Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
’n Nuwe era vir Sasfin
18 April 2019

'n Bietjie meer as ’n jaar nadat hy die leisels oorgeneem het as uitvoerende hoof van Sasfin Holdings, en Michael Sassoon kom heel ontspanne voor. Hy het sy korporatiewe pligte trouens onlangs aangevul deur die rol as hoof van die groep se bankdiensteafdeling oor te neem nadat sy pa, Roland Sassoon – wat Sasfin gestig en oor ’n tydperk van 50 jaar uitgebou het – uitgetree het.

Dit klink soos groot skoene om vol te staan? “Dit is ’n wonderlike ervaring, en ’n uitdaging,” sê die jonger Sassoon vanuit Sasfin se kantore in Johannesburg.

Tans ondergaan die bank egter kultuurveranderings terwyl daar aangepas word by ’n lewe sonder sy stigter, wat Michael Sassoon as “’n natuurkrag” beskryf. “Hy is wat ek ’n ware entrepreneur sal noem: iemand met ’n besondere aanleg, ’n vinnige besluitnemer, baie betrokke, gemoeid met elke besluit . . . Maar vir ons volgende groeifase, meen ek, het ons iets nodig wat effens meer bemagtigend is, as dit die regte woord is?” Konsensusgedrewe? “Meer konsensus,” antwoord hy. “Dis ook die wêreld wat verander het, skat ek.

Michael Sassoon, hoof van Sasfin

Miskien soek mense ’n bietjie meer ruimte om leiding te neem. Dis waarskynlik deels wat hier gebeur, deel van die verandering.” Die maatskappy se onlangse tussentydse resultate, uitgereik in Maart, wys Sasfin is goed op dreef. Dit wil gedoen wees, as jy dink hoe min die plaaslike ekonomie beïndruk.

Onthou ontwikkeling kos geld!

Sasfin se wesensverdienste was 60% hoër en die groep se kredietboek het verbeter. Aan die negatiewe kant het koste egter vinniger as inkomste gegroei. Dié syfer, sê Sassoon, hou sy gedagtes besig. ’n Mens moet egter onthou dat ontwikkeling geld kos. Sasfin reageer byvoorbeeld tans op die voortdurende vooruitgang en eise van finansiële tegnologie in al sy tradisionele afdelings.

Hy slaan ook ’n heel ander rigting in deur ’n gesamentlike onderneming aan te pak om van die mense in die ongebankte deel van die Suid-Afrikaans ekonomie by sy kliëntebasis te probeer voeg. Dit is ’n dapper stap vir Sasfin en nogal ’n heilige graal vir die land se bankdienstesektor. Sasfin het vroeg in Maart aangekondig dat hy met Hello Group gaan saamwerk om gesamentlik aan dié se kliëntegrondslag transaksiedienste te bied.

Sasfin se wesensverdienste was 60% hoër en die groep se kredietboek het verbeter. Aan die negatiewe kant het koste egter vinniger as inkomste gegroei.

Hello Group is sowat tien jaar gelede op die been gebring en was aanvanklik een van die land se eerste operateurs van virtuele selfoonnetwerke. Vandag is Hello Group een van die drie topverkopers van Cell C, MTN en Vodacom aan ’n kliëntebasis wat oorspronklik uit migrante-werkers bestaan het.

Dié onderneming, bekend as Hello Paisa, is ’n belangrike skuif vir Sasfin, wat onder Roland Sassoon se aanvoering stewig gewortel was as ’n onderneming wat kliënte se welvaartdeposito’s in bewaring neem. Trouens, Sasfin het vyf jaar gelede eintlik eers die vermoë ontwikkel om transaksiebankdienste aan te bied.

Sassoon sê die interessante ding van Hello Group was dat die maatskappy naas sy vermoë om internasionale selfoonoproepe te hanteer, ook ’n geldoorplasingsdiens kon aanbied.

Die gedagte was dus dat die vennote, danksy Sasfin se infrastruktuur vir transaksiebankdienste, in staat sou wees om dienste vinniger en goedkoper – en natuurlik met minder regulatoriese rompslomp – by ’n onderbediende mark uit te kry as wat ’n heeltemal nuwe toetreder tot die sektor sou kon doen.

Hello Group

Oor Hello Group sê Sassoon: “Hulle het dit reggekry om ’n groot klomp kontantkliënte se vertroue te wen, dus was dit vir hulle heeltemal natuurlik om ook bankdienste aan daardie kliënte te bied. Hulle wou nie die beslommernis hê om ’n banklisensie te kry en onder die voorsorgowerheid te val nie. Dit het ons als.” Wat Sasfin betref, hoef dié hom danksy Hello Group se teenwoordigheid en prestasierekord nie te gekwel het oor hoe hy aan dié nuwe segment gaan diens lewer, watter produk hy gaan verkoop of selfs hoe hy sy produk en diens by die segment gaan uitkry nie.

Hello Paisa is ’n vennootskap waaraan reeds meer as drie jaar gewerk word en Sassoon sê dit sal ’n goeie bydrae tot Sasfin wees, veral aangesien die gebruikersbasis kleiner as 350 000 was toe die groep dié opsie aanvanklik begin modelleer het. Daar is ’n oorgrensmark, maar ook ’n potensiële mark in Suid-Afrika self.

Oor Hello Group sê Sassoon: “Hulle het dit reggekry om ’n groot klomp kontantkliënte se vertroue te wen, dus was dit vir hulle heeltemal natuurlik om ook bankdienste aan daardie kliënte te bied. Hulle wou nie die beslommernis hê om ’n banklisensie te kry en onder die voorsorgowerheid te val nie.

Sassoon verwag die onderneming sal groei. “So dit was ons besluit, wat aan ons die geleentheid gee om ons kostegrondslag as hefboom te gebruik om ’n volledige infrastruktuur te benut wat ons alreeds ingebou het in ’n segment van die mark met ’n desperate behoefte aan vernuwende bankdienste. En dit word aangebied deur ’n party met ’n deeglike begrip van finansiële dienste,” sê hy.

Sasfin sal ‘koppe stamp’ met die sakereus Patrice Motsepe, wie se TymeBank, net soos Hello Paisa, die ongebankte sektor van die Suid-Afrikaanse ekonomie probeer binnedring.

Discovery 

Discovery Bank verteenwoordig ’n verdere liberalisering van Suid-Afrika se finansiëledienstesektor in ’n algemene ontwikkeling van die bedryf wat Sassoon verwelkom.

Hy meen die toetrede van nuwe banke is lankal op die horison nadat die kleiner bankdienstesektor in die laat 1990’s byna heeltemal van die toneel verdwyn het weens oornames en krisisse, of ’n mengsel daarvan. Ouer lesers onthou miskien party van die 32 handelsmerke wat daar was, onder meer Saambou en BoE.

Discovery Bank verteenwoordig ’n verdere liberalisering van Suid-Afrika se finansiëledienstesektor in ’n algemene ontwikkeling van die bedryf wat Sassoon verwelkom.

Vir ’n groot deel van die afgelope twee dekades was daar slegs sowat 12 plaaslik geregistreerde banke in die land. Daaronder tel die groot vier, asook die middelslagbanke soos African Bank en Capitec, en dan banke wat uit ’n groter moederonderneming voortgespruit het, soos die Bank van Athene en Mercantile.

In dié tydperk is voorkeur gegee aan groot institusionele mag, natuurlik tot en met die wêreldwye finansiële krisis van 2007-’08 – die onlangse tydperk in die ekonomiese geskiedenis wat die gedagte van sistemies belangrike finansiële instellings laat ontstaan het: banke wat die stelsel nie kon toelaat om te misluk nie.

Reaksie op internasionale finansiële krisis

Sassoon se siening is dat die opkoms van ‘uitdagerbanke’ ’n wêreldwye verskynsel in reaksie op die internasionale finansiële krisis is. “Wat vandag wêreldwyd gebeur, is dat jy uitdagerbanke sien. Veral in Brittanje is dit algemeen, en wêreldwyd probeer reguleerders ’n omgewing skep waarin risiko minder gekonsentreer is,” sê hy. Daar is egter probleme met die tempo waarteen uitdagerbanke groei.

Om lisensies toe te staan aan instellings soos Tymebank en Discovery is “werklik ’n goeie stap”, maar dit gaan nie ver genoeg nie, sê hy. “Die regulatoriese raamwerk is oor die algemeen ’n raamwerk van een-grootte- pas-almal. Anders as in ander lande kon hulle nog nie hul eie tweeledige reguleringsbenadering skep nie,” sê Sassoon.“

Sassoon se siening is dat die opkoms van ‘uitdagerbanke’ ’n wêreldwye verskynsel in reaksie op die internasionale finansiële krisis is

As ’n kleiner bank wil ons natuurlik graag ’n mate van deregulering vir kleiner en middelslagbanke sien, wat ek meen goed sal wees vir die land omdat dit groter mededinging meebring en ’n gelyker speelveld skep waarby verbruikers en sakeondernemings uiteindelik sal baat vind.

Dis nie nou die geval nie.” Om dié ekonomiese siklusse as ’n ‘kleiner’ bank te oorleef, neig Sasfin om te konsentreer op dit waarmee hy goed is: hy verstaan die gedagte van ‘nis’ en weet hoe belangrik dit is om kliëntgerig te wees op ’n manier wat groot instellings nie kan wees nie.

Daarmee sal Sasfin voortgaan, veral in die KMO-sektor, waar Sassoon meen die maatskappy ’n mededingende voorsprong het, ondanks die land se swak ekonomiese groeikoers. Kleinsakeondernemings wat miskien ’n moeilike jaar deurmaak en oortrokke geriewe van R10 miljoen of R20 miljoen benodig, voldoen moontlik nie aan ‘die formule’ van vereistes wat ’n groter bank stel om te bepaal hoe bankbaar die onderneming is nie. “

Onlangse resultate wys Sasfin is goed op dreef. Dit wil gedoen wees, as jy dink hoe min die plaaslike ekonomie beïndruk.

"Maar as jy ’n bietjie tyd bestee om die onderneming te verstaan, kan jy hom bank," sê hy en voeg by dat Sasfin nie duisende sulke kliënte benodig om te groei nie.

“As ons in die volgende jaar 50 sulke kliënte aanvaar; of 40 in die volgende jaar, groei ons boek vir lenings en voorskotte met 15%,” sê hy.

“Omdat ons ’n relatief klein rolspeler in ’n baie groot omgewing is, het ons nie eintlik die luukse om oor groei as ’n verskoning te kla nie, want daar is genoeg markaandeel wat ons in dié ruimtes kan vat om ordentlike groei te skep, selfs in ’n omgewing waar die groei beperk is. “Dit is hoe ek dit sien.” 

Meer oor:  Sasfin  |  Finweek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.