Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
’n Perd van ’n ander kleur
4 Julie 2019

Die BMW X7 is allermins jou standaardgrootte voertuig. Hy laat ander voertuie – selfs sy groot X5-boetie – sommer klein lyk. Dié jongste model in die BMW X-reeks is groot, gesofistikeerd en weelderig.

x

Dis ’n kombinasie van die uitermatige luuksheid van die 7-reeks en die veelsydigheid van die X-model.

finweek het gou ontdek hoeveel van die fyner goed in die lewe hierdie spoggerige kolos in die BMW X7 xDrive 30d oplewer, een van twee dieselweergawes wat plaaslik beskikbaar is. ’n Petrolweergawe sal vanaf Oktober in Suid-Afrika beskikbaar wees.

Die X-faktor

Teen 1,8 m in sy sokkies, 5,15 m lank en 2 m breed, is die BMW X7 enorm, maar sy X-familiebande is duidelik. Soos sy boeties, oorheers die BMW-ontwerp alles. Dit sluit in sy kenmerkende niervormige sierrooster – die grootste in die geskiedenis van BMW – en die lae, breë luginlaat wat in die opvallende voorkant gehuisves is. Hy staan hoog en fier, en spog met ’n lang daklyn, met ’n spleetagterklap en chroomstaaf.

Aluminium-dakrelings, breë wielnisse en bonkige, dubbeluitlaatpype onderstreep ’n aggressiewe voorkoms. Hy het ’n enorme teenwoordigheid, letterlik en figuurlik.

Ruim, weelderige binneruim

Ook binne is dié voertuig ruim. Met plek vir sewe in drie rye sitplekke, kan hierdie motor veel meer as die gewone gesin in buitengewone gerief rondkarwei.

Die binnekant is so te sê ’n ewebeeld van BMW se vlagskip, die allerluukse 7-Reeks. Twee 12,3”-skerms – raakskermvertoon en ten volle digitale instrumente – oorheers die kajuit se instrumentepaneel.

Die X7 se rojale stuurruimte.

Oorvloedige standaard-aanbiedings sluit in ultrasagte leersitplekke, panoramiese glassondak wat tot by die derde ry insittendes strek, satnav, Bowers & Wilkins-klankstelsel, draadlose laai van selfone en koel- en warmbekerhouers. Vermaak vir die agterste insittendes word voorsien deur twee raakskerms.

So te sê alles kan na die individu se smaak verstel word; dryfmodus, binneligte, dryfhulpkenmerke, vertoonstellings, deurtoegang, sitplekgerief en spasiëring van sitplekke. Die veringhoogte kan ook verstel word.

Jy het ’n keuse van hoe jy met die motor kommunikeer – hetsy deur die iDrive-raakbeheerder, raakskerm, stemherkenning of gebare.

Jy het ’n keuse van hoe jy met die motor kommunikeer – hetsy deur die iDrive-raakbeheerder, raakskerm, stemherkenning of gebare.

Iets waarvan ek nie gehou het nie, was die swierige glasratstang van die toetsmotor. Dit was ietwat buitensporig, en wanneer die son dit tref, kan dit nogal pla. Gelukkig is dit in die reël van leer gemaak.

Gewoonlik moet passasiers hulle soos ’n wafferse Houdini verdraai wanneer hulle by die derde ry wil uitklim, maar nie in hierdie vuurwa nie. Slaan die rugsteune van die tweede ry sitplekke plat en hulle skuif vorentoe en skuins opwaarts sodat dit baie ruimte vir in- en uitklim laat.

In die kattebak, met sy kragagterklap, is daar kontroles om die sitplekke te beheer en om die motor makliker te laai. Daar is ook ’n skakelaar wat die laaihoogte met 40 mm verlaag om die laaiwerk kinderspeletjies te maak.

Die X7 se sleepstang is netjies onder die motor se agterkant versteek en verskyn met die druk van ’n knoppie. Deur die hoogte van die vering te verlaag – wat met die afstandsleutel gedoen kan word voordat jy inklim – is dit veel makliker om by dié kolos in en uit te klim.

‘Vlieg’ besigheidsklas

Al is hy so groot, is hy ’n droom om te bestuur. Dit voel nie soos ’n enorme bus wanneer jy agter die stuur inskuif nie, en dit hanteer ook nie soos ’n bus nie.

Hy voel eerder soos ’n middelslagmotor, en vir so ’n groot voertuig is hy besonder rats en stewig op sy voete. Net die ding vir ’n lang rit . . . Die X7 xDrive 30d se sitplekke is besonder gerieflik met veersagte kopleunings, goeie terugleunvermoë en verhit- en masseerfunksies.

Die X7 xDrive 30d se sitplekke is besonder gerieflik met veersagte kopleunings, goeie terugleunvermoë en verhit- en masseerfunksies.

En met die klankdigte kajuit word alle padgeruis en enjingeraas uitgedoof. Op die onderwerp van enjins, die turbo- aangejaagde 3-literdieselenjin het hope krag om hierdie lywige 2,4-tonner oorgenoeg woema te gee.

Die enjin lewer krag moeiteloos, aangesien hy gepaar is met ’n agtgang- outomatiese ratkas wat fyn ingestel is om selfs gladder ratverwisseling te bewerkstellig. Rygerief is uitmuntend, danksy die X7 xDrive 30d se gesofistikeerde onderstel en outomatiese selfnivelleerlugvering.

Ondanks dié sportsnutsvoertuig se grootte, is daar geen bakkanteling nie. Hy is heel besadig, selfs in draaie. En die opsionele aanpasbare stuur wat op die toetsvoertuig aangebring was, laat hom selfs die skerpste draaie flink vat.

Met sy veldrymodusse vir gruispaaie, sandpaaie, rotste en sneeu, kan hierdie swaargewig bykans enige terrein aanpak.

Deur xGRAVEL te kies vir die grondpaaie vol slaggate wat ons aangepak het, het die motor volkome ingestel vir die terrein, insluitend die oplig van die vering. Dit is maklik om te vergeet dat jy op ’n sinkplaatpad ry.

Trekkrag en hanteerstabiliteit is die taak van die BMW X7 se alwielaandrywing, wat wissel volgens hoe die trekkrag tussen die voor- en agterwiele verdeel word. Die elektronies beheerde ewenaarsluiter agter speel ook sy rol.

Hierdie volbloed nutsvoertuig sit op ’n teerpad en selfs op ’n sinkplaatpad met volle selfversekering, wat jou dryfmodus ook al is. Lewendige bestuur in sportmodus kombineer meer ratsheid weens ’n laer vering, stewiger stuur en beter padterugvoer.

Hierdie volbloed nutsvoertuig sit op ’n teerpad en selfs op ’n sinkplaatpad met volle selfversekering, wat jou dryfmodus ook al is. Lewendige bestuur in sportmodus kombineer meer ratsheid weens ’n laer vering, stewiger stuur en beter padterugvoer.

Wanneer jy die sportmodus gebruik of vinniger as 138 km/h ry, sak die vering outomaties met 20 mm, tog is die rit steeds gemaklik. Nogtans is daar ’n duidelike verskil tussen gerief en gladheid tussen die sport- en geriefmodus.

Die derdegenerasie-vertoonpaneel is groter en vertoon meer inligting. En die hoogs gesofistikeerde bestuurderhulpstelsels maak dit selfs geriefliker en veiliger.

Stuur- en baanbeheerhulp, waarskuwing teen botsings van agter en baanvertrek-waarskuwing, spoedbeheer met remfunksie, en botsing- en voetganger- waarskuwing is standaardkenmerke. Parkeerhulp, wat trukamera- en tru-ryhulp insluit, is ook standaard. Met tru-ryhulp is dit ’n seën om dié lang, breë motor in knap spasies te parkeer.

Dis ’n fees van luukshede. Vir diegene wat graag wil spog met wat hulle het, of wat meer as die helfte van ’n sokkerspan in luukse gerief wil vervoer, is dit heel moontlik die motor daarvoor. Maar dit gaan ’n sakvol geld kos.

Die motor berg die stuurbewegings van die deel wat die motor vorentoe beweeg het saam met ’n spoed van 36 km/h. Dit kan dan die motor tot 50 meter agteruit op dieselfde lyn laat ry.

Jy hoef net die versneller en die rempedaal te gebruik en jou oog oor jou omgewing te hou.

Die BMW X7 xDrive30d is ’n buitengewoon groot motor wat al die kenmerke van ’n besonder luukse motor kombineer met die veelsydigheid van lewendige bestuurseienskappe wat van ’n sportsnutsvoert verwag word. Dit is beslis ’n statussimbool.

Dis ’n fees van luukshede. Vir diegene wat graag wil spog met wat hulle het, of wat meer as die helfte van ’n sokkerspan in luukse gerief wil vervoer, is dit heel moontlik die motor daarvoor. Maar dit gaan ’n sakvol geld kos.

GETOETS: BMW X7 xDrive30d

Enjin: 3-liter, dubbelturbo-diesel

Transmissie: Agtgang-Steptronic

Krag/Wringkrag: 195 kW/620 Nm 0 - 100 km/h: 7 sekondes

Topspoed: 227 km/h

Veiligheid: Lugsakke en sylugsakke vir die bestuurder en voorste passasier, koplugsakke voor en agter

Grondvryhoogte (nie gelaai nie): 221 mm

Deurwaadbare diepte: 500 mm

Kattebakkapasiteit: 326 liter – 2 120 liter

Brandstofverbruik: (gekombineerd): 7 liter/100 km

Brandstoftenk: 80 liter CO2-vrystelling: 178 - 171 g/km

Prys: R1 554 500 (ingesluit BTW, CO2-belasting uitgesluit)

Waarborg/Instandhoudingsplan: 5-jaar/100 000 km-motorplan

Meer oor:  Motor  |  Finweek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.