Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
‘Mededingende energie nodig’
7 November 2019
Windturbines naby Caledon in die Wes-Kaap.

Die uitsig vanuit Marubini Raphulu se kantoor is nogal indrukwekkend. ’n Paar verdiepings ondertoe pols die verkeer in Sandton se besige Rivoniaweg. Die omringende kantoorblokke troon hoog bokant die geroesemoes uit, modern en trots, die ene glas en glans. ’n Ent verder blom jakarandas in die lowerryke voorstede.

Aanskou die Sandton-lugbel. Niks prik die illusie van ontwikkelde ekonomiese nirvana wat die sentrale sakekern van Sandton skep egter so vinnig soos die verlammende energiekrisis waarin Suid-Afrika hom bevind nie. Die ligte doof uit, die verkeer hoop op, honderde dieselkragopwekkers kom ratelend aan die gang.

Op ’n ernstiger noot waag beleggers voorspellings, terwyl die graderingsagentskappe wat die koste van kapitaal vir die land beïnvloed, Suid-Afrika se kredietwaardigheid ál dowwer laat skyn.

Vir Raphulu, uitvoerende hoof van Hulisani – ’n JSE-genoteerde beleggingsmaatskappy wat op die sekondêre energiemark toegespits is – is energiesekerheid ’n ekonomiese én menslike kwessie, ’n fundamentele behoefte wat die land nie kan bekostig om links te laat lê nie. “Energie is ’n primêre noodsaaklikheid,” sê hy in ’n onderhoud met finweek.

“En wanneer jy na energie kyk, kyk jy na water en jy kyk na kos: dit is die dinge waaroor mense passievol raak, en met reg,” sê hy. Dit is hoekom die regering lank sy beheer oor die energiemark probeer beskerm het en die private sektor slegs uiters teësinnig toelaat om deel te neem. “Die kommer is dat die private sektor se enigste motief wins is en dat dit pryse sal laat verdubbel,” sê Raphulu.

Die Eskom-debakel, wat onvolhoubare finansiële druk op die kragnutsmaatskappy plaas, het die regering egter by ’n punt gebring waar hy die private sektor nie meer in kettings kan hou nie. Vandaar die onlangse uitreiking van die aangepaste geïntegreerde hulpbronplan (IRP2019) deur die departement van minerale en energie (DME) in Oktober, ná jare lange vertragings en weifeling.

Om die plan aan te pas, was noodsaaklik, onder meer omdat die 2010-weergawe byvoorbeeld met ’n vooruitgeskatte BBP-syfer van 4% vir Suid-Afrika in 2019 gewerk het – en dit in ’n lae-roete scenario! Wat verskyn het, is na Raphulu se mening ’n kompromisdokument. Soos dit so dikwels met staatsverordeninge die geval is, is die dokument ’n poging om ongemaklike ekonomiese realiteite met bepaalde politieke denkrigtings te versmelt, vandaar die betekenisvolle rol wat steeds aan steenkoolaangedrewe kragvoorsiening toegeken word, al is hernubare krag vandag meer as 80% goedkoper as in 2010.

Marubini Raphulu, uitvoerende hoof van Hulisani

“Ek beny hom nie,” sê Raphulu oor Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne en energie, wat die IRP2019 steun en ongetwyfeld ’n groot rol gespeel het om steenkool se posisie in Suid-Afrika se energiemengsel te beskerm. “Ek dink hy is in ’n moeilike posisie: hy was eens ’n ampsdraer in die NUM [die nasionale mynwerkersunie] en nou is hy aan die ander kant.” Tog kan mens enkele dinge bewonder. Die onbeperkte bydrae wat byvoorbeeld tot en met 2023 vir kleiner, onafhanklike kragprodusente (IPP’s) toegelaat word, is ’n enorme stap vorentoe, sê Raphulu.

“Ek dink dis ’n uitstekende mark. As verbruiker wil jy vryheid van keuse hê, jy behoort jou insette te kan beheer, veral wanneer jy ’n sakeonderneming bedryf,” sê hy. Dit is dié deel van die IRP2019 wat maatskappye wat minder as 10 MW produseer, toelaat om aan die nasionale netwerk krag te voorsien. Dit sal beteken nywerhede soos staalvervaardigers kan ’n deel van hul kostegrondslag terugkry eerder as om Eskom se meedoënlose verhoging van kragtariewe te absorbeer.

“As ’n sakeonderneming mag jy jou eie kragaanleg installeer of laat installeer en só voorspelbare kragvoorsiening hê. Ons kan ’n aanleg installeer en sê ons sal dit oor die volgende 20 jaar met VPI verhoog. “Jy kan dit modelleer; sit dit in jou model en sê my kragverbruik volg basies die VPI-syfer na. My kragprys volg VPI na, so met my inset weet ek presies waar ek staan,” sê Raphulu. Dit is nie juis die soort terrein waarop Hulisani graag bedrywig wil wees nie – die maatskappy konsentreer eintlik op nutsondernemings en munisipale sake – maar Raphulu besef watter ekonomiese voordele die aansporing van kleinskaalse IPP’s inhou.

“Hoe meer jy mededinging skep, hoe meer sal ons met mekaar se IPP’s baklei en pryse afjaag.”

In wese koop Hulisani kontantvloei by bestaande sakeondernemings, hoofsaaklik in die sektor vir hernubare krag, of is hy bereid om in ’n gesamentlike onderneming aanvangskapitaal voor te skiet in ruil vir dividendvloei, wat hy dan deurgee aan sy aandeelhouers, gewoonlik pensioenfondse. Hy het reeds in GRI Wind Towers belê, wat die maste by Atlantis in die Wes-Kaap vervaardig.

Hy het ook ’n aandeel in RustMo Solar PV, asook in Dedisa, een van die skrikwekkend duur spitskragaanlegte – oopsiklus- gasturbines (OCGT) – wat diesel verbrand en waarop Eskom as laaste uitweg voordat beurtkrag ingestel word, staatmaak om krag te lewer. “Sou jy na ons toe kom en sê jy wil net 1 MW doen, maak dit nie vir ons sin nie. As jy ’n pyplyn van 100 MW oor die volgende vyf jaar het, is dit ’n ander storie,” sê hy.

Orion Minerals, ’n maatskappy wat in Australië genoteer is en tans ’n ongebruikte koper-en-sink-myn in die Noord-Kaap opknap en uitbrei, is ’n interessante vooruitsig. Die maatskappy benodig goedkoop krag en moet oor die volgende vyf jaar 70 MW bou. “Dis ’n opwindende vooruitsig. Jy gesels met hulle, waarheen hulle op pad is, of hulle ’n goeie afset is, bankbaar is en wat die risiskoprofiel is – en dan, as hulle bankbaar is, is dit ’n goeie kliënt om te hê,” sê hy van die maatskappy se moontlike kliëntegrondslag.

Hulisani se aandeelprys is egter 16% laer op ’n 12-maande-grondslag. Die maatskappy het verliese op ’n jaargrondslag verminder, maar waardeverminderings aangeteken. Hy is soos enige nuwe onderneming in die voetheuwels van sy bestaan: Hy het ’n hoë kostegrondslag terwyl hy op nuwe sake – of skaal, soos Raphulu dit stel – wag om onkoste af te bring en inkomste uit jaargeld te genereer. Die enorme ‘quo vadis’-vraag oor die bestuur van Suid-Afrika se toekomstige energie hang egter oor die maatskappy.

Dit is wel belowend dat die IRP2019 die rol van hernubare krag in die algehele mengsel sal verhaas. Die gedagte is om in die volgende tien jaar 20 400 MW nuwe krag uit son en wind te voorsien, teenoor die 6 422 MW in hernubare krag wat in die vorige tien jaar voorsien is. Maar reken Raphulu die regering het die institusionele vermoë en politieke wil om uitvoering te gee aan die IRP2019? “Ja.

Dit is egter mits die regering ’n instaatsteller is: Die dinge wat ons wil bereik in plek stel en toepas ... en die private sektor dan vrye teuels gee. As jy ’n egter ’n sogenaamde “nanny state” het waar die regering oral inmeng, gaan jy waarskynlik moeilikheid kry.” ’n Moontlike area van instaatstelling is gekoppel aan Eskom, die kragmaatskappy.

“Dit is egter mits die regering ’n instaatsteller is: Die dinge wat ons wil bereik in plek stel en toepas, en die private sektor dan vrye teuels gee.”

Die IRP2019 bied aan Eskom die ruimte om mee te ding met hernubare energie. Hiermee is Raphulu ook tevrede, mits die kragnutsmaatskappy toegelaat sal word om sy steenkoolaangedrewe kapasiteit te vervang. Sowat 10 000 MW van Eskom se bestaande kragopwekkingsvermoë moet in die volgende tien jaar uit diens gestel word.

Om Eskom se bestaande hernubare kontrakte met die private sektor te vervang, is duidelik egter nie aanvaarbaar nie. Dit sal eweneens interessant wees om te sien waar die regering land met Eskom se personeeloorvoorsiening wanneer planne vir die maatskappy duideliker word. Dit sal ’n ligte, genuanseerde hantering verg – nie ’n eienskap waarvoor die regering bekend is nie.

Bowenal is groter sekerheid vir Raphulu belangrik, veral oor Eskom se toekoms: Die regering moet die reëls vir die deelnemers duidelik uitspel – en dan daarby bly. “Kry die boeie in plek en laat die bedryf dan daarmee hardloop,” sê hy. “Hoe meer jy mededinging skep, hoe meer sal ons met mekaar se IPP’s baklei en pryse afjaag. Wat jy nie wil hê nie, is dat iemand in Eskom moet ingaan en daar ’n nuwe monopolie kom. Dan is jy in dieselfde posisie. “Ons het mededingende energie nodig waar ons krag kan produseer, dit by die netwerk invoer, by ’n munisipaliteit invoer. Jy moet met min moeite en ergenis ’n 8 KW-stelsel op jou huis se dak kan laat installeer en dit in die netwerk in kan verkoop. Hoekom nie?” ¦ terugvoer@finweek.co.za

Foto: hulisani.co.za

Foto: Gallo/Getty Images

Meer oor:  Finweek  |  Sonkrag  |  Windkrag  |  Energie  |  Eskom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.