Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Maak SA se mynbou weer aantreklik
7 Februarie 2019
President Cyril Ramaphosa

President Cyril Ramaphosa se bywoning van die 25ste Mining Indaba stuur ’n sterk boodskap dat Suid-Afrika ’n aktiewe deelnemer wil word in die wêreld se mynbedryf – ’n bedryf wat self ’n opwaartse tendens toon – deels as gevolg van die vraag wat geskep is deur verbruikersgeleide bedrywe soos selfone en elektriese voertuie.

“Dit sê vir my Afrika is steeds ’n interessante plek om in te belê,” sê Alex Grose, besturende direkteur van die Mynbou-Indaba, ’n konferensie wat meer akkuraat bekend staan as “Belê in Afrika”. “Ek kan nie namens die president praat nie, maar die MiningIndaba is die grootste beleggingskonferensie in Suid-Afrika, en ten spyte van al die uitdagings waarmee ons te kampe het, staan dié gebied heel voor in die ry met die Ramaphosa-administrasie se belofte om $10 miljard in nuwe beleggings te lok,” het hy gesê.

Die bywoningsyfers vir die konferensie is vanjaar baie goed. Met ongeveer 5 000 afgevaardigdes is dit 10% hoër as verlede jaar. “Ons het sowat twee jaar gelede ’n daling gesien, maar sedertdien styg ons.

En daar is heelwat internasionale belangstelling. Die meerderheid van die buitelandse besoekers is van Londen, maar daar is ook verteenwoordigers van New York, Toronto en Perth,” het hy gesê. Wat vir Ramaphosa van kardinale belang is, is om die regte geluide te maak vir die soort mynbou-omgewing wat Suid-Afrika wil aanbied.

Tot die aanstelling van Gwede Mantashe as minister van mineralehulpbronne verlede jaar was die departement van mineralehulpbronne (DMH) in ’n soort niemandsland, ’n plek wat ontoeganklik en selfs gevaarlik was. Volgens Bruce Dickinson, ’n vennoot by Webber Wentzel, is daar druk op die DMH om tred te hou met ons buurlande suid van die Sahara.

“Onlangse hervormings van mynbouwetgewing in Namibië, Angola en Zimbabwe kan beleggings weglok van Suid-Afrika as ons versuim om ons mynkode en wetgewing mededingender te maak,” het hy gesê. Dit is ook nie genoeg as Suid-Afrika glo dat aangesien ons ’n oorheersende markaandeel het ten opsigte van reserwes van die platinumgroepmetale en mangaan, sowel as beduidende steenkoolreserwes, ons steeds die skaal kan laai ten gunste van stemwerwende regeringsbeleid eerder as om hard te werk om voorsiening te maak vir buitelandse beleggingstandaarde nie.

“Ek kan nie namens die president praat nie, maar die Mining Indaba is die grootste beleggingskonferensie in Suid-Afrika, en ten spyte van al die uitdagings waarmee ons te kampe het, staan dié gebied heel voor in die ry met die Ramaphosa-administrasie se belofte om $10 miljard in nuwe beleggings te lok.”

In sy kommentaar oor tendense in 2019 sê Deloitte in ’n mynboustudie, wat in die laaste week van Januarie gepubliseer is, dat die beste bates “op papier” nie hul regte waarde het as die beleggingsomgewing nie korrek gestruktureer is nie.

“Die probleem is dat, terwyl sekere bates op papier goed lyk, is hul verdiensteprofiel in die praktyk swak,” het Deloitte in die studie gesê. “Kyk byvoorbeeld na ertsliggame van wêreldgehalte wat in politiek gevaarlike geografiese gebiede geleë is, waar die regerings aandring op hoër mynregte, hulpbronbelastings, meer plaaslike veredeling en selfs herklassifisering van sleutelkommoditeite as ‘strategies’.”

Daar was verskeie ondeurdagte beleidsveranderinge in hulpbronryke gebiede in Afrika, meestal in Tanzanië en die Demokratiese Republiek van die Kongo waar nuwe mynkodes ingestel is, en Zambië wat ’n aantal fiskale veranderinge aangekondig wat bedoel is om die land se tesourie te bevoordeel.

BTW-terugbetalings word ook nie in al dié lande betaal nie. Miskien is ’n belangrike doelwit vir Suid-Afrika se mynbedryf om nuwe beleggings in hulpbronontwikkeling te lok. Nuwe projekte is wêreldwyd skaars, hoofsaaklik omdat beleggers moeg is om duur en riskante projekte met lang aanlooptye te finansier, maar eerder vinnige wins verkies, soos organiese uitbreidings wat nie dividendvloei in gevaar stel nie.

Daar is feitlik geen eksplorasie in Suid-Afrika nie, behalwe dié van Orion Minerals, ’n eksplorasiemaatskappy wat in Sydney en Johannesburg genoteer is, wat bedrywig is met die sink-koperprojek (eintlik ’n Yskor-bedryfsprojek van die 1980’s wat heropen word) by Prieska in die Noord-Kaap.

Edison Research het in ’n onlangse verslag oor hulpbroneksplorasie-aandele gesê dat faktore wat voorheen in hulpbronontwikkeling belangrik was, soos “graad” – wat vir die gewone mens beteken die gehalte van die ertsliggaam – minder belangrik is wanneer dit teenoor lae soewereine risiko gestel word. “Markte beloon toenemend projekte van skaal in gebiede met lae soewereine risiko namate goedkeuring nader kom, terwyl algehele projekekonomie minder belangrik word.” ¦ terugvoer@finweek.co.za

Die implikasies van die Brumadinhodam-ramp

Lede van ’n reddingspan soek slag-offers na ’n slykdam van die Brasiliaanse mynmaatskappy Vale SA in Brumadinho gebars het.

Onmiddellik ná die ramp was alle pogings natuurlik eerstens gerig op die redding van mense en die omgewing. Maar die land se mynbousektor staar verreikende gevolge in die gesig.

Die voorval op 25 Januarie in Brasilië waartydens – volgens die jongste nuus – 40 tot 50 mense dood is en honderde vermis word, kan verreikende gevolge vir die mynbedryf inhou. Die fokus is nou tereg eers op die stabilisering van die gebied en verlening van hulp aan mense en die omgewing, maar die fokus sal mettertyd verskuif na die permitstelsel in Brasilië.

In die kortermyn sal daar ’n impak op die ysterertsmark wees. Brumadinho is die plek waar Brasilië se mynmaatskappy in staatsbesit, Vale, sy Feijao-ysterertsmyn bedryf, wat op sy beurt deel van die Paraopeba-kompleks is.

Die kompleks het 26,2 miljoen ton (Mt) ystererts in Vale se 2017 finansiële jaar geproduseer. Dit verteenwoordig 7% van sy totale produksie. “As alle ander faktore gelyk is, kan dit opwaartse druk op ysterertspryse plaas, wat selfs tot ’n tekort aan ystererts kan lei as daar ’n lang oponthoud is,” het Goldman Sachs gesê.

Die Brasiliese regering het reeds die opskorting van die Corrego de Feijao-ysterertsmyn gelas en Vale met $66 miljoen beboet. Staatsaanklaers wil ook $1,3 miljard in Vale se rekeninge bevries vir skadevergoeding.

RBC Capital Markets sê: “Ons sien die moontlikheid dat Vale se algehele produksie in die komende maande kan daal, wanneer die maatskappy weer op veiligheid fokus.”

Ten spyte van ’n styging in korttermyn-ysterertspryse glo die Kanadese bank egter die ysterertsmark se geprojekteerde surplus vanjaar van 59 Mt sal steeds afwaartse druk op pryse plaas.

Hy het egter bygevoeg dat daar druk op permitte in Brasilië kan plaasvind. Onthou dit is die tweede groot damramp in net meer as twee jaar. Die vorige keer was dit ’n dam wat by Samarco gebars het, by geriewe wat Vale ook besit in ’n gesamentlike onderneming met BHP, waar sowat 19 mense dood is.

Die finansiële implikasies is groot, aangesien Vale en BHP steeds vergoeding onder die Renova-program van $1,4 miljard betaal, terwyl die regsgeding nog uitstaande is.

Wat openbare betrekkinge betref, is nog ’n dam wat bars slegte nuus vir die wêreld se mynbousektor.

Dié sektor is reeds onder skoot vir omgewingsregte en veiligheidsprobleme, en nou dat hy net begin herstel van die jare van skuld waarin die opbrengs baie swak was, sal die voorvalle niks doen om beleggings te lok nie.

Wat Brasilië se blootstelling betref, is die impak vir JSE-beleggers op BHP sowel as Anglo American. Anglo het sy Minas Rio- ysterertspyplyn in die vierde kwartaal van die2018 kalenderjaar heropen ná ’n lekkasie van slyk wat sy werksaamhede vir die meeste van die jaar tot stilstand gebring het – teen ’n koste van voorbelaste verdienste van $400 miljoen.

Anglo het onlangs toestemming gekry vir die derde fase van Minas Rio-uitbreidings, wat die projek tot volle vermoë bring. Die bedryfsomgewing in Brasilië, waar daar groot vooruitsigte vir koper is, word egter nie makliker nie. 

* Foto: Gallo Getty Images/Reuters

Meer oor:  Mynbou  |  Finweek  |  Mining Indaba
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.