Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Mick Davis: ’n Geskiedenis van staalharde vasbeslotenheid
5 November 2020
Mick Davis, Britse politikus en voormalige SA sakeman en uitvoerende hoof in die mynbedryf

Dit gebeur nie dikwels dat Mick Davis, wat in 2015 deur die Britse koningin tot ridder geslaan is, ’n poephol genoem word nie – minstens nie in sy gesig nie. Dis waar Bernard Swanepoel inkom.

Dié voormalige uitvoerende hoof van Harmony Gold en Davis het vroeg in hul onderskeie loopbane in die vroeë 1980’s ontmoet. “Toe ek jou die eerste keer by General Mining ontmoet het, het ek gedink jy is ’n poephol,” sê Swanepoel met die aanvang van ’n aanlyn vraag-en-antwoordsessie tydens die Joburg Indaba, waarvan hy die sameroeper is en waar Davis ’n glansnommer was.

“Tot ek jou leer ken het en besef het jy is ’n slim poephol.” As Davis onthuts was, het hy dit nie gewys nie en sy reputasie as ’n koel kalant só gestand gedoen. ’n Voormalige kollega onthou hoe ongemaklik ’n werkverwante ete saam met Davis afgeloop het; byna in algehele stilte, met gesprekvoering stram en sekerlik nie deur Davis aangemoedig nie.

Staaltjies soos dié het gemaak dat Davis ’n reputasie opgebou het dat hy ysig koud is, ’n beskouing aangehelp deur sy (uiters suksesvolle) bestuurstyl, wat behels het dat bestuursfunksies gedesentraliseer en verantwoordelikheid na die mynbedrywighede gedelegeer is. In ’n reguit onderhoud met Fiona Perrott-Humphrey, ’n bankier vir die Britse bankiers Rothschild & Co, het Davis kortliks verwys na iets wat hy so goed as erken het ’n karakterfout is.

“Een van die grootste uitdagings as jy jare lank suksesvol was, is arrogansie. Die arrogansie van sukses dat jy nie alleen oortuig is jy doen als reg nie, maar ook oortuig is almal wat na jou kyk dink ook jy is reg,” sê hy. Die mees veelseggende oomblik waar dit vir Davis gebeur het, was dat hy onderskat het hoeveel weerstand beleggers sou bied teen ’n uitbetaling- en aansporingskema van £240 miljoen wat hy in 2012 voorgestel het.

Die skema was vir werknemers van sy maatskappy Xstrata ná dié se samesmelting (of oorname, soos party dit noem) van £60 miljard met Glencore, ’n hulpbronmaatskappy en -handelaar met sy hoofkantoor in Switserland. As deel van die pakket sou Davis die voordeel van ’n retensiebedrag van £29 miljoen oor drie jaar as aansporing ontvang sodra die saamgesmelte maatskappy, wat hy sou bestuur, die lig sien.

Die aansporingskema het nooit gebeur nie en ná vier maande se bitter getwis en ’n uitval met Ivan Glasenberg, Glencore se uitvoerende hoof, is Davis weg by die maatskappy – ’n verloop van sake wat hy as ’n laagtepunt in sy loopbaan beskryf. “Die allerlaagtepunt was ongetwyfeld die uiteindelike samesmelting of oorname deur Glencore van Xstrata. Als wat ek opgebou het, is basies van my weggeruk en dit was moeilik om te verwerk,” sê hy. Of Davis inderdaad daarvan herstel het, is ’n ope vraag.

Ivan Glasenberg, uitvoerende hoof van Glencore

Hy het in 2016 weer sy verskyning gemaak met ’n private aandelefonds waarin hy destyds $500 miljoen dollar ingesamel en moedswillig X2 Resources gedoop het om op sy vorige sukses by Xstrata te sinspeel. Maar X2 Resources het in 2017 toegemaak sonder om ’n enkele belegging te doen; as rede is ’n gebrek aan goeie geleenthede aangevoer. Davis beskryf sy loopbaan as een van onvervulde ambisie. As ’n jong ouditeur het hy gevoel hy moet ’n vennoot gemaak word, maar die bestuur het gemeen hy is te jonk. Ná ’n tyd lank as Eskom se finansiële direkteur in die 1990’s is hy “oor die hoof gesien” vir die pos as uitvoerende hoof, waarop hy bedank het.

Hy was in sy middel dertigs. Toe kom sewe “fantastiese” jare as finansiële hoof van Billiton, waar hy met die ewe ambisieuse Brian Gilbertson kragte saamgesnoer het. Die twee het die maatskappy na ’n notering op die Londense beurs in 1997 gevoer – een van die eerste groot SA maatskappye wat dit gedoen het – gevolg deur ’n samesmelting met BHP van Australië om die grootste mynmaatskappy van destyds te skep. “Vier mense maak daarop aanspraak dat hulle Billiton Londen toe geneem het: [Brian] Gilbertson, ek, Adrian Coates [’n bekende bankier in Londen, destyds by HSBC] en Davis,” sê Ian Hannam, ’n voormalige bankier van JP Morgan.

“Die antwoord is: dit was Davis. Hy het die geleentheid raakgesien en het Gilbertson oorreed dat dit ’n platform sou skep om ’n nuwe maatskappy op te bou om teen Rio Tinto mee te ding.” Die Suid-Afrikaners se aankoms op die Londense aandelebeurs het onvleiende opmerkings onder die plaaslike inwoners ontlok. ’n Artikel van 2006 deur The Guardian haal ’n fondsbestuurder aan wat onthou toe die bestuurshoofde van Billiton in die stad aangekom het: “Ek het dié ouens in hul lelike Suid-Afrikaanse pakke en vreemde haarstyle só gekyk en gedink: ‘Dié ouens sal nie die paal haal nie’. Ek kon nie meer verkeerd wees nie!”

Trouens, nie net het Davis – saam met Gilbertson en die span – Billiton in ’n toonaangewende mynmaatskappy omskep nie, maar is ook in die hoogste sosiale kringe in Brittanje opgeneem, eers as ’n skenker aan die Konserwatiewe Party en later as die party se penningmeester en uitvoerende hoof. Die kersie op die koek was egter toe hy op aandrang van die destydse eerste minister, David Cameron, tot gewone ridder geslaan is weens sy werk ter herdenking van die Joodse slagting en bevordering van die onderwys.

Davis beskryf dié oomblik as “totaal onvoorsiens”, aangesien hy nie gevoel het hy het iets gedoen om dit te verdien nie. “Ek het oorweldig gevoel, soos almal seker met wie dit gebeur . . . maar dit was nogtans ’n wonderlike ervaring en die seremonie by die Windsor-kasteel, was baie spesiaal.” Hy voeg egter by dit lyk nie of dit iets verander aan hoe mense oor hom voel nie (Bernard Swanepoel ingesluit!). “My vrou sê sy was ’n dame nog voordat ek amptelik ’n ridder was”.

’n Dinamiese transaksieknope

r Die mynbedryf ken Davis as ’n transaksieknoper, gewoonlik uiters suksesvol. As uitvoerende hoof van Xstrata, ’n maatskappy wat in 2002 in Londen genoteer het, het Davis aan meer as 40 transaksies deelgeneem. Een wat nie die paal gehaal het nie, was die “samesmelting van gelykes” ter waarde van £41 miljard met Anglo American, destyds onder leiding van Cynthia Carroll.

Carroll het vernuwing na die muwwe Anglo-verhoog gebring, veral ’n onverdraagsaamheid jeens mynsterftes, op ’n manier die voorloper van die hedendaagse beleggingsfokus op omgewings-, maatskaplike en bestuurstoesig (OMB). Op ander terreine het die maatskappy egter swaargekry: hy het te veel betaal vir ’n groot ysterertsneerslag in Brasilië en verder ook belangrike tegniese vaardighede verloor. Davis het bloed geruik, maar aandeelhouers het teen die samesmelting gestem en Anglo se direksie het laer getrek om Carroll om die gedagte van ’n nulpremiesamesmelting te troef, iets wat Glencore later nagevolg het in sy samesmeltingsvoorstel aan Xstrata.

Hoewel hy nie noodwendig ’n terugkeer na groot transaksies bepleit nie, glo Davis nogtans dit sal mynmaatskappye se waardasies later knou as hulle nie genoegsaam in groei belê nie.

Nieteenstaande dié terugslag, en sy omstrede uittrede by Glencore-Xstrata, neig Davis se reputasie as ’n aggressiewe, groeigerigte ryksbouer om te bly steek. Vandag, sê hy, het die mynbedryf moontlik tydelik ontspoor. Hoewel hy nie noodwendig ’n terugkeer na groot transaksies bepleit nie, glo Davis nogtans dit sal mynmaatskappye se waardasies later knou as hulle nie genoegsaam in groei belê nie.

Volgens PwC was daar in 2019 sewe ‘megatransaksies’ van meer as $1 miljard, maar nog net drie tot dusver vanjaar, wat daarop dui dat mynmaatskappye versigtiger ingestel is en eerder op dividende konsentreer – en miskien te veel klem daarop lê om beleggingsbestuurders se korttermyn-opbrengsdoelwitte te behaal eerder as om die ertsliggame wat hulle myn se langtermynverpligtinge na te kom.

Davis waarsku dit kan ‘n fout wees. “Die groot mynmaatskappye het aan hul basiese uitgawes aandag gegee en goeie werk gedoen; hulle is gevolglik nou veerkragtiger,” sê Davis. Deur voorlopig nie te investeer nie, voldoen mynbestuur aan die beleggingsgemeenskap se behoeftes. “Daarin lê ons grootste uitdaging vorentoe. Direksies en bestuurspanne konsentreer nie op dié baie eenvoudige probleem nie: Hulle haal daagliks iets uit die grond uit en doen jy niks om dit te vervang nie, gaan jy op die ou end kwyn.”

Kostebesparings bring ‘effense waarde, maar investering bring meer waarde. “Die vermoë om waarde te skep, hang af van die opsies wat jy in jou portefeulje beskikbaar het,” sê hy. “My vrees is dat dié groot fokus daarop om aan aandeelhouers kontant terug te gee in die vorm van dividende en kapitaalopbrengste, nie genoegsaam rekening hou met die noodsaaklikheid van herinvestering nie en dus nie opsionaliteit skep nie,” sê hy voorts.

Varda Shine, direksielid van Niron Metals en voormalige bemarkingshoof van De Beers

Die huidige fokus

Min is bekend oor die begunstigdes agter Niron Metals wat in 2018 in Brittanje geregistreer is, maar Davis het as sy mede-vennote vir Varda Shine, voorheen ’n bemarkingsbestuurder by De Beers, en die Griekse fondsbestuurder Marcos Camhis. Dié keer beplan Davis nie ’n nuwe ronde groot transaksies nie; hy wil eerder op kleiner beleggings van ’n organiese aard konsentreer.

Marcos Camhis Direksielid van Niron Metals

Niron Metals het Davis egter opnuut in omstredenheid gedompel weens sy samewerking met Beny Steinmetz van die berugte Beny Steinmetz Group Resources (BSGR), ’n maatskappy wat in 2018 ná ’n lang geveg sy arbitrasiesaak van $2 miljard teen die Brasiliaanse mynmaatskappy Vale verloor het. Die regsgeding het verband gehou met bestrede mineraalregte vir die ontginning van ystererts in Guinee, Wes-Afrika. ’n Lokval het onlangs ‘bewys’ dat ’n voormalige bestuurshoof van Vale geweet het van die risiko’s wat by Guinee se ystererts betrokke is voor Vale se investering saam met BSGR, en dis waaroor die hofsaak gegaan het.

Of so beweer Steinmetz. Steinmetz hoop om die saak te hervat. ’n Soortgelyke arbitrasie tussen BSGR en die regering van Guinee is in 2019 skielik beëindig, toe die twee kante ooreengekom het Beny Steinmetz sal die Zogota-ysterertsneerslag in die plek daarvan ontwikkel. Die uitdaging vir Niron Metals: ’n maklike taak is dit nie.

Die privaat sektor misluk keer op keer met die logistiek vir vragvervoer en ontginning in dié voormalige kolonie van Frankryk. Davis voorsien egter nie noodwendig ’n terugkeer na grootskeepse korporatiewe werk nie; nie as ’n swanesang of ’n groot gebaar om die bedryf vaarwel toe te wuif, of iets van dié aard nie. Dit is in elk geval onseker of Davis se snelvuur-groeistyl nog aansien geniet.

Beleggers wat 20% van Rio Tinto se aandeelhouers verteenwoordig, het ferm “nee” gesê vir dié Anglo-Australiese groep se keuse van Davis as voorsitter in 2017. Luidens destydse berigte het aandeelhouers gesidder by die gedagte aan retensie- en aansporingsbedrae wat in die Glencore-Xstrata-transaksie sy ondergang bewerkstellig het.

Davis erken tye het verander. Dat OMB ’n belangrike maatstaf vir beleggings in die mynbou geword het, is ’n ingrypende verandering en weerspieël ontwikkelings in die breër samelewing. “Ek vind my kinders het ’n veel groter maatskaplike bewustheid, ’n sosiale gewete, as wat ek miskien gehad het toe ek hulle ouderdom was,” sê hy. “Hulle is baie meer daarop ingestel om gemeenskapsbelange te dien as net self meer geld te probeer maak, en sulke goed. En dis baie edel.”

As uitvoerende hoof van Xstrata, ’n maatskappy wat in 2002 in Londen genoteer het, het Davis aan meer as 40 transaksies deelgeneem.

Wat mynbou in die algemeen betref, het die sektor nog nie herstel van die kapitaaloorbesteding en daaropvolgende ineenstorting van die sogenaamde Chinees-geïnspireerde supersiklus nie. Van ongeveer 2000 het China se ekonomie jaar ná jaar dubbelsyfer- BBP-groei aangeteken, wat vraag aangespoor het tot met die finansiële en ekonomiese krisis van 2008.

Dié tydperk van enorme groei en ineenstorting het ’n suur smaak in die beleggersmond gelaat, maar was ook ’n katalisator in die samelewing vir negatiewe standpunte oor die mynbousektor en die wêreld van groot kapitaal tegelyk, terwyl omgewingsbewustheid verskerp het. Weens die gebrek aan handelsmerkontwikkeling is die bedryf taamlik geïgnoreer, met die gevolg dat die sektor nie genoeg jong talent kon trek nie. Davis sien die saak egter anders.

“Vir die vooruitgang van die mensdom is hulpbronne lewensnoodsaaklik; dit is waarop ons moet konsentreer en wat ons moet demonstreer,” sê hy. “Ons hoef nie skaam te wees vir hoe ons ons omgewingsimpak bestuur as ’n bedryf nie. Daar is sekere maatskappye wat hulle moet skaam, maar ons as ’n bedryf hoef ons nie te skaam vir hoe ons die saak aanpak nie. Ek meen daar is ’n wonderlike verhaal om te vertel en ons moet dit gaan vertel.” “Dankie, sir Mick,” val Swanepoel hom in die rede – wat ’n mens so uit die perd se bek as groot lof kan beskou!

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za

* Foto’s: Gallo/Getty Images; www.fosassetmanagement.com

Meer oor:  Mick Davis  |  Finweek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.