Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Buiteland: Moet beleggers saam storm?
4 Junie 2020

Indien ons enigiets van die koronavirus geleer het, is dit dat baie van ons impulsief en sonder die feite optree. Die onsinnige stormloop om soveel toiletpapier as moontlik op te gaar toe sake in Maart kookpunt bereik het, is ’n goeie voorbeeld hiervan.

Foto: Gallo/Getty Images

Voor dit was toiletpapier maar net nog ’n item op jou inkopielys, maar dit was glad nie die belangrikste item nie. Insgelyks, kan ons dieselfde van buitelandse beleggings sê.

Baie mense beskou ’n buitelandse belegging nie as deel van hul beleggingsbehoeftes nie totdat die rand erg terugsak en dan, sonder behoorlike navorsing of deskundige advies, belê hulle impulsief sonder om aandag te skenk aan die produkte en geldeenhede wat hulle kies.

Hoekom moet ek in die buiteland belê?

Schalk Louw is ’n portefeuljebestuurder by PSG Wealth.

Die werklikheid is dat ’n buitelandse belegging altyd op jou ‘moet doen’-lysie moet wees, en die hoofrede hiervoor is diversifikasie, volgens bateklas én geldeenheid. Met betrekking tot die geldeenheid is die voordele voor die hand liggend: om jou teen die waardevermindering van die rand te beskerm.

Ongelukkig is ons, as Suid-Afrikaners, heel vertroud met politieke onstabiliteit, hoewel dit nie uniek aan Suid-Afrika is nie. Voeg hierby goed soos inflasie en rentekoersbekommernisse en jy het ’n resep vir ’n onbestendige rand. Deur jou beleggings te diversifiseer in geldeenhede van verskeie ontwikkelde lande, behoort jy voordeel te trek uit die rand se verlies aan waarde op die langer termyn.

Nog ’n aspek om te oorweeg, is dat sekere faktore, wat sekere sektore raak, uniek aan SA is. Wanneer ons byvoorbeeld die plaaslike banksektor oorweeg, word dit geraak deur elemente soos rentekoerse, risiko en plaaslike verbruikers se skuldvlakke. Dit lei daartoe dat die plaaslike banksektor dikwels heel anders as sy buitelandse portuurgroepe optree.

Dus, deur in soortgelyke sektore in die buiteland te belê, sal jy in wese blootstelling aan al die relevante bedryfsektore met hul gepaardgaande risikovlakke, opbrengste en sakesiklusse kry. Daarbenewens het die belastingklaringsproses baie eenvoudiger geword, en individue kan nou tot R1 miljoen in die buiteland belê sonder om ’n belastingklaringsertifikaat te kry, of tot R10 miljoen met ’n belastingklaringsertifikaat.

Hoeveel?

Daar is uiteenlopende menings oor die optimale bedrag wat in die buiteland belê kan word. Dit hang hoofsaaklik af van die risikovlak wat jy bereid is om te neem en wel kán neem, asook wat jy kan bekostig om in die buiteland te belê.

Jy kan ook die uitwerking van wisselkoerse op jou lewensuitgawes oorweeg. Byvoorbeeld, gaan wisselkoerse moontlik die bedryfskoste van jou motor raak en reis jy dikwels oorsee? Indien wel, dan moet jy ten minste genoeg in die buiteland belê sodat jy jou verskans teen pryse wat weens valutadepresiasie styg.

Die waarheid is dat SA bateklasse in die algemeen, relatief tot hul internasionale portuurgroepe, swak presteer met nie een van die plaaslike bateklasse (plaaslike aandele, effekte of eiendomsaandele) wat in staat was om die plaaslike geldmark oor die afgelope vyf jaar (tot einde April 2020) te klop nie. Dit is presies om dié rede dat al hoe meer finansiële adviseurs hul kliënte aanraai om letterlik al hul kapitaal in die buiteland te belê.

Dit hang hoofsaaklik af van die risikovlak wat jy bereid is om te neem en wel kán neem, asook wat jy kan bekostig om in die buiteland te belê.

Die feit is egter dat ons plaaslike mark nie altyd so swak gevaar het nie. Indien ons kyk na die data wat sedert die einde van 2000 aan ons beskikbaar is, sal jy sien dat die MSCI All Country World Index (ACWI) in rand met 9,7% per jaar (tot 30 April 2020) gegroei het, terwyl die FTSE/JSE se indeks van alle aandele (JSE) met 13,3% per jaar gegroei het (sien grafiek).

Indien jy 100% van jou kapitaal in die ACWI belê het, sou jou belegging 31% van die tyd swakker as inflasie oor ’n rollende tydperk van 60 maande (of vyf jaar) gevaar het. Regulasie 28 van die pensioenfondswet, beperk buitelandse blootstelling op die oomblik tot 30%. Sake het heelwat rooskleuriger gelyk vir beleggers wat hul kapitaal 50-50 in elk van die bogenoemde indekse belê het, wat ’n opbrengs van 11,7% per jaar sou opgelewer het, maar nog belangriker, wat net 4,6% van die tyd oor ’n rollende tydperk van vyf jaar swakker as inflasie sou gevaar het.

  • Stuur 'n boodskap na terugvoer@finweek.co.za
  • Die tweede aflewering van Schalk Louw se advies oor buitelandse belegging sal in die volgende uitgawe (25 Junie) van finweek verskyn.
  • Schalk Louw is ’n portefeuljebestuurder by PSG Wealth.
Meer oor:  Finweek  |  Buitelandse Beleggings  |  Beleggers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.