Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Weet jy wanneer om aandele te verkoop?
30 Augustus 2018

Belegging gaan alles oor strategie. Op die hoogste vlak is daar ’n oorkoepelende strategie wat al jou besluite beheer. My oorkoepelende strategie is byvoorbeeld gefokus op ’n groeiende internasionale middelklas.

Meer mense word aangedryf deur verbeterende ekonomiese en politieke toestande en beweeg in die middelklas in. Hul besteding styg dienooreenkomstig, wat die wins van maatskappye in die verbruikersbedryf verhoog.

Ander sektore sal reageer – soos die geval was met die kommoditeitsopbloei in die eerste dekade van die 2000’s, wat aangedryf is deur die vraag (meestal uit China) na infrastruktuur vir die groeiende middelklas. Maar soos jy wegbeweeg van jou oor- koepelende strategie af moet jy meer besluite neem oor hoe om jou portefeulje te struktureer. Eerstens, hoeveel moet jy in beursverhandelde fondse (ETF’s) belê?

Hoeveel in grootkapitaal- gehalteaandele wat jy dekades lank gaan hou? Hoeveel in klein- en middelkapitaalaandele? En wat van iets vir verhandeling? My portefeuljeverdeling in dié kategorieë is 50%/30%/10%/10%. Maar daar is nog iets wat jy in gedagte moet hou, naamlik jou beleggingstyl.

Gaan jy fokus op momentum of waarde as beleggingstyl? Dit hoef nie een of die ander te wees nie, maar jy moet duidelik weet watter styl jy gebruik wanneer jy ’n bepaalde aandeel koop – sodat jy duidelik weet wanneer dit tyd is om te verkoop.

Momentum is die teorie dat aandele wat styg volgens feitlik elke waardasiemetodologie dalk duur is, maar hulle kan nog verder styg. Hier gaan dit werklik alles oor prys.

Dit voel soos malligheid om net aan te hou klou, en waardasies is beslis nie die antwoord nie.

’n Goeie voorbeeld is Aspen. Hy is ’n gehalte-aandeel wat vroeg in 2012 die eerste keer R100 oortref het, met ’n prys-tot-verdienste-verhouding (p/v-verhouding) van sowat 20 maal – nie duur nie, maar ook ver van goedkoop. Tog het die aandeel bly styg, en in Mei 2013 het hy R200 bereik. In daardie stadium was die p/v byna 30 maal – beslis duur, maar dit was steeds volstoom vorentoe.

In Junie 2014 het hy teen R300 verhandel, met ’n sidderende p/v van 36 maal. Tog het die aandeel bly styg, om uiteindelik in April 2015 ’n hoogtepunt van net meer as R400 te haal, met die p/v steeds ongeveer 36 maal. 'n Mens kon verskeie kere in die opmars van R100 tot R400 in die versoeking gekom het om te verkoop en die wins te vat, op grond van die hoë waardasie of bloot die feit dat die aandeel hoog gestyg het en sekerlik vroeër of later na meer realistiese prysvlakke moes terugkeer.

Dis presies wat Aspen gedoen het, en hy verhandel nou (meer as drie jaar ná die hoogtepunt van R400) teen R260 en op ’n p/v van net meer as 17 maal. Hy is nou op die “goedkoopste” vlak wat hy in ’n dekade was. Die kuns is om te weet wanneer om jou momentum-aandeel te verkoop, want dit voel soos malligheid om net aan die ding te bly klou, en waardasies is beslis nie die antwoord nie.

Vir my is dit tyd om van die momentum-aandeel ontslae te raak sodra die momentum begin afneem. Jy sal nooit die hoogtepunt in die kol tref nie, maar jy sal naby genoeg wees om die maksimum wins te verdien. Breedweg is daar twee metodes om jou uit die momentum te onttrek. Die eerste is eenvoudig: Klim uit sodra die momentum begin afneem.

Vergelyk die aandeel se beweging met dié van sy eweknieë (sektor of selfs indeks), en as hy nie meer onder die voorlopers is nie, moet jy begin verkoop of sommer heeltemal uitklim. ’n Tweede metode is ’n slepende keerverliesmetode met behulp van iets soos die gemiddelde ware strek (ATR) om aan te dui hoever om agter die keerverlies te sleep. Gebruik ’n lang ATR-tydperk – weekliks of, selfs beter, maandeliks. Die maandelikse ATR sou jou volledig in gehou het van R100 tot ongeveer R365. Jou aanlyn makelaarsgrafieke behoort die ATR-waarde te toon wat jy moet gebruik.

* Stuur 'n e-pos aan terugvoer@finweek.co.za

Foto: Gallo/Getty Images

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.