Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Stuiweraandele: Mossies wat dalk nog leeus kan word
6 Februarie 2020

Daar is verskeie stuiweraandele (penny stocks) – kleinkapitalisasie-maatskappye met ’n aandeelprys van minder as R1 – op die JSE se hoofbeurs, en hulle lyk dalk aantreklik vir kleinbeleggers, veral vir nuwe toetreders tot die beleggingswêreld.

’n Paar voormalige middelkapitalisasiename – veral konstruksiemaatskappye soos Aveng, Basil Read en Group Five – het na die stuiweraandeelkategorie geval omdat Suid-Afrika se ekonomie onder swak regeringsbeleidsbesluite sink. Tog is daar verskeie stuiweraandele wat glinster en van nader bekyk kan word, maar beleggers moet hulle nie noodwendig by hul portefeuljes voeg nie.

finweek het vier aandele geïdentifiseer wat op ’n veranderde toekomstige ekonomie ingestel is, of waarvan die aandeelprys waarde bied. Die opbrengsverhaal van die FTSE-JSE se kleinkapitalisasie-indeks is ten beste gemeng.

Dié indeks, wat aandele insluit wat nie in die FTSE-JSE se Top40-indeks of die FTSE-JSE se middelkapitalisasie-indeks is nie, het verlede jaar met 4,1% gedaal, in 2018 met 14,6% geval, in 2017 met 3% gestyg, en in 2016 met 20,9% opgeskiet (lees die tabel vir ’n vergelyking).

Oorwegings by stuiweraandele Die besluit om in stuiweraandele te belê, behoort op ’n stewige ontleding van ’n maatskappy gegrond te word. “ ’n Groot deel van stuiweraandele se waarde lê in hul vooruitsigte vir inkomstegroei, en gevolglik is historiese waardasies minder belangrik,” sê Ricus Reeders, portefeuljebestuurder by PSG Securities.

Kyk na die  vogende faktore:

Hy beveel aan dat twee faktore bekyk word wanneer ’n mens stuiweraandele oorweeg omdat dié maatskappye se marges gewoonlik klein is.

Eerstens moet die voornemende belegger ’n maatskappy se verdienstemomentum bekyk.

Eerstens moet die voornemende belegger ’n maatskappy se verdienstemomentum bekyk.

“Groei die maatskappy se verdienste nie net nie, maar neem die groeikoers ook toe?” vra hy. Die verdienstemomentum kan volgens hom die gevolg van óf inkomste- of margestygings óf die doeltreffende bestuur van kontantvloei wees. Tweedens moet die belegger bepaal of groei in die maatskappy se bates, uitgawes en skuld deur kontantvloei gedek word, sê Reeders.

“Is dié twee items volhoubaar en oortuigend?” vra hy.

Voordele én slaggate Nadat die belegger besluit het om in ’n stuiweraandeel te belê, moet die voordele en slaggate van belegging in dié instrumente opgeweeg word.

Twee voordele staan uit

“As die belegger gelukkig genoeg is om belê te wees in ’n maatskappy waarvan die inkomste, markaandeel en aanvaarding deur ’n groeiende kliëntebasis toeneem, sal die opbrengs heel moontlik bogemiddeld wees,” sê Reeders.

Omdat die klem op toekomstige potensiaal eerder as huidige waardasies val, sal ekonomiese toestande se uitwerking op korter termyn ’n kleiner uitwerking op die maatskappy se sake hê en gevolglik ’n mate van “nie-simmetriese risiko” bied, sê hy.

Daarteenoor moet slaggate soos by enige kleinkapitalisasie-aandeel versigtig oorweeg word. In die eerste plek kan marklikiditeit beïnvloed hoe maklik ’n aandeel gekoop of – nog belangriker – verkoop kan word. “As daar min houers in ’n aandeel is, sal die belegger dalk nie genoeg daarvan teen die regte prys kan koop of maklik kan verkoop nie,” sê Reeders.

“Geduld is dalk ’n deug, maar ’n aanvaarbare opbrengs oor ’n tydperk is wat saak maak.”

Die prysmeganisme sal by stuiweraandele dalk nie behoorlik werk nie. “Omdat stuiweraandele in die algemeen vanweë hul grootte en markwaarde nie institusionele beleggers lok nie, kan die prys lank onderwaardeer en afgeskeep bly,” sê hy.

“Geduld is dalk ’n deug, maar ’n aanvaarbare opbrengs oor ’n tydperk is wat saak maak.”

Laastens sê Reeders dat opspraakwekkende stories van kitsrykdom wat behaal is, eerder die uitsondering in die mark as die reël is. “Die meeste klein maatskappye misluk of word deur mededingers gekoop – hopelik teen ’n behoorlike prys. Wees bewus van en voorbereid op dié risiko.”

Ricus Reeders Portefeuljebestuurder by PSG Securities

’n Nuwe direksie, ’n nuwe koers 4Sight Holdings

Dié inligtingtegnologie-maatskappy – wat in Mauritius gevestig is en wat in Suider-Afrika bedrywig is – is dalk oor die ergste van ’n bestuursramp van twee jaar.

4Sight, wat sy filiale in drie groepe georganiseer het – telekommunikasie; mynbou, vervaardiging, energie en chemikalieë; en platform (of datadienste) – het sy direksie en topbestuurders in Oktober verlede jaar afgedank. Dit het gevolg op die opskorting van verhandeling in die maatskappy se aandele op die JSE nadat hy nie sy halfjaarresultate vir Junie teen die beurs se vereiste spertyd van einde September gepubliseer het nie.

Die maatskappy het sy tussentydse resultate laat Desember uitgereik, en Tertius Zitzke, nuwe uitvoerende hoof, het ’n nuwe plan vir die maatskappy, wat ’n rits filiale het, aangekondig om sy inkomste te vergroot en die vierde nywerheidsrevolusie aan te pak.

“Ons nuwe strategie en grondslag sal teen middel vanjaar by die onderneming ingebed wees,” sê Zitzke.

“Ons onmiddellike fokus is om ’n volle begrip van die nuwe strategie sowel binne 4Sight as by ons vennote – klante en verskaffers – te verseker.”

As deel van die strategietoepassing sal daar ’n dubbele benadering tot die handelsmerk se posisionering wees, met 4Sight as die leidende handelsmerk saam met sy gevestigde sake-eenhede, volgens hom.

“Baie van ons sake-eenhede het ’n lang en suksesvolle prestasiegeskiedenis met sterk handelsmerkwaardes in die mark.”

4Sight het moontlike bedrieglike transaksies tussen ’n direkteur van sy onderneming Visualitics en dié filiaal bekend gemaak, saam met die gebrek aan finansiële verslae en die handhawing van rekords ingevolge Suid-Afrika se maatskappywet.

Dié bekendmaking is ’n poging om die uitwerking van die dramatiese bedanking van 4Sight se voorsitter van sy oudit-en-risikokomitee, Geoffrey Carter, begin Oktober te beperk. Sy bedanking het gepaardgegaan met ’n skril aanklag teen bestuurders van ’n filiaal waarin hul gedrag gelykgestel is aan “Trumpisme”. Intussen skets die tussentydse finansiële state ’n gemengde prentjie.

Die inkomste het met 17,7% tot $22 miljoen gestyg, vergeleke met dieselfde tydperk die vorige jaar. Dis nodig om te sê dat 2018 se tussentydse resultate aangepas is.

“Baie van ons sake-eenhede het ’n lang en suksesvolle prestasiegeskiedenis met sterk handelsmerkwaardes in die mark.”

4Sight het egter ’n verlies van $10,7 miljoen vir die ses maande tot en met Junie verlede jaar gely deurdat hy klandisiewaarde van $10,5 miljoen afgeskryf het wat verband hou met verliesgewende filiale en nie-betalende debiteure ter waarde van $2,2 miljoen. Einde Junie het die kontantreserwes $3,5 miljoen bedra.

Dié dapper optrede – wat die maatskappye se syfers kwaai beïnvloed het – wys dat die nuwe direksie en bestuur ernstig daaroor is om die maatskappy om te swaai. En die dapperheid raak ook Zitzke se plan om die beste IT-beroepslui in SA te lok.

“Die groot nuus tans is al die afdankings in inligting- en kommunikasietegnologie,” sê hy.

“Ons sien dit nie in die vierde nywerheidsrevolusie nie. Trouens, ons het vandag vaardige mense nodig om ondernemingshulpbronbeplanning en verwante projekte in dié revolusie te hanteer.”

Maatskappysyfers: 31 Desember 2018 (vir 12 maande)

Inkomste: $44,5 miljoen (+1,9%)

Wesensverdienste: $5,4 miljoen (+80%)

Aandeelprysverandering oor 12 maande: +6,9%

Tertius Zitzke Uitvoerende hoof van 4Sight Holding

Maak staat op daghospitaalpasiënte Advanced Healthcare

Mediese fondse in Suid-Afrika sukkel te midde van die stygings in die koste van private gesondheidsorg om premieverhogings laag en bekostigbaar te hou vir nuwe toetreders en bestaande lede.

Die betreurenswaardige toestand van openbare gesondheidsgeriewe is die enjin wat private gesondheidsorg in ’n taamlik arm land aan die lewe hou – selfs terwyl die regering vasberade is om dié doeltreffende, hoewel duur, bedryf te ontspoor.

’n Toegewyde poging deur mediese fondse om hul koste te verlaag, lei tot ’n toename in die aantal daghospitaalpasiënte.

Advanced Healthcare se aantal gevalle by sy 11 gesondheidsgeriewe in die land het in sy boekjaar tot Junie verlede jaar met 32% gestyg. Gerhard van Emmenis, wat in Augustus verlede jaar as uitvoerende hoof van Advanced Healthcare oorgeneem het, sê daar was drie hoofaandrywers van die toename in die groep se daghospitaalpasiënte.

“Mediese fondse is verplig om meer kostedoeltreffende gesondheidsorgdienste te kry omdat al hoe meer bevoordeeldes die bedryf weens onbekostigbaarheid verlaat,” sê hy.

“Tweedens het ’n nuwe dinamiek ten opsigte van hospitaalnetwerke ontwikkel waar die klem val op toepaslike versorging by die punt van dienslewering, eerder as op ’n suiwer keuse van hospitaalgroepe as ’n oplossing vir tersiêre gesondheidsorg.”

“Mediese fondse is verplig om meer kostedoeltreffende gesondheidsorgdienste te kry omdat al hoe meer bevoordeeldes die bedryf weens onbekostigbaarheid verlaat,” sê hy.

Laastens het daghospitale volgens hom bewys dat maklike toegang, dieselfde gehalte en groter kostedoeltreffendheid moontlik en bekostigbaar is. In die toekoms kan die regering se plan om universele gesondheidsorgdekking vir alle inwoners in te stel, Advanced bevoordeel.

“Ons kan ’n onmisbare verskaffer in nasionale gesondheidsversekering word en deur die volume bevoordeel word omdat ons model berus op klein marges, maar hoë volume, terwyl die skaalvoordele vir die nasionale gesondheidsversekering en die belastingbetaler kan baat,” sê Van Emmenis.

Die groep, met sy hoofkantoor in Pretoria, besit vier daghospitale in Australië (Presmed-filiaal) en 11 daghospitale in Suid-Afrika (Advanced Health SA). Groepsinkomste vir die boekjaar tot einde Junie 2019 het met 18,4% tot R481,6 miljoen gestyg, terwyl sy verlies vir die jaar van R36,2 miljoen in 2018 tot R37,9 miljoen toegeneem het. Die maatskappy het sy verliesgewende Australiese filiaal Coffs verkoop en die R13,4 miljoen-verlies deur sy inkomstestaat geneem.

Maatskappysyfers: 30 Junie 2019 (vir 12 maande)

Inkomste: R481,6 miljoen (+18,5%)

Wesensverlies: R31,2 miljoen (-21%)

Aandeelprysverandering oor 12 maande: -57,14%

Gerhard van Emmenis Uitvoerende hoof van Advanced Healthcare

Kyk na versekering vir groei Nictus Beperk

Nictus Beperk, ’n plaaslike meubelkleinhandelaar en korttermyn-sakeversekeraar, maak op sy nisversekeringproduk staat om groei in Suid-Afrika aan te dryf.

Die maatskappy, wat sy Namibiese naamgenoot in 2012 ontknoop en verlede jaar 50 jaar van notering op die JSE gevier het, het inkomstegroei van 17,6% vir die ses maande tot einde September verlede jaar verklaar vergeleke met dieselfde tydperk die vorige jaar.

Vir die volle jaar tot einde Maart verlede jaar het die groep verkope van R50,7 miljoen behaal – ’n styging van 7,2% teenoor 2018. Nictus Furnishers, die groep se meubelkleinhandeleenheid, wat uit drie winkels bestaan, het ’n netto wins van R811 000 uit verkope van R18,9 miljoen vir die ses maande tot September verlede jaar behaal.

“Die meubelkleinhandelsake was die grootste deel van Nictus Group se bestaan sy ruggraat,” sê Gerard Tromp, uitvoerende hoof van Nictus.

“Nictus beplan glad nie om die meubelonderneming te verkoop nie en meen dat daar fantastiese geleenthede is om te ontgin, selfs in die moeilike SA klimaat.”

Corporate Guarantee, die maatskappy se versekeringsonderneming, wat gebeurlikheidspolisse verkoop, het R1,07 miljoen tot die halfjaarwins bygedra – amper die helfte minder as in dieselfde tydperk die vorige jaar.

Die eenheid se verkope het in die eerste ses maande van sy 2020-boekjaar met byna 60% tot R7,9 miljoen gestyg. “Corporate Guarantee groei in Nictus Group en ons strategie is om volhoubaar op dié nisversekering te bou en – nog belangriker – om volhoubaarheid en onafhanklikheid vir ons polishouers te vergroot,” sê Tromp.

“Ons verken voortdurend geleenthede in die landbou-, kleinhandel-, konstruksie-, vervoer- en professionele bedryf.”

Maatskappysyfers: 31 Maart 2019 (vir 12 maande)

Inkomste: R50,7 miljoen (+7,1%)

Wesensverdienste: R6,4 miljoen (+32,7%)

Aandeelprysverandering oor 12 maande: -14,2%

Gerard Tromp Uitvoerende hoof van Nictus Group

Teiken die waardestrik Stellar Capital Partners

Die beleggingsbeheermaatskappy Stellar Capital Partners, waarvan die hoofkantoor in Kaapstad is en wat uit voormalige aandeelhoudings van Christo Wiese bestaan, verhandel teen ’n groot afslag op sy sogenaamde som-van-die-dele-waardasie.

Die aandeelprys was by die skryf hiervan 75 sent, terwyl die waarde van die maatskappy se onderliggende beleggings – waarvan baie ongenoteerd is – teen einde Junie verlede jaar op R1,21 per aandeel bereken is. Dié sogenaamde waardestrik is ’n algemene verskynsel by beleggingsbeheermaatskappye, waaronder Brait SA en Naspers*.

“Groot diskonto's is ongelukkig tans hoe sake staan by beleggingsbeheermaatskappye, ongeag hul grootte of beleggingsfokus,” sê Peter van Zyl, uitvoerende hoof van Stellar Capital.

“In sekere gevalle help korporatiewe aksies om waarde te ontsluit, maar selfs dít bereik nie altyd waarop gehoop is nie.” Hy sê twee faktore behoort vir voornemende beleggers in sulke beheermaatskappye aantreklik te wees. Eerstens behoort ’n billike jaarlikse groei in die netto batewaarde as lokaas te dien.

“Die bestuur is vanselfsprekend daarop gerig om groei te bied, en ons hoop dat ons sover gewys het dat ons eerstens ons bates konserwatief waardeer, en tweedens dat ons in die meeste gevalle wanneer ons waarde ontsluit, dit teen of bó ons waardasie doen – wat ek dink weerspieël dat ons waardasies redelik is,” sê Van Zyl.

Gerard Tromp Uitvoerende hoof van Nictus Group

“Ons teiken groei van 15% in die netto batewaarde per jaar oor ’n aanskuiwende tydperk van drie jaar, en sover behaal ons die teiken.” Tweedens behoort dit beleggers te lok as die verskil tussen die aandeelprys en die som-van-die-dele-waardasie (ook die afslag genoem) kleiner word. “ ’n Aantal faktore beïnvloed dit, en korporatiewe bedrywighede is dikwels ’n oplossing wat in beleggingsbeheermaatskappye voorgestel word,” sê Van Zyl.

“Dit het egter nie altyd die gewenste uitwerking nie.” Die grootskaalse ontknoping van onderliggende beleggings – beleggerstaal vir óf die teruggee van die onderliggende ondernemings se aandele aan beleggers óf om hulle vir kontant te verkoop – ontsluit dikwels vasgevange waarde, sê hy.

“Ons is egter ’n kleinkapitalisasie-maatskappy met ’n bestuursmaatskappystruktuur wat die mark nie altyd van hou nie. Dit voeg nog ’n kompleksiteitsvlak by, want skaal is altyd ’n kwessie,” sê hy.

“Ons is daarop ingestel om enige items te kontroleer wat dalk tot die diskonto bydra en toepaslike maatstawwe te ondersoek om dié versperrings te verwyder as dit sal help.”

Maatskappysyfers: 30 Junie 2019 (vir 12 maande)

Bruto wins uit beleggings: R296,5 miljoen (+307%)

Wesensverdienste: R162,4 miljoen (+162%)

Aandeelprysverandering oor 12 maande: +4,2%

  • Stuur 'n boodskap na terugvoer@finweek.co.za
  • finweek is ’n publikasie van Media24, ’n filiaal van Naspers.
  • Stellar se finansiële resultate vir 2018 is deur ’n groot daling in een onderliggende aandeel se waardasie geraak.
Meer oor:  Finweek  |  Jse  |  Beleggers  |  Stuiweraandele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.