Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Metale vir ’n groener wêreld-ekonomie
27 Augustus 2020
Foto: Shutterstock
Foto: Shutterstock

Elon Musk, stigter van Tesla, het in Julie ’n ongewone openbare uitdaging aan die wêreld se mynboubedryf gestel. Hy het tydens ’n aanbieding aan beleggers die vooruitsig van ’n “reusekontrak oor ’n lang tydperk” gebied “aan die maatskappy wat nikkel kan verskaf wat verantwoordelik ontgin is”.

Daar is nie ’n besondere tekort aan nikkel nie. Luidens ’n verslag in Junie deur Macquarie Bank van Australië is ’n nikkeltekort vroeër vir tussen vanjaar en 2025 voorspel, maar daar sal nou na verwagting ’n klein oorskot wees. Dis deels te danke aan die uitwerking van die Covid-19-siekte, wat die verbruik meer as die aanbod geknou het, sê die bank.

Beskikbaarheid is egter nie die rede vir Tesla se versoek nie. In ’n wêreld waar omgewing-, maatskaplike en bestuurstandaarde (OMB-standaarde) verbeter, is gemoedsrus moeiliker om te kry as minerale. Die mynboubedryf is versterk deur die groter vraag na metale, soos nikkel, wat nyweraars soos Musk vir elektriesevoertuigbatterye (EVB’s) gebruik.

In Tesla se geval sal die vermoë van sy Gigajoule-fabriek in Shanghai na verwagting in die volgende dekade met 570% tot 248 gigawatt-uur toeneem, volgens die datamaatskappy Benchmark Mineral Intelligence. Een gigawatt-uur (GWh) se batteryvermoë is genoeg vir gemiddeld 18 000 motors. Luidens ’n verslag deur Bloomberg NEF sal die wêreldwye verkope van elektriese passasiersvoertuie teen 2030 net minder as 26 miljoen wees.

Die algehele gebruikervraag in alle segmente na litiumioonbatterye, die gewildste soort batterytegnologie wat tans vir elektriese voertuie gebruik word, sal teen 2030 meer as 2 000 GWh wees.

Terwyl die groei van elektriese voertuie ’n geweldige geleentheid is vir mynboumaatskappye, wat ook mangaan, kobalt en verskeie ander minerale aan die batteryvervaardigingsproses verskaf, is daar probleme. Mynboumaatskappye moet hul koolstofspoor verklein – selfs terwyl hulle minerale verskaf wat kan help om die wêreld se omgewingsrisiko’s te hanteer.

Hulle word ook al hoe fyner dopgehou deur beleggers wat op OMB-risiko’s ingestel is en geloofsgegronde organisasies en groepe in die burgerlike samelewing wat die menslike en omgewingsuitwerking van mynbou streng kontroleer. Dit het in Junie bekend geword dat Tesla ingestem het om 6 000 ton kobalt te koop by Glencore, ’n mynbou-en-bemarkingsgroep met sy hoofkantoor in Switserland. Kobalt gee aan batterye hul eienskap om te herlaai.

Die probleem is dat sowat 60% van die wêreld se kobalt uit die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) afkomstig is, ’n Sentraal-Afrika land waar Glencore ’n beduidende deel van sy koper en al sy kobalt ontgin.

’n Moeilike kwessie

Burgerlike en waghondgroepe wys lank reeds op kinder-arbeid onder die DRK se groeiende kleinmyners. Terwyl daar geen aanduidings is dat Glencore in dié verband oortree nie, rus die las duidelik op die mynbousektor om sy sake in orde te kry.

Dís die werklikheid van die dikwels duister wêreld van batterymineraalproduksie, waar mynboumaatskappye die taak het om genoeg ekonomiese hulpbronne te ontgin om in die groeiende vraag te voorsien terwyl hulle aan al hoe meer ontginningstandaarde moet voldoen – wat alles deur ’n derde faktor gekompliseer word.

Luidens ’n verslag deur Bloomberg NEF sal die wêreldwye verkope van elektriese passasiersvoertuie teen 2030 net minder as 26 miljoen wees.

Weens die probleme wat met kobaltvoorsiening geassosieer word – Benchmark Minerals voorspel dat die vraag van 70 000 ton verlede jaar tot 300 000 ton in 2029 sal toeneem – kry wetenskaplikes maniere om die OMB-risiko uit te skakel. Tesla het gevolglik vandeesmaand sy eerste elektriese voertuig met ’n kobaltvrye battery, die Tesla Model 3, aangekondig wat ’n litiumioonfosfaatbattery gebruik.

Vinnige ingenieursontwikkeling is ’n ware kopseer vir mynboumaatskappye, wat vir hulpbronontwikkeling en kapitaaltoewysing oor verskeie jare beplan. Colin Hamilton en Kimberly Berman, ontleders by BMO Capital Market, het gevolglik hul mediumtermyn- voorspelling vir nikkel- en kobaltverbruik in elektriese voertuie verlaag. BMO Capital Markets sê in ’n afsonderlike nota oor batteryminerale: “Die punt is dat meer kobaltlose, nikkelryk katodes ondersoek word, en ’n aantal topwetenskaplikes op die terrein ondersoek moontlike kobaltplaasvervangers . . . Kortom, daar word hard daarna gestreef om kobalt (en al die aanbodkettingellendes daarvan) uit te skakel.”

Neal Froneman, uitvoerende hoof van Sibanye-Stillwater

Terwyl Tesla se nuwe kobaltvrye battery nie bestaande modelle sal vervang nie, is dit vir mynmaatskappye moeilik om die toekomstige vraag te kan verstaan – in só ’n mate dat Sibanye-Stillwater die Britse navorsingsgroep SFA Oxford gekoop het om voor moontlike samesmeltings en verkrygings te help verstaan hoe die snelveranderende batterymineraalmark kan verander.

Neal Froneman, uitvoerende hoof van Sibanye-Stillwater, wil by die mark vir EVB-minerale betrokke wees. “Ons talm nie,” het hy in Julie in ’n onderhoud met finweek gesê. “Ons het SFA Oxford gekoop om dié werk te doen. Dit vereis nie tans enige spesifieke omsigtigheidsondersoeke nie, maar dis baie strategiese werk.” Daar is verskeie batterymodelle op die mark waarvoor verskeie JSE-genoteerde mynboumaatskappye kan verskaf – die kobaltvrye weergawe is bloot die jongste van spesifieke EVB’s.

Volgens SFA Oxford sal ’n ander soort battery wat deur die manipulasie van waterstof aangedryf word, naas litiumsoort EVB's bestaan – nie daarmee meeding nie. Waterstofelektroliseringtegnologie (lees die kassie op bl. 31) sal ook nie net in die motorvervaardigingsbedryf nie, maar in verskillende bedrywe gebruik word.

“Ek posisioneer die onderneming om aan albei te kan deelneem. Ons gaan beslis ons rol in die groenekonomie uitbrei.”
Natascha Viljoen, uitvoerende hoof van Amplats

Platinum se rol

Terwyl EVB’s uit nikkel en kobalt, asook litium, mangaan en koper saamgestel is, gebruik elektriese voertuie met waterstofaangedrewe brandstofselle platinumgroepmetale (PGM’s) – die soort edelmetale wat Sibanye-Stillwater, asook sy mededingers Impala Platinum, Anglo American Platinum (Amplats) en Northam Platinum produseer. PGM’s is noodsaaklik vir die motorvoertuigbedryf vanweë hul chemiese eienskappe wat in motoruitlaatkatalisators giftige gasse absorbeer.

In waterstoftegnologie word PGM’s vanweë hul verkoelingseienskappe in die enjinvervaardigingsproses gebruik. Terwyl Froneman daarom dalk ’n batterymetaalmaatskappy wil koop, wil hy ook weet hoe PGM’s (en spesifiek platinum vir waterstofenergie) deel van die groeiende vraag na brandstofsel- elektriese voertuie sal wees.

Volgens SFA Oxford sal die nuwe platinumvraag vir waterstofkrag teen 2030 meer as 400 000 onse wees, teenoor minder as 50 000 onse vandag. Dis volgens voorspellings in April, maar niemand weet regtig hoe die vraag sal lyk nie, of selfs hoe om hulle vir die toekoms te posisioneer nie.

Natascha Viljoen, uitvoerende hoof van Amplats

Natascha Viljoen, uitvoerende hoof van Amplats, erken die probleem en sê aan finweek haar maatskappy sal vir verskeie moontlikhede voorsiening probeer maak. “Ons voer presies dié gesprek oor hoe ons meen die herstel van die mark vir PGM’s sal lyk, en of elektriese voertuie vinnig sal vorder en of mense by konvensionele aandrywing (binnebrandenjins) sal bly,” sê Viljoen.

Voertuie wat met outydse binnebrandenjins aangedryf word, bied aan Amplats ’n bekende marge vir PGM’s wat verskaf word; daar is minder sekerheid oor die ekonomiese opbrengs van PGM’s vir brandstofsel- elektriese voertuie. “Ek posisioneer die onderneming om aan albei te kan deelneem. Ons gaan beslis ons rol in die groenekonomie uitbrei,” sê Viljoen.

Christopher Nicholson, Brian Morgan en Jared Hoover, ontleders by RMB Morgan Stanley, meen dat elektriese voertuie beduidende potensiaal het om toekomstige platinumproduksie te ondersteun. “Die platinummark het tans ’n groot oorskot, en op kort tot mediumtermyn sal palladium as plaasvervanger vir platinum in uitlaatkatalisatortoepassings vir konvensionele binnebrandenjins waarskynlik die sleutel tot herbalansering van die mark hou,” het hulle vroeër vanjaar in ’n verslag gesê.

Politieke wilskrag

Omdat waterstofaangedrewe batterye net koolstofneutraal kan wees wanneer van groenenergie voorsien word, is dit vanselfsprekend nodig om primêre kragbronne se oorgang van fossielbrandstof tot hernubare krag te versnel.

Paul Atherley, voorsitter van die mynboumaatskappy Pensana Rare Earths

Paul Atherley, voorsitter van die mynboumaatskappy Pensana Rare Earths, hoop dat sy maatskappy seldsame aardmetale suksesvol in Angola sal kan ontgin om aan die batterymark vir hernubare energie te voorsien. Al klink hulle misterieus, word neodimium en praseo- dimium, wat op Pensana se voorgestelde Longonjo-myn van $200 miljoen sowat 300 km van Lobito ontgin sal word, gebruik in die vervaardiging van groot permanente batterye wat op windplase gebruik word. Atherley sê aan finweek sy maatskappy is benewens die gewilde vraag na koolstofneutrale energieoplossings deur die Covid-19-aansporings versterk. “Daar is wêreldwyd sowat $16 000 miljard se aansporings, maar veral in Europa moet dit ’n groentransaksie wees.”

Afgesien van ’n wêreldwye resessie het die Covid-19-inperkings gou gewys hoe ’n minder koolstofintensiewe wêreld vir gewone mense kan lyk. Trouens, die lug bo die wêreld se groot stede het binne weke – nie jare nie – opgeklaar, het Bloomberg Green in Mei in ’n verslag gesê. Die Internasionale Energievereniging skat dat sowat 2,6 miljard ton se koolstofdioksied tydens inperkings nie vrygestel is nie.

Toe ’n soortgelyke, maar veel kleiner verskynsel, tydens 2009 se finansiële krisis voorgekom het, is dit gevolg deur ’n herstel wat tot ’n skerp toename in besoedeling gelei het. Die doel in die wêreld ná Covid-19 is om nog ’n aanslag van groter besoedeling te vermy. Dis hoekom daar hard met aansporings in die openbare sektor gepoog word om ’n groen-, hernubare herstel aan te spoor.

Maande nadat die Amerikaanse regering $700 miljard se bankreddingspakette oorskry het, het dit ’n aansporingspakket van nog $800 miljard aangebied wat meer as $80 miljard vir die vermindering van vrystellings, energiedoeltreffendheid en tegnologiese innovasie ingesluit het. Dié positiewe benadering tot die ontwikkeling van volhoubare ekonomiese groei het ook ’n angel in die vorm van al hoe strenger vrystellingwetgewing. Koper trek baie voordeel uit aansporings en wetgewing.

Mark Bristow, uitvoerende hoof van Barrick Gold

Volgens BMO Capital Markets help die aanvaarding van elektriese voertuie wat nodig is om aan regulatoriese teikens te voldoen, koper vanweë groter gebruik daarvan in elektriese voertuie as in binnebrandenjins. Trouens battery- elektriese voertuie gebruik sowat 3,6 keer soveel koper as petrolaangedrewe voertuie, wat hul energiedoeltreffendheid sal moet verdubbel om battery- elektriese voertuie se vrystellingstandaarde te ewenaar. As ’n wêreldwye penetrasie van elektriese voertuie van 11% teen 2025 aanvaar word, is dit gelyk aan bykomende kopervoorsiening van 3,2 miljoen ton per jaar.

Al die groot gediversifiseerde mynboumaatskappye let op koper se potensiaal, waaronder Anglo American en Glencore. Koper se belangrikheid betrek egter ook goudprodusente, wat gewoonlik nie as ’n belangrike deel van elektriese voertuie se mineraalaanbodketting beskou word nie. Dis die mening van Mark Bristow, uitvoerende hoof van Barrick Gold, die wêreld se grootste goudprodusent.

“Koper is fundamenteel die strategiese metaal van die toekoms,” sê hy in ’n onderhoud. “Dis nie soos ander metale nie: Dis taamlik gekonsentreerd, maklik om te verwerk, soos goud, en die metaal vorm ’n kerndeel van die visie vir ’n nuwe wêreld. Daar moet egter nog baie gedoen word.” Hy verwys na voorbehoude van bestaande batterytegnologie en die vermoë daarvan om energie te berg.

Groot goudprodusente gaan onwillekeurig by koperproduksie betrokke wees, volgens Bristow. Die orige tien of 11 groot bekende goudhulpbronne bevat beduidende koperreserwes in mineralisasie bekend as porfirie, sê hy. Barrick het reeds met die Kanadese maatskappy Freeport McMoRan gepraat oor die moontlikheid om sy Grasberg-afsetting in Indonesië te koop.


Is waterstofaangedrewe batterye lewensvatbaar?

Volgens SFA Oxford trek waterstofaangedrewe batterye voordeel uit ’n chemiese proses genaamd elektrolise, wat elektrisiteit gebruik om water in waterstof en suurstof te verdeel.

Die waterstof kan dan geberg en gebruik word om ’n brandstofsel, ’n statiese brandstofselstelsel, aan te dryf, of vir krag na ander toepassings, soos krag-tot-verhitting- en krag-tot-vloeistof-brandstof.

Die enigste neweprodukte van die chemiese reaksie is elektrisiteit, hitte en water, en waterstofelektrolise kan daarom ’n belangrike rol in die verbetering van plaaslike luggehalte speel en help om aardverwarming te voorkom.

Dis belangrik dat elektrolise die tegnologie is wat uiteindelik die lewering van krag aan brandstofsel- elektriese voertuie moontlik sal maak, maar dit sal waarskynlik eers as ’n energiebron dien voordat hulle in swaardiensvoertuie gebruik sal word en voordat hulle in passasiersvoertuie gewild sal raak.

SFA Oxford sê: “Om brandstofsel- elektriese voertuie geloofwaardig te maak, moet hulle dieselfde vinnige aanvulling en lang ritafstand as fossielbrandstofvoertuie behaal, en met dieselfde lae vrystellings as battery- elektriese voertuie – alles teen mededingende koste. Motorvervaardigers moet lewensvatbare waterstofbrandstofinfrastruktuur hê voordat hulle vir die ontwikkeling van mededingende brandstofselvoertuie kan sorg.” Dit keer nie die innoveerders nie.

Angelo Kafantaris, uitvoerende hoof van Hyperion Companies van Los Angeles, het aan Bloomberg News gesê sy maatskappy kan ’n supermotor bou wat met waterstoftegnologie 60 km/h binne 2,2 sekondes sal haal en 1 000 myl sal kan ry voordat die brandstof op is. “Ons dink aan wat die top- waterstofmotor sal wees,” sê Kafantaris. “Dié motor moet die skoonheid van waterstof wys.”

Tesla se siening? “Verstommend onnosel,” het Elon Musk, uitvoerende hoof, onlangs in ’n onderhoud gesê en genoem hoe moeilik dit is om waterstof te berg. Daar is net 44 waterstofvulstasies in Amerika, meestal in Kalifornië, terwyl verbruikers net drie waterstofmodelle het om uit te kies – wat tans deur Honda, Hyundai en Toyota gemaak word. Amerikaanse verbruikers het sover sowat 8 000 waterstofaangedrewe motors gekoop, en die verkope het verlede jaar afgeneem. 


En die verloorders is ...

As nikkel, koper, mangaan en selfs vanadium en kobalt die wenners in die nuwe wêreld van koolstofneutraliteit is, moet daar ook verloorders wees. Dus dié minerale wat die era van nywerheidsfabriekskoorstene verteenwoordig.

Termiese steenkool val beslis in dié kategorie, maar ook sy susterselement, metallurgiese steenkool, volgens Mark Cutifani, uitvoerende hoof van Anglo American.

“Ek reken die oorskakeling weg van termiese steenkool sal onverpoos voortgaan,” sê hy in ’n onderhoud met finweek. “Ons dink nog dat metallurgiese steenkool ’n goeie toekoms het, maar teen 2035 sal dit daar ook moeiliker raak, want waterstoftegnologie sal in staalvervaardiging oorneem,” sê hy.

Die herwinning van staal, pleks van die vervaardiging van nuwe materiaal, kan ook die ysterertsproduksie op langer termyn beïnvloed – wat waarskynlik vir Kumba Iron Ore, ’n JSE-genoteerde maatskappy waarin Anglo ’n belang van 70% het, kwel.

Themba Mkwanazi, uitvoerende hoof van Kumba Iron Ore, meen egter dat sy maatskappy in ’n goeie posisie is danksy die gehalte van sy hulpbronne. Hy het aan finweek gesê die oorgang na ’n laevrystelling-ekonomie sal veroorsaak dat staalprodusente, veral in China, ystererts van hoër gehalte – ’n steutelbestanddeel in staalvervaardiging – sal uitsoek.

Kumba produseer klonterige ystererts met ’n ysterinhoud van 64% wat doeltreffend in smeltoonde smelt en ’n kleiner koolstofspoor het. Die ander graad ystererts – fyn – benodig sintering om doeltreffend te smelt.

“Strukturele faktore ondersteun ’n oorskakeling na gehalte,” het hy ná die aanbieding van die maatskappy se tussentydse resultate in Julie gesê. “Eerstens word hoogoonde groter, en dis goed vir klonterige erts. Tweedens moet China – waarheen Kumba omtrent twee derdes van sy produksie uitvoer – aan lugbesoedelingsteikens voldoen, wat premiumerts ondersteun.” Kumba kan tans ’n premie van $10 per ton vir sy produksie kry. 

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za

* Foto’s: Gallo/Getty Images, Shutterstock, www.sibanyestillwater.com, www.angloamericanplatinum.com, www.twitter.com/paulatherley2

Meer oor:  Wêreldekonomie  |  Tesla  |  Groenkrag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.