Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Landbou-uitvoere steun SA handelsbalans
9 Julie 2021

In 2020 het die algehele waarde van landbou-uitvoere met ongeveer 18% tot R169,2 miljard teenoor 2019 se R143,2 miljard gestyg.

Syfers van die Internasionale Handelsentrum (ITC) dui boonop daarop dat die waarde van Suid-Afrika se landbou-invoere van R95 miljard in 2019 slegs tot R97,9 miljard in 2020 gestyg het – ’n geringe toename van 2,9%. Dus was die sektor se positiewe handelsbalans van R71,3 miljard in 2020 ’n allemintige 47,9% hoër as 2019 se R48,2 miljard.

Suurlemoene
Suurlemoene. Foto: Unsplash/Steve Doig

In 2020 was die top-10-bestemmings vir SA se landbou-uitvoere Nederland, Brittanje, Botswana, Namibië, Mosambiek, Zimbabwe, China, Amerika, Lesotho en die Verenigde Arabiese Emirate.

Sitrus

Die sitrusbedryf het in 2020 volumes van sowat 15% meer uitgevoer, naamlik 146 miljoen kartonne (15 kg elk) teenoor 126,6 miljoen kartonne in 2019. Uitvoer sal na verwagting vanjaar tot 160 miljoen kartonne styg. Volgens Deon Joubert, ’n uitvoergesant, het sitrus se uitvoerverdienste van R20 miljard in 2019 tot R25 miljard in 2020 gestyg. SA is naas Spanje die wêreld se grootste uitvoerder van sitrusvrugte.

Somergrane

Volgens Luan van der Walt van Graan SA was SA in 2020 die wêreld se negende grootste mielieprodusent, maar die sewende grootste uitvoerder van dié landboukommoditeit.

Gegrond op gerapporteerde uitvoersyfers en die SAID-vry-aan-boord- gerapporteerde waardes, het die geskatte waarde van SA se mielie-uitvoer R9,6 miljard in 2020 bedra. Die totale mielie-uitvoere vir die 2020-’21-seisoen (van Mei 2020 tot April 2021) was 2,5 miljoen ton. Altesame 1,38 miljoen ton is na ander Afrika-lande uitgevoer. Die balans, wat grotendeels geelmielies was, is na onder meer Suid-Korea, Taiwan, Japan en Viëtnam uitgevoer.

Vanjaar se verwagte totale opbrengs van 16,18 miljoen ton mielies sal 5,7% meer as 2020 se 15,3 miljoen ton wees. SA verbruik jaarliks ongeveer 11,5 miljoen ton mielies.

Met die skryf hiervan is 467 141 ton mielies reeds in die 2021-’22-seisoen (wat in Mei begin het) uitgevoer, terwyl ’n verdere ongeveer 800 000 ton se uitvoere na verwagting oor die volgende agt weke sou plaasvind. In die somersaaigebiede word ’n sojaboonoes wat 54% groter sal wees boonop vanjaar verwag, terwyl die internasionale pryse vir somergraangewasse steeds betreklik goed vertoon.

Dié prestasie is behaal ondanks Covid-19-handelsbeperkings en ’n geringe afname van 0,2% in uitvoervolumes wat op 319,2  miljoen liter te staan gekom het.

Wyn

Volgens Maryna Calow van Wines of South Africa het die wynbedryf se uitvoerverdienste in 2020 onder baie komplekse omstandighede met 7,7% tot R9,1 miljard gegroei. Dié prestasie is behaal ondanks Covid-19-handelsbeperkings en ’n geringe afname van 0,2% in uitvoervolumes wat op 319,2 miljoen liter te staan gekom het. Vanjaar se wyndruifoes was ongeveer 9% groter as in 2020. Uitvoervolumes van nader aan 400 miljoen liter word dus weer vir 2021 verwag.

Steen- en kernvrugte

In die 2020-’21-seisoen vir steenvrugte het die uitvoervolumes van pruime met 71% gestyg terwyl dié van nektariens, perskes en appelkose onderskeidelik 29%, 22% en 93% hoër as in die 2019-’20-seisoen was. Volgens Nina Viljoen van Hortgro sal die uitvoervolumes van appels en pere in die 2021-seisoen vir kernvrugte na raming onderskeidelik met 8% en 3% styg.

Tafeldruiwe

Teenoor ’n vorige rekord van 65,4 miljoen kartonne in 2016-’17 het die uitvoer van tafeldruiwe in die 2020-’21-seisoen volumegewys tot ’n nuwe rekordvlak van 72,2 miljoen kartonne gestyg. Die bruto-uitvoerverdienste was na raming ongeveer R11 miljard. Volgens Willem Bestbier van die SA Tafeldruifbedryf was die netto-boerdery-inkomste egter teleurstellend weens globale ontwrigting, plaaslike logistieke probleme, klimaatsprobleme wat die gehalte en houvermoë van die uitvoer gedeeltelik beïnvloed het asook gepaardgaande eise. Boonop het ’n sterker rand sedert die begin van 2021 uitvoerverdienste verder onder druk geplaas.

Wintergrane

SA is ’n netto-invoerder van koring. Nietemin was die koringoes van 2,109 miljoen ton in die 2020-’21-seisoen die grootste sedert 2008-’09. Boonop het die 2020-’21-seisoen ook ’n uitstekende produksie van 165 000 ton canola opgelewer en baie goeie produsentepryse vir dié gewas. Nes verlede jaar lyk die Wes-Kaapse produksietoestande vanjaar weer baie belowend met die beste ontkiemings in jare. Met die winsgewendheid van plaaslik geproduseerde koring wat nie by dié van Rusland kan kers vashou nie, blyk dit dat canola ’n baie belangrike komponent in die plaaslike wintergraanmandjie kan word – vir menslike en dierlike gebruik.

Op die keper beskou

Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur van Agri SA. Foto: Agri SA

SA se netto handelsbalans ten opsigte van álle produkte het van net R31,8 miljard in 2019 met ’n allemintige 773% tot R277,7 miljard in 2020 gestyg. Dit was danksy totale uitvoere wat van R1 305 miljard tot R1 401 miljard toegeneem het, terwyl algehele invoere met R150 miljard tot R1 123 miljard afgeneem het.

Christo van der Rheede, Agri SA se uitvoerende direkteur, wys daarop dat die landbousektor verlede jaar 25,68% van SA se netto handelsbalans van alle produkte uitgemaak het. Dit was ondanks Covid-19-regulasies, wat veral die wild- en wynbedrywe geknou het, en in ’n mindere mate ook die wol- en katoenbedrywe.


Meer oor:  Agri Sa  |  Christo Van Der Rheede  |  Handelsbalans  |  Uitvoere  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.