Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Laer eiendomskoste maak ’n groot verskil
6 Desember 2018
Crispin Inglis, medestigter van PropertyFox

Toe finweek met PropertyFox ’n onderhoud vier maande ná sy vestiging in 2016 gevoer het, het dié aanlyn verkopeplatform pas sy vyfde eiendom verkoop en sy honderdste eiendom op sy boeke gekry.

Sy grootste aantrekkingskrag is sy 1,5% kommissiegeld op verkope, of ’n minimum standaardtarief van R35 000, vergeleke met die tradisionele 5% tot 7% wat deur ander agentskappe gevra word.

Verskeie ander agentskappe het sedertdien met soortgelyke kostestrukture begin, wat tot groter mededinging in die mark gelei het. PropertyFox gee egter steeds die pas aan wat bekostigbaarheid en sy diensaanbod betref, sê Crispin Inglis, wat die maatskappy saam met Ashley James begin het.

Inglis identifiseer die uitbreibaarheid van die PropertyFox-sakemodel as een van die hoofvoordele in die mark, wat toenemend datagedrewe word: “In teenstelling met ander maatskappye, is ons dienste nie gefokus op een provinsie of stad nie, maar ontwerp om voortdurend uit te brei om enigiemand in enige plek in die land teen dieselfde koste behulpsaam te wees.”

“Die waarde wat ons toevoeg aan die voorstellingslaag en data-toegangslaag lei daartoe dat ons 30% meer besigtigings het as tradisionele agentskappe.

Diensaanbod

PropertyFox het baie gedoen om sy diens oor die afgelope twee jaar te verfyn. Behalwe vir die tradisionele model, waar eiendomsagente slegs geld maak wanneer hulle ’n eiendom verkoop, vra PropertyFox ’n standaardtarief van R2 500 wanneer huiseienaars ’n eiendom plaas waar hulle nie permanente personeel het nie.

Die geld word terugbetaal wanneer die eiendom verkoop word, maar word gehou wanneer die eiendom uit die mark gehaal word of deur ’n ander agentskap verkoop word. “Ons sal die areas laat groei waar die tarief kwytgeskeld word namate die maatskappy uitbrei. Ons grootste rede vir dié tarief is om koste van onsuksesvolle verkopers terug te kry, eerder as om dié las op nuwe kliënte te plaas,” verduidelik Inglis.

In plaas van om een persoon te hê wat die eiendom waardeer, fotografeer, bemark en plaas, en opedae en regsvereistes van verkope hanteer, het PropertyFox ’n span spesialiste, elk met sy eie kundigheidsgebied, om spesifieke dele van die proses te hanteer. Huiseienaars plaas hul eiendomme by PropertyFox deur ’n aanlyn-vraelys in te vul wat 10 minute duur.

Dié inligting word in die maatskappy se waardasie-algoritme ingevoer, wat onder meer historiese verkoopsdata en intydse markdata gebruik om ’n akkurate markwaarde in die huidige klimaat te kry. “Die prys moet so akkuraat as moontlik wees, omdat dit ’n groot impak het op die tyd wat dit neem om ’n eiendom te verkoop,” sê Inglis.

Bemarkingspesialiste optimaliseer enjinsoeke om te verseker dat plasings maklik op die internet gevind kan word, terwyl vryskutfotograwe vanuit die maatskappy se uitgebreide databasis gekontrakteer word om dié plasings af te neem. Die eiendomme word op al die groot platforms geplaas.

“Die waarde wat ons toevoeg aan die voorstellingslaag en data-toegangslaag lei daartoe dat ons 30% meer besigtigings het as tradisionele agentskappe. FNB het geraam dat eiendom in Suid-Afrika gemiddeld binne 150 dae ná plasing verkoop word. Ons s’n word binne 30 dae verkoop,” sê Inglis.

PropertyFox het nie eiendomsagente in diens nie, en eiendomseienaars reël self besigtigings. “Ons is gemaan dat ontmoetings tussen kopers en verkopers verkope in gevaar kan stel, maar ons ervaring is presies die teenoorgestelde. In die meeste van ons gevalle het die eienaars in der waarheid die span versterk, omdat hulle hul huis en die area waar hulle bly, beter as enigiemand anders ken,” sê Inglis.

Om seker te maak dat huissoekers se bedoelings ernstig is, word alle voornemende kopers eers gekeur voordat hulle toegelaat word om ’n eiendom te besigtig. Wanneer ’n eienaar ’n aanbod aanvaar, neem die regsmense van PropertyFox die res van die proses oor.

Sake-potensiaal

Sy enorme potensiaal is deur SA Homeloans raakgesien, wat ’n 49%-aandeel in die maatskappy verkry het. Inglis sê verkope het met minstens 30% die afgelope vier maande gegroei, terwyl die personeel gegroei het van net hy en James wat al die werk gedoen het tot ’n span van 24 voltydse werknemers.

Die maatskappy het in Kaapstad begin, met sy eerste verkooptransaksie in Gauteng, maar het sedertdien sy voetspoor landwyd uitgebrei. Die grootste aanvanklike, én bestaande uitdaging is om ’n bewustheid van die diens te skep. “Die probleem met eiendomsverkope is dat die meeste mense dit net ’n paar keer in hulle leeftyd doen, in teenstelling met Uber, wat mense dalk ’n paar keer per maand gebruik,” sê hy.

Die maatskappy se fokus was aanvanklik om die diens te verfyn om seker te maak dit is die beste in Suid-Afrika. Bemarking is meestal mondeling gedoen, maar pogings is sedertdien verskerp om ook sosiale media en hoofstroommedia in te sluit. “Ons beskou verbruikers se ervaring so ernstig dat ons ’n Trust Pilot Account gestig het, amper soos Hello Peter, waar kliënte kan kla en ons diens gradeer.

Ons gemiddelde gradering tot dusver is 9,7 uit 10,” sê Inglis. Die doelwit is nou om die maatskappy so uit te brei dat dit 7,5% van verkope in die eiendomsmark binne die volgende vier tot vyf jaar verteenwoordig.

“Ons het ’n stewige, uitbreibare model gebou en daar is geen rede waarom ons nie dié teiken kan bereik nie. Die markleiers verteenwoordig slegs tussen 11% en 12% van die mark,” sê Inglis. Die aspek van hul besigheid waarvan Inglis die meeste hou, is dat dit ’n sinvolle verskil in mense se lewens kan maak, omdat dit koste verminder: “ ’n Bejaarde egpaar het R153 000 bespaar, met die gevolg dat hulle R5 000 per maand minder betaal vir ’n nuwe eiendom in ’n aftree-oord.”

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za

* Foto’s: Verskaf

Meer oor:  Eiendom  |  Huis Koop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.