychelle, het byna heeltyds toegang tot krag. Suid-Afrika is een van slegs ses lande in Afrika waar meer as 75% van huishoudings aan elektrisiteitsvoorsiening gekoppel is (sien Tabel 1). 

Volgens die opname oor algemene huishoudings wat in Mei vanjaar deur Statistiek SA vrygestel is, was 84,7% van Suid-Afrikaanse huishoudings verlede jaar aan die land se kragtoevoer gekoppel.

Met kragvoorsiening wat onbetroubaar bly, verminder dié syfers geensins die krisis wat Suid-Afrika in die gesig staar nie.

Met kragvoorsiening wat onbetroubaar bly, verminder dié syfers geensins die krisis wat Suid-Afrika in die gesig staar nie. Daar is ook die vraag oor hoe skoon en bekostigbaar daardie energie is. Wat duidelik is, is hoe groot die tekort aan toegang tot energie op ons vasteland is. Volgens die Wêreldbank se syfers hierbo, leef byna die helfte van die vasteland se bevolking sonder elektrisiteit.

Ontwikkel Afrika se krag

Hierdie kwessie van toegang tot energie in Afrika was deel van die Africa Oil & Power (AOP)-konferensie 2019, wat in Oktober in Kaapstad gehou is. Die sleuteltema van die konferensie was hoe om energie in Afrika te laat werk.

Dit spruit uit die rykdom aan olie en gas op die vasteland tesame met die feit dat hy agter die res van die wêreld is ten opsigte van energievoorsiening. Afrika het nie ’n gebrek aan olie-en-gasbronne nie, maar die eksplorasie en benutting daarvan hou nie tred met die onontginde hulpbronne nie.

Guillaume Doane, uitvoerende hoof en mede-stigter van AOP

Tydens sy openingsrede het Guillaume Doane, uitvoerende hoof en mede-stigter van AOP, gesê dat olie-en-gaseksplorasie in Afrika in 1982 op sy hoogtepunt was.

Daar was 209 oliebore in werking, selfs meer as al die bore in die hele Midde-Ooste. Die aantal bore is volgens hom belangrik, want dit is ’n betroubare maatstaf vir olie- en-gas-eksplorasiewerk. En, eksplorasie “is die voorloper tot produksie”. Sprekend hiervan is dat die produksie van olie in Afrika sedert 2012 met 20% gedaal het en waarskynlik nog tot 2025 sal afneem.

Volgens Doane is een van die grootste hindernisse wat vooruitgang beperk “van die moeilikste beleggingsvoorwaardes ter wêreld, veral in die olie-en-gasbedryf”.

Die AOP-konferensie se doel

Die AOP-konferensie se doel was om die kollig te laat val op Afrika-lande wat die potensiaal vir eksplorasie het en beleggings aan te moedig, met die klem op dié wat suksesvolle nywerhede ontwikkel het en diegene wat op die grens van toekomstige sukses staan.

’n Veldtog vir verhoogde olie-en-gaseksplorasie, terwyl daar ’n klimaatkrisis is en aktiviste soos die weergalose Greta Thunberg op ’n kruistog vir ’n wêreld sonder koolstofvrystellings is, sal ongetwyfeld tot vrae en kommer lei oor hoe dit deel sal wees van ’n toekoms met skoner energie.

Gabriel M. Obiang Lima, minister van myne en koolwaterstowwe van Ekwatoriaal-Guinee

’n Vraag deur die minister van myne en koolwaterstowwe van Ekwatoriaal-Guinee, Gabriel M. Obiang Lima, is sekerlik al voorheen gevra, maar hy is onbewoë oor hoe sy land gevorder het deur olie-en-gasbronne te benut: “Wat ons met infrastruktuur in ons land die afgelope 15 jaar bereik het, het ons nie met die Wêreldbank of IMF gedoen nie. Ons het dit gedoen met geld uit olie en gas.”

Volgens die Ontwikkelingsbank van Afrika, was die ekonomie van Ekwatoriaal-Guinee die afgelope dekade een van die snelgroeiendste in Afrika; en ná die ontdekking van groot oliereserwes in die 1990’s, het hy die derde-grootste olieprodusent in Afrika suid van die Sahara geword, ná Nigerië en Angola.

Onlangs is aansienlike gasreserwes ook ontdek. Volgens Reuters het die Amerikaanse oliemaatskappy Kosmos Energy in November ’n olie-ontdekking gemaak by die S-5-olieput aan die kus van Ekwatoriaal-Guinee. Lima sê Afrika moet nie na ’n groen ekonomie oorskakel voordat hy infrastruktuur met olie en gas ontwikkel het nie

“ ’n Elektriese motor sal nie twee dae hier hou nie omdat ons nie die infrastruktuur daarvoor het nie,” sê hy.

“ ’n Elektriese motor sal nie twee dae hier hou nie omdat ons nie die infrastruktuur daarvoor het nie,” sê hy.

Hoewel dit dalk nie ’n aanvegbare houding is nie, met 600 miljoen mense in Afrika sonder toegang tot elektrisiteit, is dit verstaanbaar dat die mikpunt van netto nulkoolsuurgasvrystellings ’n bietjie onrealisties is.

Hy wil nie sê dat die doel van skoon energie heeltemal van die agenda geskrap moet word nie, maar die agenda moet realisties aangepas word vir ’n vasteland wat nie dieselfde omstandighede as die ontwikkelde wêreld het nie, sê Lima.

Hy glo dat die “toekomstige hulpbron vir Afrika gas is”, en hy verwys na ontdekkings in Mosambiek en Senegal as opwindende vooruitsigte vir die toekoms. ’n Toekoms waarin, volgens PwC se olie-en-gas-oorsig vir 2019, “die aardgasmark wêreldwyd sal aanhou groei en waarskynlik teen 2030 steenkool sal inhaal om die wêreld se tweede grootste brandstof te word”.

Senegal se potensiaal

Met die besprekings oor die toekoms van energieopwekking in Afrika, was die AOP-kollig op Senegal. In hierdie Wes-Afrikaanse nasie was daar sedert 2014 agt groot olie-en-gasontdekkings en “hy beweeg nader daaraan om ’n grootskaalse olie-en-gasprodusent te word,” volgens AOP se Doane.

Soos PwC se oorsig verduidelik, was die oliemaatskappy BP se Teranga-bate in Senegal een van verlede jaar se tien grootste olie-en-gasvondse ter wêreld.

Sy beraamde hulpbronne bedra 539 miljoen vate, waarvan 98% gas is. Voor Senegal se olie-en-gasontdekkings het president Macky Sall in 2012 die Plan vir ’n Opkomende Senegal (PES) van stapel gestuur. Dis ’n omvattende ontwikkelingsplan wat daarop gemik is om Senegal teen 2035 ’n ontluikende mark te maak.

Mouhamadou Makhtar Cissé, Senegal se minister van petroleum en energie

Met die groot olie-en-gas-ontdekkings en -eksplorasie wat nog in die MSGBC-kom (langs die kus van Senegal en Mauritanië) gedoen moet word, word energie tans beskou as een van die belangrikste aandrywers van groei en die verwesenliking van die PES-visie, volgens Mouhamadou Makhtar Cissé, Senegal se minister van petroleum en energie. Senegal is een van die tien vinnigsgroeiende Afrika-lande met ’n koers van meer as 5% per jaar sedert 2014.

Dr. Martyn Davies, besturende direkteur van ontluikende markte en Afrika by Deloitte

“Senegal was die afgelope paar jaar een van die mees stabiele lande, en met die bevordering van ’n versnelde hervormingsagenda om sy openbare administrasie te moderniseer en ’n verwelkomende houding teenoor buitelandse beleggers, sal Senegal waarskynlik aan die prestasievereistes van die PES voldoen. Hierdie projekte onder PES behoort die plaaslike sakeklimaat te verbeter deur vervoer- en kragkoste te verlaag en sodoende sentiment te ondersteun,” volgens Dr. Martyn Davies, besturende direkteur van ontluikende markte en Afrika by Deloitte.

Davies waarsku egter dat indien die Senegalese regering nie sulke hoë vlakke van openbare uitgawes kan onderhou nie, en agterbly met die terugbetaling van skuld en nie groter deelname aan die privaatsektor kan stimuleer nie, kan dit verhoed dat hulle middelinkomste-status teen 2035 bereik.

Eksterne skuld

Volgens die Ontwikkelingsbank het Senegal se totale eksterne skuld verlede jaar 62,9% van sy bruto binnelandse produk beloop. Hoewel die PES aanvanklik nie Senegal se aansienlike olie-en-gasontdekkings ingesluit het nie, word baie hoop vir ekonomiese groei op die ontwikkeling van hierdie bedryf geplaas.

So ’n sterk afhanklikheid van ’n sektor, veral van ’n kommoditeit, om ekonomiese groei te stimuleer, is nie sonder risiko’s nie, soos in die geval van Nigerië (sien kassie).

Volgens die Ontwikkelingsbank het Senegal se totale eksterne skuld verlede jaar 62,9% van sy bruto binnelandse produk beloop.

Davies glo egter dat Senegal voorsiening daarvoor gemaak het om sy ekonomie te diversifiseer.

“Hoë vlakke van olie-afhanklikheid is riskant, hoofsaaklik weens die wisselvalligheid in oliepryse. In die geval van Senegal kan olie-afhanklikheid egter ’n lae risiko wees weens die land se stabiliteit, die beleggingsaantrekkingskrag en ’n verbintenis tot die inwerkingstelling van strukturele hervormings.”

Hy glo ook dat die Senegalese presidensie vordering gemaak het met die diversifisering van sy planne om die ekonomie te hervorm van tradisionele afhanklikheid na ’n meer nywerheidsekonomie. Hy gee ook krediet aan die land se versnelde hervormingsagenda om Senegal se openbare administrasie te ontwikkel sodat dit die land ’n aantreklike beleggingsbestemming gemaak het.

Dit is hierdie verbintenis tot die inwerkingstelling van strukturele en sektorale hervormings – veral in energie en olie – wat Senegal die middelpunt van die AOP-konferensie gemaak het.

Hy gee ook krediet aan die land se versnelde hervormingsagenda om Senegal se openbare administrasie te ontwikkel sodat dit die land ’n aantreklike beleggingsbestemming gemaak het.

Deur aandag te skenk aan die moeilike beleggingsomgewing wat AOP se Doane geïdentifiseer het as een van die hindernisse vir vordering in olie-en-gaseksplorasie in Afrika, het Senegal die algehele beleggingsomgewing aantreklik gemaak vir regstreekse buitelandse investering.

“Daar is geen wettige diskriminasie teen ondernemings wat deur buitelandse beleggers besit word nie, en daar is geen hindernisse vir volle eienaarskap van ondernemings deur buitelandse beleggers in die meeste sektore nie. Daarom kan buitelanders ’n 100%-belang in ’n maatskappy hê,” verduidelik Davies.

Vanuit ’n streeksoogpunt

Vanuit ’n streeksoogpunt benadruk Ekwatoriaal-Guinee se minister Lima dat leiers in Afrika-lande in die strewe na vooruitgang “jou buurland, jou broers in Afrika moet betrek”.

Dis iets wat Senegal doen, soos dit uit sy ooreenkoms met Mauritanië oor die ontwikkeling van die Tortue-gasveld blyk, waar produksie na verwagting in die eerste helfte van 2022 sal begin.

Gegewe Senegal se geografiese ligging, het hy ook die potensiaal om groei in ander lande te ontsluit, veral vanweë toegang tot hawens. Senegal het reeds paaie en brûe gebou wat hom met sy bure verbind (Gambië, Guinee, Guinee-Bissau, Mali en Mauritanië), wat streeksintegrasie bevorder en dié state toegang tot hawens gee, sê Davies.

Natuurlik is daar nog ruimte vir verbetering en “verdere vervoerinfrastruktuur moet ontwikkel word om handel en streeksintegrasie te verhoog, veral die Dakar-Bamako-spoorlyn”.

Hoewel Senegal met een van die hoogste syfers vir toegang tot krag in Afrika spog, met meer as 61% in 2017, sê Cissé daar is nog baie werk nodig. In sy beroep op beleggers het hy gesê dat een van die vier sleuteldoelstellings van die PES universele toegang tot elektrisiteit was: “ ’n Doel wat ons hoop om teen 2025 te bereik, terwyl die aanvanklike teiken 2030 was.”

Wat van Total se Brulpadda-ontdekking in Suid-Afrika?

Aan die begin van vanjaar was daar ’n groot ophef oor Total se “enorme” gasontdekking in die Brulpadda-veld in die Outeniqua-bekken aan die kus van Mosselbaai.

Maar sal hierdie ontdekking regtig so ’n groot verandering vir Suid-Afrika se energiesektor inhou?

Toe die Franse energiemaatskappy Total in Februarie gesê het dat hy ’n moontlike 1 miljard vate “nat” gas aan die kus van Mosselbaai ontdek het, het party mense gesê dié ontdekking sal SA se energiesektor ontwrig.

Steve Clark, ’n PhD-student in die departement meganiese ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch, wat hernubare energie studeer, sê die kapasiteit van 1 miljard sal nie net uit Brulpadda kom nie.

As jy mooi kyk na wat Total sê, praat hulle van Brulpadda en vier ander vooruitsigte in die nabye omgewing. En as jy al dié vooruitsigte saam beskou, kan dit die ekwivalent van 1 miljard vate olie oplewer. Brulpadda is op sigself nêrens naby dit nie, volgens die inligting wat Total verskaf het.

''Dit sal genoeg wees om ongeveer 1 gW energie te produseer vir ongeveer 20 jaar as jy dit alles vir krag gebruik, en dit sal waarskynlik genoeg wees om PetroSA se gas-tot-vloeistofraffinadery teen ongeveer 50% van sy kapasiteit vir 20 jaar lank te bedryf,” sê Clark.

Selfs as al die velde suksesvol ontgin word, gaan dit nie kragproduksie verander nie, sê hy. “Ja, jy kan ’n paar gW in daardie omgewing produseer, maar jy kan nie veel meer as dit doen nie – om dit na ’n ander plek, selfs Kaapstad, te stuur, is buitensporig duur, en daar is nie genoeg (gas) om dit met ’n pypleiding te stuur of om dit in vloeibare aardgas te omskep en dit êrens anders heen te stuur nie.”

Hy meen dit sal interessant wees om te sien hoe Total probeer om dit te ontwikkel, aangesien die maatskappy waarskynlik met PetroSA sal moet saamwerk om die hulpbron kommersieel haalbaar te ontgin.

As produksie oorweeg word, skat hy “dit sal vyf tot tien jaar duur – meer waarskynlik tien as vyf . . . Total het aangekondig hulle sal teruggaan en eksplorasiewerk doen, so ek dink dit sal nog lank wees voordat hulle besluit om dit te ontwikkel,” sê Clark.


Nigerië se verhouding met olie

Nigerië is al beskryf as olie-afhanklik en nie olie-ryk nie. Maar die land se afhanklikheid van hierdie brandstof is nie die hoofrede vir sy huidige ekonomiese probleme nie.

Enige onstuimigheid in die Nigeriese ekonomie word dikwels toegeskryf aan die feit dat hy te veel van olie afhanklik is. Volgens Richard Ladbrook, portefeuljebestuurder by Investec Batebestuur, is olie egter vir slegs 9,8% van Nigerië se ekonomie verantwoordelik.

Volgens hom is die probleem nie dat Nigerië van olie afhanklik is nie, maar dat die Nigeriese regering van olie-inkomste afhanklik is.

“Die regering het nog nie uitgewerk hoe om die ekonomie te belas en   te verhoog nie, en gevolglik kom meer as 80% van die regering se inkomste uit olie en gas. Die kwessie is dus nie ’n gebrek aan diversifisering van hul ekonomie nie, maar die probleem is meer die regering se afhanklikheid van olie-inkomste.”

Die Nigeriese ekonomie sal na verwagting in die mediumtermyn met 2,3% groei en volgende jaar met 2,5% aangedryf word deur die olie- en nie-oliesektor, sê Martyn Davies, besturende direkteur van ontluikende markte en Afrika by Deloitte.

Hy skryf hierdie lae groei toe aan “onvoldoende beleidsaanpassings, ’n groot infrastruktuurgaping, lae private belegging en kwesbaarheid in die banksektor. Laasgenoemde spruit uit die onlangse bekendstelling van ’n vereiste dat banke ’n minimum lenings-tot-deposito-verhouding moet bereik, wat banke dus aansienlik kan verswak.”

In 2017 het die land sy ekonomiese herstel- en groeiplan, wat op industrialisasie gefokus is, bekendgestel, en Nigerië se groeivooruitsigte hang gedeeltelik af van die tempo van dié groeiplan, sê Davies.

“Nigerië moet dit ook oorweeg om aanvullende hervormings van strukturele beleid in te stel en sy makro-ekonomiese hervorming te versterk.” 

Meer oor:  Olie-En-Gasbronne  |  Beurtkrag  |  Finweek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.