Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Maak ’n ikoniese Suid-Afrikaanse skoen wêreldwyd bekend
27 Augustus 2020

Dit was 2016 en die Olimpiese Somerspele in Rio de Janeiro was pas verby. Nic Dreyer en Ross Zondagh, medestigters van Veldskoen, was teleurgesteld in die Suid-Afrikaanse span se kleredrag en het gemeen dat dit “werklik meer verteenwoordigend moes wees van hoe ongelooflik SA is”, sê Dreyer.

Velskoene, ’n enkelhoë vorm van die tjakkarstewel wat van sagte, maar sterk, ongebreide vel gemaak word, is genoem, maar die twee het gemeen dat ’n bietjie kleur goed sou wees vir die tradisionele skoene. Dreyer het ’n vriend gevra om ’n rekenaarbeeld van ’n paar skoene met kleurryke sole en veters te maak, en hulle het “dadelik geweet hulle het iets beet”.

Nic Dreyer, hoof en medestigter van Veldskoen

Dreyer en Zondagh het Veldskoen Shoes (Edms.) Bpk. geregistreer wat in ’n kantoor van 9 m2 in Woodstock, Kaapstad, ingedruk was, en met die vars herontwerp begin werk. Nic Latouf, nog ’n medestigter, is betrek en het gehelp om Veldskoen se e-handelplatform op te stel. Drie jaar later het die maatskappy internasionale markte (Amerika, Brittanje, Europa, Zimbabwe en Zambië) suksesvol betree, en het aandeelhouers soos Brian Joffe (stigter van Bidvest), Ashton Kutcher (Amerikaanse akteur en entrepreneur) en Marc Cuban (Amerikaanse entrepreneur en belegger). Veldskoen het ook Israel, Portugal, Duitsland en Nederland in die oog vir uitbreiding ná Covid. Dreyer, uitvoerende hoof van die maatskappy, het met finweek gepraat.

Kom ons begin by die naam . . .

Dit kon eenvoudig niks anders genoem word nie. Vra enige Suid-Afrikaner wat ’n velskoen is, en hulle sal vir jou sê. Dis deel van die SA woordeskat, en ons missie is om dit wêreldwyd bekend te maak.

Wat inspireer nuwe skoenontwerpe?

Velskoene bestaan al omtrent ’n eeu, en het twee kenmerke. Eerstens is hulle goed gemaak en behoort lank te hou. Tweedens moet hulle uiters gemaklik wees. Wanneer ons ’n nuwe skoenontwerp aanpak, moet dit daarom dié twee toetse slaag. Dan kyk ons watter skoene ons sal wil dra, en voer dit verder.

Hoe lank neem dit gemiddeld om ’n skoen te maak, en wat behels die proses?

Ons skoene word met die hand gemaak deur ongelooflik vaardige ambagsmense, spesialiste in elke deel van die produksiebaan. Die hele produksie van een paar neem ongeveer sewe uur. Tog maak ons baie, baie skoene, en ’n groterige bestelling neem daarom ’n paar weke. Ons vervaardigingsvennoot, Hopewell Shoes in Durban, is die beste in die bedryf en heeltemal daartoe verbind om Veldskoen se buitengewone vervaardigingstandaarde te handhaaf.

Hoe het Veldskoen sy eerste paar verkoop?

Ons was nog altyd ’n digitale storievertelhandelsmerk, en die eerste 18 maande is al ons verkope op www.veldskoen.shoes, ons e-handelplatform gedoen. Ek moet sê: Om daardie eerste “vreemdeling-bekragtiging” te kry (wanneer iemand anders as jou vriende of familielede ’n skoen koop), was ’n ongelooflike gevoel!

Hoe kwaai is die mededinging?

Skoeisel is ’n mededingende omgewing, en sedert ons drie en ’n half jaar gelede begin het, het sowat agt nuwe velskoenhandelsmerke ontstaan. Ek dink ons het dalk iets begin. Ons is heeltemal gemaklik met die mededingers en wens hulle sterkte toe. Ons weet wat ons missie is, en sal nie van stryk gebring word nie: Veldskoen streef daarna om SA se mees herkenbare internasionale handelsmerk te wees. Van die begin af was die motivering vir Veldskoen om SA in ’n positiewe lig te plaas. Ons wou ’n kledingstuk skep wat ons as ’n nasie verbind en wat al die ongelooflike kenmerke van ons wonderlike land visueel uitbeeld.

Hoe lyk Veldskoen se uitbreiding na internasionale markte?

Die missie was om ’n internasionale handelsmerk te hê, en daarom het ons van meet af aan daarop gekonsentreer om ’n internasionale onderneming te hê. Ons het met ’n aanlyn winkel in Brittanje begin wat die afgelope drie jaar mooi groei. (Dit het regtig gehelp dat prins Harry ons skoene gedra het!) Ná Brittanje het ons in Amerika begin. Ashton Kutcher en Marc Cuban het in Veldskoen US belê, en dit groei die afgeloep twee jaar aggressief. Ons het nog sewe gebiede waar ons passievolle SA verspreidingsvennote het.

Hoeveel skoene word jaarliks gemaak, en hoeveel word uitgevoer?

Ons het die afgelope boekjaar sowat 80 000 paar skoene gemaak, en dit neem maandeliks toe. Daarvan is sowat 10 000 paar skoene uitgevoer. Ons grootste internasionale mark is Amerika. Ons is egter opgewonde dat al die gebiede mooi groei, en ons sal waarskynlik ons vervaardiging op ’n jaargrondslag grondliggend kan vergroot.

Hoeveel werknemers het Veldskoen?

Ons het nou ’n span van 14 wat regstreeks vir Veldskoen werk; in ons fabriek het ons sowat 120 mense.

Wat is van die grootste probleme wat Veldskoen moes oorkom?

Dis moeilik om ’n aanlyn skoenhandelsmerk te wees, en dit gaan met baie uitdagings en foute gepaard. Ons spankultuur maak egter vir foute en verbeteringe voorsiening – en daarom kry ons dit reg om daardeur te kom. Die grootste probleem is – nie verbasend nie – Covid-19. Soos almal het ons onderneming met die inperking ’n moontlik onherstelbare hoeveelheid inkomste verloor. Dit het ’n geweldige spanpoging, opoffering en kreatiwiteit geverg om dit te oorleef, en ek is geweldig trots om te kan sê dat Veldskoen in ’n goeie posisie is om deur dié tydperk te kom en daardeur te groei.

Die grootste les(se) geleer?

Enige onderneming se grootste bate is die klante. Ons is uiters dankbaar vir ons klante, waardeer hul lojaliteit, en streef daarna om produkte en dienste van wêreldgehalte aan hulle te bied. Naas ons klante is dit ons span. Ons het ’n ongelooflike span, waaronder Iridium Business, wat ’n wesenlike deel van ons onderneming is.

Toe ons begin het, het ons ’n voorraadbestuurstelsel verkry wat in die e-handelwêreld kon werk, en een begin soek wat in al ons behoeftes voorsien het. Iridium het ons gehelp om doeltreffende stelsels in te stel, ’n voorraadbestuurstelsel wat by ons aanlyn winkel en rekeningkundige stelsel inskakel. Voorraad is die kernaspek van kleinhandelsukses. Deur die stelsels en opleiding te bied, het hulle ons onderneming letterlik verander.

“Ons skoene word met die hand gemaak deur ongelooflik vaardige ambagsmense, spesialiste in elke deel van die produksiebaan. Die hele produksie van een paar neem ongeveer sewe uur.”

Wat hou julle gemotiveerd?

Ons is passievolle voorstanders van plaaslike handelsmerke en plaaslike vervaardiging. Ons voel verantwoordelik om ons ervaring en kennis te deel met ander plaaslike handelsmerke en aanvangsondernemings wat wil groei. Ons weet dat ons in SA ongelooflike produkte maak omdat ons mense so talentvol is. Ons bly gemotiveerd om seker te maak dat ons almal groei en hopelik werk aan al hoe meer mense verskaf.

Wat is Veldskoen se langtermyn-visie?

Om SA se internasionaal mees herkenbare handelsmerk te wees. Ons is daartoe verbind om die onderneming op te bou om iets te wees waarop SA trots kan wees.

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za

* Foto’s: Verskaf

Meer oor:  Entrepreneur  |  Veldskoen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.