Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
MINI Cooper SE: Meer as net ’n bietjie krag
10 September 2021
Groen mobiliteit en ’n elektriese vertoning in die slanker, opgedateerde elektriese MINI.

Hier is die perfekte stadsmotor. Klein, rats, blitsig, en nou sonder uitlaatgasse – die nuwe MINI Cooper SE is ten volle elektries en bring ’n beeld van ekovriendelike vervoer na die ikoniese MINI-naam. Vir 2021 kry ons ’n opgeskerpte weergawe van die vol elektriese model wat laas jaar plaaslik vrygestel is, en finweek het eerste kans gekry om ’n draai te ry. Die MINI is ’n motor wat ek goed ken.

Buiten vir padtoetse, leen ek gereeld my dogter se MINI as ek in die Kaap is. Enigiemand wat Kaapstad ken, sal weet dat dié motortjie goed werk in die stad se smal strate en piepklein parkeerplekke. Hoewel dit effens groter is as die klassieke Mini wat aanvanklik in 1959 vrygestel is, behou die huidige MINI baie van die oorspronklike DNS, die persoonlikheid en die “oulik-faktor” wat harte wêreldwyd verower het.

Dis nie net die grootte wat verander het nie, daar is ook meer gerief en tegnologie. Anders as met die klassieke Mini, waar die fokus op kostebesparing eerder as gerief was, is vandag se MINI al sedert 2000 in BMW se stal en daarom ’n premium-produk. Die elektriese model word in die Britse MINI-fabriek in Oxford gebou, soos die Cooper S met die gewone enjin waarop dit gebaseer is.

Die elektriese 2021-model is meganies identies aan die een wat laas jaar vrygestel is, maar met ’n paar veranderinge aan die bakwerk, verbeterde afwerkingsvlakke en meer standaardtoerusting. Die elektriese MINI Cooper SE is in twee afwerkingsvlakke beskikbaar, binne vier pakkette: Classic, Iconic, Signature en MINI Electric Collection. Laasgenoemde het eksklusiewe elemente soos ’n multikleurdak. Maar hoeveel verskil die elektriese weergawe van die gewilde petrolmodel? Interessant genoeg nie veel nie.

Kombinasie van oud en nuut

Tesame met moderne aksente soos die Union Jack-agterligte en LED’s vir die kenmerkende ronde hoofligte, behou hierdie driedeur-luikrug steeds die ougatfaktor en die unieke stilering wat soveel bydra tot die persoonlikheid wat dit ’n gunsteling gemaak het. Behalwe vir ’n paar nuwe kenmerke, lyk hierdie MINI nes ’n gewone een. Wat is anders?

Die seskantige sierrooster is solied, die wiele het ’n retro-voorkoms, daar is e-kentekens, geel aksente op sekere panele soos die spieëls se doppe, en daar is natuurlik nie uitlaatpype nie. Verder sluit die 2021-model ook veranderinge in aan die voorste en agterste buffers, en daar is duideliker beklemtoning van die ikoniese hoofligte en sierrooster.

Niks skokkend nie

Die kajuit is bekend wanneer jy inklim. Dis dalk die mees verrassende en ook die mees gerusstellende aspek van hierdie suiwer elektries aangedrewe MINI. Buiten die andersoortige wyser vir die “petroltenk” en die enkele ratverhouding is die res van die binnekant net soos ’n gewone MINI s’n. Dis glad nie moeilik om die oorgang van ’n gewone brandstofaangedrewe motor na hierdie een te maak nie. Die goed afgewerkte kajuit, vol unieke MINI-stilering soos knikskakelaars en ’n groot, ronde raakskerm, het al die gewone kenmerke wat in die gewone MINI ook is.

Die deure sluit sentraal, die sportsitplekke is van materiaal en kunsleer, daar is Bluetooth, USB, ’n raakskerm vir die informaaklikheid, ses luidsprekers, ’n multifunksie-stuurwiel, agterste parkeersensors, aktiewe voetgangerbeskerming, snelheidsbeheer en elektriese vensters – alles standaard. Die toetsmotor het ook Connected Media en ’n elektriese sondak gehad, items wat deel uitmaak van die Classic-pakket. Apple CarPlay is egter net beskikbaar deur MINI Connected Navigation (Iconic- en Signature-pakkette), maar kan as ’n opsie gespesifiseer word in Classic- en MINI Electric Collection-modelle.

Nog opsies sluit in hoofligte wat self aanpas, bestuurshulp en ’n opkykvertoonskerm. Soos die gewone MINI is die elektriese model ’n viersitplek, hoewel die plek agter min is vir grootmense. Die kattebak is ook dieselfde grootte, en jy kan die agtersitplekke platslaan. ’n Doodstil aandrywing gee min waarskuwing dat die motor naby is. Maar hierdie groen-MINI se aankoms word verklap deur ’n futuristiese deuntjie.

’n Konvensionele samestelling in die elektroniese MINI se bestuursvriendelike en afgewerkte binneruim.

Ry met krag

Daar is ook min wat vir die bestuurder sê dis ’n elektriese motor, behalwe dat dit doodstil is wanneer jy die motor aanskakel, en dat al die wringkrag dadelik beskikbaar is. Die elektriese tegnologie is dieselfde as in die BMW i3. ’n Enkele elektriese motor dryf die voorwiele aan, en saam met die outomatiese eenspoedratkas verskaf dit oombliklike krag.

Die kompakte elektriese motor ry en hanteer baie soos die petrolmodel. Die swaartepunt is goed geleë, hoewel die stuuraksie ’n bietjie swaarder is en die ritgehalte op die wiele van 17-duim effens fermer is. Die motor is 145 kg swaarder as die gewone model, maar dit beïnvloed nie juis die werkverrigting nie – laasgenoemde kan per bestuurmodus verander word afhangende van wat jy kies: Sport, Mid, Green of Green+. En laat ek ook sommer almal reghelp wat dink dat elektriese motors nie opwindend of sportief kan wees nie. Die elektriese MINI skrik vir niks. Die versnelling is ongelooflik, veral in die sportmodus. Dis ook ’n ratse motor, met die sportsitplekke wat jou lekker vashou wanneer jy om draaie rits.

Die remaksie word gebruik om energie terug te win wanneer die voertuig se spoed verminder word, deur die battery te laai en moontlike afstand te vergroot. Dié stadsmotor het twee modusse vir hierdie remaksie. In die een word daar geleidelik spoed verminder, soos wanneer jy jou voet van ’n gewone motor se versneller afhaal. Die ander een het ’n sterker aksie wat dit moontlik maak om werklik net met een pedaal te ry sonder om eintlik die rempedaal te moet trap. Anders as ’n brandstofaangedrewe voertuig, is die oop pad nie waar elektriese motors die suinigste verbruik lewer nie.

En laat ek ook sommer almal reghelp wat dink dat elektriese motors nie opwindend of sportief kan wees nie. Die elektriese MINI skrik vir niks.

Dis in stop-ry-verkeer in die stad en met die gebruik van die regeneratiewe remaksie dat die battery kort-kort aangevul word en die afstand vergroot wat jy nog kan ry. Dit was ’n interessante oefening om te vergelyk hoe lig op “brandstof” die motor op die snelweg was teenoor in die stad. Ek is by die huis weg met die MINI in Mid-modus (’n kombinasie van sportiewe en ekonomiese werkverrigting), op pad kantoor toe via die snelweg, ’n afstand van 19 km. Dit het 23 km van die moontlike afstand afgetrek. Op pad terug huis toe het ek die motor in dieselfde modus gelos met 140 km nog in die “tenk” en deur die stad se strate gery, ’n afstand van 18,5 km.

Wat ’n verrassing. Ek het by die huis gekom met 144 km oor, meer as waarmee ek by die werk weg is. Dit bewys dat die stad is waar die Mini uitblink. Soos ’n selfoon is die MINI maklik om te herlaai. Ek het dit oornag by ’n gewone 220V-kragprop ingeprop met die kabel wat saam met die motor kom, en teen die oggend was die “tenk” vol.

Dit neem 12 uur om ’n heeltemal leë battery op hierdie manier te laai (’n onwaarskynlike scenario om in te beland). Gegewe ’n elektrisiteitskoste van 1,95c/kWh sal dit ongeveer R74 vir ’n “vol tenk” kos as die battery leeg was. ’n Kragboks teen jou muur (teen ekstra koste) kan die motor in ongeveer twee en ’n half uur tot by 80% laai, terwyl daar ook landwyd direktestroom-laaiers is wat vinniger laai en 100% binne 35 tot 40 minute kan gee. Die groen-MINI lyk, voel en ry soos ’n petrolaangedrewe MINI. Die ervaring is elektries en krágtig.

Binne ’n paar dae het ek meer gevoelig geraak vir die manier om ’n elektriese motor ten beste te benut, en boonop het my onsekerheid oor die afstand wat die battery sal hou, vinnig verdwyn. Dis die perfekte ekovriendelike stadsjapie, met die 217 km van ’n vol battery wat meer as voldoende is vir die gewone daaglikse heen-en-weertjie.

En ons moet ook noem dat dit tans die goedkoopste elektriese voertuig op die SA mark is. Daar is net een vraagteken. Sal hierdie elektriese MINI se moontlike afstand per vol battery ver genoeg wees om Suid-Afrikaners te oortuig, gegewe dat ons fokus histories op langpadreise is? Net die tyd sal leer. 

* terugvoer@finweek.co.za

GETOETS: Vol elektriese MINI Cooper SE (2021)
  • Kragbron: elektriese motor
  • Krag/wringkrag: 135 kW/270 Nm
  • Transmissie: Outomaties met een gang vorentoe en een agtertoe
  • 0-100 km/h: 7,3 sekondes
  • Topsnelheid: 150 km/h
  • Afstand (aangedui): 217 km
  • Kragverbruik (aangedui): 17,5 kWh/100 km
  • Battery: 32,66 kWh
  • Veiligheid: Ses lugsakke
  • Kattebak: 211 liter
  • CO2-vrystelling: Nul
  • Waarborg/diensplan: 5 jaar/100 000km
  • Batterywaarborg: 8 jaar/100 000km
  • PRYS: R658 000 BTW ingesluit
Meer oor:  Finweek  |  Mini Cooper  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.