
Foto: Shutterstock
MTN se omswaaistrategie om sy skuld te verminder, sy portefeulje te vereenvoudig, uitbreiding in nuwe markte te finansier en sy bedryfsrisiko’s te beperk, lyk suksesvol.
Hy beplan om sy belang van 20% in die Belgiese telekommunikasiediensverskaffer Belgacom International Carrier Services vir R1,8 miljard te verkoop. Hy het by die skryf hiervan R14 miljard (aanvanklike teiken R15 miljard) deur sy bateverkoopprogram van 2019 tot 2021 verkry deur niekernbates te verkoop.
Hy verkoop ook sy telekommunikasietorings in Ghana, Uganda en Botswana vir $523 miljoen aan ’n filiaal van die American Tower Company en wil die aflossing van sy voorkeuraandele in Nigerië afhandel. Hy wil ook aan die Midde-Ooste onttrek deur sy belang van 75% in die Siriese onderneming aan Teleinvest te verkoop.
MTN wil ook aan die Midde-Ooste onttrek deur sy belang van 75% in die Siriese onderneming aan Teleinvest te verkoop.
Hoe om hom te verhandel:
MTN herstel in sy langtermyn-daaltendens. Hy hou ’n bestendige stygtendens vol wat kan veroorsaak dat die aandeelprys in die rigting van sy daaltendens se weerstandtendenslyn by die weerstandsvlak van 10 640c verhandel.
’n Goeie koopteken is bo 7 240c – ’n vlak waardeur MTN sedert November verlede jaar sukkel om te breek. Verhandeling daardeur sal op geweldige koopbelangstelling dui.
Lang posisies kan bo 9 085c vergroot word, met die teiken bo 10 640c. Vermy ’n lang posisie as MTN sterk weerstand by 7 240c bly ondervind.
’n Omswaai deur 5 865c sal die einde van die huidige positiewe herstel aandui, en ’n daling na 4 200c kan volg.
* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za