Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Mynbou: China weer tot die redding
5 November 2020

Ivan Glasenberg, uitvoerende hoof van Glencore, het onlangs sprekende kommentaar gelewer oor ’n moontlike werkslewe nadat hy die Switserse mynmaatskappy en mineralebemarker, wat hy die afgelope 20 jaar met ’n ystervuis bestuur het, verlaat.

“As ek hier weggaan, wil ek na ’n heel ander besigheid gaan, waar die onderneming die marges aandryf, en nie die mark nie,” het hy in Oktober by die Financial Times (FT) se kommoditeitemynbouberaad gesê. Glasenberg berei al minstens ’n jaar voor vir sy uittrede uit Glencore.

Wanneer hy wel uittree, sal hy die laaste van die sogenaamde ‘miljardêrklub’ wees – die sleutelbestuurders wat Glencore in 2013 na die Londense aandelebeurs gebring en gevolglik fabelagtig ryk geword het. Ten spyte hiervan het mynbou beperkings – hoofsaaklik die feit dat eksterne faktore markwaardasies beïnvloed. Mynboumaatskappye is byvoorbeeld prysnemers; hulle word ook beïnvloed deur skommeling in ekonomieë soos China.

Gelukkig vir mynboumaatskappye het China se ekonomie ’n merkwaardige herstel getoon in die maande nadat die Covid-19-pandemie die ontwikkelde ekonomieë besmet het. “Dit is presies soos die 2008-krisis: die wêreld het opgehou, maar China het begin,” het Glasenberg gesê. “Wat ons ook al in die Westerse wêreld verloor, vergoed China voor.”

Volgens Mark Cutifani, uitvoerende hoof van Anglo American, was diamantverkope 10% tot 15% hoër op ’n jaargrondslag – ’n duidelike teken dat verbruikersmarkte in China herstel het, het hy gesê. “Dit was merkwaardig en 'n baie goeie teken,” sê hy. Hierdie kommentaar, deur twee van die wêreld se grootste mynmaatskappye volgens waarde, weerspieël die menings van beleggingsontleders wat glo dat die mynbousektor lig daarvan afgekom het ná die eerste groot herstel van die Covid-19-siekte.

Mark Cutifani, uitvoerende hoof van Anglo American
Diamantverkope was 10% tot 15% hoër op ’n jaargrondslag.

BMO Capital Markets het voor die aankondiging van mynboumaatskappye se produksiesyfers vir die derde kwartaal gesê hulle sien uit na ’n rustiger periode. “Ná ’n wisselvallige jaar en teen die agtergrond van die Amerikaanse presidentsverkiesing tydens die verslagtydperk, dink ons ‘oninteressante’ of effens positiewe vooruitskouende verdienstes sal welkom wees,” het hulle gesê.

En tot dusver is dit die geval. Die Bank of America (BofA) het na aanleiding van Anglo American se resultate vir die derde kwartaal gesê “. . . die ergste is verby”. Deelnemers aan die Londense metalebeursweek het verwys na die ‘normalisering’ van die vraag na koper. Die gevolg was die styging van die koperprys tot $7 000 per ton. Koper word beskou as ’n belangrike pasaangeër vir alle metale in die mynboukompleks.

Onlangse syfers van die Wêreldstaalvereniging toon dat die wêreldwye produksie van ru-staal met 2,9% op ’n jaargrondslag toegeneem het, hoofsaaklik weens groei in Chinese produksie, wat jaar-op-jaar 10% hoër is.

Volgens Goldman Sachs is die Chinese produksie in die algeheel geneutraliseer deur ’n inkrimping van 6,8% in die res van die wêreld se produksie. In ’n nota getiteld “Koper snel vooruit” sê Morgan Stanley, “koper se fundamentele markfaktore ondersteun in die breë ’n hoë koperprys – met lae voorraad, ’n marktekort wat tot volgende jaar voortduur, kopers wat herstel en groter aanbodrisiko”.

Die moontlikheid van ’n aanbodrisiko bly egter ’n werklike gevaar. Cutifani het gesê Anglo het drie maande se ontwikkeling verloor by sy Quellaveco-koperontwikkeling van $5,3 miljard in Peru weens ’n inperking as gevolg van Covid-19 in Maart. Hy het kapitaalkostes met $1,5 miljard verminder as deel van sy reaksie op Covid-19, insluitende $300 miljoen ná die inperking van drie maande.

Cutifani het by die FT-konferensie gesê dat die groep waarskynlik relatief ongedeerd sal afkom van die vertraging: hulle was vroeër reeds drie maande voor die skedule, dus was hulle nou ‘op tyd’. Dit is nie ’n mening wat ten volle ondersteun word, ten minste nie deur sy mededinger Glasenberg nie wat gespot het (so veronderstel ons in elk geval): “Miskien sal ek ’n bietjie langer wag, net om te sien of Mark Quellaveco betyds ontwikkel.” Die projek, wat na verwagting ongeveer 300 000 ton koper per jaar sal produseer, se eerste produksie is geskeduleer vir 2022.

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za

* Foto’s: Shutterstock, Gallo/Getty Images

Meer oor:  Mynbou  |  Finweek  |  China
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.