Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Lande blokkeer toenemend internet-toegang
7 Februarie 2019
Onlangse betogings in Harare, Zimbabwe het tot talle sterftes gelei.

Die Zimbabwiese regering is die jongste regering wat die toorn van die internasionale kuberkrakergroep Anonymous ontketen het. Laat in Januarie het Anonymous verantwoordelikheid aanvaar vir die kuberaanval op 72 webtuistes van die Zimbabwiese regering.

Boodskappe is op verskeie plekke gepos om die kuberkrakergroep se boodskap oor te dra: “Wees gegroet, Zimbabwe, ons is Anonymous. Ons het voorheen aanskou hoe onskuldige mense in Zimbabwe vermoor word. Ons het onderdrukking en tirannie aanskou. Ons het gesien hoe mense wat vir vryheid veg, onderdruk word. Ons kan dit nie toelaat nie.”

Volgens Anonymous is dit net die begin van sy optrede teen die Zimbabwiese staat. “Jou bankstelsel sal ook binnekort val. Zimbabwiese regering, jy het ’n vyand van Anonymous geword! Jou stelsels is in gevaar!”

Anonymous se aanvalle was in reaksie op die opdrag van die Zimbabwiese regering die vorige week dat toegang tot die internet, veral sosiale mediadienste, geblokkeer moet word. Dit was ná landswye protesoptrede omdat die brandstofprys vroeg in Januarie meer as verdubbel is.

Econent Wireless, die land se grootste selfoonoperateur, het erken toegang tot Facebook, WhatsApp, Youtube en Twitter is in opdrag van die Zimbabwiese regering geblokkeer. Zimbabwe se regering het sy optrede verdedig en aangevoer mense gebruik aanlyn platforms om onrus te stook. “Jy kan nie verwag ons moet die nasionale belang opoffer vir die internet nie,” het George Charamba, presidensiële woordvoerder, glo tydens ’n uitsending van Zimbabwe se staatstelevisiediens gesê.

Stel jou voor hoe Suid-Afrikaners sou reageer as die land deur gewelddadige protesoptrede geteister word en die staat hardhandig toeslaan deur onder meer die internet te blokkeer? Jy sou nie eens jou vriende of geliefdes kon kontak om te hoor of hulle veilig is nie. Stel jou voor ’n private maatskappy sny jou water en ligte in opdrag van die regering af. Is die internet nie eintlik ook ’n nutsdiens soos water en elektrisiteit nie?

In Zimbabwe het die blokkering van internettoegang meer dinge beïnvloed as net kommunikasie en die toegang tot inligting. Econet Wireless bedryf ook die Ecocash-betaalstelsels wat inwoners van Zimbabwe daagliks gebruik, onder meer om vir elektrisiteit te betaal. Dié blokkering kan huishoudings in donkerte hul en sakeondernemings tot stilstand bring.

Die organisasie Regslui vir Menseregte in Zimbabwe en die Zimbabwiese eenheid van die Media-instituut van Suider-Afrika het die Zimbabwiese regering en die land se drie selfoonnetwerke, Econet Wireless, Net.One en Telcel Zimbabwe, hof toe gevat om die blokkering onwettig te laat verklaar, berig TechCentral.

Die Zimbabwiese hooggeregshof het beslis die blokkering is onwettig en Owen Ncube, minister van staatsveiligheid in Zimbabwe, mag nie internetdienste laat blokkeer nie.

Om die internet te blokkeer, soos nou in Zimbabwe, is ’n toenemende neiging. Luidens die nuuswebwerf Quartz Africa sê Berhan Taye van Access Now en leier van die veldtog #KeepItOn, internettoegang is 21 keer in 2018 in Afrika geblokkeer, en 13 keer in 2017. Access Now was een van die kampvegters vir digitale regte wat Kameroen se regering vroeg in 2018 hof toe gevat het om die ontwrigting van internetdienste aan Kameroen se Engelssprekende streke te keer. Volgens dié organisasie is internetverbindings in die streek óf heeltemal afgesny óf stadig gemaak.

Daar was byna ’n jaar lank geen toegang tot sosiale media-toepassings nie. “Die regering moet duidelik en dringend by die howe die boodskap kry dat dié blokkering van die internet strydig is met Kameroense wetgewing én die internasionale reg en moet end kry,” het Peter Micek, toe hoofregsadviseur vir Access Now, luidens die artikel in Quartz Africa gesê.

Een van die selfoonmaatskappye wat glo gehoor gegee het aan die opdrag om internettoegang in Kameroen te blokkeer, was Suid-Afrika se MTN. Naas Zimbabwe het die vasteland in 2019 onder talle ander gevalle deurgeloop waar die internet geblokkeer is.

In die Demokratiese Republiek van die Kongo het die regering ook toegang tot die internet, SMS’e en sosiale media geblokkeer in afwagting op die uitslag van ’n verkiesing wat op ’n naaldpunt was. Die regering het selfs gewilde radionuusstasies gesluit en buitelandse joernaliste se akkreditasie gekanselleer.

Gaboen het onlangs tydens ’n gepoogde staatsgreep internetdienste geblokkeer, en gevalle is ook aangemeld in Soedan, waar grootskaalse protesoptrede teen die regering woed. Internetsluitings tydens ’n politieke krisis is duidelik ’n nuwe metode van onderdrukking en as selfoonoperateurs hulle in dié politieke gevegte laat misbruik, gaan hulle ook as verdrukkers gebrandmerk word. Aandeelhouers moet begin besin oor watter invloed die internetmaatskappye waarin hulle belê op ons leefwêreld kan hê.

So lank as wat dié maatskappye bereid is om inwoners se regte op te offer in die lande waar hulle bedrywig is, sal hulle toenemend in geregshowe én in die hof van openbare mening onder skoot kom. Soos Micek sê: Telemaatskappye wat voorheen onder druk geplaas is om konnektiwiteit op te skort, sal hulle teen die staat se sensuur moet verset. “Dié soort ontwrigting sal nie langer dig gehou word nie,” het hy aan Quartz Africa gesê.

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za

* Foto: Gallo Getty Images/Reuters

Meer oor:  Finweek  |  Zimbabwe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.