Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Micra Acenta Plus Tech: Swier, maar krag stel teleur
7 November 2019
Die nuwe hoekige ontwerp verleen ’n meer kontemporêre gevoel aan die Micra.

Nissan se klein stadsjapie, die Nissan Micra, het ’n volledige opknapping in stilering ondergaan; binne sowel as buite. Hy lyk meer modern en dit behoort die Micra te help om effektief in sy mark mee te ding (onder andere met die Ford Fiesta, Toyota Yaris en die VW Polo).

Dit is ’n hoogs mededingende segment van die mark. finweek het die top in sy reeks, die Micra Acenta Plus Tech getoets. Dit is ’n klein motortjie met talle van die tierlantyntjies wat in groter, premuimmotors gevind word.

Nuwe, hoekige vorm

Daardie ronde, brulpadda-voorkoms van sy voorganger is iets van die verlede. Hy lyk nou skerper, en is ’n kontemporêre stadsmotor met slanker, vloeiende lyne. Die enjinkap is korter, en die A-pilaarhoek kleiner.

Die kopligte se ‘V-motion’-sierrooster vertoon ook nuut. ’n Swierige daklyn, geïntegreerde deurhandvatsels agter, ’n dakdrukvin agter en nuwe boemerang-vormige stertligte rond die hoekiger ontwerp af. Die vyfde-generasie-Micra is ook effens langer en breër, wat passasiers- en kattebakruimte vergroot.

Luukse binnekant

Aan die binnekant, spog hy ook met ’n nuwe voorkoms. Die Micra Acenta Plus Tech kom met helder materiale in die binnekant, soos materiaalsitplekke in gebrande oranje en ’n veelkleurige instrumentpaneel.

Die rathefboom, handrem en multifunksie-knopstuurwiel het leeroortreksels, en die hoogte van laasgenoemde kan ook verstel word. Dis ’n goed geboude klein motortjie en selfs die sintetiese materiaal wat gebruik word, is werklik van goeie gehalte; wat alles daartoe bydra om hierdie karaktervolle vleuelrug soos ’n premiummotor te laat voel.

Daar is baie premiumkomponente in dié klein stadsmotortjie en bykans alles is standaard, onder meer misligte, dagryligte, elektriese vensters voor, spoedbeheer, outomatiese kopligte, ses lugsakke, aansitknoppie, outomatiese sluiting en vierluidspreker-oudiostelsel. Prop jou slimfoon in en konnektiwiteit is gedek. ’n Seweduim-kleurraakskerm bied toegang tot kenmerke soos musiek, boodskappe en landkaarte deur middel van Apple CarPlay, benewens MP3, USB en Bluetooth.

En Siri word geaktiveer vir stembeheer-opdragte met die druk van ’n knoppie op die stuurwiel. Integrasie is glad. Ook standaard is kenmerke soos Nissan se intelligente mobiliteitstegnologie. Bestuurshulpmiddels sluit in botsvoorkoming van voor, blindekol-waarskuwing en 360°-kameras voor, agter en van bo om parkering te vergemaklik.

En ’n kleiner, vyfduim-Nissan ryhulpvertoon, wat in die instrumentpaneel in die bestuurder se siglyn geleë is, bied die bestuurder belangrike inligting aangaande die motor en die rit. Benewens al die tegnologie en bestuurshulp, bied die motor baie veiligheidskenmerke, onder meer ses lugsakke, sluitweerremstelsel, elektroniese stabiliteitsbeheer, Isofix-kindersitplekkoppeling en truremhulp.

Benewens die premium- aanbiedings, spog hy ook met besonder funksionele ruimte. Die kajuit bied ruim been- en kopruimte vir passasiers agter, en die bagasiebak het ook voldoende ruimte. ’n Handige kenmerk is die intelligente sleutel wat jou in staat stel om die deure oop en toe te sluit deur die swart knoppie op die deur of agterklap te druk.

Die motor is met ywer in stedelike verkeer en in heuwelagtige terrein bestuur en het nogtans 5,7 liter/100km gehaal.

Nissan se nuwe Micra Acenta Plus Tech is ’n stadsvoertuigie met ’n lewendige voorkoms.

Rydinamika

Die Micra Acenta Plus Tech het groter 17”-allooiwiele wat hom besonder vas op die pad maak. Die stuur is gevoelig en draai glad. Die laer, knus sitplekke is gerieflik. En die rit is ferm en gerieflik. Dit is stewig op die pad en nogal rats om draaie. Gehalte verseker ’n rit sonder ’n gerammel of geraas. Die kajuit is goed geïsoleer wat uitstekende beskerming teen wind- en padgeraas bied.

En nou die kern van die saak: prestasie. Klein, turbo-aangejaagde enjins bied beter prestasie terwyl hulle steeds goeie brandstofverbruik handhaaf. Deesdae kom hierdie enjins algemeen voor in klein motortjies. Party enjins is egter doeltreffender as ander.

Die Micra se 1-liter-, 3-silinder-turbopetrol-enjin, wat met ’n vyfgang-handrattransmissie gepaar is, vaar goed op gelyktes. Maar hy is futloos wanneer hy op steiltes moet presteer. ’n Mens moet die heeltyd na ’n laer rat oorskakel, maar selfs in tweede rat – waar jy baie wringkrag verwag – is daar heelwat turbosleur. Dit het nie beïndruk nie.

En die enjin jaag die omwentelings al hoër en hoër op. Die ratte verander egter glad, en die brandstofverbruik het beïndruk. Die motor is met ywer in stedelike verkeer en in heuwelagtige terrein bestuur en het nogtans 5,7 liter/100km gehaal. En hy het ’n verbysterende 4,0 liter/100km op ’n reguit pad en afdraande gehaal. Heel indrukwekkend! Sy prys is egter moeilik om te sluk.

Ja, hy het alles wat oop en toe maak (en wat dikwels nie standaard is op klein motortjies nie) en dit is ongetwyfeld ’n goeie gehalte-koop. Maar teen meer as R300 000 is dit nie goedkoop nie. Nadat ek die toets voltooi het, het ek gemengde gevoelens gehad oor die Nissan Micra Acenta Plus Tech. Hoewel die gehalte en die stewige gevoel van die motor op die pad ’n groot pluspunt is, is ek nie daarvan oortuig dat al die premium-aanbiedings en tegnologie genoeg is om vir sy swak prestasie te vergoed nie. Ek het nie ’n renperd verwag nie, maar ook nie ’n ou knol nie.

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za

Getoets: Nissan Micra Acenta Plus Tech

Enjin: 898cc 3-silinder-, turbopetrol-enjin

Krag/Wringkrag: 66 kW/140 Nm

Transmissie: 5-gang-handrat 0-100 km/h: 12,1 s.

Topspoed: 170 km/h

Brandstof (na bewering gekombineerd): 5,1 liter/100 km

CO2-emissies: 115g/km

Brandstoftenk: 41 liter

Draaisirkel: 10,3 m

Kattebakkapasiteit: 300 liter, kan vergroot word tot 1 004 liter

Veiligheid: Ses lugsakke; bestuurder-, passasier-, kant- en gordynlugsakke

Waarborg/diensplan: 6 jr./150 000 km- waarborg en 3 jr./90 000 km-diensplan

Prys: R305 900

Meer oor:  Nissan Micra  |  Finweek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.