Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Miljoene werksgeleenthede moontlik
27 Augustus 2020

Die versnelde digitalisering wat Covid-19 weens inperkings en sosiale distansiëring meegebring het, sal die miljoene werksgeleenthede wat oral ter wêreld verloor is in permanente werksverliese omskep, tensy die internasionale werksmag vinnig die nodige vaardighede verwerf om nuwe tegnologieë te hanteer.

Die tegnologiereus Microsoft waarsku dis van wesenlike belang om dié oorgang te bewerkstellig ten einde te herstel van die ergste wêreldresessie in minstens agt dekades, wat 250 miljoen mense vanjaar werkloos kan laat. Die pandemie laat die kollig ongenaakbaar val op ’n wêreldwye vaardigheidsgaping, wat voor die pandemie reeds ál groter geword het, sê die maatskappy.

“Krisisse kry dit reg om tendense wat reeds begin het, vinniger te laat beweeg – die Covid-19-pandemie is duidelik geen uitsondering nie. Ons data toon dat digitale transformasie wat twee jaar se vordering werd is, in die afgelope twee maande ingedruk is,” het Microsoft op 30 Junie gesê. In die laaste weke van Maart alleen was daar soveel breëbandverkeer as wat in ’n volle jaar verwag sou kon word, sê die maatskappy verder.

Tegnologieë wat deur kunsmatige intelligensie (KI) aangedryf word, het ’n tydperk van outomatisasie en ontwrigting ingelui wat nou algemeen as die vierde nywerheidsrevolusie beskryf word (4NR) en wolkverwerking, robotika, gevorderde draadlose tegnologieë en die Internet van Dinge behels. Selfs in ontwikkelende lande is daar egter ’n tekort aan vaardighede om die oorgang te hanteer, deels omdat maatskappye die afgelope twee dekades minder in opleiding geïnvesteer het.

Microsoft voorspel die wêreldwye werksmag kan oor die volgende vyf jaar 149m. nuwe tegnologie-gerigte poste absorbeer.

In Suid-Afrika is die probleem akuut, want in openbare sowel as private hoëronderriginstellings word tegnologie onderbeklemtoon. Verlede jaar was SA 49ste uit 63 op die ranglys van digitale mededingendheid (World Digital Competitiveness Ranking), ’n maatstaf wat deur die Internasionale Instituut vir Bestuursontwikkeling ingestel is. In ’n indeks van internasionale vaardighede wat deur die sagtewareontwikkelingsmaatskappy Consera saamgestel is, is SA ver agter wat algemene bevoegdheid in datawetenskap betref – 44ste uit 60 lande.

Dis ontstellend, gegewe die bloedbad in plaaslike werksgeleenthede wat ekonome vrees SA se amptelike werkloosheidsyfer tot so hoog soos 50% kan opstoot. Politici praat en praat oor voorbereidings vir die 4NR, maar het lank gevat om met ’n digitale strategie na vore te kom en sal waarskynlik nog langer vat om dit in werking te stel, as ’n mens die regering se swak prestasierekord met strukturele hervorming in ag neem. “Dit is nou, meer as ooit tevore, noodsaaklik dat die SA regering, private sektor, nieregeringsektor en landsburgers saamwerk om mense se vaardighede vir ’n ontwrigtende, digitale toekoms op te skerp," sê Barry Vorster, hoof vir mensehulpbrontegnologie, transformasie en kultuur by PwC.

“Die ou benadering vir ’n nasie se welvaart was om ekonomiese ingrypings in werking te stel in die hoop dat dit werkskepping en groei sal stimuleer. Vandag behoort ons benadering egter te wees om mense toe te rus met die vaardighede wat hulle benodig om te innoveer en daardeur werk en voorspoed te skep, gemeet in finansiële sowel as mensekapitaal.”

Een van die grootste struikelblokke vir die bekendstelling van nuwe tegnologie in SA is die vrees dat werksverliese onvermydelik sal volg wanneer handvaardighede en ambagsberoepe verouderd raak en arbeidsintensiteit afneem. Die nagevolge van Covid-19 maak dit egter onmoontlik om die oorgang verder uit te stel, anders sal sakeondernemings toenemend onmededingend raak, wat werkloosheid sal vererger en toekomstige werkskepping nog moeiliker maak. “Digitalisering en tegnologie is ’n tweesnydende swaard vir ’n land soos SA,” sê Dobek Pater, direkteur van sakeontwikkeling by die IKT-konsultantmaatskappy Africa Analysis.

“Ons gaan enersyds meer outomatisering in die sakewêreld sien, wat werksverliese gaan meebring. Andersyds skep digitalisering ’n klomp nuwe werksgeleenthede; hier in die land self sowel as om internasionaal te werk vanuit SA. Dis egter eenvoudig nie toeganklik as jy nie die tegnologie en vaardighede in plek het nie.”

Met die regte beleid en sakeomgewing kan nog 100 000 uitvoerposte vir wêreldwye sakedienste teen einde 2023 geskep word en ’n halwe miljoen teen 2030, aldus SADA.

Microsoft voorspel die wêreldwye werksmag kan oor die volgende vyf jaar 149 miljoen nuwe tegnologie-gerigte poste absorbeer, in bedryfstakke wat strek van voedselproduksie tot gesondheidsorg en vervaardiging. Daar sal ’n ontploffing van werksmoontlikhede wees in sagtewareontwikkeling, dataontleding, masjienleer, wolk- en datarolle, en kubersekuriteit.

SA is nie heeltemal ’n buitestander wat digitale transformasie betref nie. John Purchase, uitvoerende hoof van Agbiz, sê boere gebruik al jare lank satelliete en hommeltuie om oeste en vrugteboorde te monitor, terwyl presisieboerdery toenemend gebruik word om produksie doeltreffender en volhoubaarder te maak. Talle voorsieningskettings raak gedigitaliseer namate naspeurbaarheid noodsaaklik word vir biosekuriteit, voedselsekerheid en verbruikerskeuses – SA se wolbedryf is volledig gedigitaliseer en alle verhandelde lotte kan nou met die gebruik van blokkettingtegnologie nagespeur word, sê hy.

Die wolbedryf is verlede jaar genooi om tegnologie en konsepte wat die bedryf ontwikkel het, met die EU te deel. Niks hiervan het werkskepping in die sektor belemmer nie. In die afgelope agt jaar het indiensneming in primêre landbou sowel as landbouverwerking met sowat 20% toegeneem – ondanks ernstige droogtes en voortslepende onsekerheid oor grondonteiening.

“Aangesien ons ’n netto uitvoerder is van byna die helfte van als wat ons produseer, benodig ons gedigitaliseerde en doeltreffende waardekettings om aan die voorpunt en internasionaal mededingend te bly,” sê Purchase. Finansiële dienste en versekeringsmaatskappye is onder dié wat nuwe tegnologie omarm. In die regeringsektor is net die SA Inkomstediens (SAID) egter gedigitaliseer, met binnelandse sake wat in ’n mate ondersteuning deur plaaslike banke ontvang. Selfs met minimale vaardighede is daar egter maniere waarop Suid-Afrikaners hulle by die digitale ekonomie kan aansluit, luidens ’n verslag getitel South Africa in the Digital Age (SADA), wat Genesis Analytics en die Gordon Institute of Business Science saamgestel en in Januarie uitgereik het.

Die verslag identifiseer wêreldwye sakedienste (WSD) wat reeds aan 250 000 Suid-Afrikaners werk verskaf, meer as dubbel soveel as wat in die motorvoertuigsektor in diens is. Hiervan bedien 50 000 reeds die buitelandse vraag en werksgeleenthede groei teen 24% per jaar, luidens die verslag. Met die regte beleid en sakeomgewing kan nog 100 000 WSD-uitvoerposte teen einde 2023 geskep word en 500 000 teen 2030, lui SADA. ’n SA matriekkwalifikasie is voldoende om te kwalifiseer as dit op groot genoeg skaal deur slim en doeltreffende opleiding gerugsteun word.

Die groei in digitale platforms vir regstreekse skakeling met verbruikers hou ook belofte vir werkskepping in, aangesien tot dusver vir verbruikers in middel- en hoërinkomstegroepe voorsiening gemaak is, maar dit ontwikkel kan word om tersaaklik te wees vir verbruikers in laerinkomstegroepe, wat weer die vraag na dienste deur laergeskoolde werkers kan versterk, lui die verslag.

Die verslag wys daarop dat bekostigbare toegang tot mobiele sowel as vaste data deurslaggewend is – ’n kwessie wat al ’n dekade lank sloer omdat beleidsverlamming en wanbestuur die toekenning van nuwe spektrum vir goedkoper en breër konnektiwiteit blokkeer. In reaksie op ’n direktief van die regering het die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van SA in April nuwe spektrum tydelik – en gratis – toegeken om te voorsien in die skerp toename in die vraag na data omdat mense tydens die inperking van die huis af werk.

Dis onwaarskynlik dat die vraag na die vlakke van vóór Covid-19 sal terugkeer wanneer inperkings opgehef word, maar om die spektrum te onttrek, sal sakebedrywighede knou en tot dusver bestaan geen planne om die dilemma op te los nie. Nog ’n vraag is of deur ’n lagie gevorderde tegnologie oor die strukturele ongelykheid in SA te lê die bestaande maatskaplike, ekonomiese en politieke ongelykhede sal vererger, waarsku ’n konsepdokument deur die Nasionale Beplanningskommissie in Julie.

Terwyl voorbereidings vir “onafwendbare tegnologiese ontwikkeling” ’n belangrike element in die totstandkoming van ’n toekomsgerigte digitale beleid is, is dit “problematies” om sodanige beleid met maatskaplike en ekonomiese transformasie saam te smelt, sê die kommissie.

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za

* Mariam Isa is ’n vryskutjoernalis wat in 2000 na Suid-Afrika gekom het as die finansiële hoofkorrespondent vir die Reuters-nuusagentskap nadat sy in die Midde-Ooste, Brittanje en Swede gewerk het. Sy het haar in 2007 as ekonomiese redakteur by Business Day aangesluit en het in 2014 bedank om oor ’n breër reeks onderwerpe vir verskeie publikasies in Suid-Afrika en Brittanje te skryf.

* Foto’s: Gallo/Getty Images, consultancy.co.za

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.