Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
’n Fonds met ’n trio van voordele
14 Mei 2021

Hierdie Namibiese fonds gee beleggers beperkte blootstelling aan SA se grootste aandele.

Wat die fondsbestuurder sê:

Capricorn Equity Fund, wat daarna streef om die FTSE-JSE se beperkte SWIX top-40-indeks na te volg, is in Namibië gevestig. Die fonds se prestasie oor die 12 maande tot 31 Maart is ’n aanduiding van die sterk herstel in Suid-Afrikaans genoteerde aandele ná die markverplettering einde Maart verlede jaar wat deur Covid-19 veroorsaak is.

Capricorn Equity Fund word bestuur deur die batebestuurspan van Capricorn Group, ’n Namibiese finansiëledienste-maatskappy wat onder meer Bank Windhoek besit. Dit is in 2019 in ’n indeksvolgfonds omgeskakel. Relf Lumley, een van die fondsbestuurders, sê sedertdien word ’n passiewe beleggingstrategie gevolg en dat dié soorte fondse drie belangrike voordele vir beleggers inhou. Eerstens is daar die lae geldestruktuur en maklike toegang vir beleggers, sê hy. “Gelde het met verloop van tyd ’n saamgestelde uitwerking op die opbrengs wat beleggers ontvang.

Dis in ons sowel as die beleggers se belang om oor lang tydperke die grootste opbrengs moontlik ná gelde te bied. Dis hoekom die fonds baie aantreklik kan wees.” Die tweede voordeel is beduidende diversifisering, volgens Lumley. “Die fonds sal altyd blootstelling aan al die maatskappye in die JSE se beperkte SWIX top-40-indeks hê, want dis die indeks wat die fonds naspoor.

Dit gee op gediversifiseerde vlak blootstelling aan die meeste sektore en voorkom te veel blootstelling aan ’n enkele maatskappy deur die belang tot 10% te beperk. Die fonds gee aan kleinhandelkliënte blootstelling aan ’n wye mark sonder om groot belegging te vereis. Dit sou met net ’n klein bedrag kapitaal uiters duur gewees het.”

Die laaste voordeel is die vermindering van algehele portefeuljerisiko, sê Lumley. “Wanneer ’n portefeulje vir persoonlike belange saamgestel word, is dit belangrik om blootstelling aan spesifieke sektore te hê. Te veel blootstelling aan aktiewe toewysings kan die risikoprofiel vir beleggers wesenlik verander en veroorsaak dat beleggingsdoelwitte nie op die duur bereik word nie.”

Hy noem dat ’n internasionale S&P-navorsingstudie toon dat 60% van SA fondsbestuurders in ’n siklus van vyf jaar swakker as die mark gevaar het. “Dis ook belangrik om daarop te let dat die paar fondsbestuurders wat wel beter as die mark gevaar het, dit nie konsekwent gedoen het nie. Gevolglik is dit vir beleggers baie moeilik om konsekwent bestuurders te kies wat buitengewoon presteer,” sê hy.

Hoekom finweek dié fonds sal oorweeg:

Capricorn Equity Fund het skouspelagtige opbrengs in rand (en Namibiese dollar) opgelewer deurdat die SA mark die afgelope jaar herstel het. Sy maatstafindeks beperk belange – wat die risiko beperk van te veel blootstelling aan sommige megakapitalisasieaandele wat in SA genoteer is.

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za

Meer oor:  Finweek  |  Beleggings  |  Aandele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.