Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
’n Slim manier om jou portefeulje in aftrede te gebruik
6 Desember 2018

Vir die oorgrote deel van ons beleggingslewe spits ons ons toe op kapitaalgroei. Ons wil hê ons belegging moet groei en vinniger as inflasie (ná koste) gedy sodat ons werklik welvaart vir onsself skep om in ons aftrede ’n bestaan te maak.

En wanneer ons aftree, verskuif die fokus na die verdien van ’n inkomste uit dié beleggings. ’n Aftree-annuïteit (AA) of pensioenskema sal gebruik word om ’n annuïteit te koop wat ’n inkomste sal genereer, maar wat van jou eie selfdoen- portefeulje?

As jy ’n selfdoen-belegger is, sal jy waarskynlik wil voortgaan om jou eie portefeulje te bestuur, maar die doel is nou om inkomste te ontvang. Gewoonlik konsentreer jy dan op dividende en jy soek na aandele met hoë opbrengste. Die klaarblyklike keuse is eiendom wat gewoonlik die hoogste opbrengs van enige sektor in die mark het.

Voorkeuraandele lyk ook goed, maar bied geen kapitaalgroei nie wat beteken dat jou inkomste nooit groei nie. Jy kan jou ook toespits op aandele wat hoë dividende lewer, maar dié fokus op dividende het sy eie probleme.

Eerstens is daar die risiko dat ’n dividend kan verdwyn. Kumba en Astral Foods is voorbeelde van aandele met hoë dividendopbrengste, maar die dividende het verdwyn toe die maatskappye moeilike tye beleef het. Albei bied nou weer goeie dividende maar vir ’n paar jaar is geen dividende betaal nie. As jy aandele met hoë dividendopbrengste koop, is die vraag hoe stabiel hulle werklik is.

Die werklikheid is dat hoë dividende dikwels spruit uit uiters sikliese aandele wat óf floreer óf sukkel. Wanneer hulle floreer, betaal hulle rojaal, maar wanneer hulle sukkel, betaal hulle niks. ’n Belegger wat hom op inkomste toespits, moet dan miskien bereid wees om laer opbrengste te aanvaar wat stabieler is.

Die plan hier is om dan genoeg kontant te hê om van te lewe sodat jy nie aandele hoef te verkoop vir jou lewensuitgawes wanneer markte onder druk verkeer nie.

Dit is gewoonlik volwasse maatskappye met laer groeivooruitsigte maar wat ’n redelike – en belangrik – ’n betroubare dividend betaal. Die ander belangrike kwessie is belasting; die weerhoubelastingkoers in Suid-Afrika is 20% en dis nogal baie. Eiendomsaandeeluitkerings word by jou inkomste gevoeg sodat, afhangende van jou algehele inkomste, jou inkomste selfs teen ’n hoër belastingkoers aangeslaan kan word.

Hier het jy egter ’n paar keuses.

Belastingvrye rekenings los dié probleem op deur volkome belastingvry te wees – maar hulle het ook perke van R500 000 oor ’n leeftyd en dis miskien eenvoudig nie genoeg om ’n inkomste te genereer om in aftrede van te lewe nie.

Daar is egter nog ’n keuse: Dit is om jou steeds op groei toe te spits eerder as inkomste en om elke jaar van daardie aandele te verkoop en van die inkomste te lewe. Hier sal jy steeds belasting betaal, maar dis kapitaalwinsbelasting waarvan die eerste R40 000 per jaar belastingvry is.

Daarna betaal jy 40% van enige kapitaalwins wat jy bokant die perk van R40 000 maak wat by jou belasbare inkomste gevoeg word. Dus, as is jy in die boonste belastingkategorie van 45% is, sal jou kapitaalwinsbelasting hoogstens 18% en moontlik nader aan 10% wees nadat die R40 000-uitsluiting en glyskaalbelastingkoers in rekening gebring is.

Dus het jy inderdaad jou belastingaanspreeklikheid gehalveer. Die plan hier is om dan genoeg kontant te hê om van te lewe sodat jy nie aandele hoef te verkoop vir jou lewensuitgawes wanneer markte onder druk verkeer nie. In ’n ideale wêreld beteken ’n jaar of twee van lewensuitgawes in kontant dat jy die kontant kan onttrek wanneer die markte tuimel en aandele kan verkoop wanneer hulle styg.

Daar is natuurlik baie meer bewegende dele wanneer jy aftreebeleggings en belasting oorweeg, maar die gewone reël dat jy hoë dividendopbrengste moet hê, is miskien nie altyd die beste nie.

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za

Meer oor:  Finweek  |  Aftrede  |  Beleggings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.