Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Landbou-sektor sit murg in ekonomie se pype
17 Desember 2020
Foto: Shutterstock

In 2020 het stewige landbou-uitvoersyfers welkome ondersteuning aan die land se betalingsbalans verleen. Boonop speel Suid-Afrika se landbouwaardeketting volgens Agbiz se uitvoerende hoof, dr. John Purchase, ’n kernrol om ekonomiese groei en sosiale bestendigheid in die land te stimuleer.

Die landbou se bruto binnelandse produk (BBP) behoort in 2020 (jaar-op-jaar) met 10% te styg. Volgens die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) kan die verwagte groei selfs so hoog as 13% wees. Dié veerkragtige herstel kom weliswaar vanaf ’n laer basis af.

In 2019 het die landbou in vier opeenvolgende kwartale ingekrimp weens verskeie dieresiektes wat in die voorafgaande paar jare voorgekom het en erge droogtetoestande wat sedertdien in die meeste streke gebreek is.

Te midde van die verwoesting wat die grendelstaat vanjaar oor bykans die ganse ekonomiese spektrum meegebring het, het gunstige weerstoestande tot puik somergraan-, wintergraan- en vrugte-oeste gelei. Stewige groei in die landbou se algehele uitset kon nie op ’n beter tyd gekom het nie.

Graanproduksie

Goeie reënval het die weg gebaan vir die produksie van SA se tweede grootste mielie-oes ooit – ’n geskatte 15,42 miljoen ton, wat heelwat groter as die plaaslike jaarlikse verbruik van ongeveer 11 miljoen ton is. Gevolglik kon die land in 2020 weer mielies na verskeie internasionale bestemmings uitvoer, waaronder Suid-Korea, Japan, Taiwan en Viëtnam, wat positief vir die land se handelsbalans is.

Binnelands is meer witmielies die afgelope twee tot drie jaar vir menslike gebruik gemaal. “Hoe meer plaaslike verbruikers onder druk kom, hoe meer beweeg hulle terug na ’n meer stysel-gebaseerde dieet. Mieliemeel is een van die goedkoopste voedselbronne per porsie,” aldus Luan van der Walt, ’n ekonoom by Graan SA.

Boonop dui oesskattings ook op een van die afgelope tien jaar se grootste wintergraanoeste – wat ’n geskatte 2, 135 miljoen ton koring insluit. “Laat lentereën wat in die Wes-Kaap geval het, mag egter ’n negatiewe impak op veral die gars-oes se gehalte hê,” sê Corné Louw, senior ekonoom by Graan SA. Intussen lyk die heersende La Niña-weerpatrone vir die 2020-2021-somergraanseisoen baie belowend.

Na verwagting sal gewasse op 2,746 miljoen hektaar geplant word. “Indien dit realiseer sal dit die grootste oppervlakte wees waarop mielies sedert die 2012-’13 seisoen in SA geplant is,” sê Louw.

Vrugteproduksie

Nog ’n groot verdiener van buitelandse valuta is die vrugtebedryf wat hoofsaaklik uitvoergedrewe is. Trouens, sitrus is die grootste bydraer tot die landbou se bruto produksiewaarde. In 2019 was sy uitvoerverdienste R20 miljard wat in 2020 verder sal styg. SA is naas Spanje die wêreld se grootste uitvoerder van sitrusvrugte. Volgens die Sitruskwekersvereniging het SA in 2020 141,1 miljoen kartonne (15 kg elk) sitrus verskeep teenoor 117,8 miljoen kartonne in 2019. Dit dui op groei van bykans 20%.

In sy jongste beskikbare Baseline-publikasie vir die landbou, wys BFAP onder meer daarop dat met die rand se ruim vroeëre depresiasie word ’n skerp nominale prysstyging in 2020 ten opsigte van uitgevoerde sitrus verwag.

Trouens, bloot vanweë groter aanplantings die afgelope dekade en groeiende uitvoervolumes behoort die styging in sitrus se nominale uitvoerwaarde in die volgende dekade voort te duur. Ondanks swaar reën en hael laat in 2019, asook droogtetoestande wat voortgeduur het, was die 2019-2020-tafeldruifoes sowat 9,5% groter as die vorige een.

Na verwagting sal die nominale netto uitvoerrealisasieprys van tafeldruiwe met ’n gemiddeld van 3,45% oor die volgende tien jaar styg. Ook pruime, perskes en nektariens het vroeg in 2020 vir hoër opbrengste gesorg. Projeksies dui op hoër verdienstes vir dié vrugtesoorte in reële terme oor die volgende dekade, terwyl die mark vir appels baie stabiel is. Hoewel nie só rooskleurig nie, behoort die vertoning van pere ook goed te wees. Sterk groei word in die uitvoerwaarde van appelkose verwag, hoewel die oeste nie altyd so bestendig is nie.

Rooivleisproduksie

In onlangse jare het SA ’n netto-uitvoerder van rooivleis geword. Uitvoere is kortstondig deur die uitbreek van bek-en-klouseer by beeste onderbreek, maar dit is aan die begin van 2020 hervat.

Volgens Gerhard Schutte, uitvoerende hoof van die Rooivleisprodusente-organisasie, word net 3,5% van produksie tans uitgevoer teenoor 5% voor die uitbreek van bek-en-klouseer. BFAP wys egter daarop dat die uitvoerpotensiaal sowat 20% is. SA lewer gehalte-rooivleis en sy pryse is 30% laer as wêreldpryse. Jaar-op-jaar was die produsenteprys van beesvleis 12% hoër as in 2019 en vir skaapvleis was dit vanjaar 25% hoër.

Produsente kry sowat 50% van die verbruikersrand; produsente verdien R80 miljard per jaar, terwyl verbruikers R160 miljard per jaar vir rooivleis betaal.

Pluimveeproduksie

Op die keersy van die munt is daar ’n paar landboubedrywe wat tans onder druk is. Ondanks die inperkingsmaatreëls, het die pluimveebedryf laat in 2020 vordering begin maak met die inwerkingstelling van die meesterplan wat in 2019 deur die regering onderteken is om dié bedryf te transformeer, stabiliseer en weer op ’n groeipad te plaas.

Izaak Breitenbach, hoofbestuurder van die SA Pluimveevereniging se braaikuikenafdeling sê dat sowat R1 miljard van die bedryf se beloofde R1,7 miljard is reeds verkry om produksievermoë teen 2022 met 8,7% meer hoenders per week te verhoog. Terselfdertyd het invoere uit Amerika, Brasilië en die EU R6,1 miljard by die land laat uitvloei. Die regering het intussen op verskerpte maatreëls besluit om die omseiling van invoerregulasies te verhinder en voedselveiligheid te verskerp.

Suiwelproduksie

In die suiwelbedryf het die gaping in die kleinhandelsprys en die produsenteprys van volroom-, vars melk van R5,30 per liter in 2010 tot R9,57 in die eerste nege maande van 2020 gestyg. Dit verteenwoordig ’n styging van 81% oor die betrokke tydperk in die sogenaamde prysverspreiding van plaas-tot-vurk – wat ’n aanduiding van die disproporsionele marge-allokasie in die suiwelwaardeketting is.

Dit geld net primêre suiwelprodukte en dié onregverdige gaping is nóg hoër wanneer verbruikers kaas en botter koop. SA se kumulatiewe produksie van onverwerkte melk sal na verwagting in 2020 met 0,31% afneem weens produsentepryse wat nie met internasionale pryse tred hou nie. Dié probleem duur al sedert 2018 en dit kan in 2021 volgens dr. Chris van Dijk, uitvoerende hoof van die Melkprodusente-organisasie, tot verdere probleme in die suiwelwaardeketting lei.

Suikerrietproduksie

Lae internasionale pryse, meer invoere, suikerbelasting, klimaatsverandering en onsekerhede rondom grondhervorming dra by tot krimpende suikerrietaanplantings. Ná droogtetoestande in 2015-2016 het die bedryf weer effens kop opgetel, maar na verwagting sal suikerrietproduksie in die huidige seisoen met 0,7% tot 18,5 miljoen ton daal waaruit 2 miljoen ton suiker geproduseer sal word teenoor 2,27 miljoen ton in 2019-’20.

Volgens Trix Trikam, die SA Suikervereniging se uitvoerende direkteur, beloop die bedryfsinkomste tans R16 miljard, terwyl die bedryf 65 000 direkte en 270 000 indirekte werksgeleenthede verskaf.

SA produseer meer as 50% van die wêreld se sybokhaar en 2% van die wêreld se wol, waarvan die grootste deel van ’n hoë gehalte is.

Wolproduksie

Covid-19 plaas ook die vraag na wol, veral in Europa, steeds onder druk, aldus Deon Saayman van Cape Wools. Nietemin is die sentiment in China beter. SA produseer meer as 50% van die wêreld se sybokhaar en 2% van die wêreld se wol, waarvan die grootste deel van ’n hoë gehalte is. Die huidige wolveilingseisoen het op ’n lae noot begin, maar pryse het tussen die derde en die 14de veiling met 21,5% gestyg. Alles hang egter af van die mate waarin verbruikersbesteding in 2021 sal herstel. Indien die droogte in dele van die Oos- en Noord-Kaap sou voortduur, sal dit produksie negatief beïnvloed.

Die wildbedryf

In die nasleep van langdurige droogte, het die inperkings en internasionale reisbeperkings die wildbedryf in 2020 hard getref. Volgens Richard York, Wildlife Ranching SA se uitvoerende hoof, is minder wildveilings gehou, sowat 41% minder diere is op veilings verkoop en die bruto omset daarvan het tot 61,6% geval teenoor 2019.

Bekende veilingslokale moes hul deure permanent sluit. In 2016-2017 het jagters R13,6 miljard vir die bedryf ingebring en in 2020 is talle jagbestemmings net deur plaaslike biltongjagters aan die gang gehou. Ná goeie reënval en die verslapping van reisbeperkings is York versigtig optimisties oor 2021, hoewel nuwe uitdagings mag opduik. “Dit sal tyd neem om die wildbedryf weer te stabiliseer.”

Op die keper beskou

Op die keper beskou het die landbousektor in 2020 as ’t ware murg in die ekonomie se pype gesit. Harde werk lê egter nog voor om die landboubedrywe wat tans onder druk is, weer op die wenpad te plaas. Eweneens wag harde werk op die regering, private rolspelers en alle sektore om te sorg dat die ekonomie in die jare wat voorlê weer gewig en ’n bietjie gesonde vet aansit.

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.