Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Mike Teke se groot planne vir Seriti
15 Maart 2018
Mike Teke, uitvoerende hoof van Seriti Resources.

Seriti Resources het onlangs ’n aantal steenkoolmyne van Anglo American opgeraap, en het ook ’n oog op Optimum Coal. Geld kan egter ’n uitdaging wees.

Mike Teke, voormalige president van die Kamer van Mynwese, was effens ontwykend toe hy op 1 Maart gevra is of die konsortium Seriti Resources, waarvan hy nou die hoof is, die kans op ’n aanvanklike openbare aanbod sal aangryp – ’n notering, met ander woorde.

“Dit is te vroeg om daaroor te praat,” het hy gesê. “Ons sal ons opsies bekyk voordat ons ’n besluit neem. Ons voorlopige doel is om die myne wat ons gekoop het behoorlik te vestig.”

Die myne wat Seriti by Anglo American gekoop het, is New Denmark, Kriel en New Vaal. Saam verskaf hulle 24 miljoen ton steenkool per jaar aan Eskom, wat ’n kwart van die land se krag uit dié steenkool opwek.

Seriti het die myne vir die koninklike bedrag van R2,3 miljard by Anglo gekoop en in ’n afsonderlike transaksie ook New Largo – ’n projek vir die ontginning van termiese steenkool waarop Eskom swaar sal steun.

Sonder New Largo sal Eskom sukkel om sy nuut geboude kragstasie in Mpumalanga, Kusile, teen sy nominale vermoë van 4 800 MW te bedryf.

Dit is dus noodsaaklik dat Seriti homself korrek sal kapitaliseer. Sy finansiers het verseker baie geld. Naas Teke se Masimong Holdings is daar Anna Mokgokong se Community Investment Holdings en Zungu Investment Company wat aan Sandile Zungu behoort, ’n veteraan van swart ekonomiese bemagtiging (SEB).

Die vereiste kapitaalbesteding vir New Largo word egter op ’n verbluffende R20 miljard gestel. Wat die voormalige Anglo-myne betref, is dit miskien ’n lastige probleem. Volgens Doug Gain, uitvoerende hoof van Masimong Holdings, is Eskom kragtens die steenkoolverkoopsooreenkoms wat Anglo aan Seriti oorgedra het, kontraktueel daartoe verbind om die ondersteuningskapitaal te verskaf.

Sonder New Largo sal Eskom sukkel om sy nuutgeboude kragstasie in Mpumalanga, Kusile, teen sy nominale vermoë van 4 800 MW te bedryf.

Of die nutsmaatskappy dié kapitaalverpligting sal kan nakom, is egter ’n vraag. Exxaro wag byvoorbeeld op die R1,8 miljard wat Eskom beloof het om in sy Matla-steenkoolmyn in te ploeg ten einde uitgeputte hulpbronne te vervang en steeds die 10 miljoen ton per jaar te voorsien soos die kontrak bepaal.

Daar is ook die kwessie van Optimum Coal Mine. Dit is die termiese steenkoolmyn wat aan die Gupta-familie se Tegeta Resources & Exploration behoort. Die myn, ontneem van kapitaal, is nou in sakeredding. Teke het aan finweek gesê hy is baie gretig om Optimum te koop en mens kan sien hoekom: die moontlik knellende rehabilitasieverpligtinge vir ’n oomblik tersyde, finansiering daarvoor bestaan miskien nie meer vir Optimum nie indien die rehabilitasiefonds geplunder is, soos bespiegel word.

Optimum se Pullenshope-myn in Mpumalanga.

Die feit is dat Optimum se steenkoolverkoops-ooreenkoms met Eskom in Desember verval. Wie ook al die myn besit, sal nie langer ’n kontraktuele verpligting teenoor Eskom hê nie en sal bepalings kan neerlê. Die eienaar kan byvoorbeeld besluit om aan die uitvoermark te voorsien deur van die afdwingbare aanspraak gebruik te maak wat Optimum Coal Mine (die maatskappy) deur die Richardsbaaise steenkoolterminus het, gelykstaande met 6% van totale vermoë.

Die veel besonge verkoop van die uitvoerreg deur Tegeta aan die duidelik fiktiewe Charles King, ’n maatskappy met ’n adres in Lausanne, Switserland, het nooit plaasgevind nie, het bronne aan finweek gesê.

“Daar is steenkool in die grond,” antwoord Teke op die vraag of Optimum die moeite werd is om te bedryf ná twee jaar onder die Guptas.

Inderdaad. Optimum het ’n enorme voetspoor van sowat 32 km van kant tot kant, gelykstaande met 37 000 hektaar van Mpumalanga se grondgebied, luidens ’n berig deur BusinessLive. Boonop was Teke die uitvoerende hoof van Optimum Coal voordat dit deur Glencore gekoop is.

“Dié man ken Optimum,” sê Mokgokong.

Maar als gaan geld kos. Teke sê die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (NOK) is deel van die New Largo-transaksie en sal vanselfsprekend geld vir die ontwikkeling van die projek voorskiet; die NOK kan selfs ’n deel van sy balansstaat aan Optimum toewy al eis hy in ’n hofsaak R300 miljoen van gelde wat in die verlede aan die Gupta-familie geleen is. Thebe Investment Corporation is ’n ander Seriti-aandeelhouer.

Daar is egter perke, veral in die lig van Teke se strewe dat Seriti deur verkrygings na ander kommoditeite moet beweeg. (Hy het verlede jaar aan finweek gesê Seriti kan ’n nasionale mynboukampioen word, op dieselfde lees geskoei as Anglo American.) Verwag gerus om Seriti gouer eerder as later op die beurs te sien.

*Stuur ’n e-pos aan terugvoer@finweek.co.za.

Foto's: Gallo Getty Images/Waldo Swiegers/Bloomberg

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.