Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Kunsmatige intelligensie in die werksplek
9 Julie 2021

Neem robotte reeds mense se werk oor, en gebeur dit al in SA?

Een van die groot eksistensiële vrae van ons tyd is seer sekerlik: Sal kunsmatige intelligensie (KI) my plek by die werk oorneem? Die goeie nuus vir diegene wat saans daaroor wakker lê, is dat dit (nog) nie gebeur nie. Vier van die wêreld se vooraanstaande ekonome, Daron Acemoglu, David Autor, Jonathan Hazell en Pascual Restrepo, het onlangs ’n NBER-navorsingsdokument gepubliseer wat vra of die robotte reeds oorneem.

Foto: Shutterstock

Om dit te beantwoord, wys hulle eers dat daar tussen 2010 en 2018 ’n vinnige toename in vakatures met betrekking tot KI was. Dit is goeie nuus vir diegene wat met die robotte kan praat, dit wil sê die programmeerders. Hulle klassifiseer dan die mate waarin maatskappye in hul steekproef “aan kunsmatige intelligensie blootgestel is”. Die eerste interessante resultaat is dat die “blootgestelde” ondernemings in alle bedrywe voorkom, nie net in die tradisionele tegnologiebedryf nie. ’n Tweede interessante resultaat is dat ondernemings wat daaraan blootgestel is, vakatures verminder vir vaardighede wat hulle voorheen geadverteer het en terselfdertyd meer vakatures adverteer vir vaardighede wat nie voorheen gelys is nie. Met ander woorde, ondernemings wat blootgestel is aan dié intelligensie het minder nie-KI-poste gevul en meer KI-aanstellings gemaak. Die punt hier is dat die take wat mense moet uitvoer, verander, maar daar is nog nie enige merkbare verskil in die totale poste of lone nie. Mense werk dus saam met die robotte en nie teen hulle nie.

Ek het gewonder of dit in SA gebeur en het met Malan Joubert gesels. Hy is die medestigter van OfferZen, ’n werwingsplatform vir tegnologieposte (wat nou ook uitbrei na, soos Joubert dit stel, die “middel-aarde” – dit wil sê lande soos Nederland wat op ongeveer dieselfde tydsone val). Ek vra vir Joubert of daar rede is om soos die Luddiete vroeër te vrees dat KI werkers sal vervang.

“Ek het eintlik heelwat empatie met die Luddiete. Ek is ’n groot aanhanger van Bruce Springsteen, en ek hou veral van Young’s Town. Vir die ysterwerkers in Young’s Town en die 19de-eeuse tekstielwerkers in Engeland het die ekonomiese argument oor die “Luddiet-wanbegrip” – die idee dat innovasie blywende skadelike uitwerking op die indiensneming sou hê – nie veel gehelp nie. Op individuele vlak het die verandering te vinnig gekom vir die werkers om aan te pas.

“Op makrovlak is tegnologiese vooruitgang geweldig positief, maar ek glo daar is ’n maatskaplike verantwoordelikheid om mense te help om aan te pas. Die ontwikkeling van vaardighede in sagteware-ontwikkeling is ’n massiewe bedryf, wat net groter sal word.”

Hoewel OfferZen nie in die besigheid van opleiding is nie, is dit wel sy besigheid om diegene met tegniese vaardighede in kontak te bring met maatskappye met tegniese werk. Waarom die fokus op sagteware-ontwikkeling? “Soos ’n onlangse Stripe-verslag opgemerk het, is toegang tot ontwikkelaars deesdae ’n groter bedreiging vir sukses van besighede as toegang tot kapitaal. Sagteware-ontwikkeling is ’n kritieke vaardigheid; wêreldwyd is daar meer tegniese werk as mense wat die werk kan doen. Dit is die wanbalans tussen vraag en aanbod wat OfferZen laat werk. Ek dink daar is twee maniere wat sagteware-ontwikkeling van die meeste ander werk verskil. Eerstens is daar oneindige vraag na sagteware.

“Mense het vroeër gedink dat sagteware ‘voltooi’ word, maar dit blyk dat byna elke stuk sagteware herhaaldelik verbeter kan word. Daar is nou meer ingenieurs wat aan Google se soekenjin werk as ooit tevore. En namate meer sagteware geskep word, kan dit nog meer sagteware skep. Oopbronsagteware soos Linux, Ruby on Rails en duisende ander biblioteke het ons in staat gestel om OfferZen te ontwikkel. Kommersiële sagtewaredienste soos Amazon Web Service en Twilio bied boustene wat die ontwikkeling van sagteware vinniger en makliker maak.

Johan Fourie

“Tweedens is sagteware-ontwikkeling ’n ambag. Sagteware-ontwikkeling is uniek omdat dit in baie opsigte nader aan ’n ambag soos timmer- of verfwerk is as aan ’n loopbaan soos boekhou of die regte. Elke tafel of stoel wat ’n skrynwerker maak, is uniek, en dit gee dit sy besonderse waarde. ‘Massaproduksie’ in sagteware is sinloos. Kode is net nuttig as dit uniek is.”

SA het natuurlik ’n groot werkloosheidsprobleem.

Ek vra Joubert of sagteware-ontwikkeling dit kan help verlig? “Ons het ’n paar interessante dinge uitgevind ten opsigte van indiensneming en vaardighede in die tegno- logie-sektor. Soos die bygaande grafiek wys, lyk dit nie of formele onderwys ’n groot voorspeller is van ontwikkelaarsalarisse nie.

“Jy kan in werklikheid die tyd wat jy aan ’n universiteit deurbring, beskou as gelykstaande aan die leer van kodering by die werk. ’n Vierjaargraad bring jou inderdaad op die punt waar iemand sonder ’n graad ná ongeveer vier jaar diens sal wees. Dit is een van die dinge wat ek so opwindend van sagteware-ontwikkeling vind; dit is makliker om ’n goeie loopbaan in sagteware sonder formele opleiding te hê, as in iets soos die regte, rekeningkunde of medies.”

Joubert se opmerkings laat soveel vrae ontstaan as wat hulle beantwoord. As ’n vierjaargraad gelykstaande is aan vier jaar diens, moet ons nie meer matrikulante aanmoedig om ’n duur (en dikwels onsuksesvolle) universiteitsopleiding te vermy nie? Hoe kan ons opleidingsprogramme teen laer koste na meer mense uitbrei? Is die wortel van SA se ekonomiese ommeswaai dalk te vinde in die gebruik van robotte om die volgende geslag toe te rus met die vaardighede om met hulle te praat?

  • terugvoer@finweek.co.za
  • Johan Fourie is ’n professor in ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch en skrywer van Our Long Walk to Economic Freedom (Tafelberg, 2021).
Meer oor:  Johan Fourie  |  Mening  |  Tegnologie  |  Werk  |  Werkloosheid  |  Vaardighede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.